Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 7/1 bl. 26-29
  • ’n Onvergeetlike gebeurtenis in Frankryk

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Onvergeetlike gebeurtenis in Frankryk
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Jehovah laat dit groei
  • ’n Epogmakende samekoms
  • “’n Oase in die woestyn”
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 7/1 bl. 26-29

’n Onvergeetlike gebeurtenis in Frankryk

“NEE VIR JEHOVAH-STAD!” het die plakkate gesê wat oral in die dorp vertoon is. “Staan saam teen die Jehovah-projek” het een opposisiegroep mense aangespoor. Letterlik honderde artikels in die pers het publisiteit aan die saak gegee. Petisies is geteken, en meer as ’n halfmiljoen pamflette wat na die projek verwys, het plaaslike posbusse oorstroom. Wat was hierdie projek wat die rus van die andersins stil dorp Louviers, in noordwestelike Frankryk, versteur het? Die voorgenome konstruksie van ’n nuwe takkantoor en woongeboue vir Jehovah se Getuies.

Jehovah laat dit groei

Die bedrywighede van Jehovah se Getuies in Frankryk dateer uit die einde van die 19de eeu. Die eerste depot vir Bybellektuur is in 1905 in Beauvène, in suidelike Frankryk, geopen, en vanaf 1919 het ’n klein kantoor in Parys na die werk omgesien. ’n Takkantoor is amptelik in 1930 in die stad geopen, en die volgende jaar het die kantoorpersoneel in ’n Bethelhuis in Enghien-les-Bains, noord van Parys, ingetrek. Ná die Tweede Wêreldoorlog het die Bethelgesin teruggetrek Parys toe, en in 1959 is die takkantoor verskuif na ’n vyfverdiepinggebou in Boulogne-Billancourt in die westelike buitewyke van die hoofstad.

As gevolg van die uitbreiding van die Koninkrykspredikingswerk is die drukkery en versendingsfasiliteite in 1973 verskuif na Louviers, 100 kilometer wes van Parys, terwyl die kantore in Boulogne-Billancourt gebly het. Maar weens die vermeerdering in die aantal verkondigers in Frankryk was die fasiliteite in Louviers nie meer groot genoeg nie, ten spyte van aanbouings in 1978 en 1985. Daar is dus besluit om uit te brei en die hele Bethelgesin op een plek saam te bring. Hierdie projek het nie almal geval nie, soos aan die begin genoem is. Ondanks sulke teenkanting is eiendom net een en ’n half kilometer van die drukkery gevind. Ses jaar van harde werk het gevolg, en uiteindelik, ná 23 jaar wat hulle van mekaar geskei was, is die hele Bethelgesin in Augustus 1996 in Louviers verenig.

Dit was dus met groot vreugde dat ’n gelukkige skare van 1187, waaronder 300 lede van die Franse Bethelgesin en 329 afgevaardigdes van 42 ander takke, op Saterdag, 15 November 1997, bymekaargekom het om na die toewydingstoespraak te luister wat deur broer Lloyd Barry, ’n lid van die Bestuursliggaam, gehou is. Maar in die lig van die feit dat hierdie toewyding gehou is te midde van vyandigheid en ’n lang, lasterlike mediaveldtog teen Jehovah se Getuies regdeur Frankryk, is daar gevoel dat alle Franse Getuies hierdie oorwinning saam moet kan vier. Gevolglik is daar ’n spesiale vergadering met die tema “Bly in die liefde van Christus” by die Villepinte-uitstallingsentrum, net noord van Parys, vir Sondag, 16 November, gereël. Alle Getuies van Jehovah in Frankryk tesame met die Franssprekende Getuies in België en Switserland is genooi, asook gemeentes in Brittanje, Duitsland, Luxemburg en Nederland.

’n Epogmakende samekoms

Voorbereiding vir die vergadering het ses maande tevore begin. Toe, net twee weke voor die toewyding, het Franse vragmotorbestuurders ’n staking begin en hoofpaaie en brandstofvoorrade versper. Sou die stoele en ander toerusting betyds deurkom? Sou die padversperrings verhoed dat die broers kom? Tot almal se verligting was die staking binne ’n week oor, en die paaie is weer vir verkeer geopen. Die Vrydagaand voor die toewydingsnaweek het 38 vragmotors 84 000 stoele afgelewer by die twee ruim sale wat vir die geleentheid gehuur is. Meer as 800 broers en susters het regdeur die nag gewerk tot halftien Saterdagoggend om die stoele, verhoog, klanktoerusting en nege reusevideoskerms te installeer.

Sesuur Sondagoggend is die deure geopen, en die skare het begin instroom. Altesaam 17 treine wat spesiaal gehuur is, het meer as 13 000 Getuies na die hoofstad gebring. Meer as tweehonderd plaaslike broers en susters het op die spoorwegstasies gewag om die reisigers te groet en hulle in groepe na die byeenkomsterrein te vergesel. Een suster het gesê dat hierdie liefdevolle reëling hulle “’n gevoel van sekuriteit en gemoedsrus” gegee het.

Ander het per vliegtuig of per motor na Parys gekom. Die meeste het egter in 953 busse gekom, terwyl Getuies van die Parys-omgewing openbare vervoer gebruik het om na die Uitstallingsentrum te reis. Baie het die hele nag lank gereis of het hulle huise douvoordag verlaat, maar hulle opgewondenheid oor die bywoning van hierdie vergadering was duidelik sigbaar. Uitroepe van vreugde en hartlike omhelsings het herenigings van vriende gekenmerk wat mekaar jare laas gesien het. Kleurryke volksdrag het ’n internasionale atmosfeer aan die vreugdevolle skare verleen. Iets buitengewoons was ongetwyfeld aan die gang.

Toe die program om 10:00 vm. begin, was daar nie meer sitplekke oor nie, maar honderde mense het nog elke minuut opgedaag. Waar ’n mens ook al gekyk het, het jy ’n menigte glimlaggende gesigte gesien. Duisende het óf bly staan óf op die sementvloer gesit. In die gees van die byeenkomstema het baie jongmense uit liefde opgestaan sodat die bejaardes kon sit. “Hoe bly was ons tog om ons sitplekke aan broers en susters af te staan wat ons nie geken het nie, maar wat so na aan ons hart is!” het een egpaar geskryf. Baie het ’n uitstekende selfopofferende gesindheid aan die dag gelê: “Ons het die hele dag langs die stoele gestaan wat ons Vrydag dwarsdeur die nag help uitpak het. Maar net om teenwoordig te wees, het ons met dankbaarheid teenoor Jehovah gevul.”

Ten spyte van moegheid of ongerief het die byeenkomsgangers aandagtig geluister na die verslae van ander lande en na toesprake deur Lloyd Barry en Daniel Sydlik, wat ook ’n lid van die Bestuursliggaam is. Broer Barry het die onderwerp “Jehovah vermenigvuldig sterkte” bespreek, en hy het ’n duidelike uiteensetting gegee van hoe Jehovah sy volk met vermeerdering geseën het ten spyte van allerhande beproewinge. Die titel van broer Sydlik se toespraak was “Gelukkig is die volk wie se God Jehovah is!” Albei toesprake was veral tydig in die lig van die teenstand wat Jehovah se Getuies tans in Frankryk ondervind. Broer Sydlik het getoon dat ware geluk nie van eksterne faktore afhanklik is nie, maar van ons verhouding met Jehovah en ons gesindheid teenoor die lewe. Sy vraag aan die gehoor: “Is julle gelukkig?” is met dawerende applous beantwoord.

Een suster wat “haar vreugde verloor” het, het ná die tyd geskryf: “Skielik het ek besef dat geluk binne my bereik is. Ek het my kragte verkeerd ingespan, en deur hierdie toespraak het Jehovah vir my gewys hoe ek moet verander.” ’n Ander broer het gesê: “Nou wil ek hard probeer om Jehovah se hart te verbly. Ek wil nie hê dat enigiets die vreugde moet wegneem wat ek in my binneste begin voel het nie.”

Teen die einde van die vergadering, het die voorsitter met groot entoesiasme die bywoningsyfer aangekondig: 95 888—die grootste samekoms van Jehovah se Getuies in Frankryk tot nog toe!

Ná die slotlied, wat baie met trane van vreugde in hulle oë gesing het, en die slotgebed het die broers met gemengde gevoelens die reis terug huis toe begin. Die hartlike, vriendelike atmosfeer van die vergadering het nie onopgemerk gebly nie. Talle gunstige opmerkings oor die gesindheid van die byeenkomsgangers is deur busbestuurders gemaak. Hulle is ook beïndruk deur die reëlings wat getref is sodat al 953 busse die Uitstallingsentrum binne twee uur kon verlaat sonder ’n enkele verkeersophoping! Die gedrag van die byeenkomsgangers is ook hoog op prys gestel deur die werknemers van die spoorweë en openbare vervoermaatskappye. Talle goeie besprekings het daaruit gevolg, en ’n goeie getuienis is gegee.

“’n Oase in die woestyn”

Die apostel Paulus het mede-Christene aangespoor: “Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en voortreflike werke aan te spoor en . . . mekaar aanmoedig, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom” (Hebreërs 10:24, 25). Hierdie spesiale vergadering was beslis ’n bron van groot aanmoediging vir almal, “’n oase in die woestyn” soos een suster dit beskryf het. “Ons het aangevuur, aangemoedig, versterk en meer vasbeslote as ooit om ons in Jehovah se diens te verheug daar weggegaan”, het broers van die Togo-takkantoor geskryf. “Diegene wat terneergedruk was, het met gelukkige harte huis toe gegaan”, het een kringopsiener gesê. “Die broers is aangespoor en versterk”, het ’n ander kringopsiener gesê. “Nog nooit het ons so na aan Jehovah se organisasie gevoel nie”, is een egpaar beweeg om te skryf.

“My voet staan op gelyk grond; ek sal die HERE loof in die vergaderings”, het die psalmis uitgeroep (Psalm 26:12). Sulke Christelike samekomste stel almal in staat om weer ’n vaste geestelike vastrapplek te kry ondanks struikelblokke. “Ongeag wat die beproewinge is”, het een suster bevestig, “hierdie spesiale oomblikke is diep in ons harte gegraveer en sal altyd daar wees om ons te bemoedig.” In ’n soortgelyke trant het ’n reisende opsiener geskryf: “Wanneer tye moeilik raak, sal die herinnering aan hierdie voorsmaak van die Paradys ons help om die mas op te kom.”

“Gee aan die HERE, o geslagte van die volke, gee aan die HERE eer en sterkte”, spoor Psalm 96:7 aan. Die toewyding van die nuwe takkantoorfasiliteite in Frankryk is ongetwyfeld ’n klinkende oorwinning vir Jehovah. Net hy kon die verwesenliking van die projek ten spyte van sulke hardnekkige en grootskaalse teenkanting teweeggebring het. Jehovah se Getuies in Frankryk is meer vasbeslote as ooit om ‘in die liefde van Christus te bly’ en om ‘hulle lig te laat skyn’ (Johannes 15:9; Matteus 5:16). Almal wat die toewydingsprogram bygewoon het, is dit heeltemal eens met die psalmis: “Dit het van die HERE gekom; dit is wonderbaar in ons oë.”—Psalm 118:23.

[Prent op bladsy 26]

Lloyd Barry

[Prent op bladsy 26]

Daniel Sydlik

[Prent op bladsy 26]

95 888 het die spesiale program by die Villepinte-uitstallingsentrum bygewoon

[Prente op bladsy 28]

Duisende wat dit bygewoon het, het óf gestaan óf op die vloer gesit en luister

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel