Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w97 11/1 bl. 8-13
  • Christene en die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Christene en die wêreld
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Jesus se voorbeeld
  • Paulus se gesindheid teenoor mense “wat buite is”
  • Hulp aan nie-Joodse gelowiges
  • Die predikingswerk onder “ongelowiges”
  • Hedendaagse pogings om “alle soorte mense” te red
  • Vroeë Christene in die Griekse wêreld
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Doen alles ter wille van die goeie nuus
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • ’n Bybelvertaling wat die wêreld verander het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Maak geestelike vooruitgang deur Paulus se voorbeeld te volg
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
w97 11/1 bl. 8-13

Christene en die wêreld

“Gaan voort om in wysheid te wandel teenoor dié wat buite is.” —KOLOSSENSE 4:5.

 1. Wat het Jesus aangaande sy volgelinge en die wêreld gesê?

IN ’N gebed tot sy hemelse Vader het Jesus van sy volgelinge gesê: “Die wêreld het hulle gehaat, omdat hulle geen deel van die wêreld is nie, net soos ek geen deel van die wêreld is nie.” Toe het hy bygevoeg: “Ek versoek u nie om hulle uit die wêreld weg te neem nie, maar om oor hulle te waak weens die bose” (Johannes 17:14, 15). Christene moes nie fisies van die wêreld afgeskeie wees nie—byvoorbeeld deur hulle in kloosters af te sonder nie. Christus het hulle eerder “in die wêreld uitgestuur” om sy getuies te wees “tot in die mees afgeleë deel van die aarde” (Johannes 17:18; Handelinge 1:8). Hy het God nogtans gevra om oor hulle te waak, omdat Satan, “die heerser van hierdie wêreld”, weens Christus se naam haat teen hulle sou aanstook.—Johannes 12:31; Matteus 24:9.

 2. (a) Hoe gebruik die Bybel die woord “wêreld”? (b) Watter gebalanseerde gesindheid toon Jehovah teenoor die wêreld?

2 In die Bybel verwys die woord “wêreld” (Grieks, koʹsmos) dikwels na die onregverdige mensegemeenskap, wat “in die mag van die bose” lê (1 Johannes 5:19). Omdat Christene aan Jehovah se standaarde voldoen en ook ag gee op die bevel om die goeie nuus van God se Koninkryk aan die wêreld te verkondig, het daar soms ’n gespanne verhouding tussen hulle en die wêreld bestaan (2 Timoteus 3:12; 1 Johannes 3:1, 13). Maar koʹsmos word ook in die Skrif gebruik om na die mensdom oor die algemeen te verwys. Jesus het in hierdie sin van die wêreld gepraat toe hy gesê het: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê. Want God het sy Seun in die wêreld uitgestuur, nie sodat hy die wêreld moet oordeel nie, maar sodat die wêreld deur middel van hom gered kan word” (Johannes 3:16, 17; 2 Korintiërs 5:19; 1 Johannes 4:14). Hoewel Jehovah die dinge haat waardeur Satan se goddelose stelsel gekenmerk word, het hy dus sy liefde vir die mensdom betoon deur sy Seun na die aarde toe te stuur om almal wat ‘tot berou wil kom’ te red (2 Petrus 3:9; Spreuke 6:16-19). Aanbidders van Jehovah moet deur sy gebalanseerde gesindheid teenoor die wêreld gerig word.

Jesus se voorbeeld

3, 4. (a) Watter gesindheid het Jesus getoon met betrekking tot koningskap? (b) Hoe het Jesus die wêreld beskou?

3 Kort voor sy dood het Jesus vir Pontius Pilatus gesê: “My koninkryk is geen deel van hierdie wêreld nie” (Johannes 18:36). In ooreenstemming met hierdie woorde het Jesus vroeër Satan se aanbod om hom gesag oor die koninkryke van die wêreld te gee van die hand gewys, en hy het geweier om toe te laat dat die Jode hom ’n koning maak (Lukas 4:5-8; Johannes 6:14, 15). En tog het Jesus getoon dat hy groot liefde vir die wêreld het. ’n Voorbeeld hiervan is deur die apostel Matteus opgeteken: “Toe hy die skare sien, het hy medelye vir hulle gevoel, want hulle was gestroop en rondgegooi soos skape sonder ’n herder.” Uit liefde het hy vir mense in hulle dorpe gepreek. Hy het hulle geleer en hulle gebreke genees (Matteus 9:36). Hy het ook die fisiese behoeftes van diegene wat by hom kom leer het in ag geneem. Ons lees: “Jesus het sy dissipels na hom toe geroep en gesê: ‘Ek voel medelye vir die skare, want dit is al drie dae dat hulle by my bly, en hulle het niks om te eet nie; en ek wil hulle nie wegstuur sonder dat hulle geëet het nie. Anders beswyk hulle miskien op die pad.’” (Matteus 15:32). Watter liefdevolle besorgdheid!

4 Die Jode was uiters bevooroordeeld teen die Samaritane, maar Jesus het ’n lang gesprek met ’n Samaritaanse vrou gehad en het twee dae lank ’n deeglike getuienis in ’n Samaritaanse stad gegee (Johannes 4:5-42). Hoewel God hom na “die verlore skape van die huis van Israel” gestuur het, het Jesus soms gehoor gegee aan betuigings van geloof deur ander nie-Jode (Matteus 8:5-13; 15:21-28). Ja, Jesus het getoon dat dit moontlik is om “geen deel van die wêreld” te wees nie en terselfdertyd liefde aan die wêreld te betoon. Betoon ons op dieselfde manier medelye aan mense waar ons woon, werk of ons inkopies doen? Toon ons dat ons besorg is oor hulle welsyn—nie alleen oor hulle geestelike behoeftes nie, maar ook oor ander behoeftes as dit enigsins binne ons vermoë is om te help? Jesus het, en sodoende het hy die weg daartoe gebaan om mense van die Koninkryk te leer. Ons kan weliswaar nie soos Jesus letterlike wonderwerke verrig nie. Maar ’n goedhartige daad kan dikwels as ’t ware wondere verrig om vooroordeel uit die weg te ruim.

Paulus se gesindheid teenoor mense “wat buite is”

5, 6. Hoe het die apostel Paulus Jode “wat buite is”, behandel?

5 In verskeie van sy briewe praat die apostel Paulus van mense “wat buite is”, naamlik nie-Christene, hetsy Jode of nie-Jode (1 Korintiërs 5:12; 1 Tessalonisense 4:12; 1 Timoteus 3:7). Hoe het hy sulke persone behandel? Hy het “alles vir alle soorte mense geword om op elke moontlike manier sommige te red” (1 Korintiërs 9:20-22). Wanneer hy in ’n stad gekom het, was dit sy gebruik om eers vir die Jode wat hulle daar gevestig het te preek. Wat was sy benadering? Hy het op ’n taktvolle en eerbiedige manier oortuigende Bybelse bewyse aangevoer dat die Messias gekom het, dat hy ’n offerdood gesterf het en opgewek is.—Handelinge 13:5, 14-16, 43; 17:1-3, 10.

6 Op hierdie manier het Paulus op die Jode se kennis van die Wet en die profete voortgebou sodat hy hulle van die Messias en die Koninkryk van God kon leer. En hy het daarin geslaag om party te oortuig (Handelinge 14:1; 17:4). Ondanks teenstand van Joodse leiers het Paulus toegeneentheid teenoor mede-Jode getoon toe hy geskryf het: “Broers, die welwillendheid van my hart en my smeking tot God vir hulle [die Jode] is inderdaad met die oog op hulle redding. Want ek getuig van hulle dat hulle ’n ywer vir God het; maar nie ooreenkomstig juiste kennis nie.”—Romeine 10:1, 2.

Hulp aan nie-Joodse gelowiges

 7. Hoe het baie proseliete gereageer op die goeie nuus wat Paulus verkondig het?

7 Proseliete was nie-Jode wat besnede beoefenaars van Judaïsme geword het. Daar was klaarblyklik Joodse proseliete in Rome, Siriese Antiogië, Etiopië en Antiogië in Pisidië—trouens, deur die hele gebied van die Joodse diaspora versprei. (Handelinge 2:8-10; 6:5; 8:27; 13:14, 43; vergelyk Matteus 23:15.) Anders as baie van die Joodse heersers was proseliete waarskynlik nie hoogmoedig nie, en hulle kon nie trots daarop aanspraak maak dat hulle van Abraham afstam nie (Matteus 3:9; Johannes 8:33). Hulle het eerder hulle heidense gode verlaat en hulle nederig tot Jehovah gewend en ’n mate van kennis van hom en sy wette opgedoen. En hulle het die Joodse verwagtinge van ’n komende Messias aangeneem. Aangesien hulle reeds getoon het dat hulle bereid is om te verander in hulle soektog na die waarheid, was baie van hulle gereed om verdere veranderinge aan te bring en op die predikingswerk van die apostel Paulus te reageer (Handelinge 13:42, 43). Wanneer ’n proseliet wat vroeër heidense gode aanbid het hom tot die Christelike godsdiens bekeer het, was hy op ’n unieke wyse toegerus om vir ander nie-Jode te getuig wat nog steeds daardie gode aanbid het.

8, 9. (a) Watter ander soort nie-Jode buiten proseliete is tot die Joodse godsdiens aangetrek? (b) Hoe het baie onbesnede godvresers op die goeie nuus gereageer?

8 Buiten die besnede proseliete was daar ander nie-Jode wat tot die Joodse godsdiens aangetrek is. Die eerste een van hulle wat ’n Christen geword het, al was hy nie ’n proseliet nie, was Kornelius, “’n vroom man en iemand wat . . . God gevrees het” (Handelinge 10:2). In sy kommentaar op Handelinge het professor F. F. Bruce geskryf: “Sulke nie-Jode word dikwels ‘godvresers’ genoem; hoewel dit nie ’n tegniese term is nie, is dit nuttig. Hoewel baie nie-Jode van daardie tyd nie bereid was om hulle ten volle tot Judaïsme te bekeer nie (verpligte besnydenis was veral vir mans ’n groot struikelblok), is baie van hulle tot die eenvoudige monoteïsme van die Joodse sinagogeaanbidding en deur die etiese standaarde van die Joodse lewenswyse aangetrek. Party van hulle het sinagoge toe gegaan en redelik vertroud geraak met die gebede en Skrifgedeeltes, wat uit die Griekse vertaling voorgelees is.”

9 Die apostel Paulus het baie godvresers ontmoet terwyl hy in sinagoges in Klein-Asië en Griekeland gepreek het. In Pisidiese Antiogië het hy diegene wat in die sinagoge bymekaargekom het, aangespreek as “manne, Israeliete en julle ander wat God vrees” (Handelinge 13:16, 26). Lukas skryf dat, nadat Paulus drie Sabbatte in die sinagoge in Tessalonika gepreek het, “party van hulle [die Jode] gelowiges [Christene] geword en by Paulus en Silas aangesluit [het], en so ook ’n groot menigte van die Grieke wat God aanbid het en ’n groot aantal van die vernaamste vroue” (Handelinge 17:4). Party van die Grieke was waarskynlik onbesnede godvresers. Daar is getuienis wat toon dat baie van daardie nie-Jode deel geword het van Joodse gemeenskappe.

Die predikingswerk onder “ongelowiges”

10. Hoe het Paulus vir die nie-Jode wat geen kennis van die Skrif gehad het nie, gepreek, en met watter gevolg?

10 In die Christelike Griekse Geskrifte kan die woord “ongelowiges” na mense oor die algemeen buite die Christengemeente verwys. Dit verwys dikwels na heidene (Romeine 15:31; 1 Korintiërs 14:22, 23; 2 Korintiërs 4:4; 6:14). In Atene was baie ongelowiges geleerd wat die Griekse filosofie betref, maar het hoegenaamd geen kennis van die Skrif gehad nie. Het dit Paulus daarvan weerhou om vir hulle te getuig? Nee. Hy het egter sy benadering aangepas. Hy het Bybelse gedagtes op bekwame wyse aangebied sonder om direk aan te haal uit die Hebreeuse Geskrifte, wat vir die Ateners onbekend was. Hy het op skerpsinnige wyse getoon dat daar ’n ooreenkoms bestaan tussen Bybelwaarheid en sekere gedagtes wat deur die ou Stoïsynse digters uitgedruk is. En hy het die konsep voorgelê van een ware God vir die hele mensdom, ’n God wat in regverdigheid sal oordeel deur middel van ’n man wat gesterf het en opgewek is. Paulus het sodoende op taktvolle wyse vir die Ateners van Christus getuig. Die gevolg? Hoewel die meerderheid hom openlik gespot het of skepties was, het “party manne . . . by hom aangesluit en gelowiges geword, onder wie ook Dionisius, ’n regter van die geregshof van die Areopagus, en ’n vrou met die naam Damaris, en ander benewens hulle”.—Handelinge 17:18, 21-34.

11. Watter soort stad was Korinte, en wat was die gevolg van Paulus se predikingswerk daar?

11 In Korinte was daar ’n redelike groot Joodse gemeenskap, en gevolglik het Paulus sy bediening in daardie stad begin deur in die sinagoge te preek. Maar toe dit blyk dat die Jode hom vyandiggesind is, het Paulus na die nie-Joodse bevolking gegaan (Handelinge 18:1-6). En wat ’n bevolking was dit tog! Korinte was ’n besige, kosmopolitiese handelstad, wat deur die hele Grieks-Romeinse wêreld berug was weens losbandigheid. Trouens, die stad se naam het sinoniem met onsedelike dade geword. En tog was dit nadat die Jode Paulus se boodskap verwerp het dat Christus aan hom verskyn en gesê het: “Moenie vrees nie, maar hou aan praat . . . , want ek het baie mense in hierdie stad” (Handelinge 18:9, 10). Paulus het wel ’n gemeente in Korinte gestig, al het party van die lede daarvan voorheen ’n “Korintiese” lewe gelei.—1 Korintiërs 6:9-11.

Hedendaagse pogings om “alle soorte mense” te red

12, 13. (a) Hoe is ons gebied vandag soortgelyk aan dié van Paulus se dag? (b) Watter gesindheid het ons in gebiede waar die Christendom se godsdienste al lank gevestig is of waar baie mense ontnugter is deur georganiseerde godsdiens?

12 Vandag, soos in die eerste eeu, ‘bring die onverdiende goedhartigheid van God redding vir alle soorte mense’ (Titus 2:11). Die gebied waarin die goeie nuus verkondig word, het uitgebrei sodat dit nou al die vastelande en die meeste eilande van die see insluit. En, soos in Paulus se dag, kom ons inderdaad “alle soorte mense” teë. Party van ons doen byvoorbeeld die predikingswerk in lande waar die kerke van die Christendom al baie eeue lank gevestig is. Hulle lidmate is, soos die Jode in die eerste eeu, moontlik in godsdienstradisies vasgevang. Ons soek nogtans graag diegene met ’n goeie hartstoestand en bou voort op watter Bybelkennis hulle ook al het. Ons praat nie uit die hoogte met hulle of minag hulle nie, al staan hulle godsdiensleiers ons soms teë en vervolg hulle ons. Ons erken eerder dat party van hulle moontlik “’n ywer vir God” het, al kom hulle juiste kennis kort. Soos Jesus en Paulus betoon ons opregte liefde aan mense, en dit is ons vurige begeerte dat hulle gered word.—Romeine 10:2.

13 Terwyl ons die predikingswerk doen, ontmoet baie van ons mense wat ontnugter is deur georganiseerde godsdiens. Hulle is moontlik nog steeds godvresers, wat in sekere mate nog aan God glo en ’n goeie lewe probeer lei. Moet ons nie verheug wees as ons in hierdie verdraaide en toenemend goddelose geslag mense ontmoet wat darem nog aan God glo nie? En is ons nie gretig om hulle na ’n vorm van aanbidding te rig wat nie deur huigelary en valsheid gekenmerk word nie?—Filippense 2:15.

14, 15. Hoe het ’n groot veld beskikbaar geword waarin ons die goeie nuus kan verkondig?

14 Jesus het in sy illustrasie van die sleepnet voorspel dat daar ’n groot gebied vir die predikingswerk sal wees (Matteus 13:47-49). Die Wagtoring van 15 Junie 1992 het hierdie illustrasie verduidelik en op bladsy 20 gesê: “Lede van die Christendom [het] deur die eeue heen ’n groot rol gespeel om God se Woord te vertaal, kopieë daarvan te maak en dit te versprei. Kerke het later Bybelgenootskappe gestig of ondersteun, wat die Bybel in die landstale van afgeleë lande vertaal het. Hulle het ook sendelinge as dokters, verpleegsters en onderwysers gestuur wat ryschristene gemaak het. Hulle het groot getalle slegte visse bymekaargemaak wat nie God se goedkeuring weggedra het nie. Maar dit het ten minste die Bybel en ’n vorm van die Christelike godsdiens, hoewel dit verdraaid was, aan miljoene nie-Christene bekend gemaak.”

15 Bekeringswerk deur die Christendom was in Suid-Amerika, Afrika en party eilande van die see besonder doeltreffend. In ons dag is baie sagmoediges in hierdie gebiede gevind, en ons kan hulle nog steeds grootliks help as ons ’n positiewe, liefdevolle gesindheid teenoor sulke nederige mense het, net soos Paulus teenoor Joodse proseliete gehad het. Onder diegene wat ons hulp nodig het, is ook die miljoene mense van wie daar gesê kan word dat hulle goedgunstig teenoor Jehovah se Getuies is. Hulle is altyd bly om ons te sien wanneer ons hulle besoek. Party het die Bybel saam met ons gestudeer en van ons vergaderinge bygewoon, veral die jaarlikse Herdenking van Christus se dood. Verteenwoordig sulke persone nie ’n groot veld waarin ons die goeie nuus van die Koninkryk kan verkondig nie?

16, 17. (a) Watter soorte mense nader ons met die goeie nuus? (b) Hoe volg ons Paulus na wanneer ons vir verskillende soorte mense getuig?

16 Verder, wat van diegene wat uit kulture buite die Christendom kom—of ons hulle in hulle eie land ontmoet en of hulle immigrante in Westerse lande is? En wat van al die miljoene wat godsdiens heeltemal verwerp het en ateïsties of agnosties geword het? Bowendien, wat van diegene wat die moderne filosofie en populêre sielkunde in talle selfhelpboeke wat in boekwinkels beskikbaar is met amper godsdienstige ywer aanhang? Moet enige van hierdie mense geïgnoreer word asof hulle nie gered kan word nie? Nie as ons die apostel Paulus navolg nie.

17 Toe Paulus in Atene gepreek het, het hy nie die fout gemaak om met sy toehoorders oor filosofie te debatteer nie. Hy het egter sy redenasie aangepas by die mense met wie hy te doen gehad het en Bybelwaarhede op ’n duidelike, logiese manier aangebied. Ons hoef eweneens nie deskundiges in die godsdienste of filosofieë van die mense vir wie ons getuig te word nie. Maar ons pas wel ons benadering aan om ons getuieniswerk doeltreffend te maak en sodoende “alles vir alle soorte mense” te word (1 Korintiërs 9:22). Paulus het vir Christene in Kolosse geskryf en gesê: “Gaan voort om in wysheid te wandel teenoor dié wat buite is, terwyl julle die geleë tyd vir julleself uitkoop. Laat julle woorde altyd aangenaam wees, smaaklik gemaak met sout, sodat julle kan weet hoe julle elkeen ’n antwoord behoort te gee.”—Kolossense 4:5, 6.

18. Watter verantwoordelikheid het ons, en wat moet ons altyd onthou?

18 Laat ons soos Jesus en die apostel Paulus liefde aan alle soorte mense betoon. Laat ons ons veral inspan om ander van die goeie nuus van die Koninkryk te vertel. Onthou aan die ander kant altyd dat Jesus van sy dissipels gesê het: “Hulle is geen deel van die wêreld nie” (Johannes 17:16). Wat dit vir ons beteken, sal in die volgende artikel bespreek word.

Ter hersiening

◻ Beskryf Jesus se gebalanseerde gesindheid teenoor die wêreld.

◻ Hoe het die apostel Paulus vir Jode en proseliete gepreek?

◻ Hoe het Paulus godvresers en ongelowiges genader?

◻ Hoe kan ons in ons predikingswerk “alles vir alle soorte mense” wees?

[Prent op bladsy 10]

Deur goedhartige dade teenoor hulle medemens te verrig, kan Christene dikwels vooroordeel uit die weg ruim

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel