Kan voorbeskikking met God se liefde versoen word?
“ONS omskryf voorbeskikking as die ewige plan van God, waarvolgens hy bepaal het wat hy met elke mens wil doen. Want hy het hulle nie almal in dieselfde toestand geskep nie, maar dit is deur hom voorbeskik dat party die ewige lewe en ander die ewige veroordeling sal ontvang.”
Dit is hoe die Protestantse Hervormer Johannes Calvyn sy begrip van voorbeskikking in die boek Institutes of the Christian Religion omskryf het. Hierdie begrip is gegrond op die idee dat God alwetend is en dat sy skepsele se dade nie sy voornemens in twyfel kan trek of hom kan verplig om veranderinge aan te bring nie.
Maar is dit werklik wat die Bybel omtrent God sê? Nog belangriker, kan so ’n verduideliking met God se eienskappe, veral sy belangrikste eienskap—liefde—versoen word?
’n God wat die toekoms kan voorspel
God kan die toekoms voorspel. Hy beskryf homself as die Een “wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen” (Jesaja 46:10). Deur die hele mensegeskiedenis heen het God sy profesieë laat opteken om te toon dat hy sy voorkennis kan gebruik en gebeure kan voorspel voordat hulle plaasvind.
Toe die profeet Daniël dus in die dae van Belsasar, die koning van Babilon, ’n gesig gehad het van twee wilde diere waarvan een die ander verdring, het Jehovah hom die uitleg gegee: “Die ram wat jy gesien het met die twee horings, is die konings van die Meders en die Perse. En die harige bok is die koning van Griekeland” (Daniël 8:20, 21). God het natuurlik sy voorkennis gebruik om die opeenvolging van wêreldmoondhede aan die lig te bring. Die Babiloniese Ryk, wat destyds aan bewind was, sou deur Medo-Persië en dan deur Griekeland opgevolg word.
Profesieë kan ook op een mens betrekking hê. Die profeet Miga het byvoorbeeld gesê dat die Messias in Betlehem gebore sou word (Miga 5:1). God het weer sy voorkennis in hierdie geval gebruik. Hierdie gebeurtenis is egter met ’n besondere doel—die identifisering van die Messias—bekend gemaak. Hierdie geval regverdig nie die veralgemening van ’n voorbeskikkingsleer wat elke individu insluit nie.
Inteendeel, die Skrif toon dat God in sekere situasies verkies om nie vooruit te weet wat gaan gebeur nie. Kort voor die vernietiging van Sodom en Gomorra het hy gesê: “Ek wil neerdaal en sien of hulle werklik gehandel het soos die geroep oor hulle is wat by My gekom het; en so nie, Ek wil dit weet” (Genesis 18:21). Hierdie teks toon duidelik vir ons dat God nie vooruit geweet het wat die omvang van die verdorwenheid in daardie stede was voordat hy ondersoek ingestel het nie.
God kan weliswaar sekere gebeure vooruitsien, maar in baie gevalle het hy verkies om nie sy voorkennis te gebruik nie. Omdat God almagtig is, staan dit hom vry om sy vermoëns te gebruik soos hy wil, nie volgens die wense van onvolmaakte mense nie.
’n God wat sake kan regstel
Soos Calvyn, sê party dat God die mens se sondeval voor sy skepping vooraf bepaal het en dat hy voor daardie val voorbeskik het wie die ‘uitverkorenes’ sou wees. Maar as dit waar is, sou dit mos skynheilig van God gewees het om vir Adam en Eva die ewige lewe in die vooruitsig te stel terwyl hy goed geweet het dat hulle dit nie sou kon verkry nie, of hoe? Bowendien ontken die Skrif nêrens dat die eerste mensepaar ’n keuse gegee is nie: om Goddelike riglyne te volg en vir ewig te lewe of om dit te verontagsaam en te sterf.—Genesis, hoofstuk 2.
Maar het Adam en Eva se sonde werklik God se voorneme verydel? Nee, want net nadat hulle gesondig het, het God bekend gemaak dat hy ’n “saad” sou verwek om Satan en sy trawante te vernietig en dat hy sake op die aarde weer sou regstel. Net soos ’n paar insekte nie kan verhinder dat ’n tuinier goeie oeste lewer nie, sal Adam en Eva se ongehoorsaamheid nie keer dat God die aarde ’n paradys maak nie.—Genesis, hoofstuk 3.
God het later geopenbaar dat daar ’n Koninkryksregering sou wees wat aan ’n nakomeling van koning Dawid toevertrou sou word en dat ander aan hierdie Koninkryk verbonde sou wees. Hierdie ander word “die heiliges van die Allerhoogste” genoem.—Daniël 7:18; 2 Samuel 7:12; 1 Kronieke 17:11.a
Voorspelling is nie voorbeskikking nie
Die feit dat God verkies het om nie te weet watter weg die mensdom sou inslaan nie, het nie gekeer dat hy die gevolge van die mens se goeie of slegte dade voorspel nie. ’n Werktuigkundige wat ’n bestuurder se aandag op die swak toestand van sy voertuig vestig, kan nie verantwoordelik gehou word as ’n ongeluk plaasvind of daarvan beskuldig word dat hy dit voorbeskik het nie. God kan eweneens nie daarvan beskuldig word dat hy die droewige gevolge van individue se dade voorbeskik nie.
Dit was ook die geval met die eerste mensepaar se nakomelinge. Voordat Kain sy broer doodgemaak het, het Jehovah Kain se aandag op ’n keuse gevestig. Sou hy meester wees van die sonde of sou die sonde hom oormeester? Niks in die verslag dui daarop dat Jehovah voorbeskik het dat Kain die verkeerde besluit sou neem en sy broer sou vermoor nie.—Genesis 4:3-7.
Later het die Mosaïese Wet die Israeliete gewaarsku teen wat sou gebeur as hulle van Jehovah afvallig sou raak deur byvoorbeeld vir hulle vroue uit die heidense nasies te neem. Wat voorspel is, het gebeur. Dit kan gesien word uit die voorbeeld van koning Salomo, wat in sy latere jare deur sy uitlandse vroue beïnvloed is om afgodediens te beoefen (1 Konings 11:7, 8). Ja, God het sy volk gewaarsku, maar hy het nie voorbeskik hoe elkeen sou optree nie.
Die uitverkorenes word aangespoor om te volhard as hulle nie die beloofde beloning om saam met Christus in die hemel te regeer, wil verbeur nie (2 Petrus 1:10; Openbaring 2:5, 10, 16; 3:11). Party teoloë van die verlede het al tereg gevra: Waarom is sulke waarskuwings gegee as die roeping van die uitverkorenes finaal beslis is?
Voorbeskikking en God se liefde
Die mens is wilsvryheid gegee, aangesien hy “na die beeld van God” geskep is (Genesis 1:27). Wilsvryheid was onontbeerlik as mense God uit liefde moes vereer en dien, nie soos robotte waarvan elke beweging vooraf bepaal is nie. Liefde wat deur intelligente, vry skepsele geopenbaar word, sou God in staat stel om valse aantygings te weerlê. Hy sê: “Wees wys, my seun, en verbly my hart, sodat ek hom wat my smaad, kan antwoord gee.”—Spreuke 27:11.
Sou die egtheid van die liefde wat God se knegte vir hulle Skepper het nie in twyfel getrek kon word as hulle voorbeskik—of om dit so uit te druk, geprogrammeer—is nie? Sou dit nie ook in stryd met God se onpartydigheid wees as hy vooraf bepaal wie vir heerlikheid en geluk voorbestem is sonder om elkeen se verdienste in ag te neem nie? Dit sou bowendien glad nie ’n opregte gevoel van dankbaarheid in die “uitverkorenes” wek as party sulke voorkeurbehandeling sou ontvang, terwyl ander vir ewige straf bestem is nie.—Genesis 1:27; Job 1:8; Handelinge 10:34, 35.
Ten laaste het Christus sy dissipels beveel om die goeie nuus aan die hele mensdom te verkondig. Sou dit nie die ywer wat Christene in die evangelisasiewerk toon, demp as God reeds dié uitverkies het wat gered gaan word nie? Sou dit nie die predikingswerk heeltemal sinloos maak nie?
Onpartydige liefde van God af is die sterkste krag wat mense kan beweeg om hom op hulle beurt lief te hê. Die grootste blyk van God se liefde was om sy Seun ten behoewe van die onvolmaakte, sondige mensdom op te offer. God se voorkennis omtrent sy Seun is ’n spesiale geval, maar dit gee ons die versekering dat die herstellingsbeloftes wat op Jesus gegrond is beslis vervul sal word. Mag ons dus geloof in daardie Seun stel en nader aan God kom. Laat ons ons waardering toon deur God se uitnodiging te aanvaar om ’n goeie verhouding met ons Skepper te verkry. Vandag rig God hierdie uitnodiging aan almal wat hulle wilsvryheid wil gebruik en hulle liefde vir hom toon.
[Voetnoot]
a Wanneer Jesus van die Koninkryk praat wat “van die grondlegging van die wêreld af” (Mattheüs 25:34) berei is, moet hy die een of ander tyd ná die eerste sonde bedoel. Lukas 11:50, 51 bring “die grondlegging van die wêreld”, of die grondlegging van die mensdom wat deur middel van ’n losprys vrygekoop kon word, met die tyd van Abel in verband.
[Venster op bladsy 7]
AS ’N KLAS VOORBESKIK
“Dié wat hy eerste erken het, het hy ook voorbestem om na die beeld van sy Seun gevorm te word, sodat hy die eersgeborene onder baie broers sou wees. Daarbenewens is dié wat hy voorbestem het diegene wat hy ook geroep het; en dié wat hy geroep het, is diegene wat hy ook as regverdig verklaar het. Laastens is dié wat hy regverdig verklaar het diegene wat hy ook verheerlik het” (Romeine 8:29, 30, NW). Hoe moet ons die term “voorbestem” verstaan wat Paulus in hierdie verse gebruik het?
Paulus se redenering hier is nie ’n onweerlegbare argument ten gunste van individuele voorbeskikking nie. Vroeër in ons eeu het die Dictionnaire de théologie catholique Paulus se argumente (Romeine, hoofstukke 9-11) so verduidelik: “Die algemene mening onder al hoe meer Katolieke geleerdes is dat die eintlike konsep van voorbeskikking tot ewige lewe nie uiteengesit word nie.” In dieselfde naslaanwerk word M. Lagrange dan as volg aangehaal: “Die saak wat in die besonder deur Paulus bespreek word, is glad nie voorbeskikking en veroordeling nie, maar bloot die roeping van die nie-Jode tot die genade van die Christelike godsdiens, en die antitese daarvan is die ongelowigheid van die Jode. . . . Dit het betrekking op groepe, nie-Jode en Jode, en nie regstreeks op spesifieke individue nie.”—Ons kursiveer.
In onlangser tye het The Jerusalem Bible dieselfde oor hierdie hoofstukke (9-11) gesê: “Die onderwerp van hierdie hoofstukke is derhalwe nie die kwessie van individuele voorbeskikking tot heerlikheid of selfs tot geloof nie, maar van Israel se rol in die ontwikkeling van die verlossingsgeskiedenis, die enigste kwessie wat deur die woorde in die O[u] T[estament] geopper word.”
Die laaste verse van Romeine hoofstuk 8 moet in dieselfde lig gesien word. Hierdie verse kan ons dus tereg daaraan herinner dat God die bestaan van ’n klas, of groep, uit die mensdom vooruitgesien het wat geroep is om saam met Christus te regeer, sowel as die vereistes waaraan hulle moet voldoen—en dit sonder om die spesifieke individue wat uitverkies word vooraf te noem, want dit sou in stryd met sy liefde en geregtigheid wees.