Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 2/15 bl. 23-26
  • Die Dominikaanse Republiek—Nog meer om te ontdek

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Dominikaanse Republiek—Nog meer om te ontdek
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • ’n Ander soort ontdekking
  • Seëninge omdat hulle hulle beskikbaar stel
  • Jongmense se gunstige reaksie
  • “Ontdekkers” uit ander lande
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 2/15 bl. 23-26

Die Dominikaanse Republiek—Nog meer om te ontdek

TOE Christophorus Columbus maar nog ’n seun was, het hy ’n lewe op see begin wat uiteindelik daartoe gelei het dat hy die eilande ontdek het wat vandag as die Wes-Indiese Eilande bekend staan. In Desember 1492 het sy hoofvaartuig, die Santa María, aan die noordkus van die eiland Española gestrand, wat vandag as die eiland Hispaniola bekend staan en deur Haïti en die Dominikaanse Republiek gedeel word. Daar het Columbus die eerste Europese nedersetting gevestig—’n haastig geboude fort wat hy La Navidad genoem het. Hierdie eiland het die sentrale punt vir sy verdere ontdekkingsreise geword.

Columbus het ontdek dat die eiland deur die Taino-Indiane bewoon is, ’n opvallend aantreklike volk wat ander vertrou het en gasvry was. Daar was na raming 100 000 van hulle op daardie stadium. Maar onder die wrede behandeling van die indringers, wat hoofsaaklik daarin belanggestel het om goud te kry, het die inboorlingbevolking drasties verminder. Teen 1570 was daar volgens berig slegs ongeveer 500 Taino-Indiane oor.

Die bevolking van die Dominikaanse Republiek bestaan vandag uit mense van baie rasse en kleure, wie se voorouers hierheen geïmmigreer het. Dit lyk nietemin of hulle baie van die Taino se goeie eienskappe het, want hulle is basies ’n vriendelike en sorgelose volk. Dit, tesame met ’n opregte geloof in God en respek vir die Bybel, het die predikings- en onderrigtingswerk van Jehovah se Getuies in hierdie land buitengewoon suksesvol gemaak.

’n Ander soort ontdekking

Die eerste Wagtoringsendelinge, Lennart en Virginia Johnson, het in die Dominikaanse Republiek aangekom gedurende die era van die diktator Trujillo. Tot hulle vreugde het hulle gevind dat baie mense vinnig en gunstig op hulle Bybelboodskap gereageer het. Dit was egter nie na die owerheid en hulle godsdiensraadgewers se sin nie. ’n Vlaag van vervolging het kort daarna uitgebreek, en die geloof van daardie vroeë Dominikaanse Getuies het voor strawwe toetse te staan gekom. Tot vandag toe word daar dikwels oor hulle lojaliteit en geloof—waarvoor hulle selfs bereid was om te sterf—gepraat.

Jehovah se Getuies, waarvan daar nou ongeveer 16 000 in die land is, is welbekend. ’n Tydjie gelede het vyf televisiestasies die video Jehovah’s Witnesses—The Organization Behind the Name landwyd uitgesaai.a

Dit het baie publisiteit aan die werk van die Getuies gegee, nie net in die groter stede nie, maar ook in kleiner dorpies en sommige plattelandse gebiede. Om daarop voort te bou, het hulle ’n spesiale kampanje onderneem om hierdie afgeleë gebiede met die goeie nuus van die Koninkryk te bereik.

Seëninge omdat hulle hulle beskikbaar stel

Talle jong, energieke en ywerige Getuies het aangebied om twee maande op ’n slag in hierdie afgeleë gebiede te preek. Hulle pogings is ryklik beloon. In een gebied het twee Getuies buitengewone belangstelling gevind. Aangesien dit die tyd was om die jaarlikse herdenking van Jesus se dood te vier, het hulle die reëlings daarvoor getref en die mense genooi om dit by te woon. Die saal het vol geword, en hulle het die vergadering gehou. Toe dit verby was, het hulle, tot hulle groot verbasing, gevind dat daar nog ’n groot groep mense buite die saal was wat gewag het om in te gaan. Hulle is toe ingenooi, en die program is herhaal. Daar is nou ’n gemeente in daardie gebied.

Die ruimhartige en spontane geaardheid van die mense beweeg hulle dikwels om vir familielede en ander te vertel van die Bybelwaarhede waarvan hulle leer. Een Bybelstudent het van vreugde oorgeloop toe hy uiteindelik gekwalifiseer het om aan die huis-tot-huis-bediening deel te neem. Hy het reeds vyf Bybelstudies in sy buurt gehou, maar hy was bly om ’n groter deelname aan die bediening te hê.

Omdat baie gebiede nie gereeld deur Koninkryksverkondigers besoek word nie, word daar ’n poging aangewend om met mense op busse te praat en met diegene wat vir sake of inkopies na die stede toe kom. Dit het tot vreugdevolle resultate gelei, soos ’n ondervinding in verband met ’n brief wat die takkantoor ontvang het, toelig. Dit was van twee mans in ’n landelike gebied wat ’n Bybelstudie aangevra het. Toe ’n Getuie hulle besoek het, het hy gevind dat die “mans” 10 en 11 jaar oud was. Maar hoe het hulle van die Bybelstudiereëling te hore gekom? Wel, ’n man van daardie dorpie het vir sake na die hoofstad toe gekom. Hy het ’n Getuie op straat ontmoet wat hom ’n traktaat gegee en ’n gratis tuisbybelstudie aangebied het. Terug in sy dorpie het die man die traktaat vir ’n 12-jarige meisie in die buurt gegee en haar van die Bybelstudiereëling vertel. Op haar beurt het die meisie die inligting aan die twee seuns oorgedra, wat dadelik die brief geskryf het. ’n Bybelstudie is met die seuns, die meisie, die man en sy twee kinders begin.

Jongmense se gunstige reaksie

Ja, dit lyk of jongmense, diegene wat in die waarheid grootgeword het asook ander, hulle aanbidding van God ernstig opneem. Tamar en haar suster Keila is byvoorbeeld albei op tienjarige ouderdom gedoop en het die voltydse pionierbediening betree toe hulle 11 was. Wendy Carolina was 12 toe sy haar toewyding deur waterdoop gesimboliseer het, en twee jaar later, in 1985, het sy die gewone pionierdiens betree. Vandag is sy ’n bekwame onderrigter wat steeds die voltydse bediening geniet. Jong Jovanny, wat op 10 gedoop is en op 11 ’n gewone pionier was, hou vier tuisbybelstudies. Toe die tienjarige Rey ontdek dat ’n verkoper van tweedehandse boeke ’n boekie het wat deur Jehovah se Getuies uitgegee is, het Rey sy moeder gesmeek om dit vir hom te koop. Hy het dit van voor tot agter gelees. Sy soeke na nog Bybellektuur het hom uiteindelik na die takkantoor gelei. Vandag geniet hy die voltydse diens, en sy moeder is ook ’n dienaar van God.

Wat het hierdie en ander jongmense gehelp om die waarde van geestelike dinge te besef? In baie gevalle het behoorlike ouerlike leiding ’n belangrike rol gespeel. Dit was die geval met Josué, wie se Christenouers albei onderwysers is. Toe ’n reisende opsiener voorgestel het dat die ouers ten minste een van hulle kinders probeer help om die voltydse bediening te betree, het hulle hulle aandag op Josué toegespits. Omdat Josué ’n uitmuntende student was, is hy ’n staatsbeurs geskenk om ingenieurswese te gaan studeer. Ná ’n jaar en ’n half op universiteit het hy ’n uitnodiging aanvaar om aan te sluit by die konstruksieprojek by die hoofkwartier van Jehovah se Getuies in die Dominikaanse Republiek. Sy ouers het hulle diepe bevrediging uitgespreek oor die feit dat hulle hulle seun aan Jehovah se diens gegee het.

“Ontdekkers” uit ander lande

Jesus se woorde “die oes is wel groot, maar die arbeiders min” kan beslis op die veld hier toegepas word (Mattheüs 9:37). Die groot behoefte en die gunstige reaksie het Getuies uit ander lande aangespoor om te kom deelneem aan die ontginning van die gebied se ware hedendaagse skatte—opregte waarheidsoekers.

Getuiegesinne het van die naburige eiland Puerto Rico gekom en ware bevrediging uit hulle diens in verskillende dele van die Dominikaanse Republiek geput. Een gesinshoof het gesê: “Om jou geloof en hoop aan ’n horende oor bekend te kan maak, laat werklik die waarheid leef!” Nadat Cecilia van Swede en Nia van die Verenigde State van die behoefte hier gehoor het, het hulle hulle by verskeie ander jong bedienaars in die voltydse diens kom aansluit. Hulle dien in die binneland wat hoër bo seevlak is en ’n gematigder klimaat het. Hoog in die koel berge wat met denne bedek is, het twee Kanadese gesinne eweneens by ’n Dominikaanse gesin aangesluit wat van die Verenigde State af teruggekeer het. Hulle is deel van ’n klein gemeentetjie, en hulle kan mense bereik wat tot tien jaar laas deur Jehovah se Getuies besoek is.

Alfredo en Lourdes en hulle vyf kinders het van New York-stad af teruggekeer en assosieer met ’n klein gemeentetjie in een van die pragtige toeristedorpies aan die kus. Hulle is verheug dat hulle ’n aandeel daaraan kan hê om opregtes van hart te vind en die gemeente te help om uit te brei. Roland, ’n rekenaaroperateur van Oostenryk, en sy vrou, Yuta, het in die warm, droë, suidelike deel van die land gaan woon. Hulle het die vreugde gesmaak om te sien hoe ’n nuwe gemeente sedert hulle aankoms gevorm is. ’n Groep van drie pioniersusters en ’n egpaar van Kalifornië het laat weet dat hulle in ’n naburige dorp soveel versoeke om Bybelstudies ontvang het dat hulle nie almal kan behartig nie. Daarom het hulle belangstellendes aangemoedig om die vergaderinge by die plaaslike Koninkryksaal by te woon en hulle naam op ’n waglys vir Bybelstudies te plaas. Yuta se broer Stefan dien getrou saam met ’n klein gemeentetjie in die pragtige dorp Samaná in die noordooste. Binne net twee jaar het die aantal Koninkryksverkondigers daar verdubbel.

Die liefde en ywer wat deur hulle getoon is en deur ander wat gekom het om te help, is waarlik prysenswaardig. Hulle het die uitdaging aanvaar om nie net in ’n nuwe land met ’n ander kultuur en ander gebruike te gaan woon nie, maar om ook, in die meeste gevalle, ’n nuwe taal te leer sodat hulle in die geestelike behoeftes van skaapgeaarde mense kan voorsien. Hulle pogings het ’n positiewe reaksie by die plaaslike mense tot gevolg gehad.

Party Dominikaanse gesinne het die geriewe van die groot stede agtergelaat en na die platteland verhuis. Almal word ryklik beloon deur die vreugde om die ware skatte, naamlik opregte waarheidsoekers, te ontdek.

Die 15de-eeuse skattejagters het nie seëninge nie, maar gevangenskap en eindelose lyding oor die Taino-inboorlinge gebring. Nie eens Columbus self het by die skatte van die Nuwe Wêreld baat gevind nie. Hy is uiteindelik in hegtenis geneem en in kettings van die eiland wat hy ontdek het, verwyder en na Spanje teruggestuur.

Vandag is daar ’n ander soort ontdekking aan die gang, en ’n kosbaarder skat word gevind. Jehovah se volk is besig om na die opregtes van hart te soek wat gunstig op die goeie nuus van die Koninkryk reageer. Die gevolg is dat ’n toenemende menigte die vryheid geniet wat slegs God se Woord kan bring (Johannes 8:32). Hulle sien uit na die tyd wanneer hierdie land van berge, lieflike watervalle, pragtige strande en betowerende grotte nie net ’n paradyseiland sal wees nie, maar deel sal uitmaak van ’n nuwe wêreld wat die ganse aarde sal insluit.—2 Petrus 3:13.

[Voetnoot]

a Uitgegee deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap.

[Kaart op bladsy 24]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Die Dominikaanse Republiek

[Prente op bladsy 24, 25]

Jongmense ontdek die waarde van geestelike dinge deur voltydse diens na te streef

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel