Waarom ondervind goeie mense lyding?
DIT was 1914, en die wêreld was in ’n oorlog gewikkel. Skielik het tifus in ’n krygsgevangenekamp in Serwië uitgebreek. Maar dit was net die begin. Die gevreesde siekte het na burgerlikes versprei en binne slegs ses maande die dood van 150 000 veroorsaak. Driemiljoen het, onder die oorlogstoestande en die daaropvolgende revolusie in Rusland, aan tifus gesterf. Jy kan tereg tot die gevolgtrekking kom dat talle goeie mense en hulle bedroefde familielede onder die slagoffers was.
Dit is net één voorbeeld van ’n tragedie wat die mensdom getref het. Jy het moontlik al self die lyding ondervind wat dit meebring wanneer geliefdes die slagoffers van die een of ander siekte, ongeluk en ramp word. Dit kwel jou waarskynlik wanneer ’n regskapene deur die pyn van ’n ongeneeslike siekte afgetakel word. Jy voel sekerlik diep bedroef wanneer ’n goeie mens—miskien ’n hardwerkende gesinsman—in ’n ongeluk sterf. Die smart van die bedroefde gesinslede laat jou hart vir hulle bloei.
Baie meen dat iemand wat goed doen as beloning van lyding gevrywaar moet word. Sommige beskou lyding selfs as ’n bewys dat die slagoffer ’n sondaar is. Dit is hoe drie manne geredeneer het wat sowat 3 600 jaar gelede gelewe het. Hulle was tydgenote van ’n goeie man, Job. Kom ons gaan terug na hulle tyd terwyl ons begin soek na ’n antwoord op die vraag: Waarom ondervind goeie mense lyding?
Job se lyding
Toe Job se drie sogenaamde vriende hom besoek het, het hy onbeskryflike lyding weens pyn en siekte ondervind. Die dood het hom van sy tien kinders beroof, en hy het al sy materiële besittings verloor. Mense wat vroeër agting vir Job gehad het, het hom verafsku. Selfs sy vrou het hom in die steek gelaat en daarop aangedring dat hy God vervloek en sterf.—Job 1:1–2:13, vgl. NW; 19:13-19.
Sewe dae en nagte lank het Job se besoekers sy lyding stilswyend aanskou. Toe het een van hulle hom daarvan beskuldig dat hy gesondig het en nou daarvoor gestraf word. “Bedink tog”, het Elifas gesê, “wie het ooit onskuldig omgekom, en waar is opregtes verdelg? Volgens ek gesien het: Die wat onreg ploeg en moeite saai, dié maai dit. Deur die asem van God kom hulle om, en deur die geblaas van sy toorn word hulle vernietig.”—Job 4:7-9.
Met hierdie woorde het Elifas beweer dat God Job vir sy sonde gestraf het. Vandag sê sommige mense ook dat rampe dade van God is om mense vir hulle sondes te straf. Maar Jehovah het Job nie gestraf omdat hy gesondig het nie. Ons weet dit, want God het later vir Elifas gesê: “My toorn het ontvlam teen jou en jou twee vriende; want julle het nie reg van My gespreek soos my kneg Job nie.”—Job 42:7.
God is nie daarvoor verantwoordelik nie
Miljoene mense—wat ongetwyfeld talle goeie mense insluit—leef vandag in uiterste armoede en staan op die randjie van verhongering. Sommige mense raak verbitter en blameer God vir hulle lyding. Maar hy is nie verantwoordelik vir hongersnood nie. Trouens, hy is die Een wat die mensdom van kos voorsien.—Psalm 65:10.
Selfsug, hebsug en ander menslike faktore verhinder dalk dat kos honger mense bereik. Oorlog is een van die oorsake van hongersnood. The World Book Encyclopedia sê byvoorbeeld: “Oorlog kan tot hongersnood lei as baie boere hulle lande agterlaat en by die weermag aansluit. In sommige gevalle het ’n leër al met opset ’n hongersnood laat ontstaan om ’n vyand deur uithongering tot oorgawe te dwing. Die leër vernietig opgegaarde kos en oeste wat nog op die lande staan en stel ’n blokkade in om die vyand se kosvoorraad af te sny. Blokkades het verhinder dat voedselbesendings die Biafra-gebied gedurende die burgeroorlog in Nigerië (1967-70) bereik. Dit het ’n hongersnood laat ontstaan, en meer as ’n miljoen Biafrane het vermoedelik van die honger omgekom.”
Sommige het God veral gedurende die Tweede Wêreldoorlog verkeerdelik blameer toe talle goeie mense gely en gesterf het. Maar mense oortree God se wette deur mekaar te haat en teen mekaar oorlog te voer. Toe ’n skrifgeleerde Jesus Christus gevra het watter gebod ‘die eerste van almal’ is, het hy geantwoord: “Die eerste van al die gebooie is: Hoor, Israel, die Here, onse God, is ’n enige Here; en jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele verstand en uit jou hele krag. Dit is die eerste gebod. En die tweede, hieraan gelyk, is dit: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Daar is geen ander gebod groter as dié nie.”—Markus 12:28-31.
Kan iemand God tereg blameer wanneer mense sy wette verbreek deur by grootskaalse slagting betrokke te raak en dit lyding tot gevolg het? Is ’n ouer daarvoor verantwoordelik as sy kinders seerkry nadat hy vir hulle gesê het dat hulle nie met mekaar moet baklei nie en hulle nie na hierdie goeie raad luister nie? Die ouer is net so min daarvoor verantwoordelik as wat God vir menselyding verantwoordelik is wanneer mense sy wette veronagsaam.
Hoewel lyding die gevolg kan wees wanneer Jehovah se wette in die wind geslaan word, toon die Bybel nie dat rampe in die algemeen dade van God is om die goddeloses te straf nie. Toe die eerste mensepaar gesondig het, het hulle sy spesiale seën en beskerming verbeur. Met die uitsondering van gevalle van Goddelike ingryping om Jehovah se voornemens tot stand te bring, geld hierdie skriftuurlike beginsel vir die dinge wat van dag tot dag met die mensdom gebeur: “Die wedloop [is] nie . . . vir die vinniges en die oorlog nie vir die helde nie; en ook die brood is nie vir die wyse of ook rykdom vir die slimmes of ook guns vir die verstandiges nie; want tyd en lotgeval tref hulle almal.”—Prediker 9:11.
Goeie én slegte mense ly
Goeie én slegte mense ly in werklikheid as gevolg van oorgeërfde sonde en onvolmaaktheid (Romeine 5:12). Regverdige sowel as goddelose mense kry byvoorbeeld pynlike siektes. Die getroue Christen Timotheüs het aan “herhaalde ongesteldhede” gely (1 Timotheüs 5:23). Toe die apostel Paulus van sy eie “doring in die vlees” gepraat het, het hy waarskynlik na die een of ander fisiese kwaal verwys (2 Korinthiërs 12:7-9). God neem nie eers sy getroue knegte se oorgeërfde swakhede of vatbaarheid vir siekte nou weg nie.
Godvrugtige mense kan ook ly omdat hulle swak oordeel aan die dag lê of soms versuim om skriftuurlike raad toe te pas. Ter toeligting: Iemand wat ongehoorsaam is aan God en met ’n ongelowige trou, kan huweliksprobleme ondervind wat hy kon vermy het (Deuteronomium 7:3, 4; 1 Korinthiërs 7:39). As ’n Christen nie behoorlik eet en genoeg rus kry nie, kan hy ly omdat hy sy gesondheid ondermyn.
Dit kan tot emosionele lyding lei as ons voor swakhede swig en ons aan verkeerde gedrag skuldig maak. Koning Dawid se owerspel met Batseba het groot lyding vir hom meegebring (Psalm 51). Terwyl hy sy sonde probeer bedek het, het dit hom diep gekwel. “Toe ek geswyg het”, het hy gesê, “het my gebeente uitgeteer in my gebrul die hele dag; . . . my murg het verander soos deur somergloed” (Psalm 32:3, 4). Gewetenswroeging oor sy skuld het Dawid se krag verswak soos ’n boom gedurende ’n droogte of in die somer se droë hitte lewegewende vog kan verloor. Hy het blykbaar geestelik en fisies gely. Maar Psalm 32 toon dat sulke lyding verlig kan word deurdat ’n persoon die sonde berouvol bely en God se vergifnis verkry.—Spreuke 28:13.
Slegte mense ly dikwels omdat hulle ’n sedelose lewe lei, en nié as gevolg van Goddelike straf nie. Herodes die Grote het dodelik siek geword as gevolg van sy bose gewoontes. Gedurende sy laaste dae het Herodes “ontsettende pyn verduur”, het die Joodse geskiedskrywer Josephus gesê. “Hy het ’n verskriklike drang gehad om hom te krap, sy ingewande was vol sere en sy geslagsdele was deur kouevuur aangetas en verrot. Hy het tevergeefs verligting van sy gehyg en stuiptrekkings in die warmbronne by Callirrhoe probeer kry. . . . Herodes het op hierdie stadium sulke verskriklike pyn verduur dat hy homself probeer doodsteek het, maar sy neef het hom gekeer.”—Josephus: The Essential Writings, vertaal en geredigeer deur Paul L. Maier.
Wanneer iemand God se wet gehoorsaam, beskerm dit hom in ’n mate teen dinge soos seksueel oordraagbare siektes. Maar waarom lyk dit of goeie mense wat sy guns soek dan nog so uitermate ly?
Waarom godvrugtige mense ly
’n Belangrike rede waarom godvrugtige mense ly, is dat hulle regverdig is. Dit word toegelig deur die geval van die patriarg Jakob se seun, Josef. Hoewel Potifar se vrou voortdurend by Josef aangedring het om geslagsgemeenskap met haar te hê, het hy gevra: “Hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen en sondig teen God?” (Genesis 39:9). Dit het daartoe gelei dat Josef ten onregte in die gevangenis opgesluit is, en hy het gely omdat hy regverdig was.
Maar waarom laat God toe dat sy getroue knegte ly? Die antwoord lê in ’n geskil wat deur die opstandige engel Satan die Duiwel geopper is. Die mens se onkreukbaarheid aan God is by hierdie geskil betrokke. Hoe weet ons dit? Omdat dit getoon is in die geval van die regverdige man Job waarvan ons vroeër gepraat het.
Tydens ’n vergadering van God se engeleseuns in die hemel het Jehovah Satan gevra: “Het jy ag gegee op my kneg Job? Want daar is niemand op die aarde soos hy nie: ’n man vroom en opreg, godvresend en wat afwyk van die kwaad.” Die Duiwel se antwoord bewys dat daar ’n geskil ontstaan het oor die mens se getrouheid aan Jehovah onder beproewing. Satan het aangevoer dat Job God gedien het vanweë die materiële seëninge wat hy geniet het en nie uit liefde nie. Toe het Satan gesê: “Strek net u hand uit en tas alles aan wat [Job] het—waarlik, hy sal U in u aangesig seën [“vervloek”, NW].” Jehovah het geantwoord: “Kyk, alles wat hy het, is in jou hand; net na homself mag jy jou hand nie uitsteek nie.”—Job 1:6-12.
Ondanks alles wat Satan kon doen, het Job regverdig gebly en bewys dat hy Jehovah uit liefde gedien het. Trouens, Job het vir sy beskuldigers gesê: “Dit is ver van my dat ek julle gelyk sou gee; totdat ek die asem uitblaas, sal ek my [onkreukbaarheid] nie prysgee nie” (Job 27:5, vgl. NW). Ja, sulke handhawers van onkreukbaarheid was nog altyd gewillig om ter wille van geregtigheid te ly (1 Petrus 4:14-16). Die Bybel vertel van baie wat volgehoue liefde vir God gehad het en regskape lewens tot eer van hom gelei het en Satan se bewering dat hy alle mense Jehovah die rug sal laat toekeer, vals bewys het. Elkeen wat ly omdat hy sy onkreukbaarheid aan God handhaaf, kan gelukkig wees omdat hy die Duiwel ’n leuenaar bewys en Jehovah se hart verbly.—Spreuke 27:11.
God staan nie onverskillig teenoor die lyding van sy getroue knegte nie. Die psalmis Dawid het gesê: “Die HERE ondersteun almal wat val, en Hy rig almal op wat neergeboë is” (Psalm 145:14). Diegene wat aan Jehovah toegewy is, het dalk nie genoeg persoonlike krag om die lewe se lyding en die vervolging wat hulle as sy volk ondervind te verduur nie. Maar God versterk en onderskraag hulle en gee hulle die nodige wysheid om al hulle beproewings te verduur (Psalm 121:1-3; Jakobus 1:5, 6). Selfs al word sommige van Jehovah se getroue knegte deur vervolgers om die lewe gebring, het hulle die godgegewe hoop op ’n opstanding (Johannes 5:28, 29; Handelinge 24:15). God kan selfs in dié mate die gevolge ongedaan maak van enige lyding wat diegene ondervind wat hom liefhet. Hy het Job se lyding laat eindig en daardie regskape man ryklik geseën. En ons kan die vertroue hê dat Jehovah nie sy volk in ons dag in die steek sal laat nie.—Job 42:12-16; Psalm 94:14.
Binnekort—nie meer lyding nie
Almal ondervind derhalwe lyding as gevolg van oorgeërfde onvolmaaktheid en die lewe in hierdie goddelose stelsel van dinge. Godvrugtige persone kan ook verwag om te ly omdat hulle hulle onkreukbaarheid aan Jehovah handhaaf (2 Timotheüs 3:12). Maar hulle kan hulle verheug, want God gaan binnekort ’n einde aan trane, die dood, droefheid, geween en moeite maak. Die apostel Johannes het hieroor geskryf:
“Ek het ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie. En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ’n bruid wat vir haar man versier is. En ek het ’n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan. En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het aan my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar.”—Openbaring 21:1-5.
Die apostel Petrus het eweneens gesê: “Ons verwag volgens sy [Jehovah God se] belofte nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin geregtigheid woon” (2 Petrus 3:13). Watter wonderlike vooruitsigte is tog ophande! Lewe op ’n paradysaarde kan jou blye voorreg wees (Lukas 23:43, NW). Moet dus nie toelaat dat jou huidige lyding jou verbitter nie. Hou eerder jou oë optimisties op die toekoms gerig. Stel jou hoop en vertroue in God se nuwe wêreld wat so naby is. Volg ’n weg wat vir Jehovah God aanneemlik is, en jy kan vir ewig in ’n wêreld vry van alle lyding lewe.
[Prent op bladsy 4]
Hoewel Job gely het, het hy ’n lewensweg gevolg wat vir God aanneemlik was
[Prent op bladsy 7]
Jy kan in ’n wêreld vry van alle lyding lewe
[Foto-erkenning op bladsy 3]
Collier’s Photographic History of the European War