Die predikingswerk in ’n land van kontraste
KANGAROES, koalas, buidelmuise en eendbekdiere, die Ayers-rots en die Groot Barrière-rif—dít is name wat by mense opkom wanneer hulle aan Australië dink. Maar verbasend genoeg het die meeste Australiërs waarskynlik nog nooit eers die Ayers-rots of die Groot Barrière-rif besoek of ’n koala, ’n buidelmuis of ’n eendbekdier gesien nie, behalwe in ’n dieretuin. Dit is omdat 85 persent van die land se bevolking van 17,3 miljoen mense stedelinge is wat in vyf groot stede aan die kus woon.
Wanneer ’n mens die kusstrook verlaat en sowat 200 kilometer die binneland in reis, kom jy by die begin van die vasteland se beroemde ‘outbacks’, oftewel agterveld. Die terrein verander van welige reënwoude en vrugbare landbougrond na ’n warm, droë, oop landstreek waar slegs struikgewasse en geharde gras aan die lewe kan bly. Nogtans is daar lewe in die agterveld. Groot skaap- en beesplase, of “stations” soos die mense dit noem, beslaan honderde vierkante kilometers. Dieper die binneland in lê die versengende woestyne, waar mense soms hulle lewe verloor as hulle nie behoorlike voorsorg tref nie.
Die goeie nuus gedy
Dit is onder sulke omstandighede wat die goeie nuus van God se Koninkryk hier in Australië verkondig word. Elke jaar reageer duisende mense gunstig op Jehovah se belofte van ’n regverdige nuwe wêreld. Die afgelope diensjaar het die aantal Koninkryksverkondigers ’n hoogtepunt van meer as 57 000 bereik, bykans twee maal soveel as die hoogtepunt tien jaar gelede. Hoewel die meeste verkondigers, net soos die grootste deel van die bevolking, in die kusstede woon, gedy die goeie nuus ook in die binneland.
Kom ons vergesel een van ons vyf streekopsieners en sy vrou terwyl hulle sommige van die gemeentes in die afgeleë gebiede van die agterveld besoek, sodat ons ’n kykie kan kry in hoe die predikingswerk in hierdie ontsaglike land van kontraste gedoen word. Hulle reisplan sluit die staat Wes-Australië, die helfte van die staat Queensland en die Noordelike Gebied in—’n streek wat meer as 4,7 miljoen vierkante kilometer beslaan. Dit is bykans so groot soos Europa as ons nie die deel byreken wat voorheen die Sowjetunie was nie.
Ons reis begin in Perth, die hoofstad van Wes-Australië. In hierdie uiters moderne stad met 1,2 miljoen mense is daar tans 49 gemeentes van Jehovah se Getuies. Benewens die Engelse gemeentes is daar ook Griekse, Italiaanse, Portugese en Spaanse gemeentes, asook kleiner groepe andertaliges. Daar is ook ’n gemeente wat uitsluitlik uit Australiese Inboorlingbroers en -susters bestaan, wat hulle daarop toespits om die predikingswerk onder hierdie inheemse volk van die land te doen. Baie van hierdie nederige mense neem nou die Koninkryksboodskap aan. Maar hoe vaar die predikingswerk ver van die groot stede af?
Van Perth af reis ons 1 800 kilometer noordwaarts na Port Hedland, waar ’n kringbyeenkoms gehou gaan word. Die meeste van die 289 wat teenwoordig is, het tussen 200 en 700 kilometer ver gereis om hierdie byeenkoms by te woon. Hulle kom van afgeleë gebiede waar die naaste gemeente dalk 250 kilometer ver is, en dít oor grondpaaie vol skerp klippe wat dikwels die motorbande stukkend steek. Drie gemeentes in hierdie gebied het onlangs Koninkryksale gebou deur van die snelboumetode gebruik te maak.
Snelbousale in afgeleë gebiede
Wat ’n kontras is daar tog tussen die bou van ’n Koninkryksaal in hierdie gebiede en om een in die stede en groter dorpe te bou! Die meeste van die boumateriaal moet per vragmotor van Perth af aangery word, wat 1 600 kilometer na die suide lê. Honderde broers en susters lê gedurende die aangewese naweek hierdie afstand en selfs groter afstande af om die Koninkryksaal te kom bou in temperature wat wissel van 40 tot 45 grade Celsius. Die feit dat so ’n klomp mense klein, afgeleë gemeenskappe toestroom, lewer op sigself ’n uitstekende getuienis. Toe ’n Koninkryksaal in Tom Price, ’n klein ysterertsmyndorpie gebou is, het die voorblad van die plaaslike koerant gesê: “Ons sê hartlik welkom aan die vrywillige ambagsmanne en hulle helpers wat betrokke is by die driedaagse ‘snelbou’ van Jehovah se Getuies se Koninkryksaal in Tom Price.”
Dit het gelyk of feitlik almal in die dorp graag wou help. Pleks van die gebruiklike R24 000 wat dit kos om 50 ton materiaal aan te ry, het ’n vrygewige vragmotoreienaar net gevra dat die broers vir die brandstof betaal. Plaaslike verfkontrakteurs het 100 liter verf geskenk. Kontrakteurs wat uitgrawings doen, het graafmasjinerie beskikbaar gestel, en die mynmaatskappy het ’n hyskraan gratis voorsien. Dit was nogal ’n probleem om vir 300 besoekers huisvesting te vind, maar die samewerking van die dorpsbewoners was uitstekend. Sommige het gebel en beddens aangebied. Een man het gebel om te sê dat hy vir die naweek weggaan, maar dat hy nie die agterdeur sou sluit nie. Hy het gesê: “Die huis is julle s’n vir die duur van die projek.”
’n Grappige insident het plaasgevind toe ’n paar broers ’n adres gegee is waar hulle ’n sleepwa kon gaan haal wat aan die plaaslike kring behoort. Hulle was dronkgeslaan toe hulle ’n kennisgewing teen die hek sien wat sê: “Geen godsdienstige besoekers nie.” Maar dáár het die sleepwa gestaan. Hulle het dus vir die vrou van die huis gesê dat hulle die sleepwa—wat vol vullis was—gaan neem. Terwyl hulle besig was om die sleepwa leeg te maak, het hulle skielik besef dat dit nie die kring s’n is nie! Toe die eienaar van die sleepwa tuiskom, het sy vrou hom vertel dat Jehovah se Getuies sy sleepwa geneem het. Die broers was spoedig terug met die sleepwa wat nou leeg was en het verduidelik hoe die fout begaan is. ’n Aangename gesprek het gevolg, en hierdie vorige teenstanders het baie vrae oor ons en ons werk gevra. Hulle was nou gretig om na die nuwe Koninkryksaal te kom kyk.
Dit verg volharding om die goeie nuus in hierdie gebied te verkondig. In die eerste plek is daar die groot afstande wat afgelê moet word. Een pioniersuster en haar man onderneem gereeld ’n heen-en-weer-reis van meer as 350 kilometer oor stowwerige grondpaaie, van Port Hedland na Marble Bar, om herbesoeke te gaan doen en Bybelstudies te gaan hou. Marble Bar is een van die warmste plekke in Australië met temperature wat van Oktober af tot in Maart dikwels hoër as 50 grade Celsius styg.
Op pad na die “Bopunt” toe
Darwin, 2 500 kilometer verder noord, is die volgende dorp waar ’n kringbyeenkoms gehou gaan word. Die streekopsiener en sy vrou benut die lang ure op die pad om hulle persoonlike studie by te hou. Hulle lees en bespreek eers die dagteks. Dan luister hulle na die Skrifgedeelte op band. Aangesien hulle beurte neem om te bestuur, neem hulle ook beurte om artikels uit Die Wagtoring en die Ontwaak! te lees.
’n Padteken waarsku hulle om op die uitkyk te wees vir “padtreine”. Dit is lang, kragtige ses- of agtwielaangedrewe vragmotors wat drie of vier sleepwaens trek en wat ’n totale lengte van tot 55 meter kan hê. Daarom moet ’n mens sorg dat jy baie ruimte het wanneer jy een van hulle wil verbysteek. Hulle word gebruik om beeste en ander goedere na afgeleë dorpe te vervoer.
Die weer is altyd warm en die veld voortdurend droog. Die dorre landskap kan verkeerdelik vir ’n ontsaglike begraafplaas aangesien word, omdat die terrein vol eweredig gespasieerde miershope is. Hierdie miershope wissel in kleur na gelang van die grond wat die miere gebruik, en hulle kan enigiets van een tot twee en ’n half meter hoog wees. Wanneer ons reisigers oor die Victoriarivier ry, sien hulle vervolgens talle tuisgemaakte tekens. “Gevaar: Swem verbode. Mensvreter-krokodille in hierdie riviere!” sê een van hierdie tekens. Hulle besluit wyslik om ander maniere te vind om hulle af te spoel en koel te bly!
Uiteindelik bereik hulle die noordelike punt van Australië, wat algemeen bekend staan as die “Top End”, oftewel die “Bopunt”. In Darwin, die hoofstad van die Noordelike Gebied, is daar twee groot gemeentes van Jehovah se Getuies. Die veelvoudige kulturele aard van Darwin kan maklik gesien word wanneer ’n mens die kringbyeenkoms bywoon. Ontmoet die 30-jarige Charles, wat oorspronklik uit die oorloggeteisterde Oos-Timor in Indonesië gekom het. Sy Chinese ouers het hom van kleins af geleer om vooroueraanbidding te beoefen. Hy het ook diep betrokke geraak by die verweerkuns. Vanweë die sterk band wat dit met spiritisme het, was dit nie maklik om daarmee op te hou nie. Hy het egter van hierdie lewenswyse weggebreek deur voortdurend te dink aan Jesus se belofte: “Die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:32). “Vandag”, sê hy, “het ek ’n skoon gewete voor Jehovah, en ek dien tans as ’n bedieningskneg. My doelwit is om die Bedieningsopleidingskool by te woon.”
Ontmoet nou vir Beverly van Papoea-Nieu-Guinee. “Aanvanklik het ek min selfvertroue gehad om vir blankes te getuig”, erken Beverly, “want Engels is my tweede taal en sekere uitdrukkings, tesame met die Australiese aksent, het dit vir my moeilik gemaak om die Engels te verstaan. Maar gedagtig daaraan dat die Bybel sê ons moet op Jehovah vertrou en smaak en sien dat hy goed is, het ek in Januarie 1991 in die voltydse pionierbediening getree. My eerste Bybelstudent is nou ’n pionier. Twee van haar dogters het ook die waarheid aangeneem, en een van hulle is nou saam met haar man in die pionierdiens.”
Voor ons van Darwin af vertrek, kan ons gerus eers gou 250 kilometer oos ry en ’n draai gaan maak by die Kakadu- Nasionale Park, wat alombekend is vir sy oorvloedige voëllewe. Hier ontmoet ons Debbie, die een afgesonderde verkondiger van die goeie nuus in die hele omgewing. Ons vra haar hoe sy ondanks sulke afsondering geestelik sterk bly. Sy antwoord: “Eerstens, deur gebed. . . . En ek put vertroosting uit tekste soos Jesaja 41:10, wat sê: ‘Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.’”
By Jilkmingan, 450 kilometer suid van Darwin, ontmoet ons ’n groepie Australiese Inboorlinge. Baie jare lank is hierdie Inboorlinggemeenskap as ’n gemeenskap van Jehovah se Getuies beskou, omdat so baie van hulle gereeld streek- en kringbyeenkomste bygewoon het, hoewel nie een van hulle gedoop was nie. Die gemeenskap was bekend vir hulle sindelikheid. Gelukkig het sommige van hulle nou ’n ferm standpunt vir die waarheid ingeneem en is hulle gedoop. Hulle is onder die eerste Inboorlinge op die platteland wat dit gedoen het. Hierdie nederige mense moet werklik moed aan die dag lê en op Jehovah se heilige gees vertrou om los te breek van die eeue-oue tradisies en spiritistiese gebruike van hulle stamgenote.
Eers na Alice Springs toe en dan verlaat ons die agterveld
Nou het die tyd aangebreek om die “Bopunt” te verlaat en 1 600 kilometer ver suidwaarts na Alice Springs toe te reis, wat in die vasteland se “Rooi Hartland”, naby die beroemde Ayers-rots, geleë is. Hier in die Koninkryksaal met lugversorging is daar gemaklike sitplekke vir ’n kringbyeenkoms, wat deur 130 of meer uit die twee gemeentes in hierdie gebied bygewoon word. Weer eens sien ons die vreugdevolle toneel van Polinesiërs, Europeërs en Inboorlinge wat in Christelike boederskap vrylik met mekaar verkeer.
Eindelik vertrek ons uit Alice Springs en begin ons die laaste skof van die reis saam met ons reisende streekopsiener en sy vrou. Hierdie rit neem ons sowat 2 000 kilometer oor die vasteland, eers in ’n noordelike en dan in ’n oostelike rigting. Onderweg neem ons afskeid van die agterveld, want mettertyd bereik ons die welige tropiese reënwoud van Queensland. Hier, langs die kus van Noord-Queensland—die land van die Groot Barrière-rif—is daar baie gemeentes met ’n hoë verhouding van Getuies tot die bevolking.
Ons reis is egter nog nie agter die rug nie, want ons moet nog een kringbyeenkoms bywoon. Ons klim op ’n vliegtuig by Cairns—Queensland se tropiese dorp wat vanweë die Barrière-rif beroemd geword het—en verlaat die Australiese vasteland vir ’n kort vlug oor die noordelike punt van die Kaap York-skiereiland en oor die Torres-straat na Thursday-eiland. Hier is ’n klein gemeente van slegs 23 verkondigers. Wat ’n vreugde is dit tog om 63 by ons laaste byeenkoms op hierdie rondte te sien!
Ons hoop jy het dit geniet om so ’n kykie te kry in die Koninkrykspredikingswerk wat in hierdie land van kontraste gedoen word. Miskien sal jy ons eendag hier in die interessante Australië kan kom besoek en self die broers en susters ontmoet wat hulle bediening in hulle unieke toewysing getrou vervul.
[Kaart/Prent op bladsy 23]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Port Hedland
Canberra
Tom Price
Marble Bar
Newman
Darwin
Katherine
Alice Springs
Ayers-rots
Thursday-eiland
Cairns
Adelaide
Melbourne
Hobart
Sydney
Brisbane
Perth
[Prent op bladsy 24]
Perth, die hoofstad van Wes-Australië
[Prent op bladsy 25]
Straatgetuieniswerk lewer goeie resultate