’n Verlore ryk wat Bybelkritici in die verleentheid gestel het
“Die geskiedenis van die Assiriese ryk was voorheen een van die mees duistere hoofstukke in die wêreld se annale.” “Alles wat oor antieke Nineve bekend was, is in die Bybel vervat in verstrooide sinspelings en profesieë wat daarop dui en in die terloopse en onvolledige opmerkings oor Assiriese geskiedenis deur Diodorus Siculus . . . en andere.”—Cyclopædia of Biblical Literature, Dele 1 en 3, 1862.
DIE Griekse geskiedskrywer Diodorus Siculus het 2 000 jaar gelede gelewe. Volgens hom was Nineve ’n vierhoekige stad; die vier kante was altesaam 480 stadieë lank. Dit is ’n omtrek van 96 kilometer! Die Bybel skets ’n soortgelyke prentjie en beskryf Nineve as ’n ontsaglike groot stad van “drie dagreise te voet”.—Jona 3:3.
Bybelkritici van die 19de eeu het geweier om te glo dat ’n onbekende stad uit die antieke wêreld so groot kon gewees het. Hulle het ook gesê as Nineve ooit bestaan het, dit ’n deel van ’n antieke beskawing moes gewees het wat Babilon voorafgegaan het.
Hierdie beskouing was strydig met Genesis hoofstuk 10, wat sê dat die agterkleinseun van Noag, Nimrod, die eerste politieke staat in die omgewing van Babel, of Babilion, gestig het. “Uit hierdie land”, gaan die Bybel voort, “het hy getrek na [Assirië] en gebou: Nineve en Rehobot-Ir en Kalag en Resen, tussen Nineve en Kalag—dit is die groot stad” (Genesis 10:8-12). Let daarop dat die teks die vier nuwe Assiriese stede as een “groot stad” beskryf.
In 1843 het ’n Franse argeoloog, Paul-Émile Botta, die ruïnes van ’n paleis ontdek wat deel van ’n Assiriese stad was. Toe die nuus van hierdie ontdekking die buitewêreld bereik het, het dit groot opgewondenheid veroorsaak. “Openbare belangstelling het opgevlam”, verduidelik Alan Millard in sy boek Treasures From Bible Times, “toe daar bewys is dat die paleis aan Sargon behoort het, die koning van Assirië wat in Jesaja 20:1 gemeld word en wie se bestaan in twyfel getrek is omdat hy andersins onbekend was.”
Intussen het ’n ander argeoloog, Austen Henry Layard, ruïnes by ’n plek genaamd Nimroed, ongeveer 42 kilometer suidwes van Korsabad, begin opgrawe. Die ruïnes was dié van Kalag—een van die vier Assiriese stede wat in Genesis 10:11 gemeld word. Toe, in 1849, het Austen Layard ’n massiewe paleis by ’n plek genaamd Koenjoendsjik tussen Kalag en Korsabad opgegrawe. Die paleis was deel van Nineve. Tussen Korsabad en Kalag lê die ruïnes van ander nedersettings, onder andere ’n puinheuwel met die naam Karamles. “As ons die vier groot puinheuwels van Nimroed [Kalag], Koenjoendsjik [Nineve], Korsabad en Karamles as die vier hoeke van ’n vierkant neem”, het Austen Layard gesê, “sal ons vind dat sy vier kante redelik noukeurig ooreenstem met die geograaf se 480 stadieë of [96 km], wat die drie dae lange reis van die profeet [Jona] uitmaak.”
Jona het dus blykbaar al hierdie nedersettings as een “groot stad” beskou en hulle Nineve genoem, die naam van die eerste stad wat in Genesis 10:11 genoem word. Vandag word dieselfde gedoen. Daar is byvoorbeeld ’n verskil tussen die oorspronklike stad Londen en sy buitewyke, wat saam soms “groter Londen” genoem word.
’n Verwaande Assiriese koning
Die paleis in Nineve het meer as 70 vertrekke en amper drie kilometer se mure gehad. Op hierdie mure was die verbrande oorblyfsels van beeldhouwerk wat militêre oorwinnings en ander prestasies gedenk het. Die meeste was erg beskadig. Teen die einde van sy verblyf het Austen Layard egter een vertrek ontdek wat merkwaardig goed behoue gebly het. Op die mure was die verowering uitgebeeld van ’n goed versterkte stad, met gevangenes wat voor die invallende koning verbyloop wat op ’n troon buite die stad sit. Bokant die koning is daar ’n inskripsie wat deskundiges op die gebied van Assiriese skrif soos volg vertaal: “Sanherib, koning van die wêreld, koning van Assirië, het op ’n nimedu -troon gesit en die buit (wat geneem is) uit Lagis (La-ki-su) geïnspekteer.”
Hierdie uitbeelding en inskripsie kan vandag in die Britse Museum besigtig word. Dit kom ooreen met die geskiedkundige gebeurtenis wat in die Bybel opgeteken is in 2 Konings 18:13, 14: “In die veertiende jaar van koning Hiskia het Sanherib, die koning van Assirië, opgetrek teen al die versterkte stede van Juda en dit verower. Toe laat Hiskia, die koning van Juda, die koning van Assirië na Lagis weet: Ek het gesondig; trek terug van my af weg; wat u my oplê, sal ek lewer. En die koning van Assirië het aan Hiskia, die koning van Juda, driehonderd talente silwer en dertig talente goud opgelê.”
Ander inskripsies is in die ruïnes van Nineve gevind wat bykomende besonderhede verskaf oor Sanherib se inval in Juda en die skatting wat deur Hiskia betaal is. “Een van die merkwaardigste toevallighede van opgetekende geskiedkundige verklarings is waarskynlik die bedrag van die skat in goud wat van Hiskia geneem is, dertig talente, wat in die twee volkome onafhanklike verslae ooreenkom”, het Austen Layard geskryf. Sir Henry Rawlinson, wat gehelp het om die Assiriese skrif te ontsyfer, het gesê dat hierdie inskripsies “[Sanherib se] geskiedkundige identiteit onteenseglik bevestig”. Verder vra Austen Layard in sy boek Nineveh and Babylon: “Wie sou, voor hierdie ontdekkings gemaak is, geglo het dat dit waarskynlik of moontlik was dat die geskiedenis van die oorloë tussen Hiskia en Sanherib onder die hoop grond en rommel wat die ligging van Nineve aangedui het, gevind sou word, wat op presies die tyd toe hulle plaasgevind het deur Sanherib self geskryf is en die Bybelse verslag selfs in die fynste besonderhede bevestig?”
Party besonderhede van Sanherib se verslag stem natuurlik nie met die Bybel ooreen nie. Die argeoloog Alan Millard merk byvoorbeeld op: “Die opvallendste feit kom aan die einde [van Sanherib se verslag] voor. Hiskia het sy boodskapper, en al die skatting, ‘later’ na Sanherib ‘na Nineve’ gestuur. Die Assiriese leër het dit nie op die gebruiklike manier met ’n triomftog huis toe geneem nie.” Die Bybel sê dat die skatting betaal is voor die koning van Assirië na Nineve teruggekeer het (2 Konings 18:15-17). Waarom die verskil? En waarom kon Sanherib nie oor die verowering van die Judese hoofstad, Jerusalem, spog soos hy oor sy verowering van die Judese vesting, Lagis, gespog het nie? Drie Bybelskrywers gee die antwoord. Een van hulle, ’n ooggetuie, het geskryf: “Die engel van die HERE [het] uitgetrek en in die laer van Assirië honderd-vyf-en-tagtigduisend verslaan. En toe hulle die môre vroeg hul klaarmaak—was dit almal dooie liggame. En Sanherib, die koning van Assirië, het opgebreek en weggetrek en teruggegaan en in Nineve gebly.”—Jesaja 37:36, 37; 2 Konings 19:35; 2 Kronieke 32:21.
In sy boek Treasures From Bible Times maak Alan Millard die gevolgtrekking: “Daar is geen goeie rede om hierdie verslag in twyfel te trek nie . . . Dit is te verstane dat Sanherib nie so ’n ramp op skrif sou stel vir sy opvolgers om te lees nie, omdat dit hom in ’n slegte lig sou stel.” Sanherib het eerder die indruk probeer skep dat sy Judese inval ’n sukses was en dat Hiskia steeds onderworpe was deur die skatting na Nineve te stuur.
Assirië se oorsprong bevestig
Biblioteke met tienduisende kleitablette is ook in Nineve ontdek. Hierdie dokumente bewys dat die Assiriese Ryk sy oorsprong in die suide in Babilon gehad het, net soos Genesis 10:11 toon. Met hierdie leidraad het argeoloë hulle opgrawings verder suid begin doen. Die Encyclopædia Biblica verduidelik: “Die Assiriërs het met alles wat hulle agtergelaat het hulle Babiloniese oorsprong verraai. Hulle taal en skryfmetode, hulle literatuur, hulle godsdiens en hulle wetenskap is met net geringe veranderings van hulle bure in die suide oorgeneem.”
Ontdekkings soos die voorafgaande het Bybelkritici gedwing om hulle sienings te versag. ’n Opregte ondersoek van die Bybel openbaar inderdaad dat dit deur noukeurige, eerlike skrywers geskryf is. ’n Voormalige hoofregter van die Verenigde State se Appélhof, Salmon P. Chase, het ná sy ondersoek van die Bybel gesê: “Dit was ’n lang, ernstige en diepgaande studie: en deur dieselfde beginsels van bewyse in hierdie godsdienssaak te gebruik as wat ek altyd in sekulêre sake gebruik, het ek tot die besluit gekom dat die Bybel ’n bonatuurlike boek is, dat dit van God af gekom het.”—The Book of Books: An Introduction.
Die Bybel is inderdaad baie meer as akkurate geskiedenis. Dit is God se geïnspireerde Woord, ’n gawe wat die mensdom tot voordeel strek (2 Timotheüs 3:16). Bewyse hiervan kan gesien word deur Bybelgeografie te ondersoek. Dit sal in die volgende nommer bespreek word.
[Prente op bladsy 6, 7]
Bo: Drie details geneem van ’n muurreliëf
Onder: Tekening van ’n Assiriese muurreliëf wat die beleëring van Lagis uitbeeld
[Erkennings]
(Courtesy of The British Museum)
(From The Bible in the British Museum, published by British Museum Press)
[Foto-erkenning op bladsy 4]
Courtesy of the Trustees of The British Museum