Christene en die hedendaagse mensegemeenskap
“Julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam.”—MATTHEÜS 24:9.
1. Wat sou ’n kenmerk van die ware Christelike godsdiens wees?
AFGESKEIDENHEID van die wêreld was ’n kenmerk van die vroeë Christene. In gebed tot sy hemelse Vader, Jehovah, het Christus van sy dissipels gesê: “Ek het hulle u woord gegee, en die wêreld het hulle gehaat, omdat hulle nie van die wêreld is nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie” (Johannes 17:14). Toe hy voor Pontius Pilatus verskyn het, het Jesus gesê: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie” (Johannes 18:36). Die Christelike Griekse Geskrifte sowel as geskiedkundiges getuig van die vroeë Christelike godsdiens se afgeskeidenheid van die wêreld.
2. (a) Sou die verhouding tussen Jesus se volgelinge en die wêreld mettertyd enigsins verander? (b) Sou Jesus se Koninkryk as gevolg van die bekering van die nasies kom?
2 Het Jesus later onthul dat die verhouding tussen sy volgelinge en die wêreld sou verander en dat sy Koninkryk sou kom deur die bekering van die wêreld tot die Christelike godsdiens? Nee. Niks wat sy volgelinge geïnspireer is om ná Jesus se dood te skryf het selfs op so iets gesinspeel nie. (Jakobus 4:4 [kort voor 62 G.J. geskryf]; 1 Johannes 2:15-17; 5:19 [ongeveer 98 G.J. geskryf].) Daarenteen verbind die Bybel Jesus se “teenwoordigheid” en daaropvolgende “koms” in Koninkryksmag met “die voleinding van die wêreld”, wat tot die “einde”, oftewel die vernietiging daarvan, sal lei (Mattheüs 24:3, 14, 29, 30, vgl. NW; Daniël 2:44; 7:13, 14). In die teken wat Jesus van sy pa·rou·siʹa, of teenwoordigheid, gegee het, het hy van sy ware volgelinge gesê: “Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam.”—Mattheüs 24:9.
Hedendaagse ware Christene
3, 4. (a) Hoe beskryf ’n Katolieke ensiklopedie die vroeë Christene? (b) Hoe word Jehovah se Getuies en die vroeë Christene op soortgelyke wyse beskryf?
3 Watter godsdiensgroep is daar vandag wat die reputasie verkry het dat hulle getrou aan Christelike beginsels en afgeskeie van hierdie wêreld is en wie se lede gehaat en vervolg word? Wel, watter wêreldwye Christenorganisasie kom in elke opsig met die geskiedkundige beskrywing van die vroeë Christene ooreen? Die New Catholic Encyclopedia sê oor hulle: “Die primitiewe Christelike gemeenskap, hoewel hulle aanvanklik bloot as nog ’n sekte in die Joodse milieu beskou is, was uniek wat hulle teologiese leer betref en veral wat die ywer van hulle lede betref, wat as getuies van Christus ‘in die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde’ gedien het (Handelinge 1.8).”—Deel 3, bladsy 694.
4 Let op die uitdrukkings “bloot as nog ’n sekte . . . beskou is”, “uniek wat hulle . . . leer betref”, “ywer . . . as getuies”. En kyk nou hoe daardie selfde ensiklopedie Jehovah se Getuies beskryf: “’n Sekte . . . Getuies is daarvan oortuig dat die einde van die wêreld binne ’n paar jaar sal kom. Hierdie duidelike oortuiging is blykbaar die sterkste dryfkrag agter hulle onvermoeide ywer. . . . Die vernaamste verantwoordelikheid van elke lid van die sekte is om van Jehovah te getuig deur Sy naderende Koninkryk te verkondig. . . . Hulle beskou die Bybel as hulle enigste bron van geloof en gedragsreëls . . . Om ’n ware Getuie te kan wees, moet ’n mens bekwaam wees om op die een of ander manier te preek.”—Deel 7, bladsye 864-5.
5. (a) In watter opsigte is die leer van Jehovah se Getuies uniek? (b) Gee voorbeelde wat toon dat die geloof van Jehovah se Getuies in ooreenstemming met die Skrif is.
5 In watter opsigte is die leer van Jehovah se Getuies uniek? Die New Catholic Encyclopedia noem ’n paar: “Hulle [Jehovah se Getuies] veroordeel die Drie-eenheid as heidense afgodediens . . . Hulle beskou Jesus as die grootste Getuie van Jehovah, ‘’n god’ (so vertaal hulle Johannes 1.1), ondergeskik aan niemand anders nie as Jehovah. . . . Hy het as ’n mens gesterf en is as ’n onsterflike Geesseun opgewek. Sy lyding en dood was die prys wat hy betaal het om vir die mensdom die reg te verkry om vir ewig op die aarde te lewe. Trouens, die ‘groot menigte’ (Openb. 7.9) ware Getuies stel hulle hoop op ’n aardse Paradys; slegs 144 000 getroues (Openb. 7.4; 14.1, 4) gaan hemelse heerlikheid saam met Christus geniet. Die goddeloses sal algehele vernietiging ondergaan. . . . Die doop—wat die Getuies deur onderdompeling beoefen . . . [is] die uiterlike simbool van hulle toewyding aan die diens van Jehovah God. . . . Jehovah se Getuies het publisiteit gekry omdat hulle bloedoortappings weier . . . Hulle huweliks- en seksuele sedelikheid is baie streng.” Jehovah se Getuies is nou wel uniek in hierdie opsigte, maar hulle standpunt oor al hierdie punte is geheel en al op die Bybel gebaseer.—Psalm 37:29; Mattheüs 3:16; 6:10; Handelinge 15:28, 29; Romeine 6:23; 1 Korinthiërs 6:9, 10; 8:6; Openbaring 1:5.
6. Watter standpunt het Jehovah se Getuies behou? Waarom?
6 Hierdie Rooms-Katolieke werk sê voorts dat “die Getuies hulleself” in 1965 (blykbaar die jaar waarin die artikel geskryf is) “steeds nie as ’n deel beskou het van die gemeenskap waarin hulle gelewe het nie”. Die skrywer het blykbaar gedink dat Jehovah se Getuies met verloop van tyd en namate hulle toeneem en “al hoe meer die kenmerke van ’n kerk aanneem in teenstelling met dié van ’n sekte” ’n deel van die wêreld sou word. Maar dit was nie die geval nie. Vandag, met meer as vier keer soveel Getuies as in 1965, het Jehovah se Getuies hulle standpunt in verband met hierdie wêreld behou. “Hulle is nie van die wêreld nie”, soos Jesus “nie van die wêreld” was nie.—Johannes 17:16.
Afgeskeie maar nie vyandig nie
7, 8. Wat is vandag waar van Jehovah se Getuies, net soos dit die geval met die vroeë Christene was?
7 Robert M. Grant het die verdediging van die vroeë Christene deur die tweede-eeuse apologeet Justinus die Martelaar aangehaal en in sy boek Early Christianity and Society geskryf: “As Christene revolusioniste was, sou hulle weggekruip het om hulle doel te bereik. . . . Hulle is die keiser se beste bondgenote wat vrede en goeie orde betref.” Jehovah se Getuies is eweneens vandag deur die hele wêreld bekend as vredeliewende en ordelike burgers. Regerings, in watter vorm ook al, weet dat Jehovah se Getuies nie vir hulle ’n bedreiging is nie.
8 ’n Noord-Amerikaanse redakteur het geskryf: “’n Mens moet ’n bekrompe en paranoïese verbeelding hê om te glo dat Jehovah se Getuies enige gevaar vir enige politieke regime inhou; hulle is so nie-ondermynend en vredeliewend as wat ’n godsdiensorganisasie maar kan wees.” In sy boek L’objection de conscience (Gewetensbeswaar) skryf Jean-Pierre Cattelain: “Die Getuies is volkome onderdanig aan die owerhede en gehoorsaam oor die algemeen die wette; hulle betaal hulle belasting en probeer nie om die regering te bevraagteken, te verander of te vernietig nie, want hulle bemoei hulle nie met die sake van hierdie wêreld nie.” Jean-Pierre Cattelain sê voorts dat Jehovah se Getuies weier om gehoorsaam te wees as die Staat hulle lewe, wat hulle geheel en al aan God toegewy het, eis. In hierdie opsig kom hulle ten nouste met die vroeë Christene ooreen.—Markus 12:17; Handelinge 5:29.
Die regeerders verstaan hulle verkeerd
9. Wat is ’n opvallende verskil tussen die vroeë Christene en die hedendaagse Katolieke wat hulle afgeskeidenheid van die wêreld betref?
9 Die meeste van die Romeinse keisers het die vroeë Christene verkeerd verstaan en hulle vervolg. The Epistle to Diognetus, wat party meen uit die tweede eeu G.J. dateer, toon waarom en sê: “Christene woon in die wêreld, maar maak nie deel daarvan uit nie.” Daarenteen het die Tweede Vatikaanse Konsilie, in sy Dogmatiese Konstitusie van die Kerk, gesê dat Katolieke “die koninkryk van God [moet] soek deur by wêreldlike sake betrokke te raak” en hulle “vir die heiliging van die wêreld van binne [moet] beywer”.
10. (a) Hoe het die regeerders die vroeë Christene beskou? (b) Hoe word Jehovah se Getuies dikwels beskou, en wat is hulle reaksie?
10 Die geskiedkundige E. G. Hardy sê dat die Romeinse keisers die vroeë Christene as “ietwat veragtelike yweraars” beskou het. Die Franse geskiedkundige Étienne Trocmé praat van “die minagting wat die beskaafde Grieke en Romeinse amptenare gehad het vir wat hulle as ’n baie snaakse Oosterse sekte [die Christene] beskou het”. Korrespondensie tussen Plinius die Jongere, die Romeinse goewerneur van Bitinië, en keiser Trajanus toon dat die regeerders oor die algemeen oningelig was oor die ware aard van die Christelike geloof. Jehovah se Getuies word vandag op soortgelyke wyse dikwels deur die regeerders van die wêreld verkeerd verstaan en selfs verag. Maar dit verbaas of ontstel die Getuies nie.—Handelinge 4:13; 1 Petrus 4:12, 13.
‘Oral word daarteen gespreek’
11. (a) Watter dinge is van die vroeë Christene gesê, en wat is al van Jehovah se Getuies gesê? (b) Waarom neem Jehovah se Getuies nie aan die politiek deel nie?
11 Daar is van die vroeë Christene gesê: “Wat hierdie sekte betref, is dit ons bekend dat oral daarteen gespreek word” (Handelinge 28:22). In die tweede eeu G.J. het die heiden Celsus beweer dat die Christelike geloof net by die skuim van die mensegemeenskap ingang gevind het. Daar is eweneens van Jehovah se Getuies gesê dat “hulle grotendeels uit die minderbevoorregtes in ons gemeenskap kom”. Die kerkgeskiedkundige Augustus Neander het gesê dat “die Christene voorgestel is as dood vir die wêreld en nutteloos wat al die aangeleenthede van die lewe betref; . . . en daar is gevra: wat sou van die lewe word as almal soos hulle was?” Omdat Jehovah se Getuies nie aan die politiek deelneem nie, word hulle ook dikwels daarvan beskuldig dat hulle niks vir die mensegemeenskap beteken nie. Maar hoe kan hulle politieke aktiviste en terselfdertyd voorstanders van God se Koninkryk as die mensdom se enigste hoop wees? Jehovah se Getuies neem die apostel Paulus se woorde ter harte: “Ly verdrukking soos ’n goeie soldaat van Christus Jesus. Geen soldaat in diens raak by burgerlike strewes betrokke nie, aangesien dit sy doel is om die een tevrede te stel wat hom vir diens gewerf het.”—2 Timotheüs 2:3, 4, Revised Standard Version, ’n Ekumeniese Uitgawe.
12. In watter belangrike aspek van afgeskeidenheid kom Jehovah se Getuies met die vroeë Christene ooreen?
12 In sy boek A History of Christianity skryf professor K. S. Latourette: “Een van die kwessies waaroor die vroeë Christene met die Grieks-Romeinse wêreld verskil het, was die deelname aan oorlog. Tydens die eerste drie eeue het geen Christelike geskrifte wat tot in ons tyd behoue gebly het Christelike deelname aan oorlog goedgepraat nie.” Edward Gibbon se werk The History of the Decline and Fall of the Roman Empire sê: “Dit was vir die Christene onmoontlik om die rol van soldate of van magistrate of van vorste aan te neem sonder om ’n heiliger plig te verloën.” Jehovah se Getuies neem eweneens ’n standpunt van streng neutraliteit in en volg die Bybelriglyne wat in Jesaja 2:2-4 en Mattheüs 26:52 uiteengesit is.
13. Watter beskuldiging word teen Jehovah se Getuies ingebring, maar wat toon die feite?
13 Jehovah se Getuies word deur hulle vyande daarvan beskuldig dat hulle gesinne opbreek. Daar is weliswaar gevalle waar gesinne verdeeld geraak het toe een of meer gesinslede Getuies van Jehovah geword het. Jesus het voorspel dat dit sou gebeur (Lukas 12:51-53). Maar statistiek toon dat huwelike wat om dié rede verbrokkel die uitsondering is. Onder Jehovah se Getuies in Frankryk is daar byvoorbeeld in 1 uit 3 egpare ’n huweliksmaat wat nie ’n Getuie is nie. Tog is die egskeidingsyfer onder hierdie gemengde huwelike nie hoër as die nasionale gemiddelde nie. Waarom nie? Die apostels Paulus en Petrus het wyse, geïnspireerde raad aan Christene gegee wat met ongelowiges getroud is, en Jehovah se Getuies probeer hulle woorde toepas (1 Korinthiërs 7:12-16; 1 Petrus 3:1-4). As ’n gemengde huwelik verbrokkel, is dit amper altyd die nie-Getuie wat die eerste stappe doen. Daarenteen is duisende huwelike gered omdat die huweliksmaats Getuies van Jehovah geword het en Bybelbeginsels in hulle lewe begin toepas het.
Christene, nie Trinitariërs nie
14. Watter beskuldiging is teen die vroeë Christene ingebring, en waarom is dit ironies?
14 Een van die beskuldigings wat in die Romeinse Ryk teen die vroeë Christene ingebring is, was ironies genoeg dat hulle ateïste is. Dr. Augustus Neander skryf: “Die verloënaars van die gode, die ateïste, . . . was die algemene naam waaronder die Christene by die mense bekend gestaan het.” Hoe vreemd tog dat Christene, wat die lewende Skepper aanbid het en nie ’n verskeidenheid gode nie, ateïste genoem is deur heidene wat ‘geen gode nie, maar die werk van mensehande, hout en klip’ aanbid het.—Jesaja 37:19.
15, 16. (a) Wat het party godsdiensyweraars van Jehovah se Getuies gesê, maar watter vraag laat dit ontstaan? (b) Wat toon dat Jehovah se Getuies werklik Christene is?
15 Dit is net so ironies dat party gesaghebbendes in die Christendom vandag ontken dat Jehovah se Getuies Christene is. Waarom? Omdat die Getuies die Drie-eenheid verwerp. Volgens die Christendom se bevooroordeelde definisie “is Christene diegene wat Christus as God aanvaar”. In teenstelling hiermee definieer ’n moderne woordeboek die selfstandige naamwoord “Christen” as “’n persoon wat in Jesus Christus glo en wat sy leer volg” en “die Christelike godsdiens” as “’n godsdiens wat gebaseer is op die leer van Jesus Christus en die oortuiging dat hy die seun van God is”. By watter groep pas hierdie definisie eerder?
16 Jehovah se Getuies aanvaar Jesus se eie getuienis oor wie hy is. Hy het gesê: “Ek is die Seun van God”, nie: “Ek is God die Seun” nie. (Johannes 10:36; vergelyk Johannes 20:31.) Hulle aanvaar die apostel Paulus se geïnspireerde verklaring aangaande Christus: “Wie, hoewel hy in die vorm van God is, nie gereken het dat gelykheid met God iets is om aan te gryp nie”a (Filippense 2:6, The New Jerusalem Bible). Die boek The Paganism in Our Christianity sê: “Jesus Christus het nooit van so ’n verskynsel [’n gelykwaardige Drie-eenheid] melding gemaak nie, en die woord ‘Drie-eenheid’ verskyn nêrens in die Nuwe Testament nie. Die idee is eers driehonderd jaar ná die dood van ons Here deur die Kerk aanvaar; en die oorsprong van die beskouing is geheel en al heidens van aard.” Jehovah se Getuies aanvaar die Bybelse leer aangaande Christus. Hulle is Christene, nie Trinitariërs nie.
Geen ekumenisme nie
17. Waarom werk Jehovah se Getuies nie met die ekumeniese, of interkerklike, beweging saam nie?
17 Twee ander beskuldigings wat teen Jehovah se Getuies ingebring word, is dat hulle weier om aan die ekumeniese beweging deel te neem en dat hulle deelneem aan wat “aggressiewe proselietemakery” genoem word. Albei hierdie beskuldigings is ook teen die vroeë Christene ingebring. Die Christendom, met sy Katolieke, Ortodokse en Protestantse dele, is onteenseglik ’n deel van hierdie wêreld. Soos Jesus is Jehovah se Getuies “nie van die wêreld nie” (Johannes 17:14). Hoe kan hulle hulle deur interkerklike bewegings met godsdiensorganisasies verbind wat onchristelike gedrag en opvattings voorstaan?
18. (a) Waarom kan Jehovah se Getuies nie gekritiseer word omdat hulle beweer dat hulle alleen die ware godsdiens beoefen nie? (b) Wat het die Rooms-Katolieke nie, hoewel hulle glo dat hulle die ware godsdiens het?
18 Wie kan Jehovah se Getuies tereg veroordeel dat hulle, soos die vroeë Christene, glo dat hulle alleen die ware godsdiens beoefen? Selfs die Katolieke Kerk, hoewel hulle op skynheilige wyse beweer dat hulle met die ekumeniese beweging saamwerk, sê: “Ons glo dat hierdie een ware godsdiens bly voortbestaan in die Katolieke en Apostoliese Kerk, aan wie die Here Jesus die taak opgelê het om dit onder al die mense te versprei toe hy vir sy apostels gesê het: ‘Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies’” (Vatikaanse Konsilie II, “Godsdiensvryheidsverklaring”). Maar sulke geloof is blykbaar nie genoeg om Katolieke met onvermoeide ywer te besiel om uit te gaan en dissipels te maak nie.
19. (a) Wat is Jehovah se Getuies vasbeslote om te doen, en met watter beweegrede? (b) Wat sal in die volgende artikel bespreek word?
19 Jehovah se Getuies hét sulke ywer. Hulle is vasbeslote om met die getuieniswerk voort te gaan so lank as God wil hê hulle dit moet doen (Mattheüs 24:14). Hulle getuieniswerk word ywerig maar nie aggressief gedoen nie. Hulle word deur naasteliefde beweeg, nie deur haat vir die mensdom nie. Hulle hoop dat soveel van die mensdom as moontlik gered sal word (1 Timotheüs 4:16). Soos die vroeë Christene, probeer hulle om “in vrede met alle mense” te leef (Romeine 12:18). Hoe hulle dit doen, sal in die volgende artikel bespreek word.
[Voetnoot]
a Sien The Watchtower, 15 Junie 1971, bladsye 355-6, vir ’n bespreking van hierdie teks in verband met die Drie-eenheidsleer.
Ter hersiening
◻ Wat was ’n kenmerk van die vroeë Christene, en hoe kom Jehovah se Getuies met hulle ooreen?
◻ In watter opsigte toon Jehovah se Getuies dat hulle goeie burgers is?
◻ Hoe het die regeerders die vroeë Christene beskou, en is dit vandag enigsins anders?
◻ Wat beweeg die Getuies se oortuiging dat hulle die waarheid het hulle om te doen?
[Prente op bladsy 12]
Jehovah se Getuies is vasbeslote om aan te hou getuig so lank as God wil hê hulle dit moet doen
[Prent op bladsy 17]
Pilatus het gesê: “Dáár is die mens!”—die Mens wat geen deel van die wêreld was nie.—Johannes 19:5
[Erkenning]
“Ecce Homo” by A. Ciseri: Florence, Galleria d’Arte Moderna / Alinari/Art Resource, N.Y.