Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w97 5/15 bl. 32
  • ‘By God sal ek skuil’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘By God sal ek skuil’
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
w97 5/15 bl. 32

‘By God sal ek skuil’

IN HIERDIE ‘kritieke tye wat moeilik is om deur te kom’, word die versoekings en druk al meer. Ons eerlikheid kan byvoorbeeld by die werksplek getoets word. Ons kuisheid word dalk getoets wanneer ons by ons skoolmaats is. En ons onkreukbaarheid word dikwels deur ’n sedelik verdorwe wêreld op die proef gestel.—2 Timoteus 3:1-5.

Die Bybelskrywer Asaf het ook in ’n tyd gelewe toe goddeloosheid gefloreer het. Party van sy tydgenote het selfs oor hulle goddelose gedrag gespog. “Die trots [is] om hulle soos ’n halssieraad”, het Asaf geskryf. “Die geweld bedek hulle soos ’n gewaad. Hulle spot en spreek in boosheid verdrukking; hulle spreek uit die hoogte” (Psalm 73:6, 8). Klink hierdie gesindheid bekend?

Vir diegene wat wil doen wat reg is, is sulke gedrag baie ontstellend, selfs ontmoedigend. “Die hele dag tog is ek geslaan”, het Asaf geweeklaag. “Dit was moeite in my oë” (Psalm 73:14, 16). Jy voel dalk ook so, maar moenie moed verloor nie! Asaf kon die goddeloosheid van sy dag verduur, en jy kan dieselfde doen. Maar hoe?

Asaf het besef dat dit byna onmoontlik is om ware geregtigheid onder die onvolmaakte heerskappy van mense te vind (Psalm 146:3, 4; Spreuke 17:23). Hy het dus eerder al sy aandag op sy verhouding met God toegespits as om sy kosbare tyd, energie en middele te verkwis deur die goddeloosheid om hom uit die weg te probeer ruim. Asaf het gesê: “Wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees; in die Here HERE het ek my toevlug gestel.”—Psalm 73:28.

Vandag geniet diegene wat hulle aan korrupte sakegebruike skuldig maak dikwels materiële voordele. Baie spog dalk selfs oor hoe hulle God se sedewette minag. Maar hulle sal nie vir ewig ongestraf bly daarvoor nie. “Waarlik, U stel hulle op gladde plekke”, het Asaf gesê. “U laat hulle in puin val.”—Psalm 73:18.

Ja, op God se bestemde tyd sal daar met bedrog, geweld en korrupsie sowel as al die ander goddelose gebruike weggedoen word wat ware Christene moet vermy. Die Bybel belowe: “Die kwaaddoeners sal uitgeroei word; maar die wat die HERE verwag, hulle sal die aarde besit” (Psalm 37:9). Mag ons dit intussen eens wees met die woorde van die psalmis wat gesê het: “Die HERE is my rots en my bergvesting en my redder; my God, my rots by wie ek skuil.”—Psalm 18:3.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel