Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 11/1 bl. 23-26
  • Kyk wat het Jehovah vir ons gedoen!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kyk wat het Jehovah vir ons gedoen!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • Groter vryheid in Wes- en Sentraal-Afrika
  • Wetlike erkenning in Suider-Afrika
  • Die jonges neem deel aan die getuieniswerk
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 11/1 bl. 23-26

Kyk wat het Jehovah vir ons gedoen!

“ONS het altyd om so ’n geleentheid gebid”, het een man gesê. ’n Ander het elke oggend om vieruur opgestaan om te bid. Waarvoor? “Om te bid dat ons eendag die vryheid sal hê om Jehovah openlik te dien”, het hy gesê. Toe Jehovah se Getuies in Ethiopië in Januarie 1992 in Addis Ababa byeengekom het vir hulle “Liefhebbers van Vryheid”-Streekbyeenkoms was dit duidelik dat hierdie nederige, opregte gebede verhoor is.

Hierdie Ethiopiese byeenkoms was ’n aanduiding van die veranderinge wat in Afrika aan die gang is. In onlangse jare het Jehovah se volk in 13 Afrika-lande hulle verheug omdat hulle wetlike vryheid verkry het waar hulle vantevore verbied of beperk was. In Ethiopië is die amptelike verbod van 34 jaar op 11 November 1991 opgehef toe regeringsamptenare erkenning aan die Getuies verleen het en die organisasie weer geregistreer is. Die Getuies het dadelik reëlings getref om ’n internasionale byeenkoms te hou. Maar om ’n skare van 7 573 in die stadstadion in Addis Ababa byeen te sien, het almal se stoutste verwagtinge oortref. Die meeste aanwesiges het gevoel hulle droom. Hulle het oor en oor vir mekaar gesê: “Broer, kyk wat het Jehovah onse God vir ons gedoen!”—Vergelyk Psalm 66:1-5; 126:1.

Die feit dat die Getuies 34 jaar lank verbied was, het onverwagte probleme geskep. Die meeste het nie die lieflike Koninkryksliedere geken nie. Hoe kon hulle die liedere voor die byeenkoms leer sing? Veertig liedere, onder meer die 17 wat by die byeenkoms gesing sou word, is in Amharies vertaal. Toe is ’n spesiale koor afgerig sodat bandopnames van die liedere gemaak kon word. Elke gemeente in die hoofstad het ’n kasset ontvang en ’n halfuur lank vóór en ná die vergaderinge die liedere saam geoefen. Die resultaat? Die stadion het gedurende die byeenkoms weerklink van vreugdevolle sang uit volle bors.

Weens onluste in die oostelike deel van die land was die pad van Dire Dawa en Harer na die hoofstad versper. Mense kon slegs per vliegtuig daarvandaan reis. Agt broers in Harer kon nie die vliegtuigkaartjies bekostig nie, maar hulle was vasbeslote om die byeenkoms by te woon en het na ’n leërbasis gegaan en plek op ’n militêre vliegtuig gevra. Tot hulle verbasing is die versoek toegestaan. Hulle het gratis vervoer na die byeenkoms gekry!

Om hulle gebede beantwoord te sien, het vreugdetrane laat vloei onder hierdie Ethiopiese broers wat die afgelope drie dekades ontberings en vervolgings verduur het en selfs moes aanskou hoe hulle vriende vanweë hulle geloof tereggestel is. Een byeenkomsganger het gesê: “Ek huil al vandat die byeenkoms begin het.” ’n Ander een het gesê: “As jy harte kon lees, sou jy gesien het hoe bly ek is.” Ja, wat ’n wonderlike ding het Jehovah vir hierdie getroue Getuies gedoen!—Psalm 66:16, 19.

Groter vryheid in Wes- en Sentraal-Afrika

Benin is nog ’n land waar die werk van Jehovah se volk onlangs gewettig is. Hoe voel die Getuies hieroor? Een spreker by ’n Christelike byeenkoms daar het erken: “In hierdie land is vryheid van aanbidding voorwaar ’n gawe van Jehovah.” Ja, Jehovah se knegte in Benin is innig dankbaar dat hulle nou heeltemal vry is om in aanbidding byeen te kom en met hulle medemens oor Jehovah se Koninkryk te praat—vryhede wat soveel van ons as vanselfsprekend aanvaar.

Hoe kan hulle hulle blydskap toon? Bogenoemde spreker het op een manier gewys toe hy gesê het: “Die feit dat ons aan die predikingswerk deelneem—veral as ons van huis tot huis gaan met die goeie nuus—weerspieël ons waardering vir hierdie vryheid.” In Benin was dit beslis die geval. Kyk net as bewys hiervan na die pioniersyfers. Gedurende Januarie 1990, die maand toe die 14 jaar lange verbod opgehef is, was daar 77 verkondigers in die gewone voltydse diens. Twee jaar later het die getal meer as verdriedubbel, tot 244!

Dit wil nie sê dat die Getuies in Benin nie bedrywig was voor die verbod opgehef is nie. Trouens, hulle volharding het ’n geweldige indruk gemaak op een leëroffisier wat diens gedoen het by ’n kamp waarheen hulle gebring is wanneer hulle in hegtenis geneem is. Aangesien die Getuies se vasbeslotenheid om Jehovah te dien tot veelvuldige inhegtenisnemings gelei het, het hy gevind dat hy feitlik voortdurend met hulle in aanraking was. Maar dit het hom net laat dink aan die genotvolle Bybelbesprekings wat hy vroeër met hulle gehad het in die dae toe hulle wetlike vryheid geniet het.

Mettertyd het hulle sterk geloof hom van sy eie geestelike behoefte bewus gemaak. Hy het verskeie kerke en sektes besoek maar kon nie hierdie behoefte bevredig nie. Hy kon eers ná die verbod in Januarie 1990 opgehef is die Bybel vrylik met die Getuies bespreek en die bevrediging van sy geestelike behoefte vind. Hy is nou gedoop en dien as ’n pionier. In sekere sin laat sy verandering die broers in Benin dink aan wat met Saulus van Tarsus gebeur het: “Hy wat ons vroeër vervolg het, verkondig nou die geloof.”—Galasiërs 1:23.

In Desember 1991 is Jehovah se Getuies in nog ’n land in Wes-Afrika, Niger, as ’n liggaam met regspersoonlikheid geregistreer en is die beperkings op hulle werk opgehef. Ook hier is dit met groot blydskap begroet. Die takkantoor in Nigerië, wat na die werk in Niger omgesien het, berig soos volg oor die reaksie by een byeenkoms: “Vrydag net na die programrede by die byeenkoms in Maradi is die broers meegedeel dat ons nou wetlike erkenning in Niger verkry het. Hulle was baie opgewonde en het etlike minute lank hande geklap. Na afloop van die sessie het die broers behoorlik aan hulle gevoelens uiting gegee, mekaar omhels en gejubel oor hierdie goeie nuus.” Ons kan ons net hierdie toneel voorstel, en ons deel in hulle vreugde.

Hoe sal die broers daar hulle nuutgevonde vryheid gebruik? Een pioniersuster in Niger twyfel geensins oor die antwoord op hierdie vraag nie. Sy skryf: “Feite toon dat daar in ons gebied in Niger nog talle mense is wat voor die einde uit Babilon die Grote gaan kom. Om dit te staaf, wil ek meld dat ek tot dusver elke maand tussen 80 en 85 herbesoeke kon rapporteer en ek 13 of 14 tuisbybelstudies kon hou, ondanks die feit dat ek baie van my besoeke aan ander verkondigers gegee het.” Hierdie getroue suster voeg by: “Weens my swak gesondheid kan ek nie soveel in die velddiens doen as wat ek graag wil nie, maar elkeen doen wat hy kan.”

In Rwanda in Sentraal-Afrika het die situasie van Jehovah se Getuies ook drasties verander. In April 1992 is ’n dokument uitgereik wat bekragtig het dat hulle nou uiteindelik ’n wettige organisasie is. Die dokument is ontvang gedurende die week van die Gedenkmaal, en die 1 526 verkondigers in Rwanda was in ekstase om te sien dat 6 228 hierdie geleentheid bygewoon het. Sou hierdie dierbare broers hulle blydskap en waardering toon deur bedrywiger te wees in die verkondiging van die goeie nuus? Natuurlik! Gedurende dieselfde April het die gemeenteverkondigers gemiddeld 27,7 uur aan die predikingswerk bestee en 17 herbesoeke gedoen en gemiddeld 2,4 tuisbybelstudies gehou. En ongeveer 40 persent van die verkondigers het aan die een of ander vorm van voltydse diens deelgeneem.

Wetlike erkenning in Suider-Afrika

Hier onder in Suider-Afrika het die fris vryheidswinde oor twee pragtige lande, Mosambiek en Angola, gewaai. In Mosambiek is wetlike erkenning in Februarie 1991 toegestaan. Toe die situasie daar verbeter het, het die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap sendelinge ingestuur in die land wat op so ’n tragiese wyse deur burgeroorlog verwoes is. Die sendelinge het vrugbare grond gevind. Bybellektuur—veral die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk—is in groot aanvraag. Een sendelingsuster vertel hoe sy in minder as twee en ’n halfuur 50 boeke versprei het.

Belangstellendes vorder vinnig. ’n Sendeling het na ’n adres gegaan wat aan die Genootskap gestuur is. Dit was toe die adres van ’n man wat in die leër is. Die sendeling het ’n goeie gesprek met die man en twee van sy familielede gehad. Tydens ’n herbesoek het hy nog ’n vrugbare bespreking met die man en vyf ander mense gehad. Toe het hulle op ’n uitnodiging die openbare toespraak en die Wagtoring-studie bygewoon—dít alles binne vier dae.

In Angola het die Getuies geleidelik meer vryheid geniet en is hulle werk uiteindelik in April 1992 gewettig. Hoe gebruik hulle hulle groter vryheid? Hulle doen velddiens! Daar is sowat 17 000 verkondigers in Angola, en hierdie verkondigers hou bykans 60 000 Bybelstudies. Wat ’n potensiaal vir vermeerdering in die dae wat kom!

Die jonges neem deel aan die getuieniswerk

In hierdie lande waar die predikingswerk onlangs gewettig is, toon selfs die jonges en diegene wat nog nie gedoop is nie hulle waardering deur bedrywig in die bediening te wees. In die Kaap-Verdiese Republiek, waar Jehovah se Getuies in November 1990 wetlike erkenning verkry het, het ’n 17-jarige meisie by ’n byeenkoms opgestaan om openbare belydenis van haar geloof te doen. Ná die doopplegtigheid het ’n besoeker ’n hele groep mense om haar sien staan. Hy het haar geluk gaan wens en gevra wie die mense is. “O, hulle is my Bybelstudies”, het sy gesê. Sy het sewe Bybelstudies gehou, en hulle was daar om haar met haar doop geluk te wens. Sy het toe reeds haar aansoek ingegee om as ’n hulppionier te dien en het daarna uitgesien om mettertyd aan die vereistes te voldoen om ’n gewone pionier te word.

Iemand het ’n tienjarige meisie in Angola gevra of sy ’n verkondiger is. “Ja”, het sy geantwoord. Hou sy enige Bybelstudies? “Natuurlik.” Hoeveel? “Sewe”, was hierdie tienjarige se antwoord.

Ons lees in die boek Handelinge dat die gemeentes van die eerste eeu op ’n stadium ‘deur die hele Judea en Galilea en Samaria vrede gehad het; en terwyl hulle opgebou is en gewandel het in die vrees van die Here en die vertroosting van die Heilige Gees, het hulle vermeerder’ (Handelinge 9:31). Ons bid vir ons broers in Afrika dat hierdie ook ’n tydperk van vrede sal wees. Ons verheug ons saam met hulle onderwyl hulle opgebou word, en ons bede is dat Jehovah se gees op hulle mag wees terwyl hulle hulle vryheid benut om die goeie nuus te verkondig en hulle aanhou vermeerder.

[Kaart op bladsy 24]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Lande waar Jehovah se Getuies wetlike erkenning verkry het of waar beperkings teen hulle opgehef is

 1. Gambië, Desember 1989

 2. Benin, Januarie 1990

 3. Kaap-Verdiese Republiek, November 1990

 4. Mosambiek, Februarie 1991

 5. Ghana, November 1991

 6. Ethiopië, November 1991

 7. Kongo, November 1991

 8. Niger, Desember 1991

 9. Togo, Desember 1991

10. Tsjaad, Januarie 1992

11. Kenia, Maart 1992

12. Angola, April 1992

13. Rwanda, April 1992

[Prent op bladsy 23]

’n Koninkryksverkondiger in Benin trommel die woorde van Mattheüs 24:14 uit op sy spreektrom

[Prent op bladsy 25]

In baie Afrikalande maak ware Christene goeie gebruik van hulle nuutgevonde vryheid

[Prent op bladsy 26]

Nuwe Getuies simboliseer hulle toewyding aan Jehovah deur waterdoop

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel