Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 6/15 bl. 22-27
  • Vissers van mense in wêreldomvattende waters

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vissers van mense in wêreldomvattende waters
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vissers van mense, ’n wêreldwye uitdaging
  • Vooruitgang in die wêreldwye visvangwerk
  • Almal het ’n aandeel
  • Faktore wat tot vermeerdering bydra
  • Kan ons verbeter?
  • Wees vissers van mense
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Visvangs op die See van Galilea
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Wat beteken die visnet en die visse vir jou?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 6/15 bl. 22-27

Vissers van mense in wêreldomvattende waters

“Want as ek die evangelie verkondig, is dit vir my geen roem nie; want die dwang is my opgelê, en wee my as ek die evangelie nie verkondig nie!”—1 KORINTHIËRS 9:16.

 1, 2. (a) Wie het werklik die uitdaging aanvaar wat in 1 Korinthiërs 9:16 opgesluit lê, en waarom sê jy so? (b) Watter verantwoordelikheid het Jehovah se Getuies aanvaar?

WIE het in hierdie 20ste eeu werklik die uitdaging aanvaar wat in Paulus se woorde hierbo opgesluit lê? Wie het by die miljoene in die wêreld uitgegaan om vissers te wees van manne en vroue wat “bewus is van hulle geestelike behoefte”? (Mattheüs 5:3, NW). Wie het hulle blootgestel aan die gevare van gevangeneming en die dood, en wie het, omdat hulle Christus se bevel in Mattheüs 24:14 gehoorsaam, hierdie dinge in baie lande verduur?

2 Die feite sê vir ons: Jehovah se Getuies. Verlede jaar alleen het meer as viermiljoen Getuies van huis tot huis gegaan en ‘die evangelie verkondig’ in 211 lande en gebiede en in meer as 200 tale. Hulle was nie net ’n uitgekose groep opgeleide sendelinge nie. Nee, al Jehovah se Getuies beskou dit as hulle verantwoordelikheid om van huis tot huis en by elke gepaste geleentheid vir mense te preek en hulle te onderrig. Waarom meen hulle dat dit hulle plig is om die dinge wat hulle glo aan ander bekend te maak? Omdat hulle besef dat kennis verantwoordelikheid meebring.—Esegiël 33:8, 9; Romeine 10:14, 15, NW; 1 Korinthiërs 9:16, 17.

Vissers van mense, ’n wêreldwye uitdaging

 3. Hoe omvangryk moet die visvangwerk wees?

3 Hierdie groot visvangwerk is nie as ’t ware tot die een of ander rivier of meer of selfs een oseaan beperk nie. Nee, Jesus het beveel dat dit “aan al die nasies” verkondig moet word (Markus 13:10). Voordat Jesus na sy Vader opgevaar het, het hy vir sy dissipels gesê: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.”—Mattheüs 28:19, 20.

 4. (a) Wat moes Jesus se vroeë Joodse volgelinge verbaas het? (b) Hoe beskou Jehovah se Getuies die omvang van hulle predikingswerk?

4 Dié opdrag moes Jesus se Joodse volgelinge verbaas het. Hy het vir sy Joodse dissipels gesê dat hulle nou na die “onrein” nie-Jode van al die nasies sou moes gaan en hulle moes onderrig. Dit het vereis dat hulle hulle denke aanpas om die skok van daardie toewysing te verwerk en dit te aanvaar (Handelinge 10:9-35). Maar daar was geen manier waarop hulle dit kon ontduik nie; Jesus het vir hulle in ’n gelykenis gesê dat ‘die saailand die wêreld is’. Daarom beskou Jehovah se Getuies die hele wêreld vandag as hulle visvanggebied. Daar kan geen “20-kilometer-grens” of “gebiedswaters” wees wat die opdrag beperk wat hulle van God ontvang het nie. Soms moet daar goeie oordeel aan die dag gelê word op plekke waar daar nie godsdiensvryheid is nie. Hulle visvangs gaan nogtans met ’n gevoel van dringendheid gepaard. Waarom? Omdat wêreldgebeure en die vervulling van Bybelprofesieë daarop dui dat ons in die laaste deel van die wêreldwye visvangwerk is.—Mattheüs 13:38; Lukas 21:28-33.

Vooruitgang in die wêreldwye visvangwerk

 5. Watter soort mense reageer op die wêreldwye visvangwerk?

5 Die meeste van die gesalfde Koninkrykserfgename is voor 1935 uit die nasies ingesamel, en hulle getalle is dus so te sê volledig. Jehovah se Getuies soek derhalwe, veral sedert 1935, na daardie nederige mense wat beskryf kan word as die “ootmoediges” wat ‘die aarde sal besit’ (Psalm 37:11, 29). Dit is mense wat “sug en steun oor al die gruwels wat . . . gedoen word”. Hulle toon dat hulle ten gunste van God se Koninkryksheerskappy is voordat die “groot verdrukking” Satan se verdorwe en korrupte stelsel van dinge tref en sy aanbidders in “die vuuroond” van finale vernietiging gewerp word.—Esegiël 9:4; Mattheüs 13:47-50; 24:21.

 6, 7. (a) Watter stappe is in 1943 met betrekking tot die predikingswerk gedoen? (b) Wat was die resultate?

6 Was die wêreldwye visvangwerk tot dusver suksesvol? Wat toon die feite? Terwyl die Tweede Wêreldoorlog nog in 1943 gewoed het, het die getroue gesalfde broers by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, reeds voorsien dat ’n ontsaglike wêreldwye visvangwerk gedoen sou moes word. Watter stappe het hulle dus gedoen?a—Openbaring 12:16, 17.

7 In 1943 het die Wagtoringgenootskap ’n sendingskool, Gilead (Hebreeus, “Getuienishoop”; Genesis 31:47, 48), gestig wat begin het om elke ses maande honderd sendelinge op te lei sodat hulle wêreldwyd as simboliese vissers uitgestuur kon word. Destyds was daar net 126 329 Getuies wat in 54 lande as vissers van mense bedrywig was. Binne tien jaar het daardie getalle tot 519 982 Getuies in 143 lande gestyg! Die Gileadskool het beslis onverskrokke manlike sowel as vroulike vissers opgelewer wat bereid was om na vreemde kulture te gaan en hulle by nuwe viswaters aan te pas. Duisende regskape mense het as gevolg daarvan op die visvangs gereageer. Daardie sendelinge, sowel as die plaaslike Getuies wat saam met hulle gewerk het, het ’n grondslag gelê vir die wonderlike vermeerdering wat nou plaasvind.

 8, 9. (a) Watter voorbeelde van voortreflike sendingwerk kan genoem word? (b) Hoe het sendelinge uitstekende vermeerdering in hulle veld gesien? (Sien ook die 1992 Yearbook of Jehovah’s Witnesses.)

8 Talle getroue veterane uit daardie vroeë Gileadklasse dien steeds in hulle buitelandse toewysings, hoewel hulle nou al oor die 70 of selfs 80 is. Een voorbeeld wat kenmerkend van baie van hierdie sendelinge is, is dié van die 82-jarige Eric Britten en sy vrou, Christina, wat in 1950 uit die 15de klas van Gilead gegradueer het en steeds in Brasilië dien. Toe hulle in Brasilië gaan dien het, was daar nie eers 3 000 Getuies in daardie land nie. Nou is daar meer as 300 000! In Brasilië het die ‘geringste beslis ’n magtige nasie geword’ omdat die visvangwerk ’n groot vangs opgelewer het.—Jesaja 60:22.

9 En wat kan ons van die sendelinge in Afrika sê? Die meeste van hulle het hulle aangepas by ’n kultuur wat baie anders as hulle s’n is en hulle het baie lief geword vir die mense van Afrika. Voorbeelde van hulle is die broers John en Eric Cooke en hulle vrouens, Kathleen en Myrtle, wat tans in Suid-Afrika dien. John en Eric het uit die agtste klas in 1947 gegradueer. Hulle het onderskeidelik in Angola, Zimbabwe, Mosambiek en Suid-Afrika gedien. Sommige sendelinge het weens siekte in Afrika gesterf en ander weens oorlog en vervolging, soos Alan Battey en Arthur Lawson, wat tydens die onlangse burgeroorlog in Liberië gesterf het. Tog het die waters van Afrika ’n baie groot vangs opgelewer. Daar is nou meer as 400 000 Getuies oor daardie ontsaglike kontinent versprei.

Almal het ’n aandeel

10. Waarom en op watter wyse doen pioniers ’n prysenswaardige werk?

10 Maar ons moet erken dat, hoewel daar al duisende buitelandse sendelinge was, daar miljoene verkondigers en pioniersb is wat in hulle eie lande dien. Hulle doen wêreldwyd die grootste gedeelte van die predikingswerk. In 1991 was daar gemiddeld 550 000 pioniers en reisende bedienaars. Wat ’n indrukwekkende getal is dit tog as ons dink aan al hierdie getroue Getuies wat ’n spesiale poging aanwend om aan die groot visvangwerk deel te neem, terwyl hulle elke maand gemiddeld enigiets van 60 tot 140 uur aan die predikingswerk bestee. Baie doen dit al verg dit groot selfopoffering en onkoste. Maar waarom? Omdat hulle Jehovah hulle God liefhet met hulle hele hart, verstand, siel en krag, en hulle het hulle naaste lief soos hulleself.—Mattheüs 22:37-39.

11. Watter duidelike bewys is daar van die werking van Jehovah se gees onder sy volk?

11 Wat kan ons van die meer as drie en ’n half miljoen ander Getuies sê wat nie in die voltydse diens is nie maar nogtans, na gelang van hulle omstandighede, ’n volle aandeel aan Jehovah se diens het? Sommige is eggenotes, selfs moeders met klein kindertjies, wat nietemin van hulle waardevolle tyd aan die wêreldwye visvangwerk wy. Baie is eggenote of vaders met ’n voltydse werk; tog sit hulle gedurende naweke en in die aande tyd opsy om die waarheid aan vreemdelinge te leer. Dan is daar die groot menigte ongetroude manne en vroue en jongmense wat aan die predikingswerk deelneem en wat die waarheid deur hulle gedrag aanbeveel. Watter ander godsdiensgroep het meer as viermiljoen onbetaalde vrywilligers wat elke maand die goeie nuus van God se Koninkryksheerskappy verkondig? Dit is beslis bewys van die werking van Jehovah se gees!—Psalm 68:12; Handelinge 2:16-18; vergelyk Sagaria 4:6.

Faktore wat tot vermeerdering bydra

12. Waarom en in watter getalle reageer mense op die waarheid?

12 Hierdie ontsaglike predikingswerk lewer jaarliks merkwaardige resultate op. In 1991 is meer as 300 000 nuwe Getuies deur algehele onderdompeling in water gedoop. Dit is gelyk aan meer as 3 000 gemeentes wat elk uit 100 Getuies bestaan! Hoe word dit alles bereik? Laat ons onthou wat Jesus gesê het: “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie . . . Dit is geskrywe in die profete: En hulle sal almal deur God geleer wees. Elkeen dan wat dit van die Vader gehoor en geleer het, kom na My toe.” Dit is dus nie net deur mense se pogings dat iemand op die wêreldwye visvangs reageer nie. Jehovah sien die hartstoestand van mense en trek diegene wat dit waardig is na hom toe.—Johannes 6:44, 45; Mattheüs 10:11-13; Handelinge 13:48, NW.

13, 14. Watter goeie gesindheid het baie Getuies geopenbaar?

13 Maar Jehovah gebruik mensevissers as die werktuie om mense na hom toe te trek. Daarom is hulle gesindheid teenoor die mense en die gebied waar hulle visvang belangrik. Hoe bemoedigend is dit tog om te sien dat die oorgrote meerderheid Paulus se woorde aan die Galasiërs ter harte neem: “En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie.”—Galasiërs 6:9.

14 Talle getroue Getuies preek al dekades lank, terwyl hulle wêreldgebeure fyn dophou. Hulle het die opkoms en val van Nazisme, Fascisme en ander totalitêre stelsels gesien. Party het die baie oorloë gesien wat sedert 1914 gevoer is. Hulle het gesien hoe wêreldleiers staatmaak op die Volkebond en toe op die Verenigde Nasies. Hulle het gesien hoe Jehovah se werk verbied is en hoe dit later in baie lande gewettig is. Jehovah se Getuies het deur al hierdie dinge nie opgehou om te doen wat goed is nie, onder andere om as vissers van mense te dien. Wat ’n voortreflike rekord van onkreukbaarheid tog!—Mattheüs 24:13.

15. (a) Watter hulp het ons gehad om ons by die behoeftes van ons wêreldwye gebied aan te pas? (b) Van watter nut was publikasies al in jou toewysing?

15 Daar is ander faktore wat tot hierdie wêreldwye vermeerdering bygedra het. Een daarvan is die aanpasbaarheid van die vissers van mense ten opsigte van die behoeftes van die gebied. Vanweë die migrasie van volke van verskillende kulture, godsdienste en tale het Jehovah se Getuies hulle begrip van hierdie uiteenlopende beskouings verbreed. En die wêreldwye gemeente het geweldig baie gehelp deur Bybels en Bybellektuur in meer as 200 tale voor te berei. Die New World Translation of the Holy Scriptures, in sy geheel of ten dele, is nou beskikbaar in 13 tale, waaronder Tsjeggies en Slowaaks. Die brosjure Jy kan vir ewig op die aarde lewe! is nou beskikbaar in 198 tale, wat wissel van Albanees tot Zulu, met ’n oplaag van 72 miljoen eksemplare. Die boek Die grootste mens wat nog geleef het is reeds in 69 tale vertaal. Die mensdom se soeke na God, wat in 29 tale gedruk is, gee ons insig in die oorsprong en opvattinge van die vernaamste godsdiensstelsels van die wêreld en dit is ’n unieke hulpmiddel in die wêreldwye visvangs.

16. Hoe het sommige op die behoeftes in ander lande gereageer?

16 Wat anders het tot die uitbreiding van die wêreldwye visvangwerk gelei? Duisende was bereid om gehoor te gee aan die ‘Macedoniese oproep’. Net soos Paulus bereid was om van Klein-Asië na Macedonië in Europa te gaan toe God hom daartoe geroep het, het baie Getuies na lande en gebiede verhuis waar daar meer Koninkryksverkondigers sowel as ouere manne en bedieningsknegte nodig is. Hulle is soos letterlike vissers wat gevind het dat daar baie visgevang word in hulle plaaslike waters en toe na ander waters gegaan het waar daar minder skuite en baie visse is.—Handelinge 16:9-12; Lukas 5:4-10.

17. Watter voorbeelde het ons van diegene wat op die ‘Macedoniese oproep’ gereageer het?

17 Onlangse klasse van die Gileadsendingskool het studente uit verskeie Europese lande ingesluit wat Engels geleer het en toe aangebied het om in ander lande en kulture te dien. Baie ongetroude broers word eweneens deur middel van die Koninkryksbedieningskool twee maande lank intensief opgelei en dan na ander lande gestuur om die gemeentes en die kringe te versterk. Nog unieke visgronde is die gebiede wat nou in Oos-Europa en die gewese Sowjetrepublieke oopgaan.—Vergelyk Romeine 15:20, 21.

18. (a) Waarom is pioniers gewoonlik bekwame bedienaars? (b) Hoe kan hulle ander in die gemeente help?

18 Nog ’n hulpmiddel in die wêreldwye visvangwerk is die Pionierdiensskool wat deur gewone pioniers bygewoon word. Deur twee weke van intensiewe dekking van die publikasie Skyn soos ligte in die wêreld, wat uitsluitlik vir pioniers voorberei word, verbeter hulle hulle vermoë in die bediening terwyl hulle onderwerpe bespreek soos, “Bewandel die weg van liefde”, “Volg Jesus as model na” en “Hoe om die onderrigkuns aan te leer”. Hoe dankbaar is al die gemeentes tog dat hulle hierdie spanne bekwame huis-tot-huisvissers het wat talle in hierdie groot visvangwerk kan oplei!—Mattheüs 5:14-16; Filippense 2:15; 2 Timotheüs 2:1, 2.

Kan ons verbeter?

19. Hoe kan ons, soos die apostel Paulus, ons bediening verbeter?

19 Ons moet, soos Paulus, ’n positiewe, versiende gesindheid hê (Filippense 3:13, 14). Hy het hom by alle soorte mense en omstandighede aangepas. Hy het geweet hoe om ’n gemeenskaplike grondslag te skep en hoe om op grond van plaaslike gesindhede en kultuur te redeneer. Ons kan Bybelstudies begin deur bedag te wees op die huisbewoner se reaksie op die Koninkryksboodskap en dan ons aanbieding by die persoon se behoeftes aan te pas. Met die groot verskeidenheid Bybelstudiehulpe wat ons het, kan ons die een aanbied wat by die persoon se beskouing pas. Ons aanpasbaarheid en oplettendheid is ook belangrike faktore as ons produktief in die visvangwerk wil wees.—Handelinge 17:1-4, 22-28, 34; 1 Korinthiërs 9:19-23.

20. (a) Waarom is ons visvangwerk nou so belangrik? (b) Wat is elkeen van ons se verantwoordelikheid nou?

20 Waarom is hierdie unieke wêreldwye visvangwerk nou so belangrik? Omdat dit duidelik is uit Bybelprofesieë van gebeure wat reeds plaasgevind het en wat nog plaasvind dat Satan se wêreldstelsel op ’n rampspoedige klimaks afstuur. Wat behoort ons as Getuies van Jehovah dus te doen? Die drie studieartikels in hierdie tydskrif het ons daarop gewys watter groot verantwoordelikheid ons het om vlytig en ywerig in ons visvangbedrywigheid in ons deel van die wêreldomvattende waters te wees. Ons het die vaste versekering in die Bybel dat Jehovah nie ons ywerige visvangbedrywigheid sal vergeet nie. Paulus het gesê: “God is nie onregverdig om julle werk te vergeet nie en die liefdearbeid wat julle betoon het vir sy Naam, omdat julle die heiliges gedien het en nog dien. Maar ons verlang dat elkeen van julle dieselfde ywer mag toon om te kom tot die volkome sekerheid van die hoop tot die einde toe.”—Hebreërs 6:10-12.

[Voetnote]

a Sien ook Openbaring—Sy groot klimaks is ophande!, bladsye 185 en 186, wat uitgegee word deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.

b “Pionierverkondiger . . . ’n Voltydse werker van die Jehovasgetuies.”—Webster’s Third New International Dictionary.

Onthou jy?

◻ Waarom beskou Jehovah se Getuies die hele wêreld as hulle visvanggebied?

◻ Tot watter seën het die Gileadsendingskool vir die visvangwerk gelei?

◻ Wat is sommige faktore wat bygedra het tot die sukses van Jehovah se Getuies?

◻ Hoe kan elkeen van ons in ons Christelike bediening verbeter?

[Tabel op bladsy 24]

RESULTATE VAN DIE INTERNASIONALE VISVANGS

Jaar Lande Getuies

1939 61 71 509

1943 54 126 329

1953 143 519 982

1973 208 1 758 429

1983 205 2 652 323

1991 211 4 278 820

[Prent op bladsy 25]

Die getuieniswerk word steeds onder Galilese vissers gedoen

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel