God se skeppingswerk op die aarde
DIE Bybel praat van ses skeppingstydperke wat “dae” genoem word en van ’n sewende tydperk of “sewende dag” waarop God met sy aardse skeppingswerke opgehou het en waarop hy gerus het.—Genesis 2:1-3.
Genesis 1:1, 2 het op ’n tyd voor die ses “dae” van die skepping betrekking. Toe hierdie “dae” begin het, het die son, maan en sterre reeds bestaan, aangesien daar in Genesis 1:1 na die skepping daarvan verwys word. Maar voor hierdie ses “dae” van skeppingsbedrywigheid ‘was die aarde woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed’ (Genesis 1:2). ’n Wolklaag het blykbaar toe nog die aarde omhul en gekeer dat lig die oppervlak van die aarde bereik.
Toe God op die eerste dag gesê het: “Laat daar lig wees!” het gedempte lig klaarblyklik deur die wolklae gedring hoewel die bronne van daardie lig nog nie van die oppervlak van die aarde af onderskei kon word nie. Dit was blykbaar ’n geleidelike proses. God het skeiding gemaak tussen die lig en die duisternis en het die lig Dag en die duisternis Nag genoem. Dit toon dat die aarde om sy as gedraai het terwyl dit om die son beweeg het.—Genesis 1:3, 4.
Op die tweede dag het God ’n uitspansel gemaak deur ’n skeiding “tussen waters en waters” te laat plaasvind. Van die waters het op die aarde oorgebly, maar ’n groot hoeveelheid water is tot hoog bo die oppervlak van die aarde gelig, en tussen hierdie twee waters was daar ’n uitspansel. God het die uitspansel Hemel genoem, maar dit was in verhouding tot die aarde, aangesien daar nie gesê word dat die waters bo die uitspansel sterre of ander hemelliggame van die buitenste ruimte ingesluit het nie.—Genesis 1:6-8.
Op die derde dag is die waters op die aarde deur God se wondermag byeengebring en het droë grond verskyn, en God het dit Aarde genoem. Op hierdie dag is gras, plante en vrugtebome ook voortgebring. Hierdie drie algemene kategorieë was elkeen in staat om volgens sy ‘soort’ voort te plant.—Genesis 1:9-13.
Die Goddelike wil in verband met ligte is op die vierde dag volbring, aangesien daar gesê word: “God het toe die twee groot ligte gemaak: die groot lig om te heers oor die dag en die klein lig om te heers oor die nag; ook die sterre. En God het hulle aan die uitspansel van die hemel gestel om lig te gee op die aarde en om te heers oor die dag en oor die nag en om skeiding te maak tussen die lig en die duisternis” (Genesis 1:16-18). Volgens die beskrywing van hierdie ligte was die groot lig ongetwyfeld die son en die klein lig die maan.
Dit is noemenswaardig dat die Hebreeuse werkwoord ba·raʼʹ, wat “skep” beteken, nie in Genesis 1:16 gebruik word nie. Die Hebreeuse werkwoord ʽa·sahʹ, wat “maak” beteken, word in plaas daarvan gebruik. Aangesien die son, maan en sterre deel uitmaak van “die hemel” wat in Genesis 1:1 gemeld word, is hulle lank voor die vierde dag geskep. Op die vierde dag het God “gemaak” dat hierdie hemelliggame ’n nuwe verhouding tot die oppervlak van die aarde en die uitspansel daarbo gehad het. Wanneer daar gesê word: “God het hulle aan die uitspansel van die hemel gestel om lig te gee op die aarde”, beteken dit dat hulle nou van die oppervlak van die aarde af sigbaar geword het, asof hulle in die uitspansel was.—Genesis 1:14.
Die vyfde dag is gekenmerk deur die skepping van die eerste niemenslike siele op aarde. Toe is nie net een dier wat volgens God se voorneme tot ander vorme moes evolueer nie, maar letterlik ’n gewemel van lewende siele deur Goddelike krag voortgebring. Die verslag sê: “God het die groot seediere geskape en al die lewende wesens wat beweeg, waar die waters van wemel, volgens hulle soorte; en al die gevleuelde voëls volgens hulle soorte.”—Genesis 1:20-23.
Op die sesde dag het God “die wilde diere van die aarde gemaak volgens hulle soorte en die vee volgens hulle soorte en al die diere wat op die grond kruip, volgens hulle soorte”, en soos al God se vorige skeppingswerke was hierdie werk goed.—Genesis 1:24, 25.
Teen die einde van die sesde dag van skeppingsbedrywigheid het God ’n splinternuwe soort skepsel voortgebring wat hoër as die diere en tog laer as die engele was. Dit was die mens, wat na God se beeld en gelykenis geskep is. Terwyl Genesis 1:27 kortliks aangaande die mens sê dat ‘Hy [God] hulle man en vrou geskape het’, toon die parallelle verslag in Genesis 2:7-9 dat Jehovah God die mens uit die stof van die aarde geformeer het, die asem van die lewe in sy neus geblaas het en dat die mens ’n lewende siel geword het, aan wie ’n paradystuiste en voedsel voorsien is.
In hierdie geval het Jehovah die grondstowwe van die aarde in sy skeppingswerk gebruik en toe het Hy, nadat hy die man geformeer het, die vrou geskep deur een van Adam se ribbebene as ’n basis te gebruik (Genesis 2:18-25). Met die skepping van die vrou was die mens as ’n “soort” volkome.—Genesis 5:1, 2.
God het die mensdom toe geseën en vir die eerste man en sy vrou gesê: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip” (Genesis 1:28). God het vir die mens en ander aardse wesens genoeg voorsiening gemaak deur aan hulle “al die groen plante as voedsel” te gee. Die geïnspireerde Verslag praat van die resultate van hierdie skeppingswerk en sê: “Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en—dit was baie goed” (Genesis 1:29-31). Nadat die sesde dag tot ’n suksesvolle einde gekom het en God sy skeppingswerk voltooi het, ‘het hy op die sewende dag gerus van al sy werk wat hy gemaak het’.—Genesis 2:1-3.
Die oorsig van wat verwesenlik is, word op elke dag van die ses dae van skeppingsbedrywigheid afgesluit met die woorde: “En dit was aand en dit was môre”, die eerste, tweede, derde dag, ensovoorts (Genesis 1:5, 8, 13, 19, 23, 31). Aangesien elke skeppingsdag langer as 24 uur was, het hierdie uitdrukking nie op die letterlike nag en dag betrekking nie, maar is dit sinnebeeldig.
Gedurende die aandtydperk sou dinge onduidelik wees; maar in die môre sou hulle duidelik sigbaar word. Hoewel God se voorneme vir daardie dag ten volle aan hom bekend was, sou dit gedurende die “aand”, of begin, van elke skeppingstydperk, of “dag”, vir enige engelewaarnemers onduidelik wees. Wanneer die “môre” egter aangebreek het, sou daar volle lig wees met betrekking tot wat God hom vir daardie dag voorgeneem het, aangesien dit teen daardie tyd verwesenlik was.—Vergelyk Spreuke 4:18.
As jy graag meer inligting wil hê of as jy wil hê dat iemand jou moet besoek om ’n gratis tuisbybelstudie met jou te hou, kan jy gerus skryf aan Wagtoring, Privaatsak X2067, Krugersdorp, 1740 of na die gepaste adres op bladsy 2.