God en Caesar
“Betaal dan alte seker aan Caesar terug wat aan Caesar behoort, maar aan God wat aan God behoort.”—LUKAS 20:25.
1. (a) Wat is Jehovah se verhewe posisie? (b) Wat is ons aan Jehovah verskuldig wat ons nooit aan Caesar kan gee nie?
TOE Jesus Christus daardie opdrag gegee het, was daar by hom geen twyfel nie dat God se vereistes vir Sy knegte voorrang geniet bo enigiets wat Caesar, oftewel die Staat, van hulle kan vereis. Jesus was, meer as enigiemand anders, bewus van hoe waar die psalmis se gebed tot Jehovah is: “U koninkryk is ’n koninkryk van alle eeue, en u heerskappy [soewereiniteit]a duur deur al die geslagte” (Psalm 145:13). Toe die Duiwel Jesus gesag oor al die koninkryke van die bewoonde aarde aangebied het, het Jesus geantwoord: “Daar staan geskrywe: ‘Dit is Jehovah jou God wat jy moet aanbid, en dit is aan hom alleen wat jy heilige diens moet verrig’” (Lukas 4:5-8). Aanbidding kan nooit aan “Caesar” gegee word nie, hetsy Caesar die Romeinse keiser, ’n ander menseheerser of die Staat self is.
2. (a) Wat is Satan se posisie met betrekking tot hierdie wêreld? (b) Met wie se toestemming beklee Satan sy posisie?
2 Jesus het nie ontken dat die koninkryke van die wêreld aan Satan behoort nie. Hy het Satan later “die heerser van hierdie wêreld” genoem (Johannes 12:31; 16:11). Teen die einde van die eerste eeu G.J. het die apostel Johannes geskryf: “Ons weet dat ons ons oorsprong by God het, maar die hele wêreld lê in die mag van die bose” (1 Johannes 5:19). Dit beteken nie dat Jehovah van sy soewereiniteit oor die aarde afstand gedoen het nie. Onthou dat Satan, toe hy Jesus heerskappy oor die politieke koninkryke aangebied het, gesê het: “Ek sal jou al hierdie gesag [gee] . . . , want dit is aan my oorgegee” (Lukas 4:6). Satan oefen slegs met God se toestemming gesag oor die koninkryke van die wêreld uit.
3. (a) Watter posisie het die regerings van die nasies voor Jehovah? (b) Hoe kan ons sê dat onderdanigheid aan die regerings van hierdie wêreld nie beteken dat ons ons aan Satan, die god van hierdie wêreld, onderwerp nie?
3 Die Staat oefen eweneens sy gesag uit slegs omdat God as Soewereine Heerser hom toelaat om dit te doen (Johannes 19:11). Gevolglik kan daar gesê word dat “die bestaande owerhede . . . deur God in hulle relatiewe posisies geplaas [is]”. In vergelyking met Jehovah se allerhoogste soewereine gesag is hulle gesag onteenseglik daaraan ondergeskik. Hulle is egter “God se dienaar”, “God se openbare dienaars”, aangesien hulle noodsaaklike dienste lewer, wet en orde handhaaf en kwaaddoeners straf (Romeine 13:1, 4, 6). Net omdat Satan die onsigbare heerser van hierdie wêreld, of stelsel, is, moet Christene nie dink dat hulle hulle aan hom onderwerp wanneer hulle hulle relatiewe onderdanigheid aan die Staat erken nie. Hulle gehoorsaam God. In hierdie jaar, 1996, is die politieke Staat steeds ’n deel van “die reëling van God”, ’n tydelike reëling wat God toelaat om te bestaan, en dit moet as sodanig deur Jehovah se aardse knegte erken word.—Romeine 13:2.
Jehovah se knegte van die ou tyd en die Staat
4. Waarom het Jehovah Josef toegelaat om ’n vername posisie in die regering van Egipte te beklee?
4 In voor-Christelike tye het Jehovah party van sy knegte toegelaat om vername posisies in Staatsregerings te beklee. In die 18de eeu v.G.J. het Josef byvoorbeeld eerste minister van Egipte geword, slegs ondergeskik aan die heersende Farao (Genesis 41:39-43). Verdere gebeure het duidelik getoon dat Jehovah dit bewerk het sodat Josef as ’n instrument kon dien om die ‘saad van Abraham’, sy nakomelinge, te bewaar vir die uitvoering van Sy voornemens. Daar moet natuurlik in gedagte gehou word dat Josef as slaaf in Egipte verkoop is, en hy het in ’n tyd gelewe toe God se knegte nie die Mosaïese Wet of “die wet van die Christus” gehad het nie.—Genesis 15:5-7; 50:19-21; Galasiërs 6:2.
5. Waarom is Joodse ballinge beveel om Babilon se ‘vrede te soek’?
5 Eeue later is die getroue profeet Jeremia deur Jehovah geïnspireer om vir Joodse bannelinge te sê dat hulle hulle aan die heersers moet onderwerp wanneer hulle in ballingskap in Babilon is en selfs om die vrede van daardie stad moet bid. In sy brief aan hulle het hy geskryf: ‘So sê die HERE van die leërskare, die God van Israel, aan al die ballinge: Soek die vrede van die stad waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het, en bid daarvoor tot die HERE; want in die vrede daarvan sal julle vrede hê’ (Jeremia 29:4, 7). Jehovah se volk het te alle tye rede om vir hulleself en die land waarin hulle woon ‘vrede te soek’ sodat hulle vryheid kan hê om Jehovah te aanbid.—1 Petrus 3:11.
6. Op watter maniere het Daniël en sy drie metgeselle, hoewel hulle hoë regeringsposisies gegee is, geweier om ’n kompromis aan te gaan met betrekking tot Jehovah se Wet?
6 Gedurende die Babiloniese ballingskap het Daniël en drie ander getroue Jode wat in slawerny na Babilon weggevoer is hulle aan Staatsopleiding onderwerp en hooggeplaaste staatsamptenare in Babilonië geword (Daniël 1:3-7; 2:48, 49). Hulle het egter, selfs gedurende hulle opleiding, ’n ferm standpunt oor dieetkundige sake ingeneem wat daartoe kon lei dat hulle die Wet verbreek wat hulle God, Jehovah, deur Moses voorsien het. Hulle is hiervoor geseën (Daniël 1:8-17). Toe koning Nebukadnesar ’n Staatsbeeld opgerig het, was Daniël se drie Hebreeuse metgeselle blykbaar verplig om die seremonie saam met hulle medestaatsamptenare by te woon. Hulle het egter geweier om voor die Staatsafgod “neer te val en [dit] te aanbid”. Jehovah het weer eens hulle onkreukbaarheid beloon (Daniël 3:1-6, 13-28). Jehovah se Getuies respekteer eweneens vandag die vlag van die land waarin hulle woon, maar hulle sal nie ’n daad van aanbidding voor die vlag verrig nie.—Exodus 20:4, 5; 1 Johannes 5:21.
7. (a) Watter voortreflike standpunt het Daniël ingeneem, ondanks die feit dat hy ’n hoë posisie in Babilon se regeringstruktuur beklee het? (b) Watter veranderinge het in Christelike tye ingetree?
7 Ná die val van die Neo-Babiloniese dinastie is Daniël ’n hoë regeringspos gegee onder die nuwe Medo-Persiese bewind waardeur Babilon vervang is (Daniël 5:30; 6:1-4). Maar hy het nie toegelaat dat sy hoë posisie hom sy onkreukbaarheid laat prysgee nie. Toe ’n Staatswet vereis het dat hy eerder koning Darius as Jehovah aanbid, het hy geweier. As gevolg hiervan is hy vir die leeus gegooi, maar Jehovah het hom verlos (Daniël 6:5-25). Dit was natuurlik in voor-Christelike tye. Toe die Christengemeente eers gestig is, het God se knegte “onder die wet ten opsigte van Christus” gekom. Baie dinge wat onder die Joodse stelsel toegelaat is, sou nou anders beskou word, gegrond op die manier waarop Jehovah nou met sy volk gehandel het.—1 Korintiërs 9:21; Matteus 5:31, 32; 19:3-9.
Jesus se gesindheid teenoor die Staat
8. Watter voorval toon dat Jesus vasbeslote was om nie by die politiek betrokke te raak nie?
8 Toe Jesus Christus op die aarde was, het hy hoër standaarde vir sy volgelinge gestel, en hy het geweier om enigsins by politieke of militêre aangeleenthede betrokke te raak. Nadat Jesus etlike duisende mense wonderdadig met ’n paar brode en twee klein vissies gevoed het, wou Joodse manne hom gryp en hom ’n politieke koning maak. Maar Jesus het hulle ontwyk deur gou na die berge weg te gaan (Johannes 6:5-15). The New International Commentary on the New Testament sê aangaande hierdie voorval: “Daar was ’n sterk nasionalistiese verlange onder die Jode van daardie tydperk, en baie van dié wat die wonderwerke gesien het, het ongetwyfeld gemeen dat hulle hier ’n Goddelik goedgekeurde leier het, wat net die een was om hulle teen die Romeine te lei. Hulle het hulle dus voorgeneem om hom koning te maak.” Dit voeg by dat Jesus hierdie aanbod van politieke leierskap “nadruklik van die hand gewys het”. Christus het geen ondersteuning aan enige Joodse opstand teen Romeinse oorheersing verleen nie. Trouens, hy het voorspel wat die gevolg sou wees van die opstand wat ná sy dood sou plaasvind—eindelose weë vir die inwoners van Jerusalem en die vernietiging van daardie stad.—Lukas 21:20-24.
9. (a) Hoe het Jesus die posisie van sy Koninkryk ten opsigte van die wêreld beskryf? (b) Watter leiding het Jesus vir sy volgelinge gegee wat hulle optrede teenoor die regerings van die wêreld betref?
9 Kort voor sy dood het Jesus vir die spesiale verteenwoordiger van die Romeinse keiser in Judea gesê: “My koninkryk is geen deel van hierdie wêreld nie. As my koninkryk ’n deel van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het sodat ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar my koninkryk is nou eenmaal nie uit hierdie bron nie” (Johannes 18:36). Totdat sy Koninkryk ’n einde maak aan die heerskappy van politieke regerings, moet Christus se dissipels sy voorbeeld navolg. Hulle is gehoorsaam aan daardie bestaande owerhede, maar bemoei hulle nie met hulle politieke aangeleenthede nie (Daniël 2:44; Matteus 4:8-10). Jesus het vir sy dissipels riglyne gegee en gesê: “Betaal dus aan Caesar terug wat aan Caesar behoort, maar aan God wat aan God behoort” (Matteus 22:21). Jesus het vroeër in sy Bergpredikasie gesê: “As iemand met gesag jou vir een myl kommandeer, gaan twee myl saam met hom” (Matteus 5:41). Teen die agtergrond van hierdie preek het Jesus die beginsel van gewillige onderdanigheid aan regmatige eise toegelig, hetsy in menseverhoudings of in verband met regeringsvereistes wat nie met God se wet strydig is nie.—Lukas 6:27-31; Johannes 17:14, 15.
Christene en Caesar
10. Watter gewetensgetroue standpunt het die vroeë Christene volgens een geskiedskrywer met betrekking tot Caesar ingeneem?
10 Hierdie bondige riglyne het bepaal wat die verhouding tussen Christene en die Staat sou wees. In sy boek The Rise of Christianity het geskiedskrywer E. W. Barnes geskryf: “Wanneer ’n Christen ook al in die eeue daarna oor sy plig teenoor die Staat getwyfel het, het hy hom tot Christus se gesaghebbende leer gewend. Hy sou belasting betaal: die belasting wat gehef is, was moontlik hoog—dit het voor die ineenstorting van die Wes-Romeinse Ryk ondraaglik geword—maar die Christen sou dit verduur. Hy sou eweneens alle ander Staatsverpligtinge aanvaar, op voorwaarde dat daar nie van hom verwag is om aan Caesar te gee wat aan God behoort het nie.”
11. Hoe het Paulus Christene aangeraai om teenoor wêreldse heersers op te tree?
11 Dit was in ooreenstemming hiermee dat die apostel Paulus, net meer as 20 jaar ná Christus se dood, vir die Christene in Rome gesê het: “Laat elke siel onderdanig wees aan die hoër owerhede” (Romeine 13:1). Ongeveer tien jaar later, kort voor sy tweede gevangeneming en sy teregstelling in Rome, het Paulus aan Titus geskryf: “Hou aan om hulle [Kretensiese Christene] daaraan te herinner om onderdanig en gehoorsaam te wees aan regerings en owerhede as heersers, om gereed te wees vir elke goeie werk, om van niemand kwaad te spreek nie, om nie strydlustig te wees nie, om redelik te wees en alle sagmoedigheid teenoor alle mense aan die dag te lê.”—Titus 3:1, 2.
Progressiewe begrip van “die hoër owerhede”
12. (a) Wat was volgens Charles Taze Russell die regte standpunt van ’n Christen met betrekking tot die regeringsowerhede? (b) Watter verskillende standpunte het gesalfde Christene gedurende die Eerste Wêreldoorlog ingeneem wat diens in die gewapende magte betref?
12 Charles Taze Russell het reeds in 1886 in die boek The Plan of the Ages geskryf: “Nie Jesus of die Apostels het aardse heersers op enige manier teëgewerk nie. . . . Hulle het die Kerk geleer om die wette te gehoorsaam en gesagdraers vanweë hulle amp te respekteer, . . . om hulle vasgestelde belastings te betaal en om geen weerstand te bied teen enige bestaande wet nie (Rom. 13:1-7; Matt. 22:21) buiten waar dit in stryd is met God se wette (Hand. 4:19; 5:29). Jesus en die Apostels asook die vroeë kerk was almal wetsgehoorsaam, hoewel hulle afgeskeie was van die regerings van hierdie wêreld en geen aandeel daaraan gehad het nie.” Hierdie boek het “die hoër magte”, of “die hoër owerhede”, wat deur die apostel Paulus gemeld word, tereg as menslike regeringsowerhede geïdentifiseer (Romeine 13:1, King James Version). In 1904 het die boek The New Creation gesê dat ware Christene “onder die wetsgehoorsaamste mense van ons dag moet wees—nie onrusstokers, bakleiers of klaers nie”. Party het hieruit verstaan dat dit algehele onderdanigheid aan die owerheid beteken het, selfs diensneming in die gewapende magte gedurende die Eerste Wêreldoorlog. Ander het egter gemeen dat dit in stryd is met wat Jesus gesê het: “Almal wat die swaard opneem, sal deur die swaard vergaan” (Matteus 26:52). ’n Duideliker begrip van Christelike onderdanigheid aan die hoër owerhede was ongetwyfeld nodig.
13. Watter veranderde begrip van die identiteit van die hoër magte is in 1929 verkry, en hoe was dit voordelig?
13 In 1929, in ’n tyd toe wette van verskillende regerings dinge begin verbied het wat God beveel of dinge begin eis het wat God se wet verbied, is daar gemeen dat die hoër magte Jehovah God en Jesus Christus moet wees.b Dit is hoe Jehovah se knegte hierdie saak verstaan het gedurende die kritieke tydperk voor en tydens die Tweede Wêreldoorlog en tot in die Koue Oorlog, met sy afskrikkingsewewig en militêre paraatheid. Wanneer ons terugkyk, moet daar gesê word dat hierdie beskouing van sake, aangesien dit die oppergesag van Jehovah en sy Christus verhef het, God se volk gehelp het om ’n onversetlike neutrale standpunt deur hierdie hele moeilike tydperk te handhaaf.
Relatiewe onderdanigheid
14. Hoe is daar in 1962 meer lig op Romeine 13:1, 2 en verwante tekste gewerp?
14 In 1961 is die New World Translation of the Holy Scriptures voltooi. Die voorbereiding daarvan het ’n deeglike studie van die tekstuele taal van die Skrif vereis. Die presiese vertaling van nie net die woorde in Romeine hoofstuk 13 nie, maar ook in tekste soos Titus 3:1, 2 en 1 Petrus 2:13, 17 het dit duidelik gemaak dat die term “hoër owerhede” nie na die Oppergesag, Jehovah, en sy Seun, Jesus, verwys nie, maar na menslike regeringsowerhede. Laat in 1962 is artikels in Die Wagtoring gepubliseer wat ’n juiste verduideliking van Romeine hoofstuk 13 gegee het en ook ’n duideliker begrip voorsien het as wat daar in C. T. Russell se tyd bestaan het. Hierdie artikels het getoon dat Christelike onderdanigheid aan die owerheid nie absoluut kan wees nie. Dit moet relatief wees, op voorwaarde dat dit nie van God se knegte verwag om dinge te doen wat strydig met God se wette is nie. Latere artikels in Die Wagtoring het hierdie belangrike punt beklemtoon.c
15, 16. (a) Tot watter gebalanseerde beskouing het die nuwe begrip van Romeine hoofstuk 13 gelei? (b) Watter vrae moet nog beantwoord word?
15 Hierdie sleutel tot die regte begrip van Romeine hoofstuk 13 het Jehovah se volk in staat gestel om gepaste eerbied vir die politieke owerhede in ewewig te hou met ’n onversetlike standpunt oor lewensbelangrike skriftuurlike beginsels (Psalm 97:11; Jeremia 3:15). Dit het hulle in staat gestel om ’n regte beskouing van hulle verhouding met God en hulle handelinge met die Staat te hê. Dit het verseker dat hulle, terwyl hulle aan Caesar terugbetaal wat aan Caesar behoort, nie nalaat om aan God terug te betaal wat aan God behoort nie.
16 Maar presies wat behoort aan Caesar? Wat is die Staat geregtig om van ’n Christen te eis? Hierdie vrae sal in die volgende artikel bespreek word.
[Voetnote]
a Sien Psalm 103:22, voetnoot in NW.
b The Watchtower, 1 en 15 Junie 1929.
c Sien Die Wagtoring, 15 Januarie, 1 en 15 Februarie 1963; 1 November 1990; 1 Februarie 1993; 1 Julie 1994.
Dit is interessant dat professor F. F. Bruce in sy kommentaar oor Romeine hoofstuk 13 skryf: “Dit is duidelik uit die onmiddellike konteks, soos uit die algemene konteks van die apostoliese geskrifte, dat die staat slegs die reg het om binne die grense van die doelstellings waarvoor dit deur God aangestel is op gehoorsaamheid aan te dring—wanneer die staat veral op die trou aandring wat net God toekom, mag dit nie net weerstaan word nie, maar móét dit gedoen word.”
Kan jy verduidelik?
◻ Waarom beteken onderdanigheid aan die hoër owerhede nie onderdanigheid aan Satan nie?
◻ Wat was Jesus se gesindheid teenoor die politieke aangeleenthede van sy dag?
◻ Watter raad het Jesus vir sy volgelinge gegee wat hulle handelinge met Caesar betref?
◻ Hoe het Paulus Christene aangeraai om teenoor die heersers van die nasies op te tree?
◻ Hoe het die begrip van die identiteit van die hoër owerhede oor die jare al hoe duideliker geword?
[Prent op bladsy 10]
Toe Satan Jesus politieke mag aangebied het, het hy dit verwerp
[Prent op bladsy 13]
Russell het geskryf dat ware Christene “onder die wetsgehoorsaamste mense van ons dag moet wees”