Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 7/1 bl. 9-14
  • Christengetuies met hemelse burgerskap

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Christengetuies met hemelse burgerskap
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Weer gebore”
  • Kinders van God
  • “Die Israel van God”
  • ’n Nuwe verbond
  • “Nuwe Jerusalem”
  • Jehovah bring baie seuns tot heerlikheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Wie het werklik ’n hemelse roeping?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • “Die Israel van God” en die “groot skare”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Dinge in die hemel en dinge op die aarde word byeengebring
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 7/1 bl. 9-14

Christengetuies met hemelse burgerskap

“Wat ons betref, ons burgerskap bestaan in die hemele.”—FILIPPENSE 3:20.

 1. Watter wonderlike voorneme het Jehovah met betrekking tot party mense?

INDIVIDUE wat as mense gebore is, sal as konings en priesters in die hemel heers, selfs oor engele (1 Korintiërs 6:2, 3; Openbaring 20:6). Wat ’n verstommende waarheid is dit tog! Jehovah het hom dit nietemin voorgeneem, en hy bring dit teweeg deur sy enigverwekte Seun, Jesus Christus. Waarom doen ons Skepper so iets? En watter uitwerking moet kennis daarvan vandag op ’n Christen hê? Kom ons kyk hoe die Bybel hierdie vrae beantwoord.

 2. Wat was volgens Johannes die Doper iets nuuts wat Jesus sou doen, en waarmee het dit verband gehou?

2 Toe Johannes die Doper die weg vir Jesus berei het, het hy bekend gemaak dat Jesus iets nuuts sou doen. Die verslag sê: “[Johannes] het gepreek en gesê: ‘Ná my kom iemand wat sterker as ek is; ek is nie werd om te buk en die rieme van sy sandale los te maak nie. Ek het julle met water gedoop, maar hy sal julle met heilige gees doop’” (Markus 1:7, 8). Voor daardie tyd is niemand nog met heilige gees gedoop nie. Dit was ’n nuwe reëling waarby heilige gees betrokke was, en dit het verband gehou met Jehovah se voorneme wat kort voor lank geopenbaar sou word, naamlik om mense vir hemelse heerskappy voor te berei.

“Weer gebore”

 3. Watter nuwe dinge omtrent die Koninkryk van die hemel het Jesus aan Nikodemus verduidelik?

3 Tydens ’n geheime ontmoeting met ’n vooraanstaande Fariseër het Jesus meer omtrent hierdie Goddelike voorneme geopenbaar. Die Fariseër, Nikodemus, het in die nag na Jesus toe gekom en Jesus het vir hom gesê: “Tensy iemand weer gebore word, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (Johannes 3:3). Nikodemus, wat as ’n Fariseër beslis die Hebreeuse Geskrifte bestudeer het, het iets omtrent die luisterryke waarheid van die Koninkryk van God geweet. Die boek Daniël het voorspel dat die Koninkryk aan “Een . . . soos die Seun van ’n mens” en aan “die volk van die heiliges van die Allerhoogste” gegee sou word (Daniël 7:13, 14, 27). Die Koninkryk sou alle ander koninkryke “verbrysel en daar ’n einde aan maak” en sou vir ewig bestaan (Daniël 2:44). Nikodemus het waarskynlik gedink dat hierdie profesieë met betrekking tot die Joodse nasie vervul sou word; maar Jesus het gesê dat ’n mens weer gebore moet word om die Koninkryk te sien. Nikodemus het dit nie verstaan nie, en daarom het Jesus gesê: “Tensy iemand uit water en gees gebore word, kan hy nie in die koninkryk van God ingaan nie.”—Johannes 3:5.

 4. Hoe sou diegene wat uit heilige gees gebore word se verhouding met Jehovah verander?

4 Johannes die Doper het vroeër van doop met die heilige gees gepraat. Nou voeg Jesus by dat iemand uit heilige gees gebore moet word om in die Koninkryk van God te kan ingaan. Deur hierdie unieke geboorte verkry onvolmaakte mans en vroue ’n baie spesiale verhouding met Jehovah God. Hulle word sy aangenome kinders. Ons lees: “Aan almal wat [Jesus] wel aangeneem het, het hy . . . die reg gegee om God se kinders te word, omdat hulle geloof in sy naam beoefen het; en hulle is nie uit bloed of uit ’n vleeslike wil of uit die wil van ’n man gebore nie, maar uit God.”—Johannes 1:12, 13; Romeine 8:15.

Kinders van God

 5. Wanneer is die getroue dissipels met heilige gees gedoop, en watter verwante werkinge van heilige gees het terselfdertyd plaasgevind?

5 Toe Jesus met Nikodemus gepraat het, het heilige gees reeds op Jesus neergedaal en hom vir sy toekomstige koningskap in God se Koninkryk gesalf, en God het in die openbaar bevestig dat Jesus sy Seun is (Matteus 3:16, 17). Jehovah het met Pinkster 33 G.J. meer geestelike kinders verwek. Getroue dissipels wat in die bokamer in Jerusalem byeen was, is met heilige gees gedoop. Hulle is terselfdertyd weer gebore uit heilige gees om God se geestelike seuns te wees (Handelinge 2:2-4, 38; Romeine 8:15). Daarbenewens is hulle met heilige gees gesalf met die oog op ’n toekomstige hemelse erfenis, en hulle is voorlopig met heilige gees verseël as ’n bewys van die sekerheid van daardie hemelse hoop.—2 Korintiërs 1:21, 22.

 6. Wat is Jehovah se voorneme met betrekking tot die hemelse Koninkryk, en waarom is dit gepas dat mense ’n rol hierin speel?

6 Hulle was die eerste onvolmaakte mense wat deur God gekies is om in die Koninkryk in te gaan. Dit wil sê, ná hulle dood en opstanding sou hulle ’n deel word van die hemelse Koninkryksorganisasie wat oor mense en engele sou heers. Jehovah is van voorneme om deur middel van hierdie Koninkryk sy groot naam te heilig en sy soewereiniteit voor die hele skepping te regverdig (Matteus 6:9, 10; Johannes 12:28). Hoe gepas is dit tog dat mense ’n rol in daardie Koninkryk speel! Satan het mense gebruik toe hy destyds in die tuin van Eden sy eerste uitdaging teen Jehovah se soewereiniteit gerig het, en nou is dit Jehovah se voorneme dat mense ’n aandeel daaraan het om ’n antwoord op daardie uitdaging te voorsien (Genesis 3:1-6; Johannes 8:44). Die apostel Petrus het aan mense geskryf wat gekies is om in daardie Koninkryk te heers: “Geseënd sy die God en Vader van ons Here Jesus Christus, want ooreenkomstig sy groot barmhartigheid het hy ons ’n nuwe geboorte tot ’n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode gegee, tot ’n onverderflike en onbesmette en onverwelklike erfenis. Dit word in die hemele bewaar vir julle.”—1 Petrus 1:3, 4.

 7. Watter unieke verhouding het diegene wat met heilige gees gedoop is met Jesus?

7 As aangenome seuns van God het hierdie uitverkore Christene broers van Jesus Christus geword (Romeine 8:16, 17; 9:4, 26; Hebreërs 2:11). Aangesien Jesus die Saad was wat aan Abraham belowe is, is hierdie geesgesalfde Christene ’n bykomende, of ondergeskikte, deel van daardie Saad, wat ’n seën vir die gelowige mensdom sou meebring (Genesis 22:17, 18; Galasiërs 3:16, 26, 29). Watter seën? Die geleentheid om van sonde vrygekoop en met God versoen te word en hom nou en tot in alle ewigheid te dien (Matteus 4:23; 20:28; Johannes 3:16, 36; 1 Johannes 2:1, 2). Gesalfde Christene op aarde vestig regskapenes se aandag op hierdie seën deur van hulle geestelike broer Jesus Christus en van hulle Pleegvader, Jehovah God, te getuig.—Handelinge 1:8; Hebreërs 13:15.

 8. Wat is die “openbaring” van die geesverwekte seuns van God?

8 Die Bybel praat van ’n “openbaring” van hierdie geesverwekte seuns van God (Romeine 8:19). Aangesien hulle Jesus se medekonings in die Koninkryk word, het hulle ’n aandeel aan die vernietiging van Satan se wêreldstelsel van dinge. Daarna help hulle duisend jaar lank om die voordele van die losprysofferande ten behoewe van die mensdom aan te wend en die mensegeslag sodoende te verhef tot die volmaaktheid wat Adam verloor het (2 Tessalonisense 1:8-10; Openbaring 2:26, 27; 20:6; 22:1, 2). Hulle openbaring sluit al hierdie dinge in. Dit is iets waarna die gelowige menseskepping gretig uitsien.

 9. Hoe verwys die Bybel na die wêreldwye liggaam van gesalfde Christene?

9 Die wêreldwye liggaam van gesalfde Christene is “die gemeente van die eersgeborenes, wat in die hemele opgeskryf is” (Hebreërs 12:23). Hulle vind eerste by Jesus se losprysofferande baat. Hulle is ook “Christus se liggaam”, wat toon wat ’n intieme verhouding hulle met mekaar en met Jesus het (1 Korintiërs 12:27). Paulus het geskryf: “Net soos die liggaam een is maar baie lede het, en al die lede van daardie liggaam, al is hulle baie, een liggaam is, so is ook die Christus. Want ons is almal waarlik deur een gees in een liggaam in gedoop, hetsy Jode of Grieke, hetsy slawe of vryes, en ons is almal een gees laat drink.”—1 Korintiërs 12:12, 13; Romeine 12:5; Efesiërs 1:22, 23; 3:6.

“Die Israel van God”

10, 11. Waarom was ’n nuwe Israel in die eerste eeu nodig, en uit wie het hierdie nuwe nasie bestaan?

10 Voor Jesus se koms as die beloofde Messias was die vleeslike nasie van Israel meer as 1 500 jaar lank Jehovah se spesiale volk. Ondanks voortdurende waarskuwings was die nasie as geheel ontrou. Toe Jesus verskyn het, het die nasie hom verwerp (Johannes 1:11). Jesus het dus vir die Joodse godsdiensleiers gesê: “Die koninkryk van God sal van julle weggeneem en vir ’n nasie gegee word wat die vrugte daarvan voortbring” (Matteus 21:43). Dit is noodsaaklik vir redding dat ’n mens daardie “nasie . . . wat die vrugte [van die Koninkryk] voortbring”, erken.

11 Die nuwe nasie is die gesalfde Christengemeente wat met Pinkster 33 G.J. ontstaan het. Die eerste lede daarvan was Joodse dissipels van Jesus wat hom as hulle hemelse Koning aanvaar het (Handelinge 2:5, 32-36). Hulle was egter nie op grond van hulle Joodse afkoms lede van God se nuwe nasie nie, maar op grond van geloof in Jesus. Hierdie nuwe Israel van God was dus iets unieks—’n geestelike nasie. Toe die meeste Jode geweier het om Jesus te aanvaar, is die Samaritane en later die nie-Jode genooi om deel uit te maak van die nuwe nasie. Die nuwe nasie is “die Israel van God” genoem.—Galasiërs 6:16.

12, 13. Hoe het dit duidelik geword dat die nuwe Israel nie bloot ’n sekte van Judaïsme was nie?

12 Wanneer nie-Jode in eertydse Israel proseliete geword het, moes hulle hulle aan die Mosaïese Wet onderwerp, en die mans moes hulle as simbool hiervan laat besny (Exodus 12:48, 49). Party Joodse Christene het gemeen dat dieselfde vir nie-Jode in die Israel van God moet geld. Maar Jehovah het iets anders in gedagte gehad. Heilige gees het die apostel Petrus na die huis van die nie-Jood Kornelius gelei. Toe Kornelius en sy gesin gunstig op Petrus se prediking gereageer het, het hulle heilige gees ontvang—selfs voor hulle in water gedoop is. Dit het duidelik getoon dat Jehovah hierdie nie-Jode as lede van die Israel van God aanvaar het sonder om te verwag dat hulle hulle aan die Mosaïese Wet onderwerp.—Handelinge 10:21-48.

13 Dit was vir party gelowiges moeilik om te aanvaar, en kort voor lank moes die apostels en ouer manne in Jerusalem die hele aangeleentheid bespreek. Daardie gesaghebbende liggaam het na getuienis geluister wat in besonderhede beskryf het hoe heilige gees op nie-Joodse gelowiges ingewerk het. Bybelnavorsing het getoon dat dit ’n vervulling van geïnspireerde profesieë was (Jesaja 55:5; Amos 9:11, 12). Die regte besluit is geneem: Dit was nie nodig dat nie-Joodse Christene hulle aan die Mosaïese Wet onderwerp nie (Handelinge 15:1, 6-29). Geestelike Israel was dus waarlik ’n nuwe nasie en nie bloot ’n sekte van Judaïsme nie.

14. Waarop dui die feit dat Jakobus van die Christengemeente praat as “die twaalf stamme wat oral verstrooi is”?

14 In ooreenstemming hiermee het die dissipel Jakobus, toe hy aan gesalfde Christene van die eerste eeu geskryf het, sy brief gerig aan “die twaalf stamme wat oral verstrooi is” (Jakobus 1:1; Openbaring 7:3-8). Lede van die nuwe Israel is natuurlik nie in spesifieke stamme ingedeel nie. Geestelike Israel is nie in 12 onderskeie stamme verdeel soos met vleeslike Israel die geval was nie. Jakobus se geïnspireerde woorde toon nietemin dat die Israel van God die 12 stamme van natuurlike Israel in Jehovah se oë heeltemal vervang het. As ’n gebore Israeliet ’n deel van die nuwe nasie geword het, was sy vleeslike afkoms—selfs as hy van die stam van Juda of Levi was—van geen belang nie.—Galasiërs 3:28; Filippense 3:5, 6.

’n Nuwe verbond

15, 16. (a) Hoe beskou Jehovah nie-Joodse lede van die Israel van God? (b) Op watter wetlike grondslag is die nuwe Israel tot stand gebring?

15 In Jehovah se oë is nie-Israelitiese lede van hierdie nuwe nasie volwaardige geestelike Jode! Die apostel Paulus het verduidelik: “Hy is nie ’n Jood wat dit uiterlik is nie, nog is besnydenis dit wat uiterlik aan die vlees is. Maar hy is ’n Jood wat dit innerlik is, en sy besnydenis is dié van die hart deur gees, en nie deur ’n geskrewe kode nie. Die lof van so iemand kom nie van mense nie, maar van God” (Romeine 2:28, 29). Baie nie-Jode het die uitnodiging aangeneem om deel uit te maak van die Israel van God, en hierdie ontwikkeling het Bybelprofesieë vervul. Die profeet Hosea het byvoorbeeld geskryf: “Ek sal barmhartigheid bewys aan haar aan wie barmhartigheid nie bewys is nie, en ek sal aan diegene wat nie my volk is nie, sê: ‘Julle is my volk’; en húlle sal sê: ‘U is my God.’”—Hosea 2:23, NW; Romeine 11:25, 26.

16 Op grond waarvan het die geestelike Israeliete deel uitgemaak van die nuwe nasie as hulle nie onder die Mosaïese Wetsverbond was nie? Jehovah het deur Jesus ’n nuwe verbond met hierdie geestelike nasie gesluit (Hebreërs 9:15). Toe Jesus die herdenking van sy dood op 14 Nisan 33 G.J. ingestel het, het hy brood en wyn aan die 11 getroue apostels gegee en gesê dat die wyn die “bloed van die verbond” voorstel (Matteus 26:28; Jeremia 31:31-34). Soos in Lukas se verslag vertel word, het Jesus gesê dat die beker wyn “die nuwe verbond” voorstel (Lukas 22:20). Toe die heilige gees met Pinkster uitgestort en die Israel van God gebore is, is die Koninkryk ter vervulling van Jesus se woorde van vleeslike Israel weggeneem en aan die nuwe, geestelike nasie gegee. In die plek van vleeslike Israel was hierdie nuwe nasie nou Jehovah se kneg, wat uit sy getuies bestaan het.—Jesaja 43:10, 11.

“Nuwe Jerusalem”

17, 18. Watter beskrywings gee die boek Openbaring van die heerlikheid wat op gesalfde Christene wag?

17 Watter heerlikheid wag tog nie op diegene wat bevoorreg is om die hemelse roeping te ontvang nie! En wat ’n vreugde is dit tog nie om te leer van die wonders wat op hulle wag nie! Die boek Openbaring gee ons opwindende kykies op hulle hemelse erfenis. In Openbaring 4:4 lees ons byvoorbeeld: “Rondom die troon [van Jehovah] is daar vier-en-twintig trone, en op hierdie trone het ek vier-en-twintig ouderlinge sien sit, geklee in wit boklere en met goue krone op hulle koppe.” Hierdie 24 ouderlinge is gesalfde Christene wat uit die dood opgewek is en nou die hemelse posisie beklee wat Jehovah aan hulle beloof het. Hulle krone en trone herinner ons aan hulle koningskap. Dink ook watter wonderlike voorreg hulle het om rondom Jehovah se troon te dien!

18 In Openbaring 14:1 lees ons weer van hulle: “Ek het gesien, en kyk! die Lam het gestaan op die berg Sion, en saam met hom honderd-vier-en-veertigduisend met sy naam en die naam van sy Vader op hulle voorkoppe geskrywe.” Hier sien ons die beperkte getal van hierdie gesalfdes—144 000. Hulle koninklike status blyk uit die feit dat hulle by Jehovah se gekroonde Koning, “die Lam”, Jesus, staan. En hulle is op die hemelse berg Sion. Die aardse berg Sion is die plek waar Jerusalem, Israel se koninklike stad, was. Die hemelse berg Sion stel die verhewe posisie van Jesus en sy mede-erfgename voor, wat die hemelse Jerusalem uitmaak.—2 Kronieke 5:2; Psalm 2:6.

19, 20. (a) Van watter hemelse organisasie sal gesalfde Christene deel uitmaak? (b) Gedurende watter tydperk het Jehovah diegene uitgekies wie se burgerskap in die hemele sou wees?

19 In ooreenstemming hiermee word daar ook van die gesalfdes in hulle hemelse heerlikheid as “Nuwe Jerusalem” gepraat (Openbaring 21:2). Aardse Jerusalem was “die stad van die groot Koning” en ook die plek waar die tempel was (Matteus 5:35). Die hemelse Nuwe Jerusalem is die Koninkryksorganisasie waardeur die groot Soewerein, Jehovah, en sy aangestelde Koning, Jesus, nou heers en waarin priesterlike diens verrig word terwyl ryk seëninge vir die genesing van die mensdom van Jehovah se troon af vloei (Openbaring 21:10, 11; 22:1-5). In ’n ander visioen hoor Johannes hoe daar na getroue, verrese, gesalfde Christene as ‘die Lam se vrou’ verwys word. Wat ’n hartverblydende voorstelling is dit tog van die intieme verhouding wat hulle met Jesus sal geniet en van hulle gewillige onderdanigheid aan hom! Stel jou die vreugde in die hemel voor wanneer die laaste een van hulle uiteindelik sy hemelse beloning ontvang. Nou kan “die huwelik van die Lam” eindelik plaasvind! Daardie koninklike hemelse organisasie sal dan volledig wees.—Openbaring 19:6-8.

20 Ja, wonderlike seëninge wag op diegene van wie die apostel Paulus gesê het: “Wat ons betref, ons burgerskap bestaan in die hemele” (Filippense 3:20). Jehovah kies al byna tweeduisend jaar lank sy geestelike kinders uit en berei hulle vir ’n hemelse erfenis voor. Volgens al die getuienis is hierdie uitkiesings- en voorbereidingswerk feitlik voltooi. Maar dit is nie al nie, soos aan Johannes geopenbaar is in sy visioen wat in Openbaring hoofstuk 7 opgeteken is. ’n Ander groep Christene verg dus nou ons aandag, en ons sal hierdie groep in die volgende artikel bespreek.

Onthou jy?

◻ Op watter verskillende maniere werk die gees in op diegene met ’n hemelse erfenis?

◻ Watter intieme verhouding geniet die gesalfdes met Jehovah? met Jesus?

◻ Hoe word die gemeente van gesalfde Christene in die Bybel beskryf?

◻ Op watter wetlike grondslag is die Israel van God tot stand gebring?

◻ Watter hemelse voorregte wag op gesalfde Christene?

[Prent op bladsy 10]

Gedurende ’n tydperk van byna tweeduisend jaar het Jehovah diegene gekies wat in die hemelse Koninkryk sou heers

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel