Wat hou die toekoms vir ons aarde in?
“Geen eeu waarvan ons weet nie, ewenaar die 20ste eeu in barbaarse burgerlike geweld, die aantal konflikte, die hordes vlugtelinge wat dit tot gevolg gehad het, die miljoene mense wat in oorloë gedood is en die ontsaglike bedrae wat aan ‘verdediging’ bestee is”, sê World Military and Social Expenditures 1996. Sal hierdie situasie ooit verander?
Die apostel Petrus het Christene aan ’n belofte herinner wat God eeue vroeër gemaak het: “Daar is nuwe hemele en ’n nuwe aarde wat ons volgens [God se] belofte verwag, en in hulle sal regverdigheid woon” (2 Petrus 3:13). Hierdie woorde was oorspronklik deel van Jesaja se profesie (Jesaja 65:17; 66:22). Eertydse Israel het ’n aanvanklike vervulling hiervan ondervind toe die nasie herstel is in hulle beloofde land nadat hulle 70 jaar lank gevange gehou is in Babilon. Deur die belofte van “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” te herhaal, het Petrus getoon dat die profesie op ’n selfs groter skaal vervul sal word—wêreldwyd!
Dit is God se wil om regverdige toestande oor die hele aarde tot stand te bring, en dit sal bewerkstellig word deur sy hemelse Koninkryk met Christus as Koning. “Nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jesaja 2:4). Jesus het sy volgelinge geleer om sulke volkome vrede en veiligheid op aarde te verwag en om daarvoor te bid in die gebed wat algemeen as die Onse Vader bekend staan, wat sê: “Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde.”—Matteus 6:9, 10.
Sal jy daarvan hou om in ’n wêreld te lewe wat so regverdig soos die hemel is? Dit is die hoop wat die Bybel bied aan almal wat God van ganser harte wil ken en volgens sy regverdige weë wil lewe.