Hoe kan ons deug by ons geloof voeg?
“Voeg by julle geloof deug.”—2 PETRUS 1:5, NW.
1, 2. Waarom moet ons verwag dat Jehovah se volk deug aan die dag sal lê?
JEHOVAH tree altyd deugsaam op. Hy doen wat regverdig en goed is. Daarom kon die apostel Petrus van God praat as die een wat gesalfde Christene “deur sy heerlikheid en deug” geroep het. Juiste kennis van hulle deugsame hemelse Vader het aan hulle getoon wat nodig is om ’n lewe van ware godvrugtige toegewydheid na te streef.—2 Petrus 1:2, 3.
2 Die apostel Paulus het Christene aangespoor: “Wees navolgers van God soos geliefde kinders” (Efesiërs 5:1). Jehovah se aanbidders moet soos hulle hemelse Vader in alle situasies deug aan die dag lê. Maar wat is deug?
Wat deug beteken
3. Hoe is “deug” al gedefinieer?
3 Hedendaagse woordeboeke definieer “deug” as “sedelike voortreflikheid; goedheid”. Dit is “korrekte optrede en denke; goedheid van karakter”. Iemand wat deugsaam is, is regverdig. Deug is ook al gedefinieer as die “onderwerping aan ’n standaard van wat reg is”. Vir Christene word die “standaard van wat reg is” natuurlik deur God vasgestel en in sy Heilige Woord, die Bybel, uiteengesit.
4. Watter eienskappe wat in 2 Petrus 1:5-7 genoem word, moet Christene streef om aan te kweek?
4 Ware Christene voldoen aan Jehovah God se regverdige standaarde en beoefen geloof op grond van sy kosbare beloftes. Hulle slaan ook ag op Petrus se raad: “Deur in antwoord hierop al julle ywerige inspanning by te dra, voeg by julle geloof deug, by julle deug kennis, by julle kennis selfbeheersing, by julle selfbeheersing volharding, by julle volharding godvrugtige toegewydheid, by julle godvrugtige toegewydheid broederlike geneentheid, by julle broederlike geneentheid liefde” (2 Petrus 1:5-7, NW). ’n Christen moet daarna streef om hierdie eienskappe aan te kweek. Dit word nie in ’n paar dae of ’n paar jaar gedoen nie, maar verg ’n leeftyd van voortdurende inspanning. Trouens, om deug by ons geloof te voeg, is op sigself ’n uitdaging!
5. Wat is deug uit ’n skriftuurlike oogpunt gesien?
5 Leksikograaf M. R. Vincent sê dat die oorspronklike klassieke betekenis van die Griekse woord wat met “deug” vertaal word na “enige soort voortreflikheid” verwys het. Petrus het die meervoudsvorm gebruik toe hy gesê het dat Christene die “deugde”, of voortreflikhede, van God moet verkondig (1 Petrus 2:9). Uit ’n skriftuurlike oogpunt gesien, word deug nie as ’n passiewe eienskap beskryf nie, maar as “sedelike krag, sedelike energie, sielskrag”. Waar Petrus van deug praat, het hy die moedige sedelike voortreflikheid in gedagte gehad wat knegte van God moet openbaar en handhaaf. Maar kan ons, aangesien ons onvolmaak is, werklik dít doen wat in God se oë deugsaam is?
Onvolmaak maar deugsaam
6. Waarom kan daar gesê word dat ons, hoewel ons onvolmaak is, deugsaam in God se oë kan handel?
6 Ons het onvolmaaktheid en sonde geërf, en ons wonder dalk hoe ons werklik kan doen wat in God se oë deugsaam is (Romeine 5:12). Ons het beslis Jehovah se hulp nodig as ons ’n rein hart wil hê waaruit deugsame gedagtes, woorde en dade voortspruit. (Vergelyk Lukas 6:45.) Nadat hy die sonde met Batseba gepleeg het, het die berouvolle psalmis Dawid gesmeek: “Skep vir my ’n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my ’n vaste gees” (Psalm 51:12). Dawid het God se vergifnis ontvang, sowel as die nodige hulp om ’n deugsame weg na te streef. As ons ernstig gesondig het, maar God en die gemeentelike ouere manne se hulp berouvol aangeneem het, kan ons dus na ’n deugsame weg terugkeer en daarop bly.—Psalm 103:1-3, 10-14; Jakobus 5:13-15.
7, 8. (a) Wat is nodig as ons deugsaam wil bly? (b) Watter hulp het Christene om deugsaam te wees?
7 Weens inherente sondigheid is ons in ’n voortdurende innerlike stryd gewikkel om te doen wat die weg van deugsaamheid van ons vereis. As ons deugsaam wil bly, kan ons nooit toelaat dat ons slawe van sonde word nie. Ons moet eerder “slawe van die geregtigheid” wees en altyd op ’n deugsame wyse dink, praat en optree (Romeine 6:16-23, NW). Ons vleeslike begeertes en sondige neigings is natuurlik sterk, en ons het te kampe met ’n konflik tussen hierdie neigings en die deugsame dinge wat God van ons vereis. Wat moet ons dus doen?
8 Om een ding te noem: ons moet die leiding van Jehovah se heilige gees, of werkende krag, volg. Ons moet dus Paulus se raad volg: “Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie; want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie” (Galasiërs 5:16, 17). Ja, ons het God se gees wat regverdigheid bevorder en sy Woord as ’n gids om reg te wandel. Ons het ook die liefdevolle hulp van Jehovah se organisasie en die raad van “die getroue en verstandige dienskneg” (Mattheüs 24:45-47). Ons kan derhalwe oor sondige neigings seëvier (Romeine 7:15-25). As ’n onrein gedagte by ons opkom, moet ons dit natuurlik onmiddellik uit ons gedagtes sit en God om hulp bid sodat ons enige versoeking kan weerstaan om iets te doen wat ’n gebrek aan deug sal toon.—Mattheüs 6:13.
Deug en ons gedagtes
9. Deugsame gedrag vereis watter soort denke?
9 Deug begin by ’n mens se denkwyse. As ons Goddelike guns wil geniet, moet ons oor regverdige, goeie, deugsame dinge dink. Paulus het gesê: “Broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is—watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit” (Filippense 4:8). Ons moet oor regverdige, rein dinge dink, en enigiets wat ondeugsaam is, behoort nie vir ons aantreklik te wees nie. Paulus kon sê: “Wat julle geleer en ontvang en gehoor en in my gesien het, doen dit.” As ons soos Paulus is—deugsaam in gedagte, spraak en daad—sal ons goeie metgeselle en goeie voorbeelde wees van hoe ’n Christen moet lewe, en ‘die God van vrede sal met ons wees’.—Filippense 4:9.
10. Hoe sal die persoonlike toepassing van 1 Korinthiërs 14:20 ons help om deugsaam te bly?
10 As ons graag deugsaam in ons denke wil bly en ons hemelse Vader sodoende wil behaag, moet ons Paulus se raad toepas: “Moenie kinders wees in die verstand nie, maar wees kinders in die boosheid en wees volwassenes in die verstand” (1 Korinthiërs 14:20). Dit beteken dat ons as Christene nie kennis of ervaring van boosheid wil opdoen nie. Pleks dat ons toelaat dat ons verstand op dié wyse verdorwe raak, kies ons wyslik om in hierdie opsig onervare en onskuldig soos kinders te bly. Terselfdertyd moet ons besef dat onsedelikheid en slegte dade sonde in Jehovah se oë is. As ons ’n hartgrondige begeerte het om hom te behaag deur deugsaam te wees, sal dit tot ons heil strek omdat dit ons sal beweeg om onreine vorme van vermaak en ander verstandelik verderflike invloede van hierdie wêreld, wat in Satan se mag lê, te vermy.—1 Johannes 5:19.
Deug en ons spraak
11. Watter soort spraak vereis deug van ons, en watter voorbeeld stel Jehovah God en Jesus Christus vir ons in hierdie opsig?
11 As ons gedagtes deugsaam is, behoort dit ’n diepgaande invloed te hê op wat ons sê. Om deugsaam te wees, beteken dat ons spraak rein, heilsaam, waarheidliewend en opbouend moet wees (2 Korinthiërs 6:3, 4, 7). Jehovah is “die God van die waarheid” (Psalm 31:5, NW). Hy is getrou in al sy dade, en sy beloftes is onfeilbaar omdat hy nie kan lieg nie (Numeri 23:19; 1 Samuel 15:29; Titus 1:2). God se Seun, Jesus Christus, is “vol van genade en waarheid”. Terwyl hy op die aarde was, het hy altyd die waarheid gepraat soos hy dit van sy Vader ontvang het (Johannes 1:14; 8:40). Bowendien het Jesus ‘geen sonde gedoen nie, en in sy mond is geen bedrog gevind nie’ (1 Petrus 2:22). As ons waarlik knegte van God en Christus is, sal ons waarheidliewend in ons spraak en regskape in ons gedrag wees, asof ons lendene met “die waarheid omgord” is.—Efesiërs 5:9; 6:14.
12. Watter soort spraak moet ons vermy as ons deugsaam wil wees?
12 As ons deugsaam is, is daar sekere soorte spraak wat ons wil vermy. Ons sal ons deur Paulus se raad laat lei: “Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word, saam met alle boosheid.” “Hoerery en allerhande onreinheid of hebsug moet onder julle selfs nie genoem word nie, soos dit die heiliges betaam; ook nie gemeenheid en dwase of lawwe praatjies wat nie pas nie, maar liewer danksegging” (Efesiërs 4:31; 5:3, 4). Ander sal dit verkwikkend vind om in ons geselskap te wees omdat ons regverdige hart ons beweeg om onchristelike spraak te vermy.
13. Waarom moet Christene die tong in toom hou?
13 ’n Begeerte om God te behaag en deugsame dinge te sê, sal ons help om ons tong in toom te hou. Weens sondige neigings struikel ons almal met tye in woorde. Tog sê die dissipel Jakobus dat as ons “stange in die perde se bekke” sit, hulle gehoorsaam gaan waarheen ons hulle rig. Ons moet ons derhalwe inspan om die tong in toom te hou en om dit net op ’n deugsame wyse te probeer gebruik. ’n Onbeheerste tong ‘is ’n wêreld van ongeregtigheid’ (Jakobus 3:1-7). Alle slegte neigings van hierdie goddelose wêreld word aan die onbeheerste tong gekoppel. Dit is verantwoordelik vir skadelike dinge, soos valse getuienis, beledigings en lastertaal (Jesaja 5:20; Mattheüs 15:18-20). En wanneer ’n onbeheerste tong beledigende, snydende of lasterlike aanmerkings maak, is dit vol dodelike gif.—Psalm 140:4; Romeine 3:13; Jakobus 3:8.
14. Watter dubbele standaard met betrekking tot spraak moet Christene vermy?
14 Soos Jakobus toon, sou dit teenstrydig wees om ‘God te loof’ deur goed van God te praat, maar die tong dan te misbruik om ‘mense te vervloek’ deur sleg van hulle te praat. Hoe sondig is dit tog om God by die vergaderinge te loof en dan weg te gaan en sleg te praat van ons medegelowiges! Vars sowel as bitter water kan nie uit dieselfde fontein opborrel nie. As ons Jehovah dien, kan ander met reg verwag dat ons eerder deugsame dinge as aanstootlike woorde sal sê. Laat ons derhalwe slegte spraak vermy en daarna strewe om dinge te sê wat vir almal met wie ons in aanraking kom nuttig sal wees en hulle geestelik sal opbou.—Jakobus 3:9-12.
Deug en ons dade
15. Waarom is dit so belangrik om slinkse optrede te vermy?
15 Aangesien Christene se gedagtes en spraak deugsaam moet wees, kan ons vra: Wat van ons dade? Die enigste manier waarop ons God se goedkeuring kan geniet, is om deugsaam in ons gedrag te wees. Geen kneg van Jehovah kan deug laat vaar, slinks en bedrieglik begin optree en met reg dink dat sulke dinge vir God aanvaarbaar is nie. Spreuke 3:32 sê: “Want die slinkse persoon is iets verfoeiliks vir Jehovah, maar Sy vertrouelike omgang is met die opregtes” (NW). As ons verhouding met Jehovah God vir ons kosbaar is, sal hierdie gedagteprikkelende woorde ons daarvan weerhou om kwaad te steek of enigiets slinks te doen. “’n Hart wat onheilsplanne beraam”, is onder die sewe dinge wat vir Jehovah se siel ’n gruwel is! (Spreuke 6:16-19). Laat ons derhalwe sulke dade vermy en doen wat deugsaam is, tot seën van ons medemens en die verheerliking van ons hemelse Vader.
16. Waarom moet Christene hulle nie aan enige huigelagtige dade skuldig maak nie?
16 Om deugsaam te wees, beteken dat ons eerlik moet wees (Hebreërs 13:18). ’n Huigelagtige persoon, wie se dade nie met sy woorde ooreenstem nie, is nie deugsaam nie. Die Griekse woord wat met “huigelaar” (hy·po·kri·tesʹ) vertaal word, beteken “een wat antwoord” en verwys ook na ’n toneelspeler. Aangesien Griekse en Romeinse toneelspelers maskers gedra het, is hierdie woord metafories gebruik vir iemand wat iets voorgee. Huigelaars is “ontroues”. (Vergelyk Lukas 12:46 met Mattheüs 24:50, 51.) Huigelary (hy·poʹkri·sis) kan ook boosheid en listigheid beteken (Mattheüs 22:18; Markus 12:15; Lukas 20:23). Hoe treurig is dit tog wanneer iemand wat ander vertrou, bedrieg word deur glimlagte, vleitaal en dade wat alles net ’n skyn is! Maar hoe hartverblydend is dit tog wanneer ons weet dat ons met betroubare Christene te doen het. En God seën ons as ons deugsaam en ongeveinsd is. Sy goedkeuring rus op diegene wat “ongeveinsde broederliefde” betoon en “ongeveinsde geloof” het.—1 Petrus 1:22; 1 Timotheüs 1:5.
Deug is goedheid in aksie
17, 18. Hoe sal ons teenoor ander optree namate ons die gees se vrug goedheid aan die dag lê?
17 As ons deug by ons geloof voeg, sal ons daarna streef om nie dinge te dink, te sê en te doen wat God nie welgevallig is nie. Maar om Christelike deug aan die dag te lê, beteken ook dat ons daadwerklike goedheid moet beoefen. Trouens, deug is al as goedheid gedefinieer. En goedheid is ’n vrug van Jehovah se heilige gees, nie die blote resultaat van menslike pogings nie (Galasiërs 5:22). Namate ons die gees se vrug goedheid aan die dag lê, sal dit ons beweeg om van ander goed te dink en hulle vir hulle goeie eienskappe te prys ten spyte van hulle onvolmaakthede. Dien hulle Jehovah al jare lank getrou? Dan moet ons hulle respekteer en goed van hulle en hulle diens aan God praat. Ons hemelse Vader let op die liefde wat hulle vir sy naam toon en hulle deugsame werke van geloof, en ons moet dit ook doen.—Nehemia 13:31b; Hebreërs 6:10.
18 Deug help ons om geduld, begrip en medelye te hê. As ’n medeaanbidder van Jehovah bekommerd of terneergedruk is, moet ons bemoedigend met hom praat en hom probeer vertroos, soos ons liefdevolle hemelse Vader ons vertroos (2 Korinthiërs 1:3, 4; 1 Thessalonicense 5:14). Ons simpatiseer met diegene wat, moontlik weens die dood van ’n geliefde, bedroef is. As ons enigiets kan doen om die lyding te verlig, sal ons dit doen, want ’n deugsame gees lei tot liefdevolle, goeie dade.
19. Hoe sal ander ons waarskynlik behandel as ons deugsaam in denke, woord en daad is?
19 Soos ons Jehovah loof deur goed van hom te praat, sal ander ons waarskynlik loof as ons deugsaam in denke, woord en daad is (Psalm 145:10). ’n Wyse spreuk sê: “Seëninge is daar op die hoof van die regverdige, maar die mond van die goddelose verberg geweld” (Spreuke 10:6). ’n Goddelose en gewelddadige persoon het nie die deug wat hom by ander bemind sal maak nie. Hy maai wat hy saai, want mense kan hom nie in alle eerlikheid hulle seën gee deur goed van hom te praat nie (Galasiërs 6:7). Hoeveel beter tog is dit vir diegene wat as Jehovah se knegte deugsaam dink, praat en optree! Hulle win die liefde, vertroue en respek van ander, wat beweeg word om hulle te seën en goed van hulle te praat. Daarbenewens lei hulle godvrugtige deug tot die seën van Jehovah, en dit is van onskatbare waarde.—Spreuke 10:22.
20. Watter uitwerking kan deugsame gedagtes, spraak en dade op ’n gemeente van Jehovah se volk hê?
20 Deugsame gedagtes, spraak en dade sal ’n gemeente van Jehovah se volk beslis tot voordeel strek. Wanneer medegelowiges liefdevolle, eerbiedige gedagtes teenoor mekaar koester, floreer broederliefde onder hulle (Johannes 13:34, 35). Deugsame spraak, waaronder opregte lof en aanmoediging, bevorder ’n gevoel van hartlike samewerking en eenheid (Psalm 133:1-3). En hartverblydende, deugsame dade spoor ander aan om op ’n soortgelyke wyse op te tree. Bowenal lei die beoefening van Christelike deug tot die goedkeuring en seën van ons deugsame hemelse Vader, Jehovah. Laat ons dit gevolglik ons doelwit maak om op grond van God se kosbare beloftes geloof te beoefen. En ons moet beslis ’n ywerige poging aanwend om deug by ons geloof te voeg.
Wat is jou antwoorde?
◻ Hoe sal jy “deug” definieer, en waarom kan onvolmaakte mense deugsaam wees?
◻ Watter soort gedagtes moet ons koester as ons deugsaam is?
◻ Watter uitwerking behoort deug op ons spraak te hê?
◻ Watter uitwerking behoort deug op ons dade te hê?
◻ Wat is party voordele wat ons sal geniet as ons deugsaam is?
[Prent op bladsy 21]
Aangesien vars en bitter water nie uit dieselfde bron kan opborrel nie, kan ander tereg verwag dat Jehovah se knegte net deugsame dinge sal sê