Watter soort toekoms wag op jou?
AS DIE almagtige God alwetend is, dit wil sê alles omtrent die verlede, die hede en die toekoms weet, moet alles wat voorbestem is dan nie presies plaasvind soos God dit vooruitgesien het nie? Kan daar werklik gesê word dat ons vry is om ons lewensweg, ons toekoms, te kies as God die weg en uiteindelike lot van elke mens vooruitgesien en bepaal het?
Daar word al eeue lank oor hierdie vrae gedebatteer. Hoofgodsdienste is steeds verdeeld oor die geskil. Kan God se vermoë om vooruit te weet wat die toekoms inhou, versoen word met die mens se wilsvryheid? Waar moet ons na antwoorde soek?
Miljoene mense regoor die aarde sal saamstem dat God met die mens kommunikeer deur middel van sy geskrewe Woord, soos oorgedra deur sy woordvoerders die profete. Die Koran verwys byvoorbeeld na openbarings wat van God af kom: die Taurāh (Tora, die Wet, of vyf boeke van Moses), die Zabūr (die Psalms) en die Injīl (die Evangelie, Christelike Griekse Geskrifte of “Nuwe Testament”) sowel as dit wat aan die profete van Israel geopenbaar is.
In die Christelike Griekse Geskrifte lees ons: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel” (2 Timoteus 3:16). Dit spreek vanself dat enige leiding of insig wat ons kry van God self moet kom. Sal dit dan nie verstandig wees om die geskrifte van God se vroeëre profete te ondersoek nie? Wat openbaar dit omtrent ons toekoms?
Toekomsgebeure wat wel vooraf bepaal is
Enigiemand wat al die Heilige Skrif gelees het, weet dat dit letterlik honderde profesieë bevat. Geskiedkundige gebeurtenisse soos die val van eertydse Babilon, die herbouing van Jerusalem (die sesde tot die vyfde eeu v.G.J.) en die opkoms en ondergang van die eertydse konings van Medo-Persië en Griekeland is alles in besonderhede voorspel (Jesaja 13:17-19; 44:24–45:1; Daniël 8:1-7, 20-22). Die vervulling van sulke profesieë is een van die kragtigste bewyse dat die Heilige Skrif inderdaad God se Woord is, want net God het die vermoë om vooruit te sien én te bepaal wat in die toekoms sal gebeur. In hierdie opsig bevat die Heilige Skrif inderdaad toekomsgebeure wat vooraf bepaal is.
God verklaar self: “Ek [is] God . . . , en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen; . . . soos Ek dit gespreek het, sal Ek dit ook laat kom; Ek het dit voorberei, Ek sal dit ook doen” (Jesaja 46:9-11; 55:10, 11). Die naam waardeur God hom aan sy eertydse profete bekend gemaak het, is Jehovah, wat letterlik beteken “Hy laat word”a (Genesis 12:7, 8, NW; Exodus 3:13-15, NW; Psalm 83:18, NW). God openbaar hom as die Een wat die Vervuller van sy woord word, die Een wat altyd sy voornemens volbring.
God gebruik dus sy voorkennis in die uitvoering van sy voornemens. Hy het dit al dikwels gebruik om die goddeloses van naderende oordeel te waarsku sowel as om vir sy knegte die hoop op redding te gee. Maar gebruik God hierdie vermoë op ’n onbeperkte wyse? Is daar enige bewyse in die Heilige Skrif van dinge wat God gekies het om nie vooruit te weet nie?
Weet God alles vooruit?
Al die argumente ter ondersteuning van voorbeskikking is gegrond op die veronderstelling dat God, aangesien hy ongetwyfeld die vermoë besit om toekomsgebeure vooruit te sien en te bepaal, beslis alles vooruit weet, met inbegrip van die toekomstige dade van elke individu. Maar is hierdie veronderstelling gegrond? Wat God in sy Heilige Skrif openbaar, dui op iets anders.
Die Skrif sê byvoorbeeld dat ‘God Abraham op die proef gestel het’ deur hom te beveel om sy seun Isak as ’n brandoffer te offer. Toe Abraham op die punt gestaan het om Isak te offer, het God hom gekeer en gesê: “Nou weet Ek dat jy God vrees en jou seun, jou enigste, van My nie teruggehou het nie.” (Genesis 22:1-12, ons kursiveer.) Sou God daardie stelling gemaak het as hy vooruit geweet het dat Abraham hierdie opdrag sou gehoorsaam? Sou dit ’n eerlike toets gewees het?
Daarbenewens berig die eertydse profete dat God herhaaldelik gesê het dat hy “berou” gehad het oor iets wat hy gedoen het of van plan was om te doen. God het byvoorbeeld gesê hy het “berou gehad [van die Hebreeuse woord na·chamʹ] dat Hy Saul koning gemaak het oor Israel”. (1 Samuel 15:11, 35; vergelyk Jeremia 18:7-10; Jona 3:10.) Aangesien God volmaak is, kan hierdie verse nie beteken dat God ’n fout begaan het om Saul as Israel se eerste koning te kies nie. Dit toon eerder dat God jammer was dat Saul ontrou en ongehoorsaam geword het. God se gebruik van hierdie uitdrukking met verwysing na homself sou onsinnig gewees het as hy vooruit geweet het wat Saul sou doen.
Dieselfde woorde verskyn in die oudste deel van die Skrif waar dit, met verwysing na die dae van Noag, sê: “Dit [het] die HERE berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en daar was smart in sy hart. En die HERE sê: Ek sal die mens wat Ek geskape het, van die aarde verdelg, . . . want dit berou My dat Ek hulle gemaak het” (Genesis 6:6, 7). Hier toon dit weer eens dat mense se dade nie deur God voorbestem word nie. God het berou gehad, hartseer en selfs smart ervaar, nie omdat sy eie dade ’n fout was nie, maar omdat die mens se goddeloosheid oorvloedig geword het. Die Skepper het berou gehad dat dit die punt bereik het waar hy alle mense behalwe Noag en sy gesin moes vernietig. God verseker ons: “Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie.”—Esegiël 33:11; vergelyk Deuteronomium 32:4, 5.
Het God dus voorkennis gehad van Adam se sondeval, asook die rampspoedige gevolge wat dit vir die mensegesin sou meebring, en dit selfs so beskik? Wat ons bespreek het, toon dat dit nie waar kan wees nie. Wat meer is, as God dit alles vooruit geweet het, sou hy die bewerker van sonde geword het toe hy die mens geskep het, en God sou doelbewus verantwoordelik gewees het vir alle menslike goddeloosheid en lyding. Dít kan beslis nie versoen word met wat God oor homself in die Skrif openbaar nie. Hy is ’n God van liefde en geregtigheid wat goddeloosheid haat.—Psalm 33:5; Spreuke 15:9; 1 Johannes 4:8.
Die mens se twee lotsbestemmings
Die Heilige Skrif toon nie dat ons toekoms as individue op die een of ander manier deur God voorbestem of voorbeskik is nie. Wat dit wel toon, is dat God slegs twee moontlike lotsbestemmings vir die mens voorspel. God gee elke mens die wilsvryheid om te kies watter lotsbestemming hy wil hê. Die profeet Moses het lank gelede vir die Israeliete gesê: “Die lewe en die dood . . . het ek jou voorgehou. Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag, deur die HERE jou God lief te hê, na sy stem te luister en Hom aan te hang; want dit is jou lewe en die lengte van jou dae.” (Deuteronomium 30:19, 20, ons kursiveer.) God se profeet Jesus het vooruit gewaarsku: “Gaan in deur die nou poort; want breed en wyd is die pad wat na die vernietiging lei, en dié wat daardeur ingaan, is baie; maar nou is die poort en smal is die pad wat na die lewe lei, en dié wat dit vind, is min” (Matteus 7:13, 14). Twee paaie, twee lotsbestemmings. Ons toekoms hang van ons eie dade af. Gehoorsaamheid aan God beteken die lewe, ongehoorsaamheid aan hom beteken die dood.—Romeine 6:23.
God “sê . . . vir die hele mensdom dat hulle almal oral berou moet hê. Want hy het ’n dag vasgestel waarop hy voornemens is om die bewoonde aarde in regverdigheid te oordeel” (Handelinge 17:30, 31). Net soos die meeste mense in Noag se dag gekies het om ongehoorsaam aan God te wees en verdelg is, so gehoorsaam die meerderheid vandag nie God se bevele nie. En tog het God nie alreeds bepaal wie vernietig sal word en wie redding sal ontvang nie. Trouens, God se Woord sê dat hy “nie wil hê dat enigeen vernietig moet word nie, maar wil hê dat almal tot berou moet kom” (2 Petrus 3:9). Selfs uiters goddelose mense kan berou hê, gehoorsaam word en die nodige veranderinge aanbring om God se guns te verkry.—Jesaja 1:18-20; 55:6, 7; Esegiël 33:14-16; Romeine 2:4-8.
God belowe aan gehoorsame mense die ewige lewe in ’n vreedsame paradys op ’n aarde wat gereinig is van alle goddeloosheid, geweld en oorlog, ’n wêreld waar daar nie meer honger, lyding, siekte en die dood sal wees nie (Psalm 37:9-11; 46:10; Jesaja 2:4; 11:6-9; 25:6-8; 35:5, 6; Openbaring 21:4). Selfs die dooies sal opgewek word en die geleentheid gebied word om God te dien.—Daniël 12:2; Johannes 5:28, 29.
“Let op die vrome en kyk na die opregte”, sê die psalmis, “want daar is ’n toekoms vir die man van vrede. Maar die oortreders word tesame verdelg; die toekoms van die goddelose word afgesny” (Psalm 37:37, 38). Watter soort toekoms wag op jou? Dit hang alles van jou af. Die uitgewers van hierdie tydskrif sal jou met graagte van verdere inligting voorsien wat jou in staat sal stel om ’n gelukkige, vreedsame toekoms te hê.
[Voetnoot]
a Die naam Jehovah verskyn meer as 7000 keer in die Heilige Skrif; sien die artikel “Die verborgenheid van die grootste naam word onthul”, wat in Die Wagtoring van 1 November 1993, bladsye 3-5, verskyn het.
[Lokteks op bladsy 6]
God gebruik sy voorkennis in die uitvoering van sy voornemens
[Lokteks op bladsy 8]
God ‘wil nie hê dat enigeen vernietig moet word nie, maar wil hê dat almal tot berou moet kom’. 2 Petrus 3:9
[Prent op bladsy 7]
Sou dit ’n eerlike toets gewees het as God vooraf geweet het dat Abraham gewillig sou wees om sy seun te offer?