Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 6/1 bl. 17-19
  • Gileadgegradueerdes—“Ware sendelinge!”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Gileadgegradueerdes—“Ware sendelinge!”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Soortgelyke materiaal
  • Gileadskool—Floreer nog ná 50 jaar!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Studente van God se Woord gradueer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Sendelinge bevorder wêreldwye uitbreiding
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Meer sendelinge vir die wêreldoes
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 6/1 bl. 17-19

Gileadgegradueerdes—“Ware sendelinge!”

“WAT is ’n sendeling?” Daardie vraag is bykans vier dekades gelede in die hoofartikel van ’n koerant geopper. Die skrywer het aangevoer dat ware sendelinge instrumente van maatskaplike en ekonomiese hervorming is. Maar op Sondag, 5 Maart 1995, by die Jersey City-Byeenkomssaal van Jehovah se Getuies, is ’n antwoord van ’n heel ander aard onomwonde gegee. Wat was die geleentheid? Die graduering van die 98ste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead—’n skool wat al sendelinge na alle wêrelddele gestuur het!

Ná die openingslied en -gebed het Albert D. Schroeder van die Bestuursliggaam al 6 430 wat die graduering bygewoon het hartlik verwelkom. In sy inleidende opmerkings het broer Schroeder verduidelik waarom Gileadgegradueerdes verskil van ander wat hulleself sendelinge genoem het. Hy het gesê: “Die Bybel is die vernaamste handleiding vir Gilead.” Gegradueerdes van Gilead word nie opgelei om maatskaplike werkers te wees nie, maar om onderrigters van God se Woord te wees. Hulle is dus besonder bekwaam om na die geestelike behoeftes van mense in buitelandse gebiede om te sien.

Daaropvolgende sprekers het ’n aantal ander aspekte bespreek waarin Gileadgegradueerdes bewys dat hulle “ware” sendelinge is. Charles Molohan het die onderwerp “Hou aan om as sendelinge goeie vrugte voort te bring” met hulle bespreek. Broer Molohan het die woorde van die apostel Paulus in Kolossense 1:9, 10 gebruik en die gegradueerdes daaraan herinner dat die afgelope vyf maande by Gilead hulle gehelp het om “in die juiste kennis van God” toe te neem. Dit sal hulle help om op twee maniere vrugte voort te bring: deur die vrugte van God se gees te openbaar en deur Bybelwaarhede aan ander te verkondig.

Daniel Sydlik van die Bestuursliggaam het daarna die tema “Moenie jou lewe verhandel nie” bespreek, wat die aanwesiges tot nadenke gestem het. Hy het Jesus se vraag gemeld: “Wat sal ’n mens in ruil vir sy siel gee?” (Matteus 16:26). Broer Sydlik het opgemerk: “Mense het hulle siele vir ’n gemaksugtiger, sorgeloser lewenswyse verruil.” Maar diegene met ’n lewende geloof kan nie hulle beginsels prysgee wanneer hulle voor beproewinge en toetse te staan kom nie. Jesus se woorde toon dat ’n mens gewillig moet wees om te “gee”, dit wil sê om opofferings te maak sodat jy jou siel, of lewe, kan wen. Die nuwe sendelinge is vermaan om Jehovah alles, hulle heel beste, in sy diens te gee!

Daarna het William Van de Wall van die Diensafdelingkomitee oor die onderwerp “Die apostel Paulus—’n navolgenswaardige voorbeeld” gepraat. Broer Van de Wall het verduidelik: “Paulus het die sendingwerk in die eerste eeu aangevoor.” Daar is dus heel gepas vier gebiede beklemtoon waarop die apostel Paulus ’n goeie voorbeeld vir hedendaagse sendelinge gestel het: (1) Paulus se opregte besorgdheid oor en liefde vir mense, (2) sy bekwaamheid in die bediening, (3) sy beskeie weiering om homself te verhoog en (4) sy volkome vertroue op Jehovah.

“Laat Jehovah jou in jou nuwe toewysing deurgrond” was die onderwerp wat Lyman A. Swingle van die Bestuursliggaam bespreek het. Broer Swingle het die dag se teks, Psalm 139:16, gebruik en bevestig dat hulle, as nuwe sendelinge, probleme in hulle toewysings sal ondervind en dat Jehovah die oplossings ken. “Bid tot hom”, het hy gemaan, “praat met hom wanneer jy ’n probleem het. Vind uit wat sy wil is.”

John E. Barr van die Bestuursliggaam het daarna oor die onderwerp “Julle geloof groei uitermate” gepraat (2 Tessalonisense 1:3). In Lukas 17:1 lees ons dat Jesus gesê het: “Dit is onvermydelik dat daar oorsake tot struikeling kom.” Die persoonlikhede van medesendelinge het party al laat struikel. Maar broer Barr het die sendelinge aangemoedig om die geloof te hê wat nodig is om vergewensgesind te wees. Trouens, dit was teen hierdie agtergrond dat Jesus se dissipels gesmeek het: “Gee ons meer geloof” (Lukas 17:2-5). Die geloof van die sendelinge kan ook deur verskeie organisatoriese veranderinge op die proef gestel word. “Het ons die geloof om dit te aanvaar”, het broer Barr gevra, “of sal dit struikelblokke word wat soos berge is?”

Daarna het twee Gileadinstrukteurs raad gegee. Jack Redford het die gegradueerdes aangespoor om ’n positiewe gesindheid te behou. Hy het vertel van ’n sendeling wat haar toewysing verlaat het omdat medesendelinge haar geterg het. Die Skrif waarsku ons egter daarteen om ons gou te vererg (Prediker 7:9). “Behou die regte gesindheid”, het hy gemaan. “Vergewe die foute en onvolmaakthede van diegene om jou.”

U. V. Glass, die Gileadregistrateur, het daarna gevra: “Is julle gereed om ‘tyd en lotgeval’ die hoof te bied?” (Prediker 9:11). “Ons lewenswyse is altyd aan veranderinge onderhewig”, het broer Glass gesê, “en party daarvan kan taamlik traumaties wees.” Sekere sendelinge het onverwags voor swak gesondheid, siekte en gesinsprobleme te staan gekom, wat party genoodsaak het om hulle toewysings te verlaat. “Ongeag wat die lotgeval mag wees”, het broer Glass gesê, “ons weet dat Jehovah daarvan bewus is en dat hy besorg is. As ons ons vertroue in hom stel, weet ons ons sal oorwin!”

’n Lesing met die titel “Vir sendingdiens afgesonder” het die oggend se reeks lesings tot ’n klimaks gevoer. Theodore Jaracz van die Bestuursliggaam het die aandag gevestig op die vraag wat aan die begin geopper is, naamlik: “Wat is ’n sendeling?” In antwoord daarop het hy Handelinge hoofstukke 13 en 14 oor die sendingwerk van Paulus en Barnabas bespreek. Daardie werk was klaarblyklik nie op die regstelling van maatskaplike euwels toegespits nie, maar op die ‘bekendmaking van die goeie nuus’ (Handelinge 13:32). Broer Jaracz het gevra: “Stem julle nie saam dat Paulus en Barnabas getoon het hoe ’n ware sendeling moet optree nie?” ’n Veteraansendeling, Robert Tracy van Mexiko, is toe gevra om van sy eie hartverblydende ondervindinge as ’n evangeliedienaar te vertel.

Die oggendprogram het ’n hoogtepunt bereik toe broer Schroeder diplomas aan die 48 gegradueerdes uitgedeel het. Die gehoor was verheug om die name van die 21 lande te hoor waarheen die sendelinge gestuur sou word: Barbados, Benedewindse Eilande, Benin, Bolivia, Costa Rica, Côte d’Ivoire, Ecuador, Ekwatoriaal-Guinee, Estland, Guinee-Bissau, Honduras, Letland, Mauritius, Mosambiek, Nicaragua, Paraguay, Peru, Senegal, Sentraal-Afrikaanse Republiek, Taiwan en Venezuela.

Ná ’n middagpouse het die gehoor weer hulle sitplekke ingeneem en ’n lewendige Wagtoring-studie geniet, wat deur Robert P. Johnson van die Diensafdeling gehou is. Lede van die 98ste klas het die vrae beantwoord. Dit is gevolg deur ’n aangename reeks onderhoude wat deur die Gileadpersoneel gevoer is. Die gehoor is grootliks aangemoedig toe die gegradueerdes hulle velddiensondervindinge vertel het en hulle gevoelens oor hulle buitelandse toewysings uitgespreek het.

Gilead was ses en ’n half jaar lank by die Wagtoringgenootskap se fasiliteite in Wallkill, New York, geleë. In April 1995 is die skool egter na die nuwe Wagtoring- Opvoedkundige Sentrum in Patterson, New York, verskuif. Hoe het die Bethelgesin by Wallkill oor hierdie verandering gevoel? Tydens hierdie graduering is onderhoude met ’n paar van dié by Wallkill gevoer. Uit hulle roerende kommentare was dit duidelik dat Gileadstudente ’n blywende indruk op hulle gemaak het. Hierdie gewillige manne en vroue is ongetwyfeld ware sendelinge—nederig, selfopofferend, opreg daaroor besorg om ander te help.

Teen die einde van die graduering was almal wat dit bygewoon het daarvan oortuig dat Gileadskool voort sal gaan om sukses te behaal met wat dit al meer as 50 jaar lank doen—om ware sendelinge voort te bring!

[Venster op bladsy 18]

Klasstatistiek:

Aantal lande verteenwoordig: 8

Aantal lande waarheen gestuur: 21

Aantal studente: 48

Gemiddelde ouderdom: 32,72

Gemiddelde jare in waarheid: 15,48

Gemiddelde jare in voltydse bediening: 10,91

[Prent op bladsy 18]

98ste Gradueringsklas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead

In die lys hieronder word rye van voor na agter genommer, en name word van links na regs in elke ry aangegee.

(1) Eszlinger, A.; Mann, T.; Rivera, G.; Baruero, M.; Vaz, M.; Durga, K.; Silweryx, H.; Alvarado, D. (2) Toth, B.; Segarra, S.; Hart, R.; Rooryck, I.; Escobar, P.; Ejstrup, J.; Sligh, L.; Rivera, E. (3) Archard, D.; Snaith, S.; Marciel, P.; Koljonen, D.; Waddell, S.; Blackburn, L.; Escobar, M.; Archard, K. (4) Hart, M.; Toth, S.; Koljonen, J.; Bergman, H.; Mann, D.; Blackburn, J.; Park, D.; Vaz, F. (5) Segarra, S.; Sligh, L.; Leslie, L.; Bergman, B.; Baruero, W.; Alvarado, J.; Leslie, D.; Park, D. (6) Silweryx, K.; Eszlinger, R.; Waddell, J.; Snaith, K.; Durga, A.; Rooryck, F.; Ejstrup, C.; Marciel, D.

    Afrikaanse publikasies (1975-2021)
    Teken af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2021 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel