Wat God se Koninkryk vir baie beteken
JESUS CHRISTUS het dikwels oor die Koninkryk van God gepraat. Geskiedskrywer H. G. Wells het in verband hiermee geskryf: “Dit is merkwaardig hoeveel prominensie Jesus verleen het aan die lering wat hy die Koninkryk van die Hemel genoem het en hoe onbeduidend dit in vergelyking daarmee in die prosedure en die leer van die meeste Christenkerke is. Hierdie leerstelling van die Koninkryk van die Hemel, wat Jesus se vernaamste lering was en wat so ’n klein rol in die Christelike geloofsbelydenisse speel, is beslis een van die mees revolusionêre leerstellings wat ooit die mens se denke aangegryp en verander het.”
Waarom het die kerke so min oor God se Koninkryk te sê? Een rede is moontlik dat daar onsekerheid oor die Koninkryk bestaan. Watter beskouings het mense al daaroor gehad?
Hoe die Koninkryk al beskou is
Sommige het God se Koninkryk al met die Katolieke Kerk gelykgestel. Nadat die biskoppe keiser Konstantyn by die Konsilie van Nicea in 325 G.J. as hulle hoof aanvaar het, het die kerk by die politiek betrokke geraak en is daar vir die mense gesê dat die Koninkryk reeds gekom het. Die Encyclopædia Britannica verduidelik dat, volgens die teologie van Augustinus (354-430 G.J.), “die Koninkryk van God reeds met die stigting van die kerk in hierdie wêreld begin het” en dat dit “reeds in die sakramente van die kerk teenwoordig is.”
Baie beskou God se Koninkryk as iets wat deur die mens tot stand gebring word. Dieselfde ensiklopedie sê: “Die Hervormingskerke . . . het gou georganiseerde, territoriale kerke geword, wat op hulle beurt die verwagting van die einde onderdruk het” met betrekking tot die koms van God se Koninkryk. H. G. Wells het geskryf: “Die mens het die uitgangspunt van sy lewe verskuif van die koninkryk van God en die broederskap van die mensdom na daardie oënskynlik lewendiger werklikhede, Frankryk en Engeland, Heilige Rusland, Spanje, Pruise . . . Hulle was die werklike en lewende gode van Europa.”
Die Koninkryk is ook in ons tyd verwêreldlik. Die Encyclopædia Britannica verduidelik: “Kenmerkend is die fundamentele gesindheid dat die mens self die toekomstige volmaakte gemeenskap moet voorberei deur dit te vorm en te organiseer en dat ‘hoop’ en ‘afwagting’ deur menslike ondernemingsgees vervang moet word.” Oor die “sosiale prediking” sê dieselfde naslaanwerk voorts: “Hierdie beweging het die Christelike boodskap van die Koninkryk van God hoofsaaklik beskou as ’n dryfveer vir die reorganisasie van die sekulêre toestande van die gemeenskap in die sin van ’n Koninkryk-van-God-waardestelsel.”
Baie Jode het ook die Koninkryk beskou as iets wat deur die mens tot stand gebring word. In 1937 het ’n konferensie van Hervormde rabbi’s in Columbus, Ohio, VSA, gesê: “Ons beskou dit as ons geskiedkundige taak om met alle mense saam te werk in die oprigting van die koninkryk van God, ’n universele broederskap, geregtigheid, waarheid en vrede op aarde. Dit is ons messiaanse doel.”
Nog ’n algemene beskouing is dat God se Koninkryk ’n hartstoestand is. In die Verenigde State het die Suidelike Baptiste-kongres van 1925 byvoorbeeld gesê: “Die Koninkryk van God is die bewind van God in die hart en lewe van die individu in elke menslike verwantskap, en in elke vorm en instelling van georganiseerde samelewing. . . . Die Koninkryk van God sal volkome wees wanneer elke gedagte en wil van die mens aan die wil van Christus onderwerp is.”
Is die kerk dus God se Koninkryk? Sal daardie Koninkryk deur wêreldlike metodes opgerig word? Is dit ’n hartstoestand? En wat kan God se Koninkryk vir jou beteken?