Neig jou hart tot onderskeidingsvermoë
“Jehovah self gee wysheid; uit sy mond kom daar kennis en onderskeidingsvermoë.”—SPREUKE 2:6, NW.
1. Hoe kan ons ons hart tot onderskeidingsvermoë neig?
JEHOVAH is ons Grootse Onderrigter (Jesaja 30:20, 21, NW). Maar wat moet ons doen om baat te vind by “die kennis van God” wat in sy Woord geopenbaar word? Ons moet onder andere ‘ons hart tot onderskeidingsvermoë neig’—ons moet ’n opregte begeerte hê om hierdie eienskap aan te kweek en aan die dag te lê. Hiervoor moet ons op God vertrou, want die wyse man het gesê: “Jehovah self gee wysheid; uit sy mond kom daar kennis en onderskeidingsvermoë” (Spreuke 2:1-6, NW). Wat is kennis, wysheid en onderskeidingsvermoë?
2. (a) Wat is kennis? (b) Hoe sou jy wysheid definieer? (c) Wat is onderskeidingsvermoë?
2 Kennis is ’n vertroudheid met feite wat verwerf is deur ondervinding, waarneming of studie. Wysheid is die vermoë om kennis toe te pas (Matteus 11:19). Koning Salomo het wysheid aan die dag gelê toe twee vroue op dieselfde kind aanspraak gemaak het en hy het sy kennis van ’n moeder se liefde vir haar kind gebruik om die geskil te besleg (1 Konings 3:16-28). Onderskeidingsvermoë is “skerp oordeelsvermoë”. Dit is “die krag of vermoë van die verstand waardeur dit een ding van ’n ander onderskei” (Webster’s Universal Dictionary). As ons ons hart tot onderskeidingsvermoë neig, sal Jehovah dit deur middel van sy Seun vir ons gee (2 Timoteus 2:1, 7). Maar hoe kan onderskeidingsvermoë verskeie aspekte van ons lewe raak?
Onderskeidingsvermoë en ons spraak
3. Hoe sou jy Spreuke 11:12, 13 verduidelik en wat dit beteken om ‘dit aan hart te ontbreek’?
3 Onderskeidingsvermoë help ons om te besef dat daar ‘’n tyd is om te swyg en ’n tyd om te spreek’ (Prediker 3:7). Hierdie eienskap maak ook dat ons versigtig is oor wat ons sê. Spreuke 11:12, 13 (NW) sê: “Wie dit aan hart ontbreek, het sy eie medemens verag, maar die man van groot onderskeidingsvermoë is iemand wat stilbly. Wie as ’n lasteraar rondgaan, lê vertroulike gesprekke bloot, maar wie getrou van gees is, bedek ’n saak.” Ja, as ’n man of vrou iemand anders verag, ‘ontbreek dit hom of haar aan hart’. Volgens die leksikograaf Wilhelm Gesenius is so iemand “sonder begrip”. Hy of sy het ’n gebrek aan goeie oordeel, en die gebruik van die woord “hart” toon dat positiewe eienskappe van die innerlike mens ontbreek. As ’n verklaarde Christen sy of haar los praatjies in laster of kwaadsprekery laat oorgaan, moet aangestelde ouer manne optree om ’n einde te maak aan hierdie ongesonde situasie in die gemeente.—Levitikus 19:16; Psalm 101:5; 1 Korintiërs 5:11.
4. Wat doen getroue Christene met onderskeidingsvermoë met vertroulike inligting?
4 Anders as dié wat “dit aan hart ontbreek”, bly diegene met “groot onderskeidingsvermoë” stil wanneer dit gepas is. Hulle openbaar nie iets vertrouliks nie (Spreuke 20:19). Diegene met onderskeidingsvermoë weet dat onbesonne praatjies skadelik kan wees, en daarom is hulle “getrou van gees”. Hulle is lojaal teenoor medegelowiges en openbaar nie vertroulike sake wat hulle in gevaar kan stel nie. As Christene met onderskeidingsvermoë enige vertroulike inligting met betrekking tot die gemeente kry, swyg hulle daaroor tot Jehovah se organisasie dit goeddink om dit op sy eie manier bekend te maak.
Onderskeidingsvermoë en ons gedrag
5. Hoe beskou ‘sotte’ losbandige gedrag, en waarom?
5 Bybelspreuke help ons om onderskeidingsvermoë te gebruik en onbehoorlike gedrag te vermy. Spreuke 10:23 (NW) sê byvoorbeeld: “Vir die sot is dit soos vermaak om losbandige gedrag te bedryf, maar wysheid is vir die man van onderskeidingsvermoë.” Diegene vir wie losbandige gedrag “soos vermaak” is, is blind vir die feit dat hulle weg verkeerd is en hulle laat God buite rekening as die een aan wie almal rekenskap moet gee (Romeine 14:12). Sulke ‘sotte’ raak so verdorwe in hulle denke dat hulle aanneem dat God nie hulle verkeerde dade sien nie. Hulle sê as ’t ware deur hulle dade: ‘Daar is geen Jehovah nie’ (Psalm 14:1-3; Jesaja 29:15, 16). Aangesien hulle nie deur Goddelike beginsels gerig word nie, het hulle ’n gebrek aan onderskeidingsvermoë en kan hulle sake nie reg beoordeel nie.—Spreuke 28:5.
6. Waarom is losbandige gedrag dwaas, en hoe sal ons dit beskou as ons onderskeidingsvermoë het?
6 “Die man van onderskeidingsvermoë” besef dat losbandige gedrag nie “vermaak”, ’n speletjie, is nie. Hy weet dat dit God mishaag en ons verhouding met hom kan vernietig. Sulke gedrag is dwaas omdat dit mense van hulle selfrespek beroof, huwelike vernietig, die verstand sowel as die liggaam benadeel en tot ’n verlies van geestelikheid lei. Laat ons dus ons hart tot onderskeidingsvermoë neig en losbandige gedrag of enige soort onsedelikheid vermy.—Spreuke 5:1-23.
Onderskeidingsvermoë en ons gees
7. Wat is van die fisiese gevolge van toorn?
7 As ons ons hart tot onderskeidingsvermoë neig, sal dit ons ook help om ons gees te beheers. “Hy wat stadig tot toorn is, is oorvloedig in onderskeidingsvermo딂 sê Spreuke 14:29 (NW), “maar wie ongeduldig is‚ verhef dwaasheid.” Een rede waarom iemand met onderskeidingsvermoë daarna strewe om onbeheerste toorn te vermy, is omdat dit fisies nadelig is vir ons. Dit kan bloeddruk laat styg en asemhalingsprobleme veroorsaak. Dokters het al woede en toorn aangegee as emosies wat kwale soos asma, velsiektes, spysverteringsprobleme en maagsere vererger of veroorsaak.
8. Waartoe kan ongeduld lei, en hoe kan onderskeidingsvermoë in hierdie verband help?
8 Dit is nie net om te keer dat ons ons gesondheid benadeel dat ons onderskeidingsvermoë aan die dag moet lê en “stadig tot toorn” moet wees nie. Ongeduld kan tot dwase optrede lei waaroor ons later spyt sal wees. Onderskeidingsvermoë laat ons oorweeg wat die gevolg kan wees van onbeheerste woorde of onbesonne dade en keer dus dat ons ‘dwaasheid verhef’ deur iets onverstandigs te doen. Ons word veral deur onderskeidingsvermoë gehelp om te besef dat woede ons denke kan belemmer, sodat ons nie gesonde oordeel aan die dag kan lê nie. Dit sal ons vermoë skaad om God se wil te doen en volgens God se regverdige beginsels te lewe. Ja, dit is geestelik gesproke skadelik om voor onbeheerste woede te swig. Trouens, “vlae van toorn” is onder die verfoeilike “werke van die vlees” wat kan keer dat ons God se Koninkryk sal beërf (Galasiërs 5:19-21). As Christene met onderskeidingsvermoë moet ons dus “gou wees om te hoor, stadig om te praat, stadig ten opsigte van gramskap”.—Jakobus 1:19.
9. Hoe kan onderskeidingsvermoë en broederliefde ons help om verskille uit die weg te ruim?
9 As ons wel kwaad word, kan onderskeidingsvermoë ons laat besef dat ons moet stilbly sodat ons ’n konfliksituasie kan vermy. Spreuke 17:27 (NW) sê: “Enigiemand wat sy woorde inhou, besit kennis, en ’n man van onderskeidingsvermoë is kalm van gees.” Onderskeidingsvermoë en broederliefde sal ons help om te sien hoe belangrik dit is om die neiging te beheers om kwetsende woorde te gebruik. As daar reeds ’n woedeuitbarsting was, sal liefde en nederigheid ons beweeg om verskoning te vra en sake reg te stel. Maar gestel iemand het ons te na gekom. Laat ons dan op ’n sagmoedige en nederige manier met hom alleen praat met die doel om vrede te bevorder.—Matteus 5:23, 24; 18:15-17.
Onderskeidingsvermoë en ons gesin
10. Watter rol speel wysheid en onderskeidingsvermoë in die gesinslewe?
10 Gesinslede moet wysheid en onderskeidingsvermoë aan die dag lê, want hierdie eienskappe sal ’n huisgesin opbou. Spreuke 24:3, 4 (NW) sê: “Deur wysheid sal ’n huisgesin opgebou word en deur onderskeidingsvermoë sal dit stewig bevestig wees. En deur kennis sal die binnekamers gevul word met allerlei kosbare en aangename dinge van waarde.” Wysheid en onderskeidingsvermoë is soos voortreflike boustene vir ’n suksesvolle gesinslewe. Onderskeidingsvermoë help Christenouers om uit te vind hoe hulle kinders voel en wat hulle kwel. Iemand met onderskeidingsvermoë kan kommunikeer, luister en insig in die gevoelens en gedagtes van sy of haar huweliksmaat verkry.—Spreuke 20:5.
11. Hoe kan ’n getroude vrou met onderskeidingsvermoë ‘haar huis opbou’?
11 Wysheid en onderskeidingsvermoë is ongetwyfeld noodsaaklik vir ’n gelukkige gesinslewe. Spreuke 14:1 (NW) sê byvoorbeeld: “Die waarlik wyse vrou het haar huis opgebou‚ maar die dwase breek dit met haar eie hande af.” ’n Wyse getroude vrou met onderskeidingsvermoë wat onderdanig aan haar man is, sal hard werk ten behoewe van die huisgesin en sal sodoende help om haar gesin op te bou. Een ding wat ‘haar huis sal opbou’, is dat sy altyd goed praat van haar man en sodoende ander se respek vir hom laat toeneem. En ’n bekwame vrou wat onderskeidingsvermoë en die eerbiedige vrees van Jehovah het, verkry lof vir haarself.—Spreuke 12:4; 31:28, 30.
Onderskeidingsvermoë en ons lewenswandel
12. Hoe beskou diegene wat “dit aan hart ontbreek” dwaasheid, en waarom?
12 Onderskeidingsvermoë help ons om in alle dinge die regte weg te volg. Dit word in Spreuke 15:21 (NW) getoon, wat sê: “Dwaasheid is ’n verheuging vir wie dit aan hart ontbreek, maar die man van onderskeidingsvermoë is iemand wat reguit vorentoe gaan.” Hoe moet ons hierdie spreuk verstaan? ’n Dwase lewenswyse is ’n oorsaak van vreugde vir onsinnige manne, vroue en jongmense. ‘Dit ontbreek hulle aan hart’, hulle is sonder goeie beweegredes en is so onverstandig dat hulle hulle oor dwaasheid verheug.
13. Wat het Salomo besef oor gelag en ligsinnigheid?
13 Israel se koning Salomo, wat groot onderskeidingsvermoë gehad het, het besef dat ligsinnigheid baie min beteken. Hy het erken: “Ek het in my hart gesê: Nou ja, ek sal jou met vreugde op die proef stel; geniet dan die goeie! Maar kyk, ook dit was tevergeefs. Van die lag het ek gesê: Dit is onsinnig! en van die vreugde: Wat verskaf dit?” (Prediker 2:1, 2). As ’n man van onderskeidingsvermoë het Salomo gevind dat vrolikheid en gelag as sodanig nie bevredigend is nie, want dit bring nie ware en blywende geluk nie. Wanneer ons lag, help dit ons dalk om ons probleme tydelik te vergeet, maar daarna kan hulle selfs groter lyk. Salomo kon gelag tereg “onsinnig” noem. Waarom? Omdat sinnelose gelag gesonde oordeel belemmer. Dit kan maak dat ons baie ernstige sake lig opneem. Daar kan nie gesê word dat die soort vreugde wat met die woorde en dade van ’n hofnar geassosieer word iets verdiensteliks oplewer nie. As ons die betekenis van Salomo se eksperiment met gelag en vrolikheid insien, sal dit ons help om nie “liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God” te wees nie.—2 Timoteus 3:1, 4.
14. Hoe gaan die man van onderskeidingsvermoë “reguit vorentoe”?
14 In watter opsig gaan die man van onderskeidingsvermoë “reguit vorentoe”? Geestelike onderskeidingsvermoë en die toepassing van Goddelike beginsels lei mense op ’n opregte weg. Byington se vertaling sê sonder om doekies om te draai: “Dwaasheid is salig vir ’n man sonder verstand, maar ’n intelligente man sal reguit wandel.” “Die man van onderskeidingsvermoë” maak reguit paaie vir sy voete en kan tussen reg en verkeerd onderskei omdat hy God se Woord in sy lewe toepas.—Hebreërs 5:14; 12:12, 13.
Vertrou altyd op Jehovah vir onderskeidingsvermoë
15. Wat leer ons in Spreuke 2:6-9?
15 As ons ’n opregte lewe wil lei, moet ons almal ons onvolmaaktheid erken en op Jehovah vertrou vir geestelike onderskeidingsvermoë. Spreuke 2:6-9 (NW) sê: “Jehovah self gee wysheid; uit sy mond kom daar kennis en onderskeidingsvermoë. En vir die opregtes sal hy praktiese wysheid bewaar; vir dié wat in onkreukbaarheid wandel, is hy ’n skild, deur aan die paaie van die reg vas te hou, en hy sal selfs die weg van sy lojales bewaak. In daardie geval sal jy regverdigheid en reg en opregtheid verstaan, die hele weg van wat goed is.”—Vergelyk Jakobus 4:6.
16. Waarom is daar geen wysheid, onderskeidingsvermoë of raad teen Jehovah nie?
16 Aangesien ons erken dat ons van Jehovah afhanklik is, laat ons nederig probeer om sy wil te leer deur diep in sy Woord te delf. Hy besit wysheid in die absolute sin, en sy raad is altyd tot ons voordeel (Jesaja 40:13; Romeine 11:34). Trouens, enige raad wat hom weerspreek, is waardeloos. Spreuke 21:30 (NW) sê: “Daar is geen wysheid of enige onderskeidingsvermoë of enige raad teen Jehovah nie.” (Vergelyk Spreuke 19:21.) Alleenlik geestelike onderskeidingsvermoë, wat opgebou word deur ’n studie van God se Woord met behulp van publikasies wat voorsien word deur “die getroue en verstandige slaaf”, sal ons help om ’n behoorlike lewenswandel te volg (Matteus 24:45-47). Laat ons dus ons lewenswandel in ooreenstemming met die raad van Jehovah rig, met die wete dat teenstrydige raad, ongeag hoe geloofwaardig dit mag lyk, nie teen sy Woord kan standhou nie.
17. Wat kan die gevolg wees as die verkeerde raad gegee word?
17 Christene met onderskeidingsvermoë wat raad gee, besef dat dit op God se Woord gegrond moet wees en dat Bybelstudie en bepeinsing nodig is voor ’n vraag beantwoord word (Spreuke 15:28). As vrae oor ernstige sake verkeerd beantwoord word, kan dit groot skade doen. Daarom het Christen- ouer manne geestelike onderskeidingsvermoë nodig en moet hulle vir Jehovah se leiding bid wanneer hulle medegelowiges geestelik probeer help.
Wees oorvloedig in geestelike onderskeidingsvermoë
18. Hoe kan onderskeidingsvermoë ons help om ons geestelike ewewig te behou wanneer ’n probleem in die gemeente ontstaan?
18 Om Jehovah te behaag, moet ons “in alles onderskeidingsvermoë” hê (2 Timoteus 2:7). As ons die Bybel ywerig bestudeer en ons aan die leiding van God se gees en organisasie onderwerp, sal dit ons help om te onderskei wat ons moet doen wanneer ons voor situasies te staan kom wat ons ’n verkeerde rigting kan laat inslaan. Sê nou iets in die gemeente word byvoorbeeld na ons mening nie reg gehanteer nie. Geestelike onderskeidingsvermoë sal ons help om te sien dat dit geen rede is om op te hou om met Jehovah se volk om te gaan en God nie meer te dien nie. Dink aan ons voorreg om Jehovah te dien, aan die geestelike vryheid wat ons geniet, aan die vreugde wat ons uit ons diens as Koninkryksverkondigers kan put. Geestelike onderskeidingsvermoë stel ons in staat om die regte perspektief te kry en te besef dat ons aan God toegewy is en ons verhouding met hom hoog op prys moet stel, ongeag wat ander doen. As daar niks is wat ons op teokratiese gebied kan doen om ’n probleem op te los nie, moet ons geduldig op Jehovah wag om die saak reg te stel. Laat ons eerder ‘op God hoop’ as om tou op te gooi of voor moedeloosheid te swig.—Psalm 42:6, 12.
19. (a) Wat was die hoofgedagte in Paulus se gebed vir die Filippense? (b) Hoe kan onderskeidingsvermoë ons help as ons iets nie ten volle verstaan nie?
19 Geestelike onderskeidingsvermoë help ons om lojaal teenoor God en sy volk te bly. Paulus het vir Christene in Filippi gesê: “Dit is wat ek aanhou bid, dat julle liefde steeds oorvloediger mag word met juiste kennis en volle onderskeidingsvermoë; dat julle seker kan maak van wat die belangriker dinge is, sodat julle onberispelik kan wees en ander nie laat struikel nie, tot op die dag van Christus” (Filippense 1:9, 10). Om reg te redeneer, het ons “juiste kennis en volle onderskeidingsvermoë” nodig. Die Griekse woord wat hier met “onderskeidingsvermoë” vertaal word, dui op “sensitiewe sedelike insig”. Wanneer ons iets leer, wil ons sien hoe dit met God en Christus verband hou en wil ons peins oor hoe dit Jehovah se persoonlikheid en voorsienings verheerlik. Dit vergroot ons onderskeidingsvermoë en ons waardering vir wat Jehovah God en Jesus Christus vir ons gedoen het. As ons iets nie ten volle verstaan nie, sal onderskeidingsvermoë ons help om te besef dat ons nie ons geloof moet prysgee in al die belangrike dinge wat ons van God, van Christus sowel as van God se voorneme geleer het nie.
20. Hoe kan ons oorvloedig wees in geestelike onderskeidingsvermoë?
20 Ons sal oorvloedig wees in geestelike onderskeidingsvermoë as ons altyd ons gedagtes en dade in ooreenstemming bring met God se Woord (2 Korintiërs 13:5). As ons dit op ’n konstruktiewe manier doen, help dit ons om nederig te wees, nie eiesinnig en krities teenoor ander nie. Onderskeidingsvermoë sal ons help om baat te vind by teregwysing en om seker te maak van die belangriker dinge (Spreuke 3:7). Aangesien ons Jehovah wil behaag, laat ons dan vervul wees met juiste kennis van sy Woord. Dit sal ons in staat stel om reg van verkeerd te onderskei, te kan bepaal wat werklik belangrik is en lojaal vas te kleef aan ons kosbare verhouding met Jehovah. Dit alles is moontlik as ons ons hart tot onderskeidingsvermoë neig. Maar nog iets is nodig. Ons moet onderskeidingsvermoë ons laat beveilig.
Hoe sou jy antwoord?
◻ Waarom moet ons ons hart tot onderskeidingsvermoë neig?
◻ Hoe kan onderskeidingsvermoë ons spraak en gedrag raak?
◻ Watter uitwerking kan onderskeidingsvermoë op ons gees hê?
◻ Waarom moet ons altyd op Jehovah vertrou vir onderskeidingsvermoë?
[Prent op bladsy 13]
Onderskeidingsvermoë help ons om ons gees te beheers
[Prent op bladsy 15]
Koning Salomo, wat groot onderskeidingsvermoë gehad het, het besef dat ligsinnigheid nie werklik bevredigend is nie