Jehovah—Jou kennis of jou vriend?
“JAN, kan ek jou voorstel aan my vriend? Dit is—verskoon my, wat is jou naam nou weer?”
Het jy al ooit so ’n blaps gehoor? Dit is ’n voorbeeld van hoe party mense die woord “vriend” verkeerd gebruik. In werklikheid bedoel hulle bloot “kennis” of soms nie eers dit nie. Dit is een ding om mnr. Van der Merwe te ken wat oorkant die straat woon; maar dit is iets heeltemal anders om sy vriend te wees.
Een woordeboek omskryf “kennis” as “iemand met wie ’n mens al ’n mate van sosiale kontak gehad het, maar vir wie jy geen sterk persoonlike gevoelens koester nie”. Dit behels “minder intiemheid, gehegtheid, kameraadskap en toegeneentheid as VRIEND”.
Hierdie gebrek aan sterk persoonlike gehegtheid help ons om te verstaan waarom ons dikwels minder aandag skenk aan wat met kennisse gebeur, terwyl ons opreg betrokke is by die lewe van ons vriende. Ons deel hulle lief en hulle leed en laat toe dat dit ons diep raak. Ons moet natuurlik versigtig wees dat emosionele betrokkenheid ons nie in hulle private sake laat inmeng nie.—1 Petrus 4:15.
Die feit dat ons baie geheg is aan ons vriende verduidelik ook waarom ons gewoonlik probeer om hulle tevrede te stel. As ’n kennis meen dat ons gedrag aanstootlik of onbehoorlik is, sal sy misnoeë ons nie so maklik aanspoor om te verander nie. Maar ’n vriend kan voorwaar ’n kragtige invloed op ons uitoefen, ongeag of dit met ons kleredrag, gedrag of gesindheid te doen het.
Wanneer jy met iemand bevriend is, vereis dit groter verantwoordelikheid ten opsigte van vertroue, toegeneentheid, respek en lojaliteit as wanneer jy iemand net ken. Iemand wat vriendskap vra sonder dat dit met enige verantwoordelikhede gepaardgaan, wil in werklikheid net ’n kennis hê, nie ’n vriend nie. Intieme vriende aanvaar graag die verantwoordelikhede wat gepaardgaan met sterk persoonlike gevoelens omdat hulle besef dat dit hulle ’n geleentheid bied om hulle vriendskap te bewys.
Vriendskap met God
Aangesien Jehovah die Skepper is, is hy die mensdom se hemelse Vader en verdien hy liefde, gehoorsaamheid en respek. Maar hy wil hê dat mense dit doen vanweë ’n sterk persoonlike gehegtheid, nie bloot uit pligsbesef nie (Mattheüs 22:37). Hy wil ook hê dat hulle hom as ’n Vriend moet liefhê (Psalm 18:2). Aangesien “Hy ons eerste liefgehad het”, het hy self die volmaakte grondslag vir so ’n vriendskap gelê.—1 Johannes 4:19.
Ons eerste ouers, Adam en Eva, het Jehovah geken. Die vraag was: Sou hulle sy aanbod van vriendskap aanvaar? Ongelukkig het hulle nie. Hulle selfsugtige strewe na onafhanklikheid van God het getoon dat hulle nie ’n gevoel van sterk persoonlike gehegtheid gehad het nie. Hoewel hulle gewillig was om die seëninge te aanvaar van die vriendskap wat hy aangebied het, was hulle nie bereid om die verantwoordelikhede wat daarmee gepaardgaan te aanvaar nie. Dit was asof hulle die gerief en sekuriteit van hulle gesellige Paradystuiste wou geniet sonder dat hulle bereid was om die huur te betaal.
Ons het almal, in meerdere of mindere mate, hierdie ondankbare en onafhanklike gees oorgeërf (Genesis 8:21). Party jongmense het byvoorbeeld toegelaat dat hulle natuurlike begeerte na onafhanklikheid hulle ondankbaar teenoor hulle ouers gemaak het. Dit het gelei tot ’n verbrokkeling van die kosbaarste vriendskap wat daar lewenslank tussen hulle en hulle ouers behoort te bestaan. Maar hoe jammer dit ook al is, ’n verbrokkeling van ons vriendskap met ons hemelse Vader is veel ernstiger. Trouens, dit kan noodlottig wees!
Vereistes vir vriendskap
Geen vriendskap, hetsy dit met mense of met God is, kan lank hou sonder vertroue nie. Die aartsvader Abraham het dit besef, en dit is waarom hy herhaaldelik volkome vertroue in God gestel het. Lees Genesis 12:1-5 en 22:1-18 vir twee voortreflike voorbeelde van sy vertroue in Jehovah. Ja, “Abraham het God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken”. Dit is waarom hy ‘God se vriend’ genoem is.—Jakobus 2:23.
’n Verdere vereiste vir vriendskap met God is om die verpligtinge wat hierdie vriendskap behels na te kom. Vanweë ons beskeie posisie met betrekking tot Jehovah is hierdie verpligtinge logieserwys groter as wat dit sou wees in die geval van vriendskap met ’n mens. Dit vereis meer as om hom in sommige dinge te wil behaag—soos in die geval van ’n mensevriend. Dit vereis dat ons hom in alle dinge sal wil behaag. Jesus, God se Seun en intiemste vriend, het dit bevestig toe hy van Jehovah gesê het: ‘Ek doen altyd wat Hom welgevallig is.’—Johannes 8:29.
Vriendskap met Jehovah, of met sy Seun, is derhalwe nie moontlik op ’n grondslag van geen voorwaardes nie; dit hang daarvan af of ons die voorwaardes vir vriendskap nakom wat hulle gestel het. (Sien Psalm 15:1-5.) Jesus het dit duidelik getoon in ’n gesprek met sy dissipels. “Julle is my vriende”, het hy vir hulle gesê, “as julle alles doen wat Ek julle beveel.”—Johannes 15:14.
Nog ’n vereiste vir vriendskap is openhartige en eerlike kommunikasie. Op die dag van sy dood het Jesus vir sy getroue apostels gesê: “Ek noem julle nie meer diensknegte nie, omdat die dienskneg nie weet wat sy heer doen nie. Maar Ek het julle vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het” (Johannes 15:15). Aangesien Jesus sy gedagtes aan sy vriende bekend gemaak het, het hy die voorbeeld van sy hemelse Vader gevolg, van wie Amos 3:7 sê: “Want die Here HERE doen niks tensy Hy sy raadsbesluit aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie.”
Is dit nie wat vriende gewoonlik doen nie? Ons het moontlik geen begeerte om met mnr. Van der Merwe oorkant die straat oor ons ondervindinge te gesels nie. En ons sal beslis nie ons diepste gedagtes en emosies met hom bespreek nie. Hy is per slot van rekening bloot ’n kennis. Maar wanneer dit by ons vriende kom, kan ons dikwels nie wag om hulle sulke dinge te vertel nie!
Dit geld ook vir ons vriendskap met God. Ons kan skaars wag om hom in gebed te nader, om ons behoeftes, ons begeertes en ons diepste emosies aan hom te openbaar. Vriendskap sal natuurlik van korte duur wees as kommunikasie eensydig is. Daarom moet ons ook toelaat dat God met ons praat. Ons doen dit deur sorgvuldig na sy geskrewe Woord te luister, oor sy raad te peins en dit dan na die beste van ons vermoë toe te pas.
Hoe belangrik is Jehovah se vriendskap vir jou?
Om jou te help om hierdie vraag te beantwoord, kan jy gerus nadink oor ’n spesiale soort vriendskap tussen mense. As jy ’n jongmens is, stel jy miskien belang in ’n vriendskap wat tot ’n huwelik kan lei. Jy besef natuurlik dat dit beswaarlik ’n grondslag vir ’n huwelik is as jy en ’n toekomstige huweliksmaat net kennisse is. Bekendheid met iemand moet eers in vriendskap verander word. Hierdie vriendskap kan dan opgebou en gevorm word tot ’n intiemer verhouding wat uiteindelik die grondslag vir ’n gelukkige huwelik sal lê.
Dink nou hieraan. Hoeveel moeite doen die meeste mense om so ’n vriendskap op te bou? Hoeveel tyd en geld bestee hulle daaraan om dit op te bou en dit dan te behou? Hoeveel tyd bestee hulle tog nie deur daaraan te dink nie? In watter mate maak hulle planne—of is hulle bereid om planne te verander—om hierdie vriendskap te kan verbeter of te kan behou?
Vra jou dan af: ‘Hoe vergelyk dit met my pogings om vriendskap met my Skepper op te bou of om dit te verbeter en te versterk? Hoeveel tyd bestee ek daaraan om dit te doen? In watter mate neem my vriendskap met Jehovah my gedagtes in beslag? In watter mate maak ek planne—of is ek bereid om planne te verander—om hierdie verhouding te verbeter en dan te behou?’
Jong Christene moet terdeë daarvan bewus wees dat alle vriendskappe met mense, ook die een wat uiteindelik tot ’n huwelik lei, ondergeskik is aan die vriendskap wat hulle met hulle Skepper moet hê. Dit is waarom hulle met hierdie woorde in Prediker 12:1 aangespoor word: “Dink aan jou Skepper in die dae van jou jonkheid.” Baie doen dit deur God as openbare bedienaars te dien, waarvan ’n immer toenemende getal dit as voltydse predikers, of pioniers, doen.
Ondanks die toenemende sinisme en ongodsdienstigheid om hulle verdedig hulle Jehovah moedig wanneer hy gesmaad en daar valse aantygings teen hom geslinger word. Behoort Jehovah dit nie tereg van sy vriende te kan verwag nie? Is dit nie wat ons ook van ons vriende sal verwag nie? En sal dit nie ons hart verbly as ons uitvind dat ons vriende dit ywerig en met oortuiging doen nie?—Vergelyk Spreuke 27:11.
Ja, vriendskap met God—net soos met mense—bring verantwoordelikhede mee wat nagekom moet word indien ons die vriendskap wil behou. Iemand wat onwillig is om hierdie verantwoordelikhede te aanvaar of wat nie bereid is om ’n toewyding aan God te maak en dit dan uit te leef nie, kan Jehovah weliswaar ken. Maar hy moet nog die vreugde smaak om Hom as Vriend te hê.
[Prent op bladsy 25]
Abraham het op God vertrou en is daarom Jehovah se vriend genoem