Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w91 12/15 bl. 3-4
  • Kersfees—Waarom so gewild in Japan?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kersfees—Waarom so gewild in Japan?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wie se viering is Kersfees?
  • Moet jy Kersfees vier?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Wat het geword van die tradisionele Kersfees?
    Ontwaak!—1993
  • Kersfeesvierings—Waarom selfs in die Ooste?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Die oorsprong van die hedendaagse kersfees
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
w91 12/15 bl. 3-4

Kersfees—Waarom so gewild in Japan?

GELOOF in Kersvader is sterk onder kinders in die Boeddhisties-Sjintoïstiese land Japan. In 1989 het Japannese kinders 160 000 briewe aan Santa World in Swede geskryf. Geen ander land het meer gestuur nie. Hulle het die briewe geskryf in die hoop dat hulle hartewens bewaarheid sou word, hetsy dit ’n speelgoed-“Grafiese rekenaar” van 18 000 jen (R374) of ’n draagbare videospeletjie van 12 500 jen (R261) was.

Vir jong Japannese meisies het ’n afspraak op Kersaand spesiale betekenis. “Volgens ’n meningsopname onder jong vroue”, sê Mainichi Daily News, “het 38 persent gesê dat hulle ’n maand vooruit reëlings getref het vir Kersaand.” Jong mans het bybedoelings wanneer hulle Kersaand saam met hulle meisies wil wees. “’n Goeie idee is om stil saam met jou meisie te bid”, het ’n tydskrif vir jong mans voorgestel. “Doen dit by ’n gewilde plek. Julle verhouding sal weldra intiemer word.”

Japannese mans hoop ook dat hulle towerkrag kan skep deur hulle Kerstradisie om ’n “versierselkoek” ná werk op pad huis toe te koop. Deur die rol van Sinterklaas te speel, is hy veronderstel om daarvoor te vergoed dat hy die gesin die res van die jaar verwaarloos.

Kersfees het voorwaar wortelgeskiet onder nie-Christelike Japannese. Trouens, 78 persent van diegene onder wie ’n supermarkketting ’n opname gedoen het, het gesê dat hulle iets spesiaals vir Kersfees doen. Die verhouding is oorweldigend in ’n land waar slegs 1 persent van die bevolking geloof in die Christelike godsdiens bely. Hoewel hulle beweer dat hulle Boeddhiste of Sjintoïste is, verhinder dit hulle geensins om die “Christelike” vakansiedag te geniet nie. Op die almanak van die beroemde Sjintoïstiese Ise-heiligdom word 25 Desember as “Christus se verjaarsdag” saam met Japannese feesdae aangegee. Tonele van nie-Christene wat gedurende Kersfees ywerig aan die feestelikhede deelneem, laat egter die vraag ontstaan:

Wie se viering is Kersfees?

Webster’s Ninth New Collegiate Dictionary omskryf Kersfees as “’n Christelike fees op 25 Desember . . . wat die geboorte van Christus herdenk”. Dit is al beskou as ’n tyd vir “Christene” om te “verenig in hulle gevoelens van vreugde op Christus se verjaarsdag”.

Diegene wat Kersfees as ’n suiwer godsdienstige fees vier, is dalk ontsteld oor diegene wat daardie dag met feestelikheid en die gee van geskenke sekulariseer en meen selfs dat hulle laster. “In Japan het ons die uiterste in growwe kommersialisme: geen Christus nie”, het ’n Amerikaner wat in Japan woon, geskryf. “Vir die Westerse oog is dit nie die kalkoen [wat nie geredelik in Japan se winkels beskikbaar is nie] wat ontbreek nie, maar die belangrikste bestanddeel, naamlik die gees”, het nog ’n Amerikaner oor die Japannese Kersfees geskryf.

Wat is die gees van Kersfees dus? Is dit die atmosfeer van ’n kerkdiens met sy Kersliedere, Kersversiersels en kerse, wat vir baie die enigste keer is wat hulle gedurende die jaar kerk toe gaan? Of is dit die liefde, die feestelikheid en die gee van geskenke wat baie beweeg om vrygewig te wees? Is dit die kalmte aan die gevegsfront terwyl soldate ’n paar dae van “vrede op aarde” hou?

Dit is verbasend dat die Kersfeesgees dikwels nie daarin slaag om selfs op die tuisfront vrede te bring nie. Volgens ’n opname wat in 1987 in Engeland gedoen is, is daar geskat dat ‘burgeroorlog’ daardie jaar gedurende Kersfees in 70 persent van Brittanje se huise sou uitbreek. Bakleiery oor geld sou die hoofoorsaak wees. Te veel alkohol en die versuim om ’n mens se rol in die gesin te vervul, het ook rusies veroorsaak.

“Ek wonder of ons nie iets oor die hoof sien wat die ware betekenis van Kersfees betref nie”, het ’n Westerling geskryf wat in Japan woon en wat onlangs gedurende die Kersseisoen huis toe gegaan het. “Elke 25 Des. voel ek dieselfde begeerte om terug te keer tot daardie outydse soort Kersfees van lank gelede—die heidense seremonie wat die wintersonstilstand gevier het deur bome te aanbid en orgieë te hou. Ons het steeds al die heidense versiersels—mistel, hulstakkies, dennebome, ensovoorts—maar om die een of ander rede was Kersfees nooit weer dieselfde nie sedert dit deur die Christene oorgeneem is en in ’n godsdienstige fees verander is.”

Kersfees is onteenseglik ’n heidense vakansiedag. Die vroeë Christene het dit nie gevier nie “omdat hulle die viering van enigiemand se verjaarsdag as ’n heidense gebruik beskou het”, sê The World Book Encyclopedia. Feestelikhede en die gee van geskenke het uit die heidense feeste van Saturnalieë en Nuwejaar ontstaan.

As Kersfees in wese heidens is, moet opregte Christene die vraag vra: Is Kersfees vir Christene? Kom ons kyk wat sê die Bybel oor die viering van Christus se verjaarsdag.

[Venster op bladsy 4]

Die oorsprong van Kersfees

Hoewel die presiese besonderhede verlore geraak het in die newels van die verlede, is daar aanduidings dat die Roomse kerk teen 336 G.J. ’n soort Kersfees gevier het. “Daar is doelbewus op 25 Desember as die datum vir Kersfees besluit om die groot fees van die songod op die agtergrond te skuif”, verduidelik The New Encyclopædia Britannica. Dit was die tyd wanneer heidene hulle verlustig het in orgieë gedurende die feeste van die Romeinse Saturnalieë sowel as die Keltiese en Duitse feeste van die wintersonstilstand. The New Caxton Encyclopedia sê dat “die Kerk die geleentheid aangegryp het om hierdie feeste te verchristelik”.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel