Waarom keer hulle godsdiens die rug toe?
IN DIE middel van die 19de eeu was dit feitlik iets ongehoords vir ’n inwoner van Pruise (nou noordelike Duitsland) om te sê dat hy aan geen bepaalde godsdiens behoort nie. Trouens, net om van ’n hoofstroomgodsdiens na ’n nonkonformistiese kerk oor te gaan, kon tot gevolg hê dat hulle deur die polisie dopgehou is. Hoe het tye tog verander!
Vandag is daar ’n rekordgetal Duitsers wat hulle kerklidmaatskap opsê. Volgens berig beweer 1 uit 4 dat hulle glad nie aan ’n godsdiens behoort nie. ’n Soortgelyke tendens word in Oostenryk en Switserland gesien. As die ledetal die lewensbloed van ’n godsdiens is, “is Europa se kerke besig om dood te bloei”, soos die Duitse skrywer Reimer Gronemeyer dit gestel het.
Waarom hulle godsdiens verwerp
Waarom verwerp baie mense georganiseerde godsdiens? Dikwels om finansiële redes, veral in lande waar lidmate ’n kerkbelasting moet betaal. Baie vra: ‘Waarom moet my swaar verdiende geld na die kerk gaan?’ Die kerk se ontsaglike rykdom en mag vervul party met afkeer. Hulle stem waarskynlik saam met kardinaal Joachim Meisner van Keulen, Duitsland, wat gesê het dat die kerk se rykdom moontlik daartoe gelei het dat die kerk te veel aandag aan materiële dinge skenk en “nie geloof in Christus ernstig genoeg opneem nie”.
Sommige verlaat hulle kerk omdat dit vir hulle vervelig en oninteressant is en nie hulle geestelike honger kan stil nie. Hulle ly aan die honger wat deur die profeet Amos voorspel is: “Nie ’n honger na brood nie en nie ’n dors na water nie, maar om die woorde van die HERE te hoor” (Amos 8:11). Omdat hulle min geestelike voeding by hulle godsdiens kry, verlaat hulle dit.
Hoewel die probleme wat ervaar word werklike probleme is, is die vraag: Is die regte reaksie daarop om alle godsdiens te verwerp? Stel jou ’n honger man voor wat iets sien wat soos ’n brood lyk. Wanneer hy dit probeer eet, vind hy egter uit dat dit van saagsels gemaak is. Sal hy besluit om nie meer te eet en sy honger te stil nie? Nee, hy sal na regte kos gaan soek. Net so ook met godsdiens. Beteken dit dat die lidmate van ’n godsdiens wat nie hulle geestelike honger stil nie alle godsdiens moet verwerp? Of sal hulle verstandiger wees as hulle na ’n manier soek om hulle geestelike honger te stil? Dit is wat baie gedoen het, soos die volgende artikel toon.