Godvrugtige gehoorsaamheid in ’n godsdienstig verdeelde gesin
“DIT maak baie seerder as enige fisiese hou. . . . Dit voel of ek vol kneusplekke is, en tog kan niemand dit sien nie.” “Soms wil ek moed opgee . . . of weggaan en nooit weer terugkom nie.” “Dit is soms moeilik om logies te dink.”
Daardie emosiebelaaide woorde openbaar gevoelens van wanhoop en eensaamheid. Dit kom van slagoffers van mondelinge mishandeling—beskuldigings, dreigemente, vernederende beledigings, stilswye—en selfs fisiese mishandeling deur huweliksmaats en gesinslede. Waarom word hierdie mense so sleg behandel? Bloot omdat hulle ander godsdiensopvattings het. Dit is werklik ’n uitdaging om Jehovah onder hierdie omstandighede in ’n godsdienstig verdeelde gesin te aanbid. Tog lê baie Christene wat hierdie dinge deurmaak met welslae godvrugtige gehoorsaamheid aan die dag.
Gelukkig word sulke angs en spanning nie in alle godsdienstig verdeelde huise aangetref nie. Maar dit bestaan wel. Beantwoord jou huis aan hierdie beskrywing? Dan vind jy dit dalk moeilik om steeds respek vir jou huweliksmaat of vir jou ouers te hê. Hoe kan jy, as jy ’n vrou in daardie situasie of ’n kind in so ’n omgewing is, daarin slaag om godvrugtige gehoorsaamheid in ’n godsdienstig verdeelde huis te toon? Hoe kan ander hulp verleen? En presies hoe beskou God die saak?
Waarom is dit so moeilik om gehoorsaam te wees?
Die wêreld se selfsug en ondankbaarheid werk saam met jou eie onvolmaakte neigings en maak dat godvrugtige gehoorsaamheid ’n voortdurende stryd is. Satan weet dit, en hy is daarop uit om jou onder te kry. Hy gebruik dikwels gesinslede wat min of geen waardering en respek vir Goddelike standaarde het. Jou verhewe geestelike en sedelike waardes verskil dikwels baie van dié van jou ongelowige gesin. Dit beteken dat julle teenstrydige beskouings oor gedrag en bedrywighede het (1 Petrus 4:4). Daar word moontlik hewige druk op jou geplaas om jou van die Christelike standaard te laat afwyk, aangesien jy gehoorsaam was aan die bevel: “Hou op om saam met hulle deel te hê aan die onvrugbare werke wat tot die duisternis behoort” (Efesiërs 5:11). In hulle oë is niks wat jy doen meer reg nie. Dit is alles as gevolg van jou godsdiens. Toe ’n moeder wat met siek kinders gesukkel het haar man gevra het om te help, het hy sarkasties geantwoord: “Jy het tyd vir jou godsdiens; jy het nie hulp nodig nie.” Sulke aanmerkings maak dit ’n groter uitdaging om gehoorsaam te wees.
Dan is daar tye wanneer julle moontlik verskil oor sake wat nie regstreeks in stryd met die Skrif is nie. Maar jy besef dat jy deel van ’n gesin uitmaak en in daardie opsig sekere verpligtinge het. “Ek raak baie ontsteld wanneer ek dink aan hoe my pa ons behandel, want ek besef dat hy eensaam voel”, sê Connie. “Ek moet my dikwels daaraan herinner dat ek nie gegrief moet voel oor my pa se teëstand nie. Ek moet vir myself sê dat daar ’n belangrike rede is waarom hy teen ons standpunt gekant is of dit verwerp. Satan is die heerser van hierdie stelsel van dinge.” Susan, wat met ’n ongelowige getroud is, erken: “In die begin het ek dikwels gevoel ek wil skei—maar nie meer nie. Ek het besef dat Satan hom gebruik het om my op die proef te stel.”
Dit lyk moontlik of Satan vasbeslote is om jou nutteloos te laat voel. Dae gaan dalk verby sonder dat jou huweliksmaat met jou praat. Die lewe kan baie eensaam word. Dit ondermyn vertroue en selfrespek en beproef jou godvrugtige gehoorsaamheid. Kinders ervaar ook die emosionele en fisiese uitputting. In een geval het drie jong knegte van God getrou Christelike vergaderinge bygewoon, al het hulle ouers daarteen beswaar gemaak. Een van hulle, wat nou ’n voltydse bedienaar is, het erken: “Ons het lam en uitgeput gevoel; ons kon nie slaap nie; dit het ons hart gebreek.”
Wat verwag God van jou?
Gehoorsaamheid aan God kom altyd eerste, en relatiewe gehoorsaamheid aan die man as hoof moet altyd in ooreenstemming met Jehovah se riglyne wees (Handelinge 5:29). Dit kan moeilik wees, maar dit is moontlik. Vertrou voortdurend op God se hulp. Hy wil hê dat jy “met gees en waarheid aanbid” en op sy riglyne ag gee en jou daaraan onderwerp (Johannes 4:24). Wanneer kennis uit God se Woord die regte soort hart vervul, het dit gewillige gehoorsaamheid tot gevolg. Hoewel jou persoonlike omstandighede kan verander, verander nóg Jehovah nóg sy Woord (Maleagi 3:6; Jakobus 1:17). Jehovah het hoofskap aan die man opgedra. Dit is die geval hetsy hy Christus se hoofskap aanvaar of nie (1 Korintiërs 11:3). Hoewel dit moeilik kan wees om dit te aanvaar as jy voortdurend mishandel en verneder word, sê die dissipel Jakobus: “Die wysheid van bo is . . . bereid om te gehoorsaam” (Jakobus 3:17). Om hierdie hoofskap onvoorwaardelik te erken en dit te aanvaar, moet ons God se gees hê, veral die vrug liefde.—Galasiërs 5:22, 23.
Wanneer jy iemand liefhet, is dit makliker om godvrugtige gehoorsaamheid te toon teenoor gesag wat deur God ingestel is. Efesiërs 5:33 gee hierdie raad: ‘Elkeen van julle moet afsonderlik sy vrou so liefhê soos homself; andersyds moet die vrou diep respek vir haar man hê.’
Dink aan Jesus. Hy is mondeling en fisies mishandel, maar hy het nooit enigiemand uitgeskel nie. Jesus het hom voortdurend onberispelik gedra (1 Petrus 2:22, 23). Jesus moes uitsonderlike moed en onwrikbare liefde vir sy Vader, Jehovah, gehad het om soveel smaad te kon verduur. Maar die liefde “verduur alles”.—1 Korintiërs 13:4-8.
Paulus het sy medewerker Timoteus herinner, en hy herinner ons vandag: “God het ons nie ’n gees van lafhartigheid gegee nie, maar van krag en van liefde en van gesonde verstand” (2 Timoteus 1:7). Innige liefde vir Jehovah en vir Jesus Christus kan jou aanspoor om godvrugtige gehoorsaamheid te toon wanneer dit voel of die situasie ondraaglik is. As jy gesond van verstand is, sal dit jou help om ’n gebalanseerde beskouing te behou en om jou aandag op jou verhouding met Jehovah en Jesus Christus gevestig te hou.—Vergelyk Filippense 3:8-11.
Huweliksmaats wat met welslae godvrugtige gehoorsaamheid toon
Soms moet jy lank wag om te sien hoe Jehovah na jou probleme sal omsien. Maar sy hand is nooit kort nie. “Doen altyd die dinge wat Jehovah jou die reg en voorreg gee om te doen—om hom by vergaderinge en byeenkomste te aanbid, om te studeer, om in die diens uit te gaan en om te bid”, stel ’n vrou voor wat daarin slaag om godvrugtige gehoorsaamheid te toon. Jehovah seën jou pogings, nie net jou prestasies nie. In 2 Korintiërs 4:17 het die apostel Paulus gesê dat ‘die verdrukking kortstondig is, maar dit bewerk vir ons ’n heerlikheid wat ewig is’. Dink hieroor na. Dit sal ’n stabiliserende uitwerking op jou hê. Een vrou sê: “My gesinslewe verbeter nie, en soms wonder ek of ek Jehovah behaag. Maar iets wat ek as ’n teken van sy seën beskou, is die feit dat ek hierdie moeilike situasies beter as my man hanteer. Die wete dat ons dade Jehovah behaag, maak die hele stryd die moeite werd.”
Jehovah belowe dat hy nie sal toelaat dat jy situasies ondervind wat jy nie kan verduur nie. Vertrou op hom. Hy weet beter as jy, en hy ken jou beter as wat jy jouself ken (Romeine 8:35-39; 11:33; 1 Korintiërs 10:13). Dit help as ’n mens in moeilike omstandighede tot Jehovah bid. Bid dat sy gees jou lei, veral wanneer jy nie weet wat jy moet doen of hoe jy ’n situasie moet hanteer nie (Spreuke 3:5; 1 Petrus 3:12). Smeek hom voortdurend om jou geduld, selfbeheersing en nederigheid te gee sodat jy die gesag in jou lewe kan gehoorsaam. Die psalmis het gesê: “Die HERE is my rots en my bergvesting en my redder” (Psalm 18:3). As diegene in godsdienstig verdeelde gesinne dit onthou, sal dit help om hulle te versterk.
Probeer bowenal jou bes om jou huwelikslewe gelukkig te maak. Ja, Jesus het vooruitgesien dat die goeie nuus verdeeldheid sou veroorsaak. Maar jy moet bid dat geen verdeeldheid ooit aan jou gesindheid of optrede te wyte is nie (Matteus 10:35, 36). Met hierdie doel voor oë verminder samewerking huweliksprobleme. Al lê net jy hierdie regte gesindheid aan die dag, kan dit baie doen om te keer dat probleme die punt bereik waar dit uitermatige wrywing en onenigheid veroorsaak. Geduld en liefde is baie belangrik. Jy moet “teer wees” en jou “onder die kwaad in bedwang hou”.—2 Timoteus 2:24.
Die apostel Paulus het “alles vir alle soorte mense geword” (1 Korintiërs 9:22). Jy moet dalk eweneens jou rooster soms aanpas sodat jy meer tyd saam met jou huweliksmaat en gesin kan deurbring terwyl jy steeds jou Christelike pligte nakom. Gee soveel tyd moontlik aan die een met wie jy besluit het om jou lewe te deel. Toon Christelike bedagsaamheid. Dit getuig van godvrugtige gehoorsaamheid.
’n Godvresende en onderdanige vrou wat aanpasbaar en simpatiek is, vind dit makliker om godvrugtige gehoorsaamheid aan die dag te lê (Efesiërs 5:22, 23). Woorde wat aangenaam is, “smaaklik gemaak met sout”, help dat moontlike konfrontasies minder gereeld plaasvind.—Kolossense 4:6; Spreuke 15:1.
Goddelike wysheid spoor jou aan om geskille gou uit die weg te ruim en om eerder die vrede te herstel met goeie woorde wat opbou as om in “’n ergerlike gemoedstemming” te gaan slaap (Efesiërs 4:26, 29, 31). Dit verg nederigheid. Vertrou ten volle op Jehovah om jou krag te gee. ’n Christenvrou het nederig erken: “Ná innige gebed het ek gevoel hoe Jehovah se gees my arm oplig om my man te omhels.” God se Woord vermaan ons: “Moet niemand kwaad vir kwaad vergeld nie. . . . Hou aan om die kwaad met die goeie te oorwin” (Romeine 12:17-21). Dit is wyse raad en die weg van godvrugtige gehoorsaamheid.
Kinders wat godvrugtige gehoorsaamheid toon
Jehovah se raad aan julle as kinders in godsdienstig verdeelde gesinne is: “Wees in alles aan julle ouers gehoorsaam, want dit is welbehaaglik in die Here” (Kolossense 3:20). Let op dat die Here Jesus Christus ’n rol hierin speel. Gehoorsaamheid aan jou ouers is dus nie absoluut nie. In ’n sekere sin geld die raad van Handelinge 5:29 om “eerder aan God as heerser gehoorsaam [te] wees as aan mense” ook vir jong Christene. Daar sal tye wees wanneer jy sal moet besluit wat om te doen op grond van wat jy weet volgens die Skrif reg is. Dit kan die een of ander soort straf tot gevolg hê omdat jy weier om aan valse aanbidding deel te neem. Hoewel dit ’n onaangename vooruitsig is, kan jy vertroosting en selfs vreugde put uit die wete dat jy lyding verduur omdat jy doen wat in God se oë reg is.—1 Petrus 2:19, 20.
Aangesien jou gedagtes deur Bybelbeginsels gelei word, verskil jy moontlik met jou ouers oor sekere sake. Dit maak hulle nie jou vyande nie. Selfs as hulle nie toegewyde knegte van Jehovah is nie, verdien hulle gepaste eer (Efesiërs 6:2). Salomo het gesê: “Luister na jou vader wat jou verwek het, en verag jou moeder nie” (Spreuke 23:22). Probeer verstaan dat hulle gegrief voel omdat jy ’n geloof beoefen wat hulle as eienaardig beskou. Kommunikeer met hulle, en ‘laat jou redelikheid bekend word’ (Filippense 4:5). Sê vir hulle hoe jy voel en wat jou kwel. Bly onwrikbaar by Goddelike beginsels, maar ‘wees, indien moontlik, sover dit van jou afhang, vreedsaam teenoor alle mense’ (Romeine 12:18). Die feit dat jy ouerlike gesag nou gehoorsaam, is vir Jehovah ’n aanduiding dat jy die begeerte het om as ’n onderdaan van die Koninkryk steeds gehoorsaam te wees.
Wat ander kan doen
Christene in ’n godsdienstig verdeelde gesin het die ondersteuning en begrip van medeaanbidders nodig. Dit is duidelik uit die woorde van een wat gesê het: “Ek voel heeltemal hopeloos en hulpeloos, aangesien daar niks is wat enigiemand kan doen nie en niks is wat ek kan doen om dit te verander nie. Ek vertrou op Jehovah om sy wil in ons gesin te laat geskied, wat dit ook al mag wees.”
Omgang met geestelike broers en susters by Christelike vergaderinge is ’n toevlug. Hierdie selfde persoon het haar lewe beskryf as “twee verskillende wêrelde. Een waarin ek moet wees en een waarin ek wil wees.” Dit is die liefde van die broederskap wat dit vir hierdie geteisterdes moontlik maak om te volhard en onder alle omstandighede te dien. Meld hulle gerus in jou gebede (Efesiërs 1:16). Praat gereeld, by elke geleentheid, op ’n opbouende, positiewe en vertroostende manier met hulle (1 Tessalonisense 5:14). Wanneer dit prakties en gepas is, kan jy hulle gerus by jou teokratiese en sosiale bedrywighede insluit.
Seëninge en voordele van godvrugtige gehoorsaamheid
Peins daagliks oor die seëninge en voordele daarvan om godvrugtige gehoorsaamheid in ’n godsdienstig verdeelde huis te toon. Streef daarna om gehoorsaam te wees. Moenie “moeg word nie” (Galasiërs 6:9). As iemand onder ongunstige omstandighede volhard en onreg ly “weens sy gewete teenoor God . . . is dit iets welgevalligs” by God (1 Petrus 2:19, 20). Wees gehoorsaam solank dit nie in stryd met Jehovah se regverdige beginsels en wette is nie. Dit getuig van lojaliteit aan Jehovah se reëling. Jou godvrugtige gedrag kan selfs jou huweliksmaat, kinders of ouers se lewe red.—1 Korintiërs 7:16; 1 Petrus 3:1.
Terwyl jy aan die vereistes en verwagtinge van ’n godsdienstig verdeelde gesin probeer voldoen, moet jy onthou hoe belangrik dit is dat jy jou onkreukbaarheid teenoor Jehovah God en Jesus Christus handhaaf. Jy gee moontlik op baie punte toe, maar as jy jou onkreukbaarheid prysgee, gee jy alles prys, onder andere die lewe self. Die apostel Paulus het gesê: “God . . . het aan die einde van hierdie dae met ons gespreek deur middel van ’n Seun, wat hy as erfgenaam van alle dinge aangestel het en deur wie hy die stelsels van dinge gemaak het.” Die besef dat dit “so ’n groot redding” is, sal jou versterk om gehoorsaam te wees.—Hebreërs 1:1, 2; 2:3.
Jou beginselvaste gehoorsaamheid en jou standvastigheid wat regte sedes en waardes betref, is ’n heilsame beskerming vir jou en jou ongelowige huweliksmaat. Getrouheid maak die gesinsbande sterk. Spreuke 31:11 sê van ’n deugsame en lojale vrou: “Die hart van haar man vertrou op haar.” Jou kuis gedrag en diep respek kan jou ongelowige man se oë laat oopgaan. Dit kan daartoe lei dat hy die waarheid van God aanneem.
Godvrugtige gehoorsaamheid is inderdaad kosbaar en kan lewens red. Bid dat jy dit in jou gesinslewe kan toon. Dit sal gemoedsrus tot gevolg hê en Jehovah verheerlik.