Redding wat dit werklik beteken
‘IS JY gered?’ Dikwels meen diegene wat hierdie vraag vra dat hulle gered is omdat hulle ‘Jesus as hulle persoonlike Saligmaker aangeneem het’. Ander dink weer dat daar meer as een weg na redding is en dat dit nie saak maak wat jy glo of selfs na watter kerk toe jy gaan nie, solank ‘Jesus in jou hart is’.
Die Bybel sê dat dit God se wil is dat “alle soorte mense gered moet word” (1 Timoteus 2:3, 4). Redding is dus moontlik vir almal wat dit aanvaar. Maar presies wat beteken dit om gered te wees? Is dit werklik iets wat eenvoudig met jou gebeur met min of geen inspanning aan jou kant?
Die woord “redding” beteken “verlossing van gevaar of vernietiging”. Ware redding behels gevolglik meer as ’n kalm geestestoestand. Dit beteken om gered te word van die vernietiging van hierdie teenswoordige goddelose stelsel van dinge en uiteindelik van die dood self! Maar presies wie gaan deur God gered word? Kom ons kyk wat Jesus Christus oor hierdie onderwerp geleer het om die antwoord op hierdie vraag te kry. Die slotsom van ons ondersoek sal jou dalk verbaas.
Redding—In alle godsdienste?
By een geleentheid het Jesus ’n gesprek met ’n Samaritaanse vrou gehad. Hoewel sy nie ’n Jood was nie, het sy heel tereg geglo dat die Messias sou kom “wat Christus genoem word” (Johannes 4:25). Was geloof hierin genoeg om gered te word? Nee, want Jesus het duidelik vir die vrou gesê: “Julle aanbid wat julle nie ken nie.” Jesus het geweet dat hierdie vrou haar manier van aanbidding sou moes verander as sy gered wou word. Jesus het derhalwe verduidelik: “Nietemin kom die uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader met gees en waarheid sal aanbid, want die Vader soek inderdaad sulke mense om hom te aanbid.”—Johannes 4:22, 23.
By ’n ander geleentheid toe Jesus getoon het wat sy beskouing oor redding is, was die Fariseërs, ’n vername godsdienssekte van Judaïsme, betrokke. Die Fariseërs het ’n stelsel van aanbidding ontwikkel en het geglo dat dit God se goedkeuring het. Maar luister na Jesus se woorde aan die Fariseërs: “Julle huigelaars! Jesaja was reg toe hy oor julle geprofeteer het: ‘Hierdie volk eer my met hulle lippe, maar hulle harte is ver van my. Hulle aanbid my tevergeefs; hulle leringe is niks anders as reëls wat deur mense geleer word nie.’”—Matteus 15:7-9, New International Version.
Wat van die talle godsdiensgroepe van vandag wat beweer dat hulle in Christus glo? Is hulle almal vir Jesus aanneemlik as weë tot redding? Ons hoef nie hieroor te wonder nie, want Jesus het duidelik gesê: “Nie elkeen wat vir my sê: ‘Here, Here’, sal in die koninkryk van die hemele ingaan nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir my sê: ‘Here, Here, het ons nie in u naam geprofeteer en in u naam demone uitgedryf en in u naam talle kragtige werke verrig nie?’ En tog sal ek dan openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie! Gaan weg van my, julle werkers van wetteloosheid.”—Matteus 7:21-23.
Juiste kennis van Jesus is noodsaaklik vir redding
Die implikasies van hierdie woorde van Jesus stem ’n mens tot nadenke. Dit toon dat talle vroom mense nie ‘die wil van die Vader doen’ nie. Hoe kan ’n mens dus ware redding verkry? Eerste Timoteus 2:3, 4 antwoord: ‘God se wil is dat alle soorte mense gered moet word en tot juiste kennis van die waarheid moet kom.’—Vergelyk Kolossense 1:9, 10.
Sulke kennis is onontbeerlik vir redding. Toe ’n Romeinse tronkbewaarder die apostel Paulus en sy metgesel, Silas, gevra het: “Wat moet ek doen om gered te word?” het hulle geantwoord: “Glo in die Here Jesus en jy sal gered word, jy en jou huisgenote” (Handelinge 16:30, 31). Het dit beteken dat die tronkbewaarder en sy gesin maar net ’n sekere gevoel in hulle harte moes hê? Nee, om maar een ding te noem, hulle kon nie werklik ‘in die Here Jesus glo’ tensy hulle in ’n mate verstaan het wie Jesus was, wat hy gedoen het en wat hy geleer het nie.
Jesus het ander byvoorbeeld geleer van die oprigting van ’n hemelse regering—“die koninkryk van God” (Lukas 4:43). Hy het ook beginsels aangaande Christelike sedelikheid en gedrag gegee (Matteus, hoofstuk 5-7). Hy het die standpunt uiteengesit wat sy dissipels oor politieke aangeleenthede sou inneem (Johannes 15:19). Hy het ’n wêreldomvattende onderrigtingsprogram in werking gestel en sy volgelinge die opdrag gegee om daaraan deel te neem (Matteus 24:14; Handelinge 1:8). Ja, om ‘in Jesus te glo’, het beteken dat hulle baie dinge moes verstaan! Dit is dus geen wonder nie dat Paulus en Silas “die woord van Jehovah tot [die tronkbewaarder] en tot almal in sy huis gespreek” het voordat hierdie nuwe gelowiges gedoop is.—Handelinge 16:32, 33.
Juiste kennis van God ook noodsaaklik
’n Noodsaaklike deel van ware geloof in Jesus behels dat ons die God aanbid wat Jesus self aanbid het. Jesus het gebid: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus.”—Johannes 17:3.
Gedurende sy aardse bediening het die Seun van God altyd die aandag op sy Vader gevestig en nie op homself nie. Hy het nooit beweer dat hy God die Almagtige is nie (Johannes 12:49, 50). By talle geleenthede het Jesus sy plek in God se reëling duidelik gemaak deur te sê dat hy ondergeskik aan sy Vader is (Lukas 22:41, 42, Johannes 5:19). Jesus het selfs gesê: “Die Vader is groter as ek” (Johannes 14:28). Het jou kerk jou geleer wat die ware verhouding tussen God en Christus is? Of is jy onder die indruk gebring dat Jesus self die almagtige God is? Jou redding hang daarvan af dat jy ’n juiste begrip hiervan het.
In die Onse Vader het Jesus sy dissipels aangespoor om te bid: “Laat u naam geheilig word” (Matteus 6:9). Die meeste Bybelvertalings het God se naam verberg deur dit as “Here” weer te gee. Maar in eertydse afskrifte van die “Ou Testament” het God se naam meer as sesduisend keer voorgekom! Psalm 83:18 (NW) lui dus: “Sodat mense kan weet dat u‚ wie se naam Jehovah is‚ u alleen die Allerhoogste oor die hele aarde is.” Is jy geleer om God se naam, Jehovah, te gebruik? Indien nie, is jou redding in gevaar, want “elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, sal gered word”!—Handelinge 2:21; vergelyk Joël 2:32, NW.
Met gees en waarheid
Jesus Christus het ook die aandag op God se Woord, die Bybel, gevestig. Wanneer hy God se beskouing oor sekere sake verduidelik het, het hy dikwels gesê: ‘Daar staan geskrywe’ (Matteus 4:4, 7, 10; 11:10; 21:13). Die nag voor sy dood het Jesus met betrekking tot sy dissipels gebid: “Heilig hulle deur middel van die waarheid; u woord is waarheid.”—Johannes 17:17.
Nog ’n vereiste vir redding is dus ’n begrip van die leringe van God se Woord, die Bybel (2 Timoteus 3:16). Dit is net die Bybel wat vrae beantwoord soos: Wat is die sin van die lewe? Waarom het God toegelaat dat goddeloosheid so lank voortduur? Wat gebeur met ’n persoon wanneer hy sterf? Pynig God mense werklik in ’n brandende hel? Wat is God se voorneme met die aarde?a ’n Mens kan God nie behoorlik dien sonder die juiste begrip van daardie sake nie, want Jesus het gesê: ‘Ware aanbidders sal die Vader met gees en waarheid aanbid.’—Johannes 4:23.
Geloof lei tot dade
Redding behels meer as om bloot inligting in te neem. In ’n ontvanklike hart bring juiste kennis van God geloof voort (Romeine 10:10, 17; Hebreërs 11:6). Sulke geloof beweeg ’n mens tot dade. Die Bybel vermaan ons byvoorbeeld: “Toon dus berou en draai om sodat julle sondes uitgewis kan word, dat tye van verkwikking van die persoon van Jehovah kan kom.”—Handelinge 3:19.
Ja, redding behels ook dat ’n mens jou na God se standaarde van gedrag en sedelikheid skik. Onder die invloed van God se Woord wat die krag het om mense te verander, maak lewenslange gewoontes van leuentaal en bedrog plek vir eerlikheid en waarheidliewendheid (Titus 2:10). Onsedelike gebruike, soos homoseksualiteit, egbreuk en hoerery, word agtergelaat en deur rein sedelike gedrag vervang (1 Korintiërs 6:9-11). Dit is nie ’n tydelike onthouding wat op emosie gebaseer is nie, maar ’n permanente verandering wat die gevolg is van die noukeurige bestudering en toepassing van God se Woord.—Efesiërs 4:22-24.
Mettertyd beweeg liefde en waardering vir God iemand wat opreg van hart is om hom volkome aan God toe te wy en dit deur waterdoop te simboliseer (Matteus 28:19, 20; Romeine 12:1). Gedoopte Christene is in God se oë gered (1 Petrus 3:21). Gedurende die naderende vernietiging van hierdie goddelose wêreld sal God hulle heeltemal red deur hulle deur daardie verdrukking heen te bewaar.—Openbaring 7:9, 14.
Wat redding vir jou kan beteken
Dit blyk duidelik uit hierdie kort bespreking dat redding meer behels as om ‘die Here Jesus in jou hart te hê’. Dit beteken dat ’n mens juiste kennis van Jehovah God en Jesus Christus inneem en die nodige veranderinge in jou lewe aanbring. Dit klink dalk baie moeilik, maar Jehovah se Getuies is bereid om jou in hierdie strewe te help. Deur middel van ’n gratis tuisbybelstudie kan hulle jou help om op die weg na ware redding te begin wandel.b
Met die oog op die nabyheid van God se naderende oordeelsdag, is dit dringender as ooit om dit te doen! Dit is nou die tyd om ag te slaan op die profeet se woorde: “Voordat oor julle kom die dag van die toorn van die HERE. Soek die HERE, o alle ootmoediges van die land, wat sy ordening onderhou; soek geregtigheid, soek ootmoedigheid—miskien sal julle verborge bly op die dag van die toorn van die HERE.”—Sefanja 2:2, 3.
[Voetnote]
a Sien asseblief Kennis wat tot die ewige lewe lei, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., vir ’n bespreking van hierdie onderwerpe.
b As jy graag ’n tuisbybelstudie wil hê, kan jy gerus met die plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies in aanraking kom. Of jy kan aan die uitgewers van hierdie tydskrif skryf.
[Venster op bladsy 6]
Jy kan redding verkry as jy . . .
◻ Juiste kennis van God en Jesus verkry.—Johannes 17:3.
◻ Geloof beoefen.—Romeine 10:17; Hebreërs 11:6.
◻ Berou het en omdraai.—Handelinge 3:19; Efesiërs 4:22-24.
◻ Jou toewy en laat doop.—Matteus 16:24; 28:19, 20.
◻ Volhou om openbare bekendmaking te doen.—Matteus 24:14; Romeine 10:10.
[Prent op bladsy 7]
’n Studie van die Bybel, die toepassing van wat geleer word sowel as toewyding en doop is stappe wat tot redding lei