Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 4/15 bl. 3-4
  • Is ons toekoms vooraf bepaal?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is ons toekoms vooraf bepaal?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Soortgelyke materiaal
  • Het God reeds ons lot bepaal?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Is dit werklik “net die noodlot”?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Die soeke na die mens se lotsbestemming
    Ontwaak!—1999
  • Oorheers geloof in die noodlot jou lewe?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 4/15 bl. 3-4

Is ons toekoms vooraf bepaal?

CHRISTENE, Moslems, Jode, Hindoes of aanhangers van ’n ander godsdiens—ja, mense van alle gelowe ondervind tragedies en voel bedroef daaroor.

Op 6 Desember 1997 het ’n verskriklike tragedie byvoorbeeld in die Siberiese stad Irkoetsk plaasgevind. ’n Groot AN124-vragvliegtuig het skaars opgestyg toe twee van sy enjins gaan staan het. Die vliegtuig, wat vol vliegtuigbrandstof was, het op ’n woonstelkompleks neergestort. ’n Aantal woonstelle was in vlamme gehul, en talle hulpelose inwoners het omgekom of is beseer, met inbegrip van onskuldige kinders.

In die gebied in Siberië waar hierdie ongeluk plaasgevind het, is daar waarskynlik mense met verskillende godsdiensopvattings. Party bely moontlik die Christelike godsdiens, maar kan steeds dink dat die tragedie ’n resultaat van die noodlot was. Hulle en ander meen dalk: ‘Dit was God se wil, en as diegene wat omgekom het nie so gesterf het nie, sou hulle op ’n ander manier gesterf het—dit was hulle lot.’

Hierdie denkwyse, of dit nou uitgespreek word of nie, weerspieël ’n opvatting wat in baie godsdienste regoor die wêreld algemeen is—naamlik die noodlot. Baie mense glo dat ons toekoms, van ons geboortedag tot ons sterfdag, op die een of ander manier vooraf bepaal is.

Geloof in die noodlot neem verskillende vorme aan, wat dit moeilik maak om ’n allesomvattende definisie daarvoor te gee. Die noodlot dra basies die gedagte oor dat alles wat gebeur, elke daad, elke gebeurtenis—hetsy goed of sleg—onafwendbaar is; dit is voorbestem om plaas te vind omdat dit vooraf bepaal is deur ’n hoër mag, waaroor die mens geen beheer het nie. Hierdie opvatting kan gevind word in sterrewiggelary, in Hindoeïsme en Boeddhisme se leer van karma, sowel as in die Christendom se leerstelling van voorbeskikking. In eertydse Babilonië het mense geglo dat die gode die noodlot en die toekoms deur middel van ’n geskrewe dokument beheer. Na bewering kon enige god wat hierdie “tafels van die noodlot” beheer het, besluit wat die lot van mense, koninkryke en selfs die gode sou wees.

Talle gelowiges huldig die mening dat God, deur goddelike beskikking, voor mense se geboorte alles bepaal wat met hulle sal gebeur, onder meer hoe lank hulle sal lewe, of hulle manlik of vroulik, ryk of arm, ongelukkig of gelukkig sal wees. Daar word beweer dat dit alles in God se gedagtes is of in ’n boek opgeskryf is voordat dit geskied. Wanneer rampspoed tref, is dit dus nie ongewoon vir ’n gelowige om te sê nie: “Mektoub”—dit staan geskrywe! Daar word geredeneer dat God, aangesien hy alles vooraf weet, ongetwyfeld ook bepaal wie gehoorsaam en wie ongehoorsaam aan hom sal wees. Baie aanhangers glo derhalwe dat God selfs voor iemand se geboorte reeds bepaal het of hy vir die ewige geluk in die Paradys bestem is en of hy die ewige oordeel sal ontvang.

Jy dink moontlik dat dit baie ooreenkom met die leerstelling van voorbeskikking wat in sommige kerke van die Christendom geleer word. Die vernaamste Protestantse voorstander van voorbeskikking was die 16de-eeuse Franse Hervormer Johannes Calvyn. Hy het voorbeskikking omskryf as “die ewige raadsbesluit van God, waardeur hy bepaal het wat hy met elke mens wou doen. Nie almal word dieselfde geskep nie, maar die ewige lewe is vir sommige voorbestem en die ewige verdoemenis vir ander.” Calvyn het ook beweer: “God het nie net die sonde van die eerste mens, en deur hom die ondergang van sy nageslag, vooruitgesien nie, maar het dit ook volgens sy wil so beskik.”

Maar nie alle lidmate van godsdienste wat voorbeskikking of fatalisme as lering het, glo self daaraan nie. Party wys tereg daarop dat die godsdiensgeskrifte van mense se wilsvryheid praat. Trouens, daar was al groot omstredenheid daaroor of die mens se dade die gevolg van sy keusevryheid is en of dit deur God voorbestem word. Party redeneer byvoorbeeld dat die mens beslis die vryheid het om te kies en dinge te doen, aangesien God, wat geregtig is, die mens verantwoordelik en aanspreeklik hou vir sy dade. Ander sê dat die dade van die mens hulle oorsprong by God het, maar dat die mens dit op die een of ander manier “verkry” en verantwoordelik daarvoor word. Maar oor die algemeen glo baie dat elke gebeurtenis, groot en klein, in ons daaglikse lewe deur God voorbeskik is.

Wat glo jy? Het God reeds jou toekoms bepaal? Het mense werklik wilsvryheid, die vermoë om werklike keuses omtrent hulle toekoms te maak? In watter mate hang ons lot van ons dade af? In die volgende artikel sal ons hierdie vrae probeer beantwoord.

[Foto-erkenning op bladsy 3]

SEL/Sipa Press

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel