Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w97 5/15 bl. 30-31
  • Epafras—“’n Getroue bedienaar van die Christus”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Epafras—“’n Getroue bedienaar van die Christus”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Evangeliedienaar van die Likosvallei
  • Epafras se verslag
  • ’n Man wat waarde geheg het aan gebed
  • Help ander om te wandel op ’n wyse wat Jehovah waardig is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Staan in volkomenheid met vaste oortuiging
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Bybelboek nommer 51—Kolossense
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • “As julle hierdie dinge weet, gelukkig is julle as julle dit doen”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) — 2018
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
w97 5/15 bl. 30-31

Epafras—“’n Getroue bedienaar van die Christus”

WIE het die Christengemeentes in Korinte, Efese en Filippi gestig? Miskien sal jy sonder huiwering antwoord: ‘Paulus, die “apostel vir die nasies”’ (Romeine 11:13). Jy sou reg wees.

Maar wie het die gemeentes in Kolosse, Hiërapolis en Laodisea gestig? Hoewel ons nie sekerheid daaromtrent het nie, was dit moontlik ’n man met die naam Epafras. Jy sal dalk in alle geval meer van hierdie evangeliedienaar wil weet, want hy word “’n getroue bedienaar van die Christus” genoem.—Kolossense 1:7.

Evangeliedienaar van die Likosvallei

Die naam Epafras is ’n verkorte vorm van Epafroditus. Maar Epafras moet nie met die Epafroditus van Filippi verwar word nie. Epafras was van Kolosse, een van die drie plekke in die Likosriviervallei, in Klein-Asië, waar daar Christengemeentes was. Kolosse was net 18 kilometer van Laodisea af en 19 kilometer van Hiërapolis af geleë, in die eertydse streek Frigië.

Die Bybel sê nie uitdruklik hoe die goeie nuus van God se Koninkryk Frigië bereik het nie. Daar was egter op Pinksterdag in 33 G.J. Frigiërs in Jerusalem, en party het dalk van Kolosse af gekom (Handelinge 2:1, 5, 10). Tydens Paulus se bediening in Efese (ongeveer 52-55 G.J.) was die getuienis wat in daardie gebied gegee is so kragtig en doeltreffend dat nie alleen die Efesiërs nie maar ook “almal wat in die landstreek Asië gewoon het die woord van die Here gehoor het, Jode sowel as Grieke” (Handelinge 19:10). Dit wil voorkom of Paulus nie die goeie nuus in die hele Likosvallei verkondig het nie, want baie wat in daardie streek Christene geword het, het hom nog nooit gesien nie.—Kolossense 2:1.

Volgens Paulus was Epafras die persoon wat die Kolossense omtrent “die onverdiende goedhartigheid van God in waarheid” geleer het. Die feit dat Paulus hierdie medewerker “namens ons ’n getroue bedienaar van die Christus” noem, toon dat Epafras ’n bedrywige evangeliedienaar in die gebied was.—Kolossense 1:6, 7.

Die apostel Paulus sowel as die evangeliedienaar Epafras was baie besorg oor die geestelike welsyn van hulle medegelowiges in die Likosvallei. As die “apostel vir die nasies” was Paulus sekerlik bly om nuus van hulle vooruitgang te ontvang. Dit was van niemand anders nie as Epafras dat Paulus van die geestelike toestand van die Kolossense gehoor het.—Kolossense 1:4, 8.

Epafras se verslag

Die Kolossense se probleme was ernstig genoeg om Epafras die lang reis na Rome te laat onderneem met die spesifieke doel om hierdie sake met Paulus te bespreek. Dit was klaarblyklik Epafras se breedvoerige verslag wat Paulus beweeg het om twee briewe te skryf aan daardie broers wat hy andersins nie geken het nie. Een was die brief aan die Kolossense. Die ander brief, wat oënskynlik nie bewaar is nie, is aan die Laodisense gestuur (Kolossense 4:16). Dit is redelik om te dink dat die inhoud van daardie briewe bedoel was om te pas by die behoeftes van daardie Christene soos Epafras dit verstaan het. Watter behoeftes het hy gesien? En wat vertel dit ons van sy persoonlikheid?

Uit die brief aan die Kolossense lyk dit asof Epafras bekommerd was omdat die Christene in Kolosse blootgestel was aan die gevaar van heidense filosofieë wat verband gehou het met asketisme, spiritisme en afgodiese bygelowigheid. Daarbenewens het die Joodse lering van onthouding van sekere voedselsoorte en die viering van sekere dae dalk sommige lede van die gemeente beïnvloed.—Kolossense 2:4, 8, 16, 20-23.

Die feit dat Paulus oor hierdie onderwerpe skryf, is vir ons ’n aanduiding van hoe wakker en bewus Epafras van die behoeftes van sy mede-Christene was. Hy het liefdevolle besorgdheid oor hulle geestelike welsyn getoon en was bewus van die gevare van die milieu waarin hulle gelewe het. Epafras het Paulus om raad gevra, en dit toon dat hy nederig was. Miskien het hy gevoel dat dit nodig is om raad van iemand met meer ondervinding te ontvang. Hoe dit ook al sy, Epafras het die wyse ding gedoen.—Spreuke 15:22.

’n Man wat waarde geheg het aan gebed

In die slot van die brief wat Paulus aan die Christene in Kolosse gestuur het, sê hy: “Epafras, wat uit julle midde is, ’n slaaf van Christus Jesus, stuur vir julle groete en span hom altyd in ten behoewe van julle in sy gebede, sodat julle uiteindelik in volkomenheid en met vaste oortuiging in die hele wil van God kan staan. Ek getuig inderdaad van hom dat hy groot moeite doen ten behoewe van julle en van dié in Laodisea en van dié in Hiërapolis.”—Kolossense 4:12, 13.

Ja, selfs terwyl hy Paulus se “medegevangene” in Rome was, het Epafras aan sy geliefde broers in Kolosse, Laodisea en Hiërapolis gedink en vir hulle gebid (Filemon 23). Hy het letterlik vir hulle ‘geworstel’ in gebed. Volgens die geleerde D. Edmond Hiebert beteken die Griekse term wat hier gebruik is “’n bedrywigheid wat veeleisend is en groot opoffering verg”, iets soortgelyks aan die “sielsangs” wat Jesus Christus ondervind het terwyl hy in die tuin van Getsemane gebid het (Lukas 22:44). Epafras het opreg begeer dat sy geestelike broers en susters standvastigheid verkry en volle Christelike volwassenheid bereik. Watter seën moes so ’n geestelikgesinde broer tog vir die gemeentes gewees het!

Aangesien Epafras ’n “geliefde medeslaaf” genoem is, kan daar geen twyfel wees dat hy hom bemind gemaak het by mede-Christene nie (Kolossense 1:7). Wanneer omstandighede dit toelaat, moet alle gemeentelede vryelik van hulleself gee met hartlikheid en liefde. Hulp aan die siekes, die bejaardes en diegene met spesiale behoeftes is iets wat byvoorbeeld aandag kan kry. Daar is dalk verskillende verantwoordelikhede in die gemeente waarna omgesien moet word, of miskien is dit moontlik om by teokratiese bouprojekte te help.

Om vir ander te bid, soos Epafras gedoen het, is ’n vorm van heilige diens wat almal kan verrig. Sulke gebede kan woorde van besorgdheid insluit vir aanbidders van Jehovah wat verskillende gevare of probleme van ’n geestelike of fisiese aard die hoof moet bied. As ons ons op hierdie manier ywerig inspan, kan ons soos Epafras wees. Ons kan elkeen die voorreg en vreugde hê om te toon dat ons ’n “geliefde medeslaaf” in die gesin van Jehovah se getroue knegte is.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel