Verdedig God se geinspireerde woord lojaal
“Ons het afstand gedoen van die agterbakse dinge waaroor ’n mens jou moet skaam en wandel nie met listigheid nie en vervals ook nie die woord van God nie.”—2 KORINTIËRS 4:2.
1. (a) Wat was nodig om die werk wat in Matteus 24:14 en 28:19, 20 genoem word uit te voer? (b) In watter mate was die Bybel in die tale van mense beskikbaar toe die laaste dae begin het?
IN Jesus Christus se groot profesie oor die tyd van sy koninklike teenwoordigheid en die voleinding van die ou stelsel van dinge, het hy voorspel: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.” Hy het ook sy volgelinge die opdrag gegee: “Maak dissipels van mense van al die nasies, . . . en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het” (Matteus 24:14; 28:19, 20). Die vervulling van hierdie profesieë behels baie werk om die Bybel te vertaal en te druk, om mense te leer wat dit beteken en om hulle te help om dit in hulle lewe toe te pas. Wat ’n voorreg is dit tog om aan hierdie werk deel te neem! Teen 1914 was die Bybel of dele daarvan reeds in 570 tale beskikbaar. Maar sedertdien is honderde tale en baie dialekte bygevoeg, en in baie tale is meer as een vertaling beskikbaar.a
2. Watter uiteenlopende beweegredes het ’n uitwerking gehad op die werk van Bybelvertalers en -uitgewers?
2 Dit is ’n uitdaging vir enige vertaler om materiaal in een taal te neem en dit verstaanbaar te maak vir diegene wat ’n ander taal lees en hoor. Party Bybelvertalers het hulle werk gedoen met ’n diepe bewustheid dat wat hulle vertaal die Woord van God is. Ander was bloot gefassineer deur die akademiese uitdaging van die projek. Hulle het die inhoud van die Bybel moontlik as bloot ’n waardevolle kultuurerfenis beskou. Vir party is godsdiens hulle besigheid, en om ’n boek uit te gee wat hulle naam as vertaler of uitgewer dra, is deel van hoe hulle ’n bestaan maak. Hulle beweegredes het ongetwyfeld ’n uitwerking op hoe hulle hulle werk benader.
3. Hoe het die New World Bible Translation Committee sy werk beskou?
3 Hierdie woorde van die New World Bible Translation Committee is opmerkenswaardig: “Om die Heilige Skrif te vertaal, beteken om die gedagtes en woorde van Jehovah God in ’n ander taal oor te sit . . . Dit is ’n gedagte wat ’n mens tot ernstige nadenke stem. Die vertalers van hierdie werk, wat die Goddelike Outeur van die Heilige Skrif vrees en liefhet, is bewus van ’n spesiale verantwoordelikheid teenoor Hom om sy gedagtes en verklarings so akkuraat moontlik oor te dra. Hulle is ook bewus van ’n verantwoordelikheid teenoor die soekende lesers wat op ’n vertaling van die geïnspireerde Woord van die allerhoogste God aangewese is vir hulle ewige saligheid. Dit was met hierdie gewigtige verantwoordelikheidsbesef dat hierdie komitee van toegewyde manne die New World Translation of the Holy Scriptures ná baie jare uitgegee het.” Die doel van die komitee was om ’n Bybelvertaling te hê wat duidelik en verstaanbaar sou wees en wat so na aan die oorspronklike Hebreeus en Grieks sou bly dat dit ’n grondslag sou voorsien vir voortdurende groei in juiste kennis.
Wat het met die naam van God gebeur?
4. Hoe belangrik is die naam van God in die Bybel?
4 Een van die vernaamste oogmerke van die Bybel is om mense te help om die ware God te leer ken (Exodus 20:2-7; 34:1-7; Jesaja 52:6). Jesus Christus het sy volgelinge geleer om te bid dat sy Vader se naam “geheilig” word, dit wil sê as heilig geag of behandel word (Matteus 6:9). God het sy persoonlike naam meer as 7000 keer in die Bybel laat opteken. Hy wil hê dat mense daardie naam en die eienskappe van die Een wat daardie naam dra, moet ken.—Maleagi 1:11, NW.
5. Hoe het verskeie vertalers God se naam weergegee?
5 Baie Bybelvertalers het opregte respek vir God se naam getoon en dit deurgaans in hulle werk gebruik. Party vertalers verkies Jahwe. Ander het ’n vorm van God se naam gekies wat by hulle taal aangepas is terwyl dit nog steeds duidelik geïdentifiseer word met wat in die Hebreeuse teks voorkom, moontlik ’n vorm wat bekend geraak het deur jare lange gebruik. Die New World Translation of the Holy Scriptures gebruik Jehovah 7210 keer in sy hoofteks.
6. (a) Wat het vertalers in die laaste jare gedoen met verwysings na God se naam? (b) Hoe algemeen is hierdie gebruik?
6 Hoewel Bybelvertalers die name van heidense gode soos Baäl en Molog behou, het hulle in die laaste jare al hoe meer die persoonlike naam van die ware God uit vertalings van sy geïnspireerde Woord begin verwyder (Exodus 3:15; Jeremia 32:35). In Skrifgedeeltes soos Matteus 6:9 en Johannes 17:6, 26 vertaal ’n Albaanse vertaling wat groot verspreiding geniet die Griekse uitdrukking vir “die naam van u” (dit wil sê die naam van God) bloot as “u”, asof daardie tekste glad nie melding maak van ’n naam nie. In Psalm 83:18 (vers 19, AB) verwyder The New English Bible en Today’s English Version God se persoonlike naam sowel as enige vermelding van die feit dat God ’n naam het. Hoewel God se naam in ouer vertalings van die Hebreeuse Geskrifte in die meeste tale verskyn het, verwyder nuwer vertalings dit dikwels of noem hulle dit net in ’n kanttekening. Dit is die geval in Engels, sowel as in baie tale van Europa, Afrika, Suid-Amerika, Indië en die eilande van die Stille Oseaan.
7. (a) Wat doen die vertalers van party Bybels in Afrikatale met God se naam? (b) Hoe voel jy daaroor?
7 Bybelvertalers in party Afrikatale gaan ’n stap verder. Hulle vervang nie net God se naam deur ’n skriftuurlike titel, soos God of Here, nie, maar voeg name in wat uit plaaslike godsdiensopvattings oorgeneem is. In Die Nuwe Testament en Psalms in Zulu (uitgawe van 1986) word die titel God (uNkulunkulu) afgewissel met ’n eienaam (uMvelinqangi) wat vir Zulu’s verwys na ‘die groot voorvader wat deur middel van mensevoorvaders aanbid word’. ’n Artikel in die tydskrif The Bible Translator van Oktober 1992 het berig dat terwyl vertalers voorbereidingswerk gedoen het aan die Chichewa-Bybel wat Buku Loyera genoem gaan word, hulle Chauta as ’n eienaam in die plek van Jehovah gebruik het. Chauta, het die artikel gesê, is “die God wat hulle nog altyd geken en aanbid het”. En tog aanbid baie van hierdie mense ook wat hulle glo die geeste van die dooies is. Is dit waar dat mense, wanneer hulle tot ’n “Opperwese” bid, enige naam vir die “Opperwese” kan gebruik as ’n geldige ekwivalent vir die eienaam Jehovah ongeag wat anders hulle aanbidding dalk behels? Beslis nie! (Jesaja 42:8, NW; 1 Korintiërs 10:20). Dit help mense nie om nader aan die ware God te kom as God se persoonlike naam met iets vervang word wat mense laat dink dat hulle tradisionele opvattings eintlik reg is nie.
8. Waarom is God se voorneme om sy naam bekend te maak nie in die wiele gery nie?
8 Hierdie dinge het nie Jehovah se voorneme om sy naam bekend te maak, verander of in die wiele gery nie. In die tale van Europa, Afrika, die Amerikas, die Ooste en die eilande van die see is daar nog baie Bybels in omloop wat God se naam bevat. Daar is ook meer as 5400 000 Getuies van Jehovah in 233 lande en gebiede wat gesamentlik meer as ’n miljard uur per jaar daaraan wy om ander van die ware God se naam en voorneme te vertel. Hulle druk en versprei Bybels—wat God se naam bevat—in tale wat deur sowat 3600 000 000 van die aarde se bevolking gepraat word, waaronder Engels, Chinees, Russies, Spaans, Portugees, Frans en Nederlands. Hulle druk ook Bybelstudiehulpe in tale wat aan die oorgrote meerderheid van die aarde se bevolking bekend is. Binnekort sal God self optree om op oortuigende wyse sy verklaring te verwesenlik dat die nasies “sal moet weet dat [hy] Jehovah is”.—Esegiël 38:23, NW.
Wanneer persoonlike oortuigings die vertaling vorm
9. Hoe toon die Bybel watter ernstige verantwoordelikheid op diegene rus wat met God se Woord werk?
9 Daar rus ’n ernstige verantwoordelikheid op diegene wat God se Woord vertaal, sowel as op diegene wat ander daarvan leer. Die apostel Paulus het van sy bediening en dié van sy medewerkers gesê: “Ons het afstand gedoen van die agterbakse dinge waaroor ’n mens jou moet skaam en wandel nie met listigheid nie en vervals ook nie die woord van God nie, maar deur die waarheid openbaar te maak, beveel ons ons by elke menslike gewete voor die aangesig van God aan” (2 Korintiërs 4:2). Om iets te vervals, beteken om dit te bederf deur iets vreemds of minderwaardigs daarby te voeg. Die apostel Paulus was nie soos die ontroue herders van Israel in die dae van Jeremia wat deur Jehovah bestraf is omdat hulle hulle eie idees verkondig het in plaas van wat God gesê het nie (Jeremia 23:16, 22). Maar wat het in hedendaagse tye gebeur?
10. (a) Hoe is party vertalers in hedendaagse tye deur ander beweegredes as lojaliteit teenoor God beïnvloed? (b) Watter rol het hulle hulle verkeerdelik toegeëien?
10 Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het ’n komitee van teoloë en pastore met die Nazi-regering in Duitsland saamgewerk om ’n hersiene “Nuwe Testament” uit te gee wat alle gunstige verwysings na die Jode en alle aanduidings van die Joodse afkoms van Jesus Christus weggelaat het. Korter gelede het vertalers wat The New Testament and Psalms: An Inclusive Version vertaal het in ’n ander rigting geneig en alle aanduidings dat die Jode aan die dood van Christus skuld gehad het, probeer uitwis. Daardie vertalers het ook gedink dat feministiese lesers gelukkiger sou wees as daar nie van God as die Vader gepraat word nie, maar as die Vader-Moeder, en dat Jesus nie God se Seun genoem word nie, maar sy Kind (Matteus 11:27). Terselfdertyd het hulle ook sommer die beginsel van onderdanigheid van vrouens aan hulle mans en die gehoorsaamheid van kinders aan ouers verwyder (Kolossense 3:18, 20). Diegene wat hierdie vertalings gedoen het, het klaarblyklik nie dieselfde vasbeslotenheid as die apostel Paulus gehad om nie ‘die woord van God te vervals nie’. Hulle het die rol van die vertaler uit die oog verloor en die plek van die skrywer ingeneem, deur boeke te produseer wat die reputasie van die Bybel gebruik het om hulle eie menings te bevorder.
11. Hoe is die leringe van die Christendom in stryd met wat die Bybel oor die siel en die dood sê?
11 Die kerke van die Christendom leer oor die algemeen dat die mensesiel geestelik is, dat dit die liggaam by die dood verlaat en dat dit onsterflik is. In teenstelling daarmee stel ouer Bybelvertalings in die meeste tale dit duidelik dat mense siele is, dat diere siele is en dat die siel sterf (Genesis 12:5, NW; 36:6, NW; Numeri 31:28, NW; Jakobus 5:20). Dit het die geestelikes in die verleentheid gestel!
12. Op watter manier verberg party hedendaagse vertalings basiese Bybelwaarhede?
12 Nou verberg van die nuwer vertalings hierdie waarhede. Hoe? Hulle vermy eenvoudig ’n direkte vertaling van die Hebreeuse selfstandige naamwoord neʹfesj (siel) in sekere tekste. In Genesis 2:7 sê hulle dalk dat die eerste mens “begin lewe” het (pleks dat hy “’n lewende siel geword” het). Of hulle verwys na “wese” in plaas van “siel” in die geval van dierelewe (Genesis 1:21). In tekste soos Esegiël 18:4, 20 verwys hulle na “die persoon” of “die individu” (eerder as “die siel”) wat sterf. Sulke vertalings is moontlik vir die vertaler geregverdig. Maar hoeveel help hulle die opregte waarheidsoeker wie se denke reeds deur die Christendom se onskriftuurlike leringe gevorm is?b
13. Hoe het party Bybelvertalings God se voorneme vir die aarde verberg?
13 In ’n poging om hulle oortuiging dat alle goeie mense hemel toe gaan te ondersteun, probeer vertalers—of teoloë wat hulle werk hersien—moontlik ook om te verberg wat die Bybel oor God se voorneme vir die aarde sê. In Psalm 37:11 sê ’n aantal vertalings dat die nederiges “die land” sal besit. “Land” is ’n moontlike vertaling van die woord (ʼeʹrets) wat in die Hebreeuse teks gebruik word. Maar Today’s English Version (wat as grondslag gedien het vir vertalings in baie ander tale) gaan verder. Hoewel hierdie vertaling die Griekse woord ge 17 keer in die Evangelie van Matteus met “aarde” vertaal, vervang dit “aarde” in Matteus 5:5 met die frase “wat God beloof het”. Kerklidmate dink natuurlik aan die hemel. Hulle word nie eerlik ingelig dat Jesus Christus in sy Bergpredikasie gesê het dat die saggeaardes, sagmoediges of nederiges ‘die aarde sal beërf’ nie.
14. Watter selfsugtige beweegredes word in sekere Bybelvertalings gesien?
14 Party vertalings van die Skrif se bewoording is ooglopend gekies sodat dit leraars sal help om ’n goeie salaris te kry. Die Bybel sê weliswaar: “Die werker is sy loon werd” (1 Timoteus 5:18). Maar waar 1 Timoteus 5:17 sê dat ouer manne wat op voortreflike wyse leiding gee “dubbele eer waardig geag [moet] word”, is die enigste eer wat party van hulle as die moeite werd beskou van finansiële aard. (Vergelyk 1 Petrus 5:2.) Daarom sê The New English Bible dat hierdie ouer manne “’n dubbele salaris waardig geag moet word”, en die Contemporary English Version sê dat hulle “verdien om dubbel soveel betaal te word”.
Verdedig God se geïnspireerde Woord lojaal
15. Hoe kan ons vasstel watter Bybelvertalings ons kan gebruik?
15 Wat beteken dit alles vir die individuele Bybelleser en vir diegene wat die Bybel gebruik om ander te onderrig? In die meeste van die tale wat algemeen gebruik word, is daar meer as een Bybelvertaling waaruit ’n mens kan kies. Toon onderskeidingsvermoë wanneer jy ’n Bybel kies om te gebruik (Spreuke 19:8, vgl. NW). As ’n vertaling nie eerlik is wat die identiteit van God self betref nie—as dit sy naam onder watter voorwendsel ook al uit sy geïnspireerde Woord verwyder—is dit nie ook moontlik dat die vertalers ook met ander dele van die Bybelteks gepeuter het nie? Wanneer jy oor die geldigheid van ’n vertaling twyfel, probeer om dit met ouer vertalings te vergelyk. As jy ander van God se Woord leer, gee voorkeur aan die vertalings wat naby bly aan wat in die oorspronklike Hebreeuse en Griekse teks is.
16. Hoe kan elkeen van ons lojaliteit betoon in die manier waarop ons God se geïnspireerde Woord gebruik?
16 Elkeen van ons moet lojaal wees teenoor God se Woord. Ons doen dit deur genoeg om te gee vir wat daarin staan dat ons, indien moontlik, elke dag tyd opsy sit om die Bybel te lees (Psalm 1:1-3). Ons doen dit deur wat dit sê ten volle in ons lewe toe te pas, deur te leer om die beginsels en voorbeelde daarin as die grondslag te gebruik om goeie besluite te neem (Romeine 12:2; Hebreërs 5:14). Ons toon dat ons lojale voorstanders van God se Woord is deur dit ywerig aan ander te verkondig. Ons doen dit ook as onderrigters deur die Bybel met sorg te gebruik en die woorde daarin nooit te verdraai of uit hulle verband te gebruik sodat dit by ons idees aanpas nie (2 Timoteus 2:15). Wat God voorspel het, sal beslis plaasvind. Hy is lojaal wat die vervulling van sy Woord betref. Mag ons dit lojaal verdedig.
[Voetnote]
a In 1997 het die Verenigde Bybelgenootskappe 2167 tale en dialekte aangegee waarin die Bybel, in sy geheel of gedeeltelik, beskikbaar is. Hierdie syfer sluit baie dialekte van party tale in.
b Hierdie bespreking vestig die aandag op tale waarin die saak duidelik gestel kan word, maar waarin vertalers verkies om dit nie te doen nie. Die beskikbare woordeskat plaas groot beperkinge op wat vertalers in sekere tale kan doen. Eerlike godsdiensonderrigters sal dan verduidelik dat, hoewel die vertaler verskeie woorde gebruik het, of al het hy ’n woord gebruik wat onskriftuurlike konnotasies het, die woord in die oorspronklike taal, neʹfesj, op mense sowel as diere toegepas word en dat dit iets aandui wat asemhaal, eet en kan sterf.
Onthou jy?
◻ Watter beweegredes het in hedendaagse tye ’n invloed gehad op die werk van Bybelvertalers?
◻ Waarom het moderne vertalingstendense nie God se voorneme met betrekking tot sy eie naam in die wiele gery nie?
◻ Hoe verberg party vertalings Bybelwaarhede oor die siel, die dood en die aarde?
◻ Op watter maniere kan ons toon dat ons God se Woord lojaal verdedig?
[Prent op bladsy 16]
Watter Bybelvertaling moet jy gebruik?