Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 7/1 bl. 4-6
  • Waarom party van godsdiens verander

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom party van godsdiens verander
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Antwoorde op moeilike vrae
  • Wat is die doel van die lewe?
  • Bied die probleme van die lewe die hoof
  • ’n Hegte verhouding met God
  • Die ware godsdiens is die moeite werd!
  • Ons het ons tot die Bron van ware regverdigheid gewend
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • “Migael, die grootvors”—Wie is hy?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Wie is die aartsengel Migael?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Wie is Migael, die aartsengel?
    Wat leer die Bybel werklik?
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 7/1 bl. 4-6

Waarom party van godsdiens verander

Vir baie is godsdiens maar net ’n etiket. Dit dui dalk aan waarheen ’n persoon af en toe op ’n Sondag gaan, waar hy gaan trou en waar hy begrawe sal word. Maar dit sê nie watter soort persoon hy is of wat hy weet en glo nie. Een opname het byvoorbeeld aan die lig gebring dat 50 persent van verklaarde Christene nie weet wie die Bergpredikasie gehou het nie. En tog het die bekende Indiese leier Mohandas Gandhi, ’n Hindoe, dit geweet!

MOET dit ons verbaas dat mense van godsdiens wegdryf wanneer so baie van hulle so min van hulle godsdiens weet? Nee, dit moet nie. Maar dit is ook nie iets onvermydeliks nie. Diegene wat hulp aanvaar het om kennis van die Bybel op te doen, is dikwels verstom om te sien hoeveel baat hulle daarby vind. Die Bybel self sê: “Ek is die HERE jou God, wat jou leer wat heilsaam is, wat jou lei op die weg wat jy moet gaan.”—Jesaja 48:17, ons kursiveer.

Wat moet diegene met ’n onbevredigde geestelike honger doen? Hulle moet nie besluit om God nie meer te dien nie! Hulle moet eerder die Bybel ondersoek en sien wat God self aan hulle beskikbaar stel.

Antwoorde op moeilike vrae

Toe Bernd sewe jaar oud was, het hy gesien hoe sy moeder sterf.a Gedurende die res van sy kinderjare het hy gewonder: ‘Waar is my ma? Waarom moet ek sonder haar grootword?’ As ’n tiener was Bernd ’n ywerige kerkganger. Omdat hy besorg was oor die lyding van die mensdom was dit sy wens om eendag hulpverlening in die buiteland te doen. Hy het egter nog steeds vrae gehad wat hom gekwel het en waarop sy kerk geen bevredigende antwoorde kon gee nie.

Toe het Bernd met ’n skoolmaat gepraat wat een van Jehovah se Getuies was. Hierdie jong persoon het vir Bernd uit die Bybel gewys dat sy moeder in ’n toestand van onbewustheid is en in die dood slaap. Bernd het baie Bybeltekste geleer wat dit verduidelik, soos Prediker 9:5: “Die dooies weet glad niks nie.” Bernd het dus glad nie rede gehad om bekommerd te wees dat sy moeder in die een of ander soort vaevuur ly nie—of iets selfs erger verduur nie. Hoewel die leerstelling oor die onsterflike siel deur die meeste godsdienste geleer word, het Bernd in die Bybel gesien dat ’n mensesiel niks anders as die mens self is nie. Wanneer die mens sterf, sterf die siel. “Die siel wat sondig, dié moet sterwe.”—Esegiël 18:4.

Bernd het ook van die wonderlike vooruitsig vir die dooies geleer. Hy het self in die Bybelboek Handelinge gelees: “Daar [gaan] ’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges . . . wees” (Handelinge 24:15). Hoe verheug was hy tog om uit te vind dat hierdie opstanding hier op die aarde, wat God tot ’n paradys sal herstel, gaan plaasvind!—Psalm 37:29; Openbaring 21:3, 4.

Bernd se geestelike behoeftes is gou deur juiste Bybelkennis bevredig. Bernd het nie godsdiens verwerp nie. Hy het eerder die kerk verlaat wat nie sy honger kon stil nie en ’n vorm van aanbidding aangeneem wat geheel en al op die Bybel gegrond is. Hy sê: “Dit was 14 jaar gelede, en ek was nog nooit spyt oor die stap nie. Nou weet ek dat die Skepper nie vir lyding verantwoordelik is nie. Satan is die god van hierdie stelsel, en hy dra die skuld vir die toestande om ons. Maar God gaan binnekort al die skade regstel wat deur Satan se wêreld aangerig is. My ma sal ook in die opstanding terugkeer. Wat ’n vreugde sal dit tog wees!”

Terloops, Bernd het sy doel bereik om in die buiteland te gaan werk om ander te help. Hy werk in ’n land waar hy ander help om van God se Koninkryk, die ware oplossing vir hulle ellende, te leer. Soos Bernd het miljoene geleer dat God spoedig ’n einde gaan maak aan menselyding. Hulle is verheug om uit te vind dat daar ’n godsdiens is wat hulle geestelike behoefte bevredig.—Matteus 5:3.

Wat is die doel van die lewe?

Namate die Westerse wêreld al hoe meer sekulêr word, vra baie mense: ‘Wat is die doel van die lewe?’ Die antwoord is in die Bybel, soos Michael ontdek het. In die middel-sewentigerjare wou Michael by ’n terroristegroep aansluit. Hy het net een doel in die lewe gehad—om daardie mense te beveg wat volgens hom verantwoordelik was vir die onregte van die kapitalistiese stelsel. “Ek het nooit die huis verlaat sonder my vuurwapen nie”, sê hy. “My voorneme was om soveel vooraanstaande politici en kapitaliste as moontlik dood te maak. Ek sou my lewe gegee het vir die saak.”

Michael was ’n kerkganger, maar niemand in sy kerk kon verduidelik wat die ware doel van die lewe is nie. Toe Jehovah se Getuies hom tuis besoek het en vir hom die Bybel se antwoorde op sy vrae gewys het, het Michael dus aandagtig geluister. Hy het vergaderinge vir aanbidding by die plaaslike Koninkryksaal van Jehovah se Getuies begin bywoon.

Michael se vriende was nuuskierig oor sy nuutgevonde belangstelling in die Bybel. “Kom na die vergadering hierdie Sondag”, het Michael hulle aangespoor. “Bly ’n rukkie. As julle nie hou van wat julle hoor nie, kan julle huis toe gaan.” Die meeste van sy vriende het die saal ná ’n Bybeltoespraak van 45 minute verlaat. Maar een—Susan—het agtergebly. Hierdie jong vrou was beïndruk deur wat sy gehoor het. Michael en Susan is later getroud en is as Getuies van Jehovah gedoop. “Nou weet ek waarom ons hier op die aarde is”, sê Michael. “Ons is deur Jehovah geskep. Ons ware doel in die lewe is om hom te leer ken en om sy wil te doen. Dít is wat ware bevrediging meebring!”

Miljoene voel soos Michael. Hulle neem die Bybel se woorde ter harte: “Die slot van die saak, nadat alles gehoor is, is: Vrees die ware God en onderhou sy gebooie. Want dit is die hele verpligting van die mens.”—Prediker 12:13, NW.

Bied die probleme van die lewe die hoof

Ons almal ondervind die vervulling van die profesie in 2 Timoteus 3:1: ‘In die laaste dae sal daar kritieke tye wees wat moeilik is om deur te kom.’ Niemand kan die probleme van hierdie “kritieke tye” vryspring nie. Maar die Bybel help ons om dit die hoof te bied.

Neem die voorbeeld van Steven en Olive, ’n egpaar. Toe hulle die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer het, het hulle, soos so baie ander, huweliksprobleme gehad. “Ons was besig om van mekaar vervreemd te raak”, verduidelik Steven. “Ons het verskillende doelwitte en belange gehad.” Wat het hulle gehelp om bymekaar te bly? “Jehovah se Getuies het vir ons gewys hoe ons Bybelbeginsels in ons lewe kan toepas”, gaan Steven voort. “Vir die eerste keer het ons geleer wat dit beteken om onselfsugtig en liefdevol te wees. Die toepassing van Bybelbeginsels het die band tussen ons versterk. Nou geniet ons ’n gelukkige, bestendige huwelik.”

’n Hegte verhouding met God

Volgens ’n onlangse Gallup-opname glo 96 persent van Amerikaners aan God, en die meeste van hulle bid tot hom. Maar ’n afsonderlike opname het getoon dat kerk- en sinagogebywoning nou die laagste in ’n halfeeu is. Ongeveer 58 persent van Amerikaners sê dat hulle een keer per maand of minder kerk toe gaan. Dit is duidelik dat godsdiens hulle nie nader aan God gebring het nie. En hierdie probleem is nie tot die Verenigde State beperk nie.

Linda het in Beiere grootgeword. Sy was ’n aktiewe Katoliek en het gereeld gebid. Terselfdertyd was sy bang vir die toekoms. Sy het niks geweet van God se voorneme met die mens nie. Toe Linda net 14 jaar oud was, het sy Jehovah se Getuies ontmoet, en sy sê: “Wat hulle gesê het, was interessant, en ek het dus twee Bybelstudiehulpe geneem en dit onmiddellik gelees.” Twee jaar later het Linda die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. “Alles wat ek aangaande God uit die Bybel geleer het, het sin gemaak”, sê sy. Linda het haar kerklidmaatskap opgesê en is op die ouderdom van 18 as ’n Getuie van Jehovah gedoop.

Wat het Linda beweeg om van godsdiens te verander? Sy verduidelik: “My kerk het my gehelp om te sien dat daar ’n God is, en ek het geleer om aan hom te glo. Maar hy was onpersoonlik en ver verwyderd van my af. My Bybelstudie het nie alleen my geloof in God versterk nie, maar het my ook gehelp om hom te leer ken en lief te kry. Ek het nou ’n kosbare persoonlike verhouding met God, iets wat kosbaarder as enigiets anders is.”

Die ware godsdiens is die moeite werd!

Gee jou godsdiens jou geestelike leiding en wys dit vir jou hoe die Bybel jou kan help om die probleme van die lewe die hoof te bied? Leer dit die Bybel se hoop vir die toekoms? Bring dit jou in ’n hegte, persoonlike verhouding met die Skepper wat op juiste Bybelkennis gegrond is? Indien nie, moenie moed opgee nie. Soek eerder na die vorm van aanbidding wat stewig op die Bybel gegrond is as om godsdiens te verwerp. Dan sal jy soos dié wees waaroor daar in die Bybelboek Jesaja geprofeteer is: “So sê die Here HERE: Kyk, my knegte sal eet . . . ; my knegte sal drink . . . ; my knegte sal bly wees . . . My knegte sal jubel, omdat hulle hart vrolik is.”—Jesaja 65:13, 14.

[Voetnoot]

a Van die name in die artikel is verander.

[Prente op bladsy 4, 5]

Die Bybel help ons om God te leer ken en lief te kry

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel