Die gesin—Noodsaaklik vir die mens!
DAAR word gesê dat die mensegemeenskap slegs so goed soos sy gesinne voel. Die geskiedenis toon dat die sterkte van gemeenskappe en nasies afneem namate die gesinsreëling verswak. Toe sedelike verval gesinne in eertydse Griekeland verwoes het, het die beskawing verbrokkel, wat dit kwesbaar vir verowering deur die Romeine gemaak het. Die Romeinse Ryk het sterk gebly so lank as wat gesinne sterk was. Maar met verloop van eeue het die gesinslewe verswak, en die krag van die ryk het afgeneem. “Die veiligheid en opheffing van die gesin en van gesinslewe is die vernaamste oogmerke van die beskawing en die uiteindelike doelwit van alle industrie”, het Charles W. Eliot, ’n voormalige president van Harvard-universiteit, gesê.
Ja, die gesin is noodsaaklik vir die mens. Dit het ’n direkte uitwerking op die stabiliteit van die gemeenskap en die welsyn van kinders en toekomstige geslagte. Daar is ongetwyfeld menige enkelmoeders wat baie hard werk om hulle kinders goed groot te maak, en hulle moet geprys word vir hulle harde werk. Studies toon egter dat kinders gewoonlik veel beter vaar in ’n gesin met albei ouers.
’n Australiese studie van meer as 2100 adolessente het bevind dat “tieners uit gebroke gesinne meer algemene gesondheidsprobleme gehad het, dat die moontlikheid groter was dat hulle tekens van emosionele probleme sou toon en dat die moontlikheid groter was dat hulle seksueel aktief sou wees as kinders uit onverdeelde gesinne”. ’n Studie wat deur die Amerikaanse Nasionale Institute vir Gesondheidstatistiek gedoen is, het aan die lig gebring dat die kinders uit gebroke huise se kanse “20-30 persent groter is om ’n ongeluk te hê, 40-75 persent groter is om ’n standerd op skool oor te doen en 70 persent groter is om uit die skool gesit te word”. En ’n beleidsontleder berig dat “die waarskynlikheid baie groter is dat kinders uit enkelouergesinne by misdaad betrokke sal raak as dié wat in tradisionele huise opgroei”.
Die huis is die veilige hawe
Die gesinsreëling bied ’n gelukkige, opbouende en aangename tuiste vir almal. “Die belangrikste bron van geluk en voorspoed is nie ’n loopbaan, besittings, stokperdjies of vriende nie, maar die gesin”, sê ’n Sweedse gesaghebbende.
Die Bybel toon dat elke gesin op aarde sy naam aan die Grootse Skepper van gesinne, Jehovah God, te danke het omdat hy die gesinsreëling ingestel het (Genesis 1:27, 28; 2:23, 24; Efesiërs 3:14, 15). Maar in die geïnspireerde Skrif het die apostel Paulus ’n wrede aanval op die gesin voorspel, wat tot ’n agteruitgang in sedes en van die mensegemeenskap buite die Christengemeente sou lei. Hy het gesê dat “die laaste dae” gekenmerk sou word deur dislojaliteit, ’n gebrek aan “natuurlike geneentheid” en ongehoorsaamheid aan ouers, selfs onder diegene wat “’n vorm van godvrugtige toegewydheid het”. Hy het Christene aangespoor om hulle van sulke mense af te keer. Jesus het voorspel dat teenstand teen God se waarheid gesinne sou verdeel.—2 Timoteus 3:1-5; Matteus 10:32-37.
God het ons egter nie sonder hulp gelaat nie. In sy Woord word baie aandag aan instruksies met betrekking tot gesinsverhoudinge gewy. Dit sê vir ons hoe ons ’n suksesvolle gesinslewe kan hê en die huis ’n aangename plek kan maak waar elke gesinslid ’n verantwoordelikheid het om teenoor die ander te vervul.a—Efesiërs 5:33; 6:1-4.
Is dit moontlik om so ’n gelukkige verhouding te hê in hierdie dae wanneer die gesin so erg bedreig word? Ja, beslis! Jy kan daarin slaag om jou gesin ’n genotvolle, verkwikkende oase in hierdie ongevoelige, woestynagtige wêreld te maak. Maar dit vereis iets van elkeen in die gesinskring. Hier volg ’n paar wenke.
Help jou gesin om behoue te bly
Een van die beste maniere waarop ’n gesin verenig kan bly, is deur tyd saam deur te bring. Alle lede moet gewillig wees om hulle vrye tyd te deel. Dit kan opofferings verg. Byvoorbeeld tieners, julle sal dalk ’n geliefkoosde TV-program, sportgebeurtenis of uitstappie saam met vriende moet opoffer. Vaders, wat die vernaamste broodwinners in die meeste gevalle is, julle moenie julle vrye tyd net aan ’n stokperdjie of ander persoonlike belange wy nie. Beplan bedrywighede saam met die gesin, miskien hoe om naweke of vakansies saam deur te bring. Julle moet natuurlik iets beplan wat almal sal geniet en waarna almal sal uitsien.
Kinders het meer as net sogenaamde kwaliteitstyd nodig, dit wil sê daardie vasgestelde halfuur of wat van tyd tot tyd wat saam met die kinders deurgebring word. Hulle het kwantiteit nodig. ’n Rubriekskrywer in ’n Sweedse koerant skryf: “Gedurende my 15 jaar as ’n verslaggewer het ek al baie jeugmisdadigers teëgekom . . . ’n Gemeenskaplike kenmerk is dat hulle blykbaar volgens die kwaliteitstydmetode grootgemaak is: ‘My ouers het nie tyd gehad nie.’ ‘Hulle het nooit geluister nie.’ ‘Hy was altyd op reis.’ . . . As ouer kan jy altyd kies hoeveel tyd jy aan jou kind sal afstaan. Jou keuse kom 15 jaar later aan die lig wanneer jy ’n hardvogtige 15-jarige het.”
’n Gepaste beskouing oor geld
Alle gesinslede moet ook ’n gepaste beskouing oor geld hê. Hulle moet bereid wees om wat hulle kan, saam te gooi om die gesin se gemeenskaplike onkoste te dek. Baie vrouens moet gaan werk om die pot aan die kook te hou, maar as vrouens moet julle bedag wees op die gevare en versoekings waarvoor julle te staan kan kom. Hierdie wêreld spoor julle aan om julleself te “bevredig” en te doen wat julle wil. Dit kan jou onafhanklik laat word en misnoeg laat voel oor jou godgegewe rol as moeder en tuisteskepper.—Titus 2:4, 5.
Moeders, as julle by die huis kan wees en ’n raadgewer en vriend vir julle kinders kan wees, sal dit beslis grootliks daartoe bydra dat sterk bande opgebou word wat sal help om julle gesin deur dik en dun bymekaar te hou. ’n Vrou kan besonder baie doen om ’n huis ’n gelukkige, veilige en funksionele plek te maak. “Honderd mans is nodig om ’n laer op te slaan, maar een vrou kan ’n tuiste skep”, het ’n 19de-eeuse politikus gesê.
As almal in die gesin saamwerk om binne die gesin se totale inkomste te leef, sal dit die gesin baie probleme spaar. Egpare moet ooreenkom om hulle lewe eenvoudig te hou en geestelike belange eerste te stel. Kinders moet leer om vergenoeg te wees en nie aan te dring op dinge waarvoor die gesinsbegroting nie voorsiening maak nie. Pasop vir die begeerte van die oë! Die versoeking om dinge te koop wat ’n mens nie kan bekostig nie en in die skuld te raak, het baie gesinne skipbreuk laat ly. Dit kan gesinseenheid bevorder as almal geld bydra tot ’n gesamentlike projek—’n verkwikkende reis, die een of ander nuttige en genotvolle item vir die huis of ’n bydrae ter ondersteuning van die Christengemeente.
Nog iets wat alle gesinslede kan doen om tot ’n gelukkige gees in die gesin by te dra, is om te help met die skoonmaak en instandhouding van die huis, die tuin, die motor, ensovoorts. Elke gesinslid, selfs die jongeres, kan ’n takie kry. Kinders, julle moet probeer om nie julle tyd te verkwis nie. Ontwikkel eerder ’n gees van hulpvaardigheid en samewerking; dit sal tot opregte vriendskap en kameraadskap lei, wat gesinseenheid bevorder.
Die waarde van Bybelonderrig
In ’n verenigde Christengesin word die belangrikheid van gereelde Bybelstudie ook beklemtoon. ’n Daaglikse bespreking van Bybeltekste en ’n weeklikse studie van die Heilige Skrif lê ’n grondslag vir ’n verenigde gesin. Basiese Bybelwaarhede en -beginsels moet saam bespreek word op ’n wyse wat die harte van almal in die gesin roer.
Sulke gesinsessies moet opvoedkundig wees, maar terselfdertyd genotvol en opbouend. ’n Gesin in die noorde van Swede het gewoonlik hulle kinders die vrae laat neerskryf wat gedurende die week opgekom het. Hierdie vrae is dan gedurende die weeklikse Bybelstudie bespreek. Die vrae was dikwels diep en gedagteprikkelend en het die kinders se denkvermoë en waardering vir Bybelleringe weerspieël. Van die vrae was: “Laat Jehovah alles heeltyd groei, of het hy dit net in die begin gedoen?” “Waarom sê die Bybel dat God die mens ‘na sy beeld’ geskep het, terwyl God nie ’n mens is nie?” “Het Adam en Eva nie gedurende die winter in die Paradys koud gekry, aangesien hulle kaalvoet was en geen klere gehad het nie?” “Waarom het ons die maan saans nodig as dit veronderstel is om donker te wees?” Die kinders is nou volwassenes en dien God as voltydse bedienaars.
Ouers, dit sal goed wees as julle positief en opgewek probeer wees wanneer julle gesinsprobleme hanteer. Wees bedagsaam en buigsaam, en tog konsekwent, wanneer dit by die toepassing van belangrike beginsels kom. Laat die kinders sien dat liefde vir God en sy regverdige beginsels altyd julle besluite rig. Die skoolmilieu is dikwels baie stresvol en neerdrukkend, en die kinders het baie aanmoediging tuis nodig om sulke invloede teë te werk.
As ouers moet julle nie voorgee dat julle volmaak is nie. Erken foute en vra julle kinders om verskoning wanneer nodig. Jongmense, as jou ma en pa ’n flater erken, moet julle liefde vir hulle toeneem.—Prediker 7:16.
Ja, ’n verenigde gesin voorsien ’n huis van vrede, veiligheid en geluk. Die Duitse digter Goethe het eenkeer gesê: “Die gelukkigste mens, of hy nou ’n koning of ’n arbeider is, is die een wat sy geluk in sy huis vind.” Waarderende ouers en kinders moet kan sê: “Oos wes, tuis bes”.
Die gesin word vandag weliswaar erg bedreig deur die druk van die wêreld waarin ons lewe. Maar aangesien die gesin sy oorsprong by God het, sal dit behoue bly. Jou gesin sal behoue bly, en jy sal ook as jy God se regverdige riglyne vir ’n gelukkige gesinslewe volg.
[Voetnoot]
a Sien die boek Die geheim van gesinsgeluk, met 192 bladsye, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., vir meer besonderhede oor hierdie onderwerp.