Word Moedergodinne nog aanbid?
IN DIE dae van die vroeë Christene is moedergodinne steeds aanbid. Die apostel Paulus het dit in Efese in Klein-Asië teëgekom. Net soos in Athene, ’n ander stad waar godinne aanbid is, het hy getuig van “die God wat die wêreld gemaak het”, die lewende Skepper, wat nie “aan goud of silwer of steen, die beeldwerk van menslike kuns en uitvinding, gelyk is” nie. Dit was té veel vir die Efesiërs, van wie die meeste die moedergodin Artemis, oftewel Diana, aanbid het. Diegene wat ’n bestaan gemaak het uit die vervaardiging van silwertempeltjies van die godin het ’n opstand aangehits. Die skare het omtrent twee uur lank geskreeu: “Groot is die Diana van die Efesiërs!”—Handelinge 17:24, 29; 19:26, 34.
Die Artemis van Efese
Die Grieke het ook ’n Artemis aanbid, maar die Artemis wat in Efese aanbid is, kan slegs vaagweg met haar geïdentifiseer word. Die Griekse Artemis was ’n maagdgodin van die jag en kindergeboorte. Die Efesiese Artemis was ’n vrugbaarheidsgodin. Haar ontsaglike tempel in Efese is as een van die sewe wonders van die wêreld beskou. Haar standbeeld, wat kwansuis uit die hemel geval het, het haar as ’n verpersoonliking van vrugbaarheid voorgestel, met haar bors wat deur rye eiervormige borste bedek is. Hierdie borste se vreemde vorm het tot verskillende verduidelikings aanleiding gegee, soos dat hulle stringe eiers of selfs bulle se testikels voorstel. Wat die verduideliking ook al is, dit is duidelik ’n simbool van vrugbaarheid.
Dit is interessant dat die oorspronklike standbeeld van hierdie godin volgens The New Encyclopædia Britannica “van goud, ebbehout, silwer en swart steen gemaak is”. ’n Bekende standbeeld van die Efesiese Artemis, wat uit die tweede eeu G.J. dateer, beeld haar met ’n swart gesig, hande en voete uit.
Daar is optogte deur die strate met die beeld van Artemis gehou. Bybelgeleerde R. B. Rackham skryf: “In die tempel [van Artemis is] haar . . . beelde, relikwieëkissies en heilige gereedskap van goud en silwer gebêre, wat tydens belangrike feeste in ’n skouspelagtige optog na die stad toe en terug gedra is.” Hierdie feeste het honderdduisende pelgrims van oral in Klein-Asië gelok. Hulle het klein tempeltjies van die godin gekoop en haar toegejuig as groot, as hulle liewe vrou, die koningin, die maagd, “die een wat na gebede luister en dit verhoor”. In só ’n omgewing het dit baie moed van Paulus en die vroeë Christene geverg om “die God wat die wêreld gemaak het” in plaas van gode en godinne van “goud of silwer of steen” te verheerlik.
Van Moedergodin tot “Moeder van God”
Dit was aan die ouere manne van die Christengemeente in Efese wat die apostel Paulus gesê het dat daar ’n afvalligheid sou plaasvind. Hy het gewaarsku dat afvalliges sou opstaan wat “verkeerde dinge” sou praat (Handelinge 20:17, 28-30). ’n Terugkeer na die aanbidding van moedergodinne was een van die voortdurende gevare in Efese. Het dit gebeur?
Ons lees in die New Catholic Encyclopedia: “As ’n pelgrimsoord is Efese beskou as die plek waar [die apostel] Johannes begrawe is . . . ’n Ander tradisie, wat deur die Konsilie van Efese (431) onderskryf is, verbind die Geseënde Maagd Maria met Sint Johannes. Die basilika waar die Konsilie gehou is, is die Maria-kerk genoem.” ’n Ander Katolieke werk (Théo—Nouvelle encyclopédie catholique) praat van ’n “aanneemlike tradisie” wat sê dat Maria Johannes na Efese vergesel het, waar sy die res van haar lewe deurgebring het. Waarom is hierdie vermeende verband tussen Efese en Maria vir ons vandag belangrik?
Kom ons laat The New Encyclopædia Britannica dit beantwoord: “Die verering van die moeder van God is aangemoedig toe die Christenkerk onder Konstantyn die staatskerk geword het en die heidense menigtes die kerk binnegestroom het. . . . Hulle vroomheid en godsdiensbewustheid was millenniums lank deur die kultus van die ‘grootmoeder’-godin en die ‘goddelike maagd’ gevorm, ’n ontwikkeling wat teruggevoer kon word tot by die ou gewilde godsdienste van Babilon en Assirië.” Daar was nie ’n beter plek as Efese vir die “verchristeliking” van die aanbidding van ’n moedergodin nie.
Dit was dus in 431 G.J. in Efese dat die sogenoemde derde ekumeniese raad Maria verklaar het as “Theotokos”, ’n Griekse woord wat “Draer van God” of “Moeder van God” beteken. Die New Catholic Encyclopedia sê: “Die gebruik van hierdie titel deur die Kerk was ongetwyfeld in latere eeue deurslaggewend om die Maria-leerstelling en haar verering te laat ontwikkel.”
Die ruïnes van die “Kerk van die Maagd Maria”, waar hierdie konsilie byeengekom het, kan vandag nog op die terrein van antieke Efese gesien word. ’n Kapel kan ook besoek word wat, volgens ’n tradisie, die huis was waar Maria geleef en gesterf het. Pous Paulus VI het in 1967 hierdie Maria-heiligdomme besoek.
Ja, Efese was die plek waar die verandering van die heidense aanbidding van ’n moedergodin, soos Paulus dit in die eerste eeu teëgekom het, na die vurige verering van Maria as die “Moeder van God” plaasgevind het. Dit is hoofsaaklik deur die verering van Maria wat die aanbidding van ’n moedergodin in die lande van die Christendom voortbestaan het.
Die Moedergodin word nog aanbid
Die Encyclopædia of Religion and Ethics haal Bybelgeleerde W. M. Ramsay aan waar hy aanvoer dat “die 5de-eeuse eerbetoning aan die Maagd Maria in Efese [’n hernieude] vorm van die ou heidense aanbidding van die Maagdelike Moeder in Anatolië was”. The New International Dictionary of New Testament Theology sê: “Die Katolieke idee van die ‘moeder van God’ en die ‘koningin van die hemele’, hoewel later as die N[uwe] T[estament], dui op veel vroeëre godsdiens-geskiedkundige oorspronge in die Ooste. . . . In die latere verering van Maria is daar baie elemente van die heidense kultus van die goddelike moeder.”
Hierdie elemente is te talryk en stem in te veel besonderhede ooreen om toevallig te wees. Die ooreenkoms tussen moeder-en-kindstandbeelde van die Maagd Maria en standbeelde van heidense godinne, soos Isis, kan nie onopgemerk bly nie. Ons kan nie anders as om aan die standbeeld van Artemis te dink wanneer ons die honderde standbeelde en ikone van die Swart Madonna in Katolieke kerke wêreldwyd sien nie. Die werk Théo—Nouvelle encyclopédie catholique sê van hierdie Swart Maagde: “Hulle is blykbaar gebruik om dít wat van die gewilde verering van Diana [Artemis] . . . of Cybele oorgebly het na Maria oor te plaas.” Die prototipe van optogte op Maria-Hemelvaartdag word ook in die optogte ter ere van Cybele en Artemis gevind.
Selfs die titels wat aan Maria gegee word, herinner ons aan die heidense moedergodinne. Isjtar is aangeroep as die “Heilige Maagd”, “my Liewe Vrou” en “die genadige moeder wat na gebede luister”. Isis en Astarte is “Koningin van die Hemele” genoem. Cybele is as die “Moeder van al die Geseëndes” bestempel. Al hierdie titels, met geringe veranderinge, word vir Maria gebruik.
Die Tweede Vatikaanse Konsilie het die kultus van die “Geseënde Maagd” aangemoedig. Pous Johannes Paulus II is welbekend vir sy vurige verering van Maria. Hy laat nooit ’n geleentheid gedurende sy uitgebreide reise verbygaan sonder om Maria-heiligdomme, waaronder die heiligdom van die Swart Madonna van Czestochowa, in Pole, te besoek nie. Hy het die hele wêreld aan Maria toevertrou. Dit is dus nie verbasend dat The New Encyclopædia Britannica onder “Moedergodin” skryf nie: “Die benaming is ook gegee aan figure so uiteenlopend soos die sogenoemde Steentydperk-Venusse en die Maagd Maria.”
Maar die Rooms-Katolieke verering van Maria is nie die enigste manier waarop die aanbidding van die moedergodin tot op ons dag behoue gebly het nie. Snaaks genoeg, ondersteuners van die feministebeweging het heelwat literatuur oor die aanbidding van moedergodinne die lig laat sien. Hulle is van mening dat vroue erg onderdruk is in hierdie wêreld wat deur aggressiewe mans oorheers word, en dat vroulik georiënteerde aanbidding die mensdom se soeke na ’n minder aggressiewe wêreld weerspieël. Hulle glo ook blykbaar dat die wêreld vandag ’n beter en vreedsamer plek sou wees as dit meer feministies georiënteerd was.
Die aanbidding van ’n moedergodin het egter nie in die antieke wêreld vrede gebring nie, en dit sal vandag ook nie vrede bring nie. Bowendien is daar vandag al hoe meer mense, trouens miljoene wat met Jehovah se Getuies omgaan, wat oortuig is dat hierdie aarde nie deur Maria gered sal word nie, ongeag hoeveel hulle haar respekteer en hoe lief hulle haar het as die getroue, eerste-eeuse vrou wat die wonderlike voorreg gehad het om Jesus te baar en groot te maak. Jehovah se Getuies glo ook nie dat die Vrouevryheidsbeweging, hoewel party van hulle eise moontlik gegrond is, ’n vreedsame wêreld tot stand kan bring nie. Daarvoor vertrou hulle op die God wat Paulus aan die Atheners en aan die Efesiërs bekend gemaak het as “die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is” (Handelinge 17:24; 19:11, 17, 20). Hierdie almagtige God, wie se naam Jehovah is, het ’n glorieryke nuwe wêreld beloof waarin ‘geregtigheid sal woon’, en ons kan met vertroue op sy belofte staatmaak.—2 Petrus 3:13.
Maar wat is die Bybelse beskouing van ’n vrou se posisie voor God en ten opsigte van die man? Hierdie onderwerp sal verder in hierdie tydskrif bespreek word.
[Prent op bladsy 5]
ASTAROT—Kanaän se godin van seks en die oorlog
[Erkenning]
Musée du Louvre, Paris
[Prent op bladsy 6]
ARTEMIS—Vrugbaarheidsgodin van Efese
[Erkenning]
Musei dei Conservatori, Rome
[Prent op bladsy 7]
Die Christendom se “MOEDER VAN GOD”
[Erkenning]
Chartres Cathedral, France