Leer uit jou foute
ONS Skepper se sedewette is ewig en onveranderlik. Om hierdie rede geld die beginsel in Galasiërs 6:7 vandag: “Wat ’n mens ook al saai, dit sal hy ook maai.” ’n Individu kan weliswaar aanspreeklikheid teenoor God ontken, maar die Goddelike wet bly dieselfde. Op die lange duur is geen mens vry van die gevolge van sy dade nie.
Wat van iemand wat ’n slegte lewe lei en dan verander en ’n kneg van God word? Hy sal moontlik nog steeds met die gevolge van sy vorige lewenswyse moet saamleef. Dit beteken egter nie dat God hom nie vergewe het nie. Koning Dawid se owerspelige verhouding met Batseba het hom baie ellende op die hals gehaal. Hy kon dit nie vryspring nie. Maar hy het berou gehad, en hy is deur God vergewe.—2 Samuel 12:13-19; 13:1-31.
Het jy al ooit ontmoedig gevoel wanneer jy die wrange vrugte pluk van foute wat jy gemaak het? As dit in die regte lig beskou word, kan berou as ’n herinnering vir ons dien om ‘op ons hoede te wees dat ons ons nie wend tot wat skadelik is nie’ (Job 36:21, NW). Ja, berou kan ons help om nie weer dieselfde fout te begaan nie. Wat selfs beter is, is dat Dawid die ondervinding wat hy opgedoen het uit die sonde wat hy gepleeg het, gebruik het om nie net vir hóm tot nut te wees nie, maar ook vir ander. Hy het gesê: “Ek wil die oortreders u weë leer, dat die sondaars hulle tot U kan bekeer.”—Psalm 51:15.
[Prente op bladsy 7]
Dawid het geleer uit sy sonde met Batseba