Sal jy ’n smeulende pit uitblus?
JESUS CHRISTUS het die goeie nuus van God se Koninkryk aan alle soorte mense verkondig. Baie van hulle was onderdruk en ontmoedig. Maar Jesus het vir hulle ’n bemoedigende boodskap gebring. Hy het hom ontferm oor mense wat ly.
Die Evangelieskrywer Matteus het die aandag gevestig op Jesus se ontferming deur te verwys na ’n profesie wat deur Jesaja opgeteken is. Matteus het woorde aangehaal wat deur Christus vervul is en geskryf: “Hy sal geen beskadigde riet verbrysel nie, en hy sal geen smeulende vlaspit uitblus nie, totdat hy geregtigheid met welslae uitstuur” (Matteus 12:20; Jesaja 42:3). Wat beteken hierdie woorde, en hoe het Jesus hierdie profesie vervul?
’n Kykie na die profesie
’n Riet groei gewoonlik in ’n nat gebied en is nie ’n sterk en geharde plant nie. ’n “Beskadigde riet” sal beslis swak wees. Dit lyk dus of dit onderdrukte mense of mense wat ly, voorstel, soos die man met die verdorde hand wat Jesus op die Sabbat genees het (Matteus 12:10-14). Maar wat van die profetiese verwysing na ’n lamppit?
’n Alledaagse huishoudelike lamp van die eerste eeu G.J. was ’n erdehouer wat soos ’n bakkie met ’n oor gelyk het. Die lamp is gewoonlik met olyfolie gevul. Deur middel van kapillêre aantrekking het ’n lamppit wat van vlas gemaak is die olie opgetrek om die vlam te voed. ’n ‘Smeulende pit’ sal natuurlik ’n pit wees wat besig is om dood te gaan.
Jesus het sy bemoedigende boodskap aan baie verkondig wat figuurlik gesproke soos ’n geknakte, beskadigde riet was. Hierdie mense was ook soos ’n smeulende vlaspit omdat hulle laaste lewensvonk amper geblus was. Hulle was inderdaad onderdruk en ontmoedig. Maar Jesus het nie ’n figuurlike beskadigde riet verbrysel of ’n simboliese smeulende pit uitgeblus nie. Sy liefdevolle, tere, medelydende woorde het mense wat gely het nie verder ontmoedig en onderdruk nie. Sy kommentare en sy handelinge met hulle het eerder ’n bemoedigende uitwerking op hulle gehad.—Matteus 11:28-30.
Vandag het baie ook medelye en bemoediging nodig omdat hulle voor ontmoedigende probleme te staan kom. Selfs knegte van Jehovah het nie altyd onuitputlike krag nie. Party is soms soos smeulende pitte. Christene moet mekaar derhalwe aanmoedig—die vuur as ’t ware aanblaas—en mekaar sodoende versterk.—Lukas 22:32; Handelinge 11:23.
As Christene wil ons opbouend wees. Ons sal iemand wat geestelike hulp soek nie opsetlik probeer afbreek nie. Ons wil in werklikheid graag Jesus se voorbeeld volg deur ander te versterk (Hebreërs 12:1-3; 1 Petrus 2:21). Die feit dat ons iemand onwetend kan verbrysel wat op ons vir aanmoediging staatmaak, is ’n goeie rede om ernstig na te dink oor die manier waarop ons ander behandel. Ons wil beslis nie ‘’n smeulende pit uitblus’ nie. Watter skriftuurlike riglyne kan ons in hierdie verband help?
Gevolge van kritiek
As ’n Christen ‘die een of ander misstap begaan, moet diegene wat geestelike bekwaamhede het so iemand in ’n gees van sagmoedigheid probeer reghelp’ (Galasiërs 6:1). Maar sal dit reg wees om foute in ander te soek en dan elke geleentheid aan te gryp om hulle reg te help? Of sal dit reg wees om druk op hulle uit te oefen om beter te doen deur te impliseer dat wat hulle tans doen nie voldoende is nie, wat miskien daartoe lei dat hulle skuldig voel? Daar is geen bewys dat Jesus ooit so iets gedoen het nie. Al is dit ons bedoeling om ander te help om te verbeter, word diegene wat die liefdelose kritiek ontvang dalk afgebreek in plaas van versterk. Selfs opbouende kritiek kan nogal ontmoedigend wees as dit oordryf word. As die beste pogings van ’n pligsgetroue Christen vir ander net nie goed genoeg is nie, kan hy as ’t ware tou opgooi en sê: ‘Waarom probeer ek nog?’ Trouens, hy kan dalk heeltemal tou opgooi.
Hoewel dit belangrik is om skriftuurlike raad te gee, moet dit nie die kenmerkende gees van aangestelde ouer manne of ander in die gemeente wees nie. Christelike vergaderinge word nie hoofsaaklik gehou om raad te gee en te ontvang nie. Ons vergader eerder gereeld om mekaar op te bou en aan te moedig sodat almal hulle assosiasie en hulle heilige diens aan God kan geniet (Romeine 1:11, 12; Hebreërs 10:24, 25). Hoe goed is dit tog as ons onderskei tussen ’n ernstige fout en ’n onvolmaakte optrede wat verstandig en liefdevol sal wees om oor te sien!—Prediker 3:1, 7; Kolossense 3:13.
Mense reageer gouer op aanmoediging as op kritiek. Trouens, as persone meen dat hulle onregverdig gekritiseer is, hou hulle dalk vol met die gedrag waaroor hulle gekritiseer is! Maar wanneer hulle welverdiende lof ontvang, skep hulle weer moed en spoor dit hulle aan om te verbeter (Spreuke 12:18). Laat ons dus, soos Jesus, aanmoedigend wees en nooit ‘’n smeulende pit uitblus’ nie.
Wat van vergelykings maak?
Dit kan ’n groot aansporing wees wanneer ons die goeie ondervindinge van ander Christene hoor. Selfs Jesus was verheug toe hy gehoor het watter sukses sy dissipels met die verkondiging van die Koninkryksboodskap behaal het (Lukas 10:17-21). Wanneer ons van ander in die geloof se sukses, goeie voorbeeld of onkreukbaarheid hoor, word ons eweneens aangemoedig en is ons meer vasbeslote om by ons Christelike lewenswyse te bly.
Maar gestel ’n verslag is op so ’n manier aangebied dat dit te kenne gee: ‘Julle is nie so goed soos hierdie Christene nie, en julle behoort baie beter te kan doen.’ Sal die persoon wat daarna luister hom nou ewe skielik ywerig inspan om te verbeter? Dit is moontlik dat hy ontmoedig sal word en miskien sal tou opgooi, veral as vergelykings dikwels gemaak of geïmpliseer word. Dit sal baie wees soos ’n ouer wat vir sy kind vra: ‘Hoekom kan jy nie meer soos jou broer wees nie?’ So ’n kommentaar kan gegriefde gevoelens en ontmoediging veroorsaak, maar dit sal waarskynlik nie beter gedrag tot gevolg hê nie. Om vergelykings te maak, kan ’n soortgelyke uitwerking op volwassenes hê en selfs daartoe bydra dat hulle ’n bietjie gegrief voel teenoor diegene met wie hulle vergelyk word.
Ons kan nie verwag dat almal ewe veel in God se diens moet doen nie. In een van Jesus se gelykenisse het ’n sekere heer vir sy slawe onderskeidelik een, twee of vyf silwertalente gegee. Dit is ‘vir elkeen gegee volgens sy eie vermoë’. Die twee slawe wat verstandig handel gedryf het en hulle talente vermeerder het, is geprys omdat hulle getrou was, al het hulle arbeid verskillende resultate opgelewer.—Matteus 25:14-30.
Die apostel Paulus het gepas geskryf: “Laat elkeen sy eie werk op die proef stel, en dan sal hy net met betrekking tot homself rede tot verblyding hê, en nie in vergelyking met die ander persoon nie” (Galasiërs 6:4). Om werklik vir ander ’n aanmoediging te wees, moet ons dus probeer om nie negatiewe vergelykings te maak nie.
’n Paar maniere om ander op te bou
Wat kan ons doen om diegene op te bou wat ontmoedig is en te keer dat ons ‘’n smeulende pit uitblus’? Wel, bemoediging volg nie altyd dieselfde patroon nie. Maar as ons Bybelbeginsels toepas, sal ons woorde ander moontlik opbou. Wat is party van hierdie beginsels?
Wees nederig. In Filippense 2:3 het Paulus ons vermaan om “niks uit twisgierigheid of uit egotisme [te] doen nie”. Ons moet eerder nederig praat en optree. ‘Met ootmoed moet ons ander hoër as onsself ag.’ Paulus het nie gesê dat ons niks van onsself moet dink nie. Tog moet ons besef dat elke persoon op die een of ander manier beter as ons is. Die Griekse woord wat hier met “hoër” weergegee is, dui daarop dat ’n man “sy oë van sy eie voorregte afwend en noukeurig let op ’n ander se talente waarin daardie persoon beter is” (New Testament Word Studies deur John Albert Bengel, Deel 2, bladsy 432). As ons dit doen en ander hoër as onsself ag, sal ons op ’n nederige wyse teenoor hulle optree.
Toon respek. Deur opregte betuigings kan ons duidelik toon dat ons vertroue in getroue medegelowiges het en dat ons hulle beskou as individue wat God graag wil behaag. Maar gestel nou hulle het geestelike hulp nodig. Laat ons dan op ’n eerbiedige en waardige manier hulp aan hulle verleen. Paulus het die saak so gestel: “Neem die leiding in eerbetoning aan mekaar.”—Romeine 12:10.
Luister goed. Ja, om diegene aan te moedig wat ontmoedigende probleme ondervind, moet ons goed na hulle luister, nie vir hulle preek nie. Voor ons gou oppervlakkige wenke gee, moet ons eerder die nodige tyd opsy sit om skriftuurlike riglyne te voorsien wat werklik by hulle behoeftes pas. As ons nie weet wat om te sê nie, sal Bybelnavorsing ons help om vertroostend met ander te praat en hulle te versterk.
Wees liefdevol. Ons moet liefde voel vir diegene wat ons graag wil aanmoedig. In die geval van medeknegte van Jehovah moet ons liefde verder strek as om bloot te doen wat hulle tot voordeel strek. Dit moet intense gevoel insluit. As ons sulke liefde vir al Jehovah se knegte het, sal ons woorde ’n ware aanmoediging vir hulle wees. Selfs as ons ’n wenk moet gee waar hulle kan verbeter, is dit onwaarskynlik dat wat ons sê verkeerd verstaan sal word of leed sal veroorsaak mits ons beweegrede nie net is om ’n punt te stel nie, maar om liefdevolle hulp te verleen. Dit is soos Paulus tereg gesê het: “Liefde bou op.”—1 Korintiërs 8:1; Filippense 2:4; 1 Petrus 1:22.
Wees altyd opbouend
In hierdie kritieke “laaste dae” kom Jehovah se volk voor baie beproewinge te staan (2 Timoteus 3:1-5). Dit is geen wonder nie dat dit soms lyk asof hulle amper meer ly as wat hulle kan verdra. As knegte van Jehovah wil ons beslis nie dinge sê of doen wat dalk kan veroorsaak dat enige van ons medeaanbidders soos ’n smeulende pit voel wat besig is om uit te gaan nie.
Hoe belangrik is dit dan tog dat ons mekaar aanmoedig! Laat ons ons inspan om opbouend te wees deur nederig en eerbiedig te wees teenoor medeaanbidders wat ontmoedig is. Laat ons aandagtig luister wanneer hulle ons in hulle vertroue neem en hulle altyd probeer help deur die aandag op God se Woord, die Bybel, te vestig. Laat ons bowenal liefde betoon, want hierdie vrug van Jehovah se heilige gees sal ons help om mekaar te versterk. Mag ons nooit op enige manier praat of optree wat ‘’n smeulende pit dalk kan uitblus’ nie.