Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 5/15 bl. 16-20
  • Die gehalte van jou geloof word nou op die proef gestel

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die gehalte van jou geloof word nou op die proef gestel
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Watter toetse kan jy dalk verwag?
  • Vind baat by beproefde geloof
  • Christelike geloof sal op die proef gestel word
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • ‘O Jehovah, stel my op die proef’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Hoe moet ons beproewinge beskou?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • “Kom my te hulp waar ek in geloof te kort skiet!”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 5/15 bl. 16-20

Die gehalte van jou geloof word nou op die proef gestel

“Ag dit louter vreugde, my broers, wanneer julle verskillende beproewinge teëkom, aangesien julle weet dat hierdie beproefde hoedanigheid van julle geloof volharding bewerk.”—JAKOBUS 1:2, 3.

 1. Waarom moet Christene verwag dat hulle geloof op die proef gestel sal word?

WARE Christene wil nie graag ly nie, en hulle skep geen behae in pyn of vernedering nie. Maar hulle hou die woorde hierbo in gedagte wat deur Jesus se halfbroer Jakobus geskryf is. Christus het dit vir sy dissipels duidelik gemaak dat hulle vervolging en ander moeilikhede kon verwag omdat hulle by God se standaarde bly (Matteus 10:34; 24:9-13; Johannes 16:33). Vreugde kan nietemin uit sulke beproewinge voortspruit. Hoe so?

 2. (a) Hoe kan toetse van ons geloof vreugde tot gevolg hê? (b) Hoe kan volharding sy werk in ons geval voltooi?

2 ’n Belangrike rede waarom ons vreugde vind wanneer ons beproewinge of toetse van ons geloof ondervind, is omdat dit goeie vrugte kan voortbring. Soos Jakobus sê, ‘bewerk dit volharding’ as ons toetse of moeilikhede die hoof bied. Dit kan ons tot voordeel strek as ons daardie kosbare Christelike eienskap aankweek. Jakobus het geskryf: “Laat die volharding sy werk voltooi, sodat julle volkome en in alle opsigte sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie” (Jakobus 1:4). Volharding het ’n taak, ’n “werk”, om te verrig. Dit is om ons te help om ons in alle opsigte volkome te maak, en dit help ons om gebalanseerde en volwasse Christene te wees. As ons derhalwe toelaat dat beproewinge voortduur sonder dat ons dit op ’n onskriftuurlike manier gou tot sy einde probeer bring, word ons geloof getoets en gelouter. As ons tekort geskiet het in die betoning van geduld, medelye, goedhartigheid of liefde wanneer ons situasies hanteer of met ons medemens handel, kan volharding ons meer volkome maak. Ja, die volgorde is: Beproewinge bring volharding voort; volharding laat Christelike eienskappe toeneem; dít is ’n bron van vreugde.—1 Petrus 4:14; 2 Petrus 1:5-8.

 3. Waarom moet ons nie uit vrees vir beproewinge en toetse van geloof terugdeins nie?

3 Die apostel Petrus het ook beklemtoon waarom ons nie toetse van ons geloof hoef te vrees of daarvoor hoef terug te deins nie. Hy het geskryf: “In hierdie feit verheug julle julle grootliks, hoewel julle nou—as dit moet wees—’n klein rukkie deur verskillende beproewinge bedroef word, sodat die beproefde hoedanigheid van julle geloof, wat van baie groter waarde is as goud wat vergaan al word dit deur vuur getoets, by die openbaring van Jesus Christus ’n rede tot lof en heerlikheid en eer bevind kan word” (1 Petrus 1:6, 7). Hierdie woorde is nou veral bemoedigend omdat die “groot verdrukking”—die tyd van lof, heerlikheid, eer en oorlewing—baie nader is as wat sommige dalk dink en baie nader is as toe ons gelowiges geword het.—Matteus 24:21; Romeine 13:11, 12.

 4. Hoe het een broer gevoel oor toetse wat hy en ander gesalfde Christene ondervind het?

4 In die vorige artikel het ons toetse bespreek waarvoor die gesalfde oorblyfsel sedert 1914 te staan gekom het. Was dit ’n grondslag vir vreugde? A. H. Macmillan kon terugkyk en hierdie opmerking maak: “Ek het gesien hoe die organisasie voor talle kwaai beproewinge te staan kom en hoe die geloof van diegene in die organisasie getoets word. Met behulp van God se gees het dit staande gebly en aanhou floreer. Ek het gesien hoe verstandig dit is om geduldig op Jehovah te wag om ons begrip van skriftuurlike dinge op te klaar in plaas van ons oor ’n nuwe gedagte te ontstel. . . . Ongeag watter aanpassings ons van tyd tot tyd in ons beskouings moet maak, dit sal nie die wonderlike voorsiening van die losprys en God se belofte van die ewige lewe verander nie. Ons het dus geen rede gehad om toe te laat dat ons geloof verswak word deur onvervulde verwagtinge of veranderings in beskouings nie.”—The Watchtower, 15 Augustus 1966, bladsy 504.

 5. (a) Watter voordele het dit tot gevolg gehad omdat die oorblyfsel toetse ondergaan het? (b) Waarom moet die toetsing van ons geloof nou vir ons van belang wees?

5 Die gesalfde Christene wat die tyd van toetsing van 1914-19 deurstaan het, is vrygemaak van die wêreld se oorheersende invloed en van baie Babiloniese godsdiensgebruike. Die oorblyfsel het vooruitbeweeg as ’n gereinigde en gelouterde volk, wat gewillig lofofferandes aan God bring en die versekering het dat hulle as ’n volk vir hom aanneemlik is (Jesaja 52:11; 2 Korintiërs 6:14-18). Oordeel het by die huis van God begin, maar dit sou nie in een vasgestelde tydperk voltooi word nie. Die toetsing en sifting van God se volk duur nog steeds voort. Diegene wat hoop om die naderende “groot verdrukking” as deel van die “groot skare” te oorleef se geloof word ook getoets (Openbaring 7:9, 14). Dit word op soortgelyke maniere gedoen as wat die gesalfde oorblyfsel ondervind het, asook op ander maniere.

Watter toetse kan jy dalk verwag?

 6. Wat is een soort strawwe toets wat baie al verduur het?

6 Baie Christene het al gedink aan die uitdaging om toetse in die vorm van direkte aanvalle te deurstaan. Hulle onthou hierdie verslag: “[Die Joodse leiers] het die apostels ontbied, hulle geslaan en hulle beveel om op te hou om in Jesus se naam te spreek en hulle laat gaan. Hulle het dus van die Sanhedrin af weggegaan terwyl hulle hulle verheug het omdat hulle waardig geag is om ter wille van sy naam oneer te ly” (Handelinge 5:40, 41). En die hedendaagse geskiedenis van God se volk, veral tydens die wêreldoorloë, maak dit duidelik dat baie van Jehovah se Getuies inderdaad geslaan is en veel erger behandeling deur hulle vervolgers moes verduur.

 7. In watter mate het sommige hedendaagse Christene geloof aan die dag gelê?

7 Met betrekking tot die feit dat Christene voorwerpe van vervolging is, tref die wêreld geen onderskeid tussen die gesalfde oorblyfsel en die groot skare van “ander skape” nie (Johannes 10:16). Deur die jare heen is lede van albei groepe swaar beproef deur gevangeneming en selfs marteling weens hulle liefde vir God en hulle geloof in hom. Albei groepe het God se gees nodig gehad, ongeag wat hulle hoop is. (Vergelyk Die Wagtoring van 15 Junie 1996, bladsy 31.) Gedurende die dertiger- en veertigerjare in Nazi-Duitsland het baie van Jehovah se knegte, waaronder kinders, uitsonderlike geloof aan die dag gelê, en heelparty is tot die uiterste beproef. In onlangser tye is Jehovah se volk deur vervolging getoets in lande soos Burundi, Eritrea, Etiopië, Malawi, Mosambiek, Rwanda, Singapoer en Zaïre. En hierdie soort toetse duur voort.

 8. Hoe toon die opmerkings van een broer uit Afrika dat daar meer by toetse van ons geloof betrokke is as om vervolging in die vorm van slae te verduur?

8 Maar soos vroeër gesê is, word ons geloof ook op subtieler maniere getoets. Party van die toetse is nie so direk en maklik om te identifiseer nie. Dink wat jy in party van die volgende situasies sou doen. ’n Broer in Angola wat tien kinders gehad het, was in ’n gemeente wat ’n ruk lank nie kontak met verantwoordelike broers gehad het nie. Dit het later vir ander moontlik geword om die gemeente te besoek. Hy is gevra hoe hy dit regkry om sy gesin te voed. Dit was nie vir hom maklik om te antwoord nie, en al wat hy kon sê, was dat die situasie moeilik is. Kon hy sy kinders ten minste een maaltyd per dag gee? Hy het geantwoord: “Wel, nie altyd nie. Ons het geleer om klaar te kom met wat ons het.” Toe het hy met ’n stem vol oortuiging gesê: “Maar is dit nie wat ons in hierdie laaste dae verwag nie?” In die wêreld is sulke geloof merkwaardig, maar dit is nie ongewoon onder lojale Christene nie, wat volle vertroue het dat die Koninkryksbeloftes vervul sal word.

 9. Hoe word ons met betrekking tot 1 Korintiërs 11:3 getoets?

9 Die groot skare word ook met betrekking tot teokratiese prosedures getoets. Die wêreldwye Christengemeente word volgens Goddelike beginsels en teokratiese standaarde gerig. Dit beteken eerstens dat hulle Jesus as hulle Leier erken, die een wat as Hoof van die gemeente aangestel is (1 Korintiërs 11:3). Ons gewillige onderworpenheid aan hom en sy Vader word geopenbaar deur ons geloof in teokratiese aanstellings en besluite wat verband hou met ons verenigde uitvoering van Jehovah se wil. Daarbenewens is daar in elke plaaslike gemeente manne wat aangestel is om die leiding te neem. Hulle is onvolmaakte mense wie se foute ons dalk maklik raaksien; ons word nietemin aangespoor om hierdie opsieners te respekteer en aan hulle onderdanig te wees (Hebreërs 13:7, 17). Vind jy dit soms moeilik? Is dit werklik ’n toets vir jou? Indien wel, vind jy baat by hierdie toets van jou geloof?

10. Voor watter toetse kom ons te staan wat die veldbediening betref?

10 Ons word ook getoets met betrekking tot die voorreg en vereiste om gereeld aan die veldbediening deel te neem. As ons hierdie toets wil slaag, moet ons besef dat ’n volle deelname aan die bediening meer behels as om net ’n minimale aandeel aan die predikingswerk te hê of vormdiens te lewer. Onthou hoe Jesus sy goedkeuring uitgespreek het oor die arm weduwee wat alles gegee het wat sy gehad het (Markus 12:41-44). Ons kan ons afvra: ‘Gee ek op soortgelyke wyse van myself in my veldbediening?’ Ons almal moet ten alle tye Getuies van Jehovah wees en moet by elke geleentheid gereed wees om ons lig te laat skyn.—Matteus 5:16.

11. Hoe kan veranderinge in begrip of raad oor gedrag ’n toets wees?

11 ’n Ander toets waarvoor ons te staan kan kom, hou verband met die mate van ons waardering vir die toenemende lig wat op Bybelwaarheid gewerp word en vir die raad wat deur die ‘getroue slaaf’-klas voorsien word (Matteus 24:45). Soms vereis dit aanpassings in ons persoonlike gedrag, soos toe dit duidelik geword het dat diegene wat tabak gebruik met die gewoonte moes breek as hulle in die gemeente wou bly (2 Korintiërs 7:1).a Of dit kan vir ons ’n toets wees om te aanvaar dat ons ons smaak in musiek of ander vorme van vermaak moet verander.b Sal ons die wysheid in twyfel trek van die raad wat gegee word? Of sal ons toelaat dat God se gees ons denke vorm en ons help om ons met die Christelike persoonlikheid te beklee?—Efesiërs 4:20-24; 5:3-5.

12. Wat moet ’n mens doen om jou geloof te versterk nadat jy gedoop is?

12 Die groot skare neem al dekades lank toe in getal, en ná hulle doop gaan hulle voort om hulle verhouding met Jehovah te versterk. Dit behels meer as om ’n Christenbyeenkoms by te woon, na ’n paar vergaderinge by die Koninkryksaal te gaan of nou en dan velddiens te doen. Ter toeligting: Iemand is dalk fisies buite Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, maar het hy dit werklik agtergelaat? Kleef hy nog aan daardie dinge wat die gees van Babilon die Grote weerspieël—’n gees wat God se regverdige standaarde ignoreer? Neem hy sedelikheid en huwelikstrou ligtelik op? Lê hy meer klem op persoonlike en materiële belange as op geestelike belange? Ja, het hy hom sonder vlek van die wêreld gehou?—Jakobus 1:27.

Vind baat by beproefde geloof

13, 14. Wat het party gedoen nadat hulle die weg van ware aanbidding begin volg het?

13 As ons waarlik uit Babilon die Grote gevlug het en ook uit die wêreld gekom het, moet ons nie kyk na die dinge wat agter is nie. As enigeen van ons sou terugkyk, kan dit, in ooreenstemming met die beginsel in Lukas 9:62, daartoe lei dat ons die kans verbeur om ’n onderdaan van God se Koninkryk te wees. Jesus het gesê: “Geen mens wat sy hand aan ’n ploeg geslaan het en na die dinge kyk wat agter is, is geskik vir die koninkryk van God nie.”

14 Maar sommige wat in die verlede Christene geword het, het intussen toegelaat dat hulle na hierdie stelsel van dinge gevorm word. Hulle het nie die gees van die wêreld weerstaan nie (2 Petrus 2:20-22). Dinge in die wêreld wat ons aandag kan aftrek, het hulle belangstelling en tyd in beslag geneem en sodoende hulle vooruitgang belemmer. In plaas van hulle verstand en hart stip op God se Koninkryk en sy regverdigheid gevestig te hou en hierdie dinge eerste in hulle lewe te stel, het hulle afgewyk om materialistiese doelwitte na te jaag. Tensy hulle beweeg word om hulle swak geloof en louwarm toestand te erken en hulle weg te verander deur Goddelike raad te soek, loop hulle gevaar om hulle kosbare verhouding met Jehovah en sy organisasie te verloor.—Openbaring 3:15-19.

15. Wat verg dit om aanneemlik vir God te bly?

15 As ons goedgekeur wil word en in aanmerking wil kom om die vinnig naderende groot verdrukking te oorleef, móét ons rein bly deur ons gewade ‘in die bloed van die Lam te was’ (Openbaring 7:9-14; 1 Korintiërs 6:11). As ons nie ’n rein, regverdige posisie voor God handhaaf nie, sal ons heilige diens nie aanneemlik wees nie. Ja, elkeen van ons moet besef dat die beproefde hoedanigheid van geloof ons sal help om te volhard en ons nie God se misnoeë op die hals te haal nie.

16. In watter opsigte kan leuens ons geloof op die proef stel?

16 Soms gee die nuusmedia en sekulêre owerhede ’n wanvoorstelling van God se volk deur ons Christelike opvattings en lewenswyse verkeerd voor te stel. Dit behoort ons nie te verbaas nie, want Jesus toon duidelik dat die ‘wêreld ons sal haat omdat ons geen deel daarvan is nie’ (Johannes 17:14). Sal ons toelaat dat diegene wat deur Satan verblind is ons intimideer en ontmoedig en ons beskaamd maak oor die goeie nuus? Sal ons toelaat dat leuens omtrent die waarheid ons gereelde vergaderingbywoning en ons predikingswerk beïnvloed? Of sal ons vasstaan en moedig en meer vasbeslote wees as ooit om steeds die waarheid aangaande Jehovah en sy Koninkryk te verkondig?

17. Watter versekering kan ons aanspoor om aan te hou om geloof te toon?

17 Volgens vervulde Bybelprofesieë lewe ons nou diep in die tyd van die einde. Ons Bybelse verwagtinge van ’n nuwe wêreld van regverdigheid sal beslis ’n vreugdevolle werklikheid word. Mag ons almal, totdat daardie dag aanbreek, onwankelbare geloof in God se Woord beoefen en ons geloof bewys deur nie op te hou om die goeie nuus van die Koninkryk wêreldwyd te verkondig nie. Dink aan die duisende nuwe dissipels wat elke week gedoop word. Is dit nie vir ons genoeg rede om te besef dat Jehovah se geduld met betrekking tot die voltrekking van sy oordeel tot die redding van baie meer mense kan lei nie? Is ons nie bly dat God die lewensreddende Koninkrykspredikingswerk laat voortduur het nie? En is ons nie verheug dat miljoene die waarheid aangeneem het en bewys lewer van hulle geloof nie?

18. Wat is jy vasbeslote om te doen wat jou diens aan Jehovah betref?

18 Ons weet nie hoe lank die huidige toetsing van ons geloof sal voortduur nie. Maar een ding is seker: Jehovah het ’n vasgestelde dag van afrekening vir die huidige goddelose hemele en aarde. Laat ons intussen vasbeslote wees om die voortreflike gehalte van beproefde geloof na te volg wat deur die Vervolmaker van ons geloof, Jesus, geopenbaar is. En laat ons die voorbeeld volg van die bejaarde gesalfde oorblyfsel en van ander wat moedig saam met ons dien.

19. Wat sal beslis hierdie wêreld oorwin?

19 Ons moet vasbeslote wees om in samewerking met die engel wat in die middel van die hemel vlieg die ewige goeie nuus sonder ophou aan elke nasie, stam, taal en volk te verkondig. Laat hulle die aankondiging van die engel hoor: “Vrees God en gee hom heerlikheid, want die uur van die oordeel deur hom het aangebreek” (Openbaring 14:6, 7). Wat sal die beproefde hoedanigheid van ons geloof tot gevolg hê wanneer daardie Goddelike oordeel voltrek word? Sal dit nie ’n glorieryke oorwinning wees nie—redding uit die huidige stelsel van dinge tot in God se regverdige nuwe wêreld? Deur die toetse van ons geloof te verduur, sal ons soos die apostel Johannes kan sê: “Dít is die oorwinning wat die wêreld oorwin het: ons geloof.”—1 Johannes 5:4.

[Voetnote]

a Sien Die Wagtoring van 15 Augustus 1973, bladsy 373-80, en 15 September 1973, bladsy 411-3.

b Sien Die Wagtoring van 1 Oktober 1983, bladsy 27-31.

Onthou jy?

◻ Hoe is dit moontlik dat toetse van ons geloof ’n bron van vreugde kan wees?

◻ Wat is sommige toetse van ons geloof wat dalk nie maklik geïdentifiseer kan word nie?

◻ Hoe kan ons daarby baat vind as ons toetse van ons geloof suksesvol verduur?

[Prente op bladsy 17]

A. H. Macmillan (voor links) omtrent die tyd toe hy en amptenare van die Wagtoringgenootskap ten onregte opgesluit is

Hy was ’n afgevaardigde na die byeenkoms in Detroit, Michigan, 1928

Broer Macmillan het in sy laaste jare nog steeds geloof getoon

[Prent op bladsy 18]

Soos hierdie gesin het baie Christene in Afrika die beproefde hoedanigheid van hulle geloof geopenbaar

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel