Wat sal jou sakeonderneming jou kos?
DIE vrou van ’n Suid-Amerikaanse president was daarvan beskuldig dat sy honderdduisende rande deur kontrakte in skynmaatskappye ingestoot het wat deur lede van haar familie gestig is. In Indië is ’n 38-jarige effektemakelaar in hegtenis geneem en van sy luukse woning en sy 29 motors af weggeneem weens sy vermeende betrokkenheid by ’n bank- en effektemarkskandaal van R5,8 miljard. Op een eiland in die Filippyne maak duisende bewoners hulle bestaan uit die vervaardiging van onwettige handvuurwapens. Om in hierdie winsgewende bedryf te bly, koop hulle volgens berig beamptes gereeld om sodat hulle hulle nie inmeng nie.
Ja, oneerlikheid en bedrog in sakeondernemings is regoor die wêreld aan die orde van die dag. En dikwels kos dit die betrokke mense hulle posisie en eer, asook geld.
Wat van jou? Het jy ’n sakeonderneming? Of oorweeg jy dit om ’n sakeonderneming te begin? Wat sal dit jou kos? Om ’n sakeonderneming te hê, sal jou uiteraard iets kos. Dit is nie noodwendig sleg nie. Dit is egter verstandig om die koste te bereken voordat jy ’n sakeonderneming aanpak of besluite neem aangaande een wat reeds gevestig is (Lukas 14:28). Die venster op bladsy 31 toon ’n paar kostes wat jy in aanmerking moet neem.
Om ’n sakeonderneming te hê, is beslis nie eenvoudig nie. Daar is geestelike en sedelike verpligtinge wat ’n Christen moet oorweeg. Kan jy die koste dra en geestelik gebalanseerd bly? Is sekere koste sedelik onaanvaarbaar? Wat is van die beginsels wat jou sal help bepaal watter koste aanvaarbaar is en watter nie?
Hou geld op sy plek
Geld is nodig om ’n onderneming te bedryf, en ’n mens hoop dat ’n onderneming voldoende geld sal inbring om jou gesin te onderhou. Maar doelwitte met betrekking tot geld kan maklik verdraaid raak. Hebsug kan sy kop uitsteek. Baie mense stel alle ander dinge tersyde wanneer daar geld by betrokke is. Tog het Agur, een van die skrywers van die Bybelboek Spreuke, die gebalanseerde beskouing daarvan uitgespreek toe hy gesê het: “Gee my nie armoede of rykdom nie, laat my geniet die brood wat vir my bestem is” (Spreuke 30:8). Hy het die waarde daarvan besef om met genoegsame lewensmiddele tevrede te wees—hy wou nie “’n slag slaan” nie, soos sommige in die sakewêreld sê.
Hebsug kan jou egter van hierdie beginsel laat vergeet wanneer daardie sogenaamde gulde geleentheid hom voordoen. ’n Reisende bedienaar van Jehovah se Getuies in ’n ontwikkelende land het oor so ’n geval verslag gedoen. ’n Sekere maatskappy wat beleggingskapitaal nodig gehad het, het die indruk geskep dat beleggers hulle geld vinnig sou verdubbel, dalk binne net ’n paar maande. Hierdie aanbod om vinnig geld te maak, het baie mense daarin laat belê. Die reisende bedienaar sê: “Party was te gretig om die aanbod aan te gryp. Hulle het nie genoeg vrae gevra nie, en hulle het geld geleen [om te belê].”
Daarenteen het twee individue die kantoor van hierdie maatskappy gaan besoek voordat hulle daarin belê het. Hulle versoek om die produksiefasiliteite te besigtig, is geweier. Dit het hulle laat twyfel aan die maatskappy se betroubaarheid. Dit was ’n beskerming vir hulle, want binne ’n paar weke is ’n klaarblyklik bedrieglike skema oopgevlek, en mense is in hegtenis geneem. Dink net wat dit diegene gekos het wat nie éérs ondersoek ingestel het nie. Hulle het nie net geld verloor nie, maar miskien ook vriende wat vir hulle geld geleen het, maar nie terugbetaal kon word toe die skema misluk het nie. Hoe verstandig is dit tog om in geldsake die beginsel van Spreuke 22:3 toe te pas: “’n Skrander mens sien die onheil en verberg hom, maar die eenvoudiges gaan verder en word gestraf”!
Hou jou woord
Gestel dinge loop skeef met die onderneming? Psalm 15:4 prys iemand wat by sy ooreenkoms bly, al is dit nie tot sy voordeel om dit te doen nie: “Al het hy gesweer tot sy skade, hy verander nie.” Dit is maklik om jou woord te hou wanneer dinge goed gaan. Maar dit beproef jou eerbaarheid wanneer dit vir jou finansieel nadelig is.
Dink terug aan ’n Bybelse voorbeeld uit die tyd van Josua. Die Gibeoniete het sake so bewimpel dat die owerstes van Israel met hulle ’n verbond sou sluit en hulle nie sou vernietig nie. Hulle was in werklikheid ’n deel van ’n nasie wat as ’n bedreiging vir Israel beskou is. Toe die set ontdek is, het “die kinders van Israel . . . hulle nie verslaan nie, omdat die owerstes van die vergadering vir hulle gesweer het by die HERE” (Josua 9:18). Hoewel hierdie groep van ’n vyandelike gebied afkomstig was, het die owerstes gemeen dat dit belangrik is om hulle woord te hou. En die daaropvolgende gebeure het getoon dat dit Jehovah behaag het.—Josua 10:6-11.
Sal jy ook by jou sakeooreenkomste en -kontrakte bly al verloop dinge nie volgens verwagting nie?a As jy dit doen, sal jy meer soos Jehovah word, wat altyd sy woord hou.—Jesaja 55:11.
Wees eerlik
In die sakewêreld van vandag is eerlikheid soos ’n bedreigde, indien nie uitgestorwe nie, spesie. Ander in soortgelyke ondernemings gebruik dalk oneerlike metodes om hulle inkomste te vergroot. Hulle is dalk oneerlik in hulle reklame. Hulle steel dalk die naam van ’n ander maatskappy en plaas dit op hulle produk. Of hulle bied ’n minderwaardige produk aan as een van hoër gehalte. Al hierdie dinge is vorme van oneerlikheid. Diegene wat hierdie dinge doen, is soos “die goddelose mense” wat volgens Asaf ‘onbesorg die rykdom vermeerder’ op ’n blykbaar bedrieglike wyse.—Psalm 73:12.
Sal jy as ’n Christen van onwettige metodes gebruik maak? Of sal jy eerder gerig word deur Bybelbeginsels soos: “Ons het niemand veronreg nie, ons het niemand verderf nie, ons het van niemand misbruik gemaak nie”; “ons het afstand gedoen van die agterbakse dinge waaroor ’n mens jou moet skaam en wandel nie met listigheid nie”; “twee soorte gewig is vir die HERE ’n gruwel, en ’n valse weegskaal is nie goed nie”? (2 Korintiërs 4:2; 7:2; Spreuke 20:23). Onthou, oneerlikheid het sy oorsprong by niemand anders nie as Satan die Duiwel, “die vader van die leuen”.—Johannes 8:44.
Party maak dalk beswaar en sê: ‘Dit is moeilik om ’n onderneming te bedryf as jy nie soos ander van oneerlike metodes gebruik maak nie.’ Dit is waar die Christen sy geloof in Jehovah kan openbaar. Eerlikheid word op die proef gestel wanneer dit iets kos. Om te sê dat ’n persoon nie ’n bestaan kan maak sonder om oneerlik te wees nie, kom daarop neer dat God nie omgee vir diegene wat hom liefhet nie. Iemand met ware geloof in Jehovah weet dat God vir sy knegte in enige land en onder alle omstandighede kan sorg (Hebreërs 13:5). ’n Mens moet weliswaar dalk tevrede wees met ’n kleiner inkomste as oneerlike mense, maar is dit nie die moeite werd om hierdie prys vir God se seën te betaal nie?
Onthou, oneerlikheid is soos ’n boemerang wat na die gooier terugkom wanneer dit gegooi word. As daar gevind word dat ’n sakeman oneerlik is, sal klante en leweransiers hom dikwels in die steek laat. Hy lei hulle dalk een keer om die bos, maar dit is dalk die laaste keer. Aan die ander kant verkry ’n eerlike sakeman die respek van ander. Wees versigtig dat jy nie beïnvloed word deur hierdie valse redenasie nie: ‘Almal doen dit, daarom is dit reg’. Die Bybelbeginsel is: “Jy mag die meerderheid nie volg in verkeerde dinge nie.”—Exodus 23:2.
Gestel jou sakevennoot van geruime tyd is nie ’n mede-Christen nie en bly nie altyd by Bybelbeginsels nie. Sal dit gepas wees om dit as ’n verskoning te gebruik om jou eie verantwoordelikheid te ontduik wanneer iets onskriftuurliks gedoen word? Onthou voorbeelde soos Adam en Saul. Pleks dat hulle sonde vermy het, het hulle onder die druk van ander geswig en toe die skuld op hulle metgeselle gepak. Hoe duur het dit hulle tog nie te staan gekom nie!—Genesis 3:12, 17-19; 1 Samuel 15:20-26.
Doen op die regte manier sake met medegelowiges
Is daar koste om te bereken wanneer jy met medeaanbidders van Jehovah sake doen? Toe die profeet Jeremia van sy eie neef grond in sy tuisdorp Anatot gekoop het, het hy hom nie net die geld gegee en hand geskud nie. Hy het eerder gesê: “Ek het dit in die brief geskrywe en dit verseël en getuies geneem en die geld afgeweeg op ’n weegskaal” (Jeremia 32:10). Sulke geskrewe ooreenkomste kan misverstande verhoed wat later kan voorkom as omstandighede verander.
Maar wat staan jou te doen as dit lyk of ’n Christenbroer jou in ’n saketransaksie oneerlik behandel het? Moet jy hom hof toe neem? Die Bybel is baie duidelik hieroor. “Durf enigeen van julle wat ’n saak teen ’n ander het hof toe gaan om voor onregverdiges te verskyn en nie voor die heiliges nie?” het Paulus gevra. Gestel ’n probleem word nie onmiddellik op ’n bevredigende manier opgelos nie? Paulus het bygevoeg: “Dit beteken dan geheel en al ’n nederlaag vir julle dat julle regsgedinge met mekaar het. Waarom laat julle julle nie liewer veronreg nie? Waarom laat julle julle nie liewer te kort doen nie?” Dink net aan die klad wat dit op die Christenorganisasie sal plaas as buitestanders hoor hoe ware Christene dinge in die hof uitspook! Het die liefde vir geld in sulke gevalle sterker geword as broederliefde? Of is jou eer moontlik gekrenk en word jou gedagtes deur vergelding oorheers? Paulus se raad toon dat dit in sulke gevalle beter is om ’n verlies te ly as om hof toe te gaan.—1 Korintiërs 6:1, 7; Romeine 12:17-21.
Daar is natuurlik ’n skriftuurlike manier om sulke geskille binne die gemeente te besleg (Matteus 5:37; 18:15-17). Wanneer Christenopsieners die betrokke broers help om die aanbevole stappe te doen, kan hulle nuttige raad verskaf. Dit lyk dalk maklik om gedurende sulke besprekings met Bybelbeginsels saam te stem, maar sal jy agterna werklik toon dat jy geluister het deur die raad wat jy gekry het toe te pas? Liefde vir God en vir ons mede-Christene sal ons aanspoor om dit te doen.
’n Onderneming gaan jou ongetwyfeld iets kos. Hopelik sal die koste redelik wees. Wanneer jy voor besluite of enige verdagte situasie te staan kom, moet jy in gedagte hou dat daar baie dinge in die lewe is wat baie waardevoller is as geld. Deur geld op sy plek te hou, jou woord te hou, eerlik te wees en op ’n Christelike manier teenoor sakevennote op te tree, kan jy toesien dat ’n sakeonderneming nie meer tyd en geld kos as wat nodig is nie, en terselfdertyd kan ons vriendskappe, ’n goeie gewete en ’n goeie verhouding met Jehovah handhaaf.
[Voetnoot]
a Vir ’n hedendaagse voorbeeld van iemand wat sy woord in saketransaksies gehou het, sien die artikel “My woord is my pand” in die Ontwaak! van 8 Mei 1988, bladsye 11-13.
[Venster op bladsy 31]
Wat jou onderneming jou kan kos
Tyd: Dit verg feitlik altyd meer tyd om jou eie onderneming te bedryf as om vir ’n maatskappy as ’n werknemer te werk. Sal dit inbreuk maak op jou rooster, sodat jy minder tyd het vir belangrike geestelike bedrywighede? Sal jy, aan die positiewe kant, jou sake so kan reël dat jy meer tyd kan wy aan die doen van God se wil? Indien wel, is dit goed. Maar wees versigtig! Dit is makliker gesê as gedaan.
Geld: ’n Mens het geld nodig om geld te maak. Hoeveel kapitaal is nodig vir jou onderneming? Het jy reeds die fondse? Of sal jy moet leen? Kan jy dit bekostig om daarvan te verloor? Of sal die koste meer wees as wat jy kan dra as dinge nie uitwerk soos jy verwag nie?
Vriende: Baie sakeondernemings het sakemanne, weens probleme wat van dag tot dag opduik, hulle vriende gekos. Hoewel die potensiaal daar is om vriende te maak, is die moontlikheid van gespanne verhoudinge ’n groot werklikheid. Gestel hierdie vriende is ons Christenbroers?
’n Goeie gewete: Die algemene benadering van sake in vandag se wêreld is: “Dit is almal teen almal” of “Wat kry ek daaruit?” Meer as 70 persent van die studente in ’n Europese opname was van mening dat etiek min of geen plek in die sakewêreld het nie. Dit is geen wonder nie dat bedrog, oneerlikheid en twyfelagtige sakeondernemings alledaags geword het. Sal jy in die versoeking kom om dieselfde te doen?
Jou verhouding met Jehovah: Enige optrede in ’n sakeonderneming wat strydig is met God se wette en beginsels, al is dit algemeen in sakeaangeleenthede, sal ’n mens se verhouding met sy Maker bederf. Dit kan hom sy vooruitsig op die ewige lewe kos. Sal die prys nie vanselfsprekend te hoog wees vir ’n getroue Christen om te betaal nie, ongeag die materiële voordele?
[Prente op bladsy 31]
Wat sal latere misverstande voorkom? Iemand se woord of ’n geskrewe kontrak?