Vrae van lesers
Weet Jesus nou wanneer Armageddon gaan kom?
Dit lyk heel redelik om aan te neem dat hy wel weet.
Party wonder dalk waarom die vraag selfs ontstaan. Dit is waarskynlik as gevolg van Jesus se opmerking in Matteus 24:36: “Aangaande daardie dag en uur weet niemand nie, nie die engele van die hemele nie en ook nie die Seun nie, maar net die Vader.” Let op die frase “ook nie die Seun nie”.
Hierdie vers is deel van Jesus se antwoord op die apostels se vraag: “Wanneer sal hierdie dinge wees, en wat sal die teken van u teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge wees?” (Matteus 24:3). In sy nou reeds bekende profesie oor die bewyse wat deel uitmaak van “die teken” het hy oorloë, voedseltekorte, aardbewings, die vervolging van ware Christene en ander dinge op aarde voorspel wat sy teenwoordigheid sou aandui. Deur hierdie teken sou sy volgelinge kon onderskei dat die einde naby is. Hy het hierdie nabyheid vergelyk met die tyd wanneer ’n vyeboom blare begin kry, wat aandui dat die somer naby is. Hy het bygevoeg: “Net so moet julle, wanneer julle al hierdie dinge sien, ook weet dat hy naby is, voor die deur.”—Matteus 24:33.
Maar Jesus het nie presies gesê wanneer die einde sou kom nie. Hy het eerder gesê wat ons in Matteus 24:36 lees. Dit is hoe dit in die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte lui, en talle moderne Bybelvertalings stem daarmee ooreen. Tog bevat ’n paar ouer vertalings nie die deel “ook nie die Seun nie”.
Byvoorbeeld, die Katolieke Douay Version lui: “Maar van daardie dag en uur weet niemand nie, nie die engele van die hemel nie, maar net die Vader.” Die King James Version lees op ’n soortgelyke wyse. Waarom is “ook nie die Seun nie” weggelaat, ofskoon dit in Markus 13:32 gevind word? Dit is omdat die manuskripte wat die vertalers gebruik het toe daardie twee vertalings aan die begin van die 17de eeu voorberei is, nie die uitdrukking bevat het nie. Maar intussen is talle ouer Griekse manuskripte gevind. Hierdie manuskripte wat uit ’n tyd baie nader aan die skrywe van Matteus se oorspronklike teks dateer, bevat die woorde “ook nie die Seun nie” in Matteus 24:36.
Dit is interessant dat die Katolieke Jerusalem Bible die frase bevat, met ’n voetnoot wat sê dat die Latynse Vulgaat die uitdrukking “waarskynlik om teologiese redes” uitgelaat het. Maar natuurlik! Vertalers of kopiïste wat in die Drie-eenheid geglo het, kon in die versoeking kom om ’n frase uit te laat wat toon dat Jesus minder as sy Vader geweet het. Hoe kon Jesus nie omtrent ’n sekere feit ingelig wees nie as hy en sy Vader deel van ’n drie-enige God is?
A Textual Commentary on the Greek New Testament, deur B. M. Metzger, sê insgelyks: “Die woorde ‘ook nie die Seun nie’ verskyn nie in die meeste [manuskrip]getuienisse van Matteus nie, waaronder die latere Bisantynse teks. Daarenteen bevat die beste voorbeelde van die Alexandrynse, die Westerse en die Caesariaanse soort tekste die frase. Dit is waarskynliker dat die woorde weggelaat is weens die leerstellige probleme wat hulle skep as om aan te neem dat hulle by [Markus 13:32] bygevoeg is.”—Ons kursiveer.
Daardie “beste voorbeelde” van vroeëre manuskripte steun die vertaling wat ’n redelike progressie van kennis bied. Die engele het nie die uur van die einde geweet nie; ook nie die Seun nie; maar net die Vader. En dit strook met Jesus se woorde wat in Matteus 20:23 gevind word, waar hy erken het dat hy nie die gesag het om enigiemand vername posisies in die Koninkryk te gee nie, maar wel die Vader.
Jesus se eie woorde toon dus dat hy nie terwyl hy op die aarde was, geweet het wat die datum van ‘die einde van die wêreld’ is nie. Het hy dit sedertdien te wete gekom?
Openbaring 6:2 beskryf Jesus waar hy op ’n wit perd sit en uitgaan, “oorwinnend en om sy oorwinning te voltooi”. Hierna kom perderuiters wat oorloë, hongersnode en plae voorstel, soos dié wat ons beleef het sedert die Eerste Wêreldoorlog in 1914 begin het. Jehovah se Getuies glo dat Jesus in 1914 gekroon is as Koning van God se hemelse Koninkryk, die aanvoerder in die komende oorlog teen boosheid op die aarde (Openbaring 6:3-8; 19:11-16). Aangesien Jesus nou die gesag ontvang het om in God se naam te oorwin, lyk dit redelik dat sy Vader vir hom gesê het wanneer die einde sal kom, wanneer hy ‘sy oorwinning gaan voltooi’.
Omdat daar nie vir ons op aarde gesê is wat die datum is nie, is Jesus se woorde steeds op ons van toepassing: “Bly op die uitkyk, bly wakker, want julle weet nie wanneer dit die vasgestelde tyd is nie. . . . Wat ek vir julle sê, sê ek vir almal: Hou aan waak.”—Markus 13:33-37.