Heg groot waarde aan heilige diensvoorregte
HEILIGE dienstoewysings moet nie geringgeskat word nie. Toe die priesters in eertydse Judea ’n onverskillige gesindheid teenoor hulle voorregte in verband met Jehovah se tempel geopenbaar het, het hy hulle streng tereggewys (Maleagi 1:6-14). En toe party in Israel die Nasireërs aangespoor het om die verantwoordelikhede wat hulle aanvaar het met betrekking tot hulle heilige diens lig op te neem, het Jehovah daardie sondige Israeliete bestraf (Amos 2:11-16). Ware Christene verrig ook heilige diens, en hulle neem dit ernstig op (Romeine 12:1). Hierdie heilige diens het baie fasette, en al hierdie fasette is belangrik.
Terwyl Jesus nog saam met sy volgelinge op die aarde was, het hy hulle opgelei om verkondigers van God se Koninkryk te wees. Mettertyd sou hulle boodskap die uithoeke van die aarde bereik (Matteus 28:19, 20; Handelinge 1:8). Hierdie predikingswerk het gedurende die laaste dae van die huidige stelsel van dinge selfs dringender geword.
Al Jehovah se Getuies neem aan hierdie werk deel. Honderdduisende put vreugde daaruit om dit as pioniers te doen. Om belangrike behoeftes in die wêreldwye werk te vervul, het duisende hulle beskikbaar gestel vir spesiale voltydse diens by Bethel, in die reisende werk as kring- en streekopsieners of in die sendingdiens. Wat behels dit in die geval van diegene wat wil aanhou met sulke spesiale diens?
Wanneer daar dringende behoeftes in die familie is
Voordat iemand die spesiale voltydse diens betree, moet hy gewoonlik sekere veranderinge in sy omstandighede aanbring. Nie almal kan dit doen nie. Skriftuurlike verpligtinge wat iemand reeds het, kan dit onmoontlik maak. Maar wat gebeur wanneer diegene wat reeds in die spesiale diens is voor dringende behoeftes in die familie te staan kom, wat miskien hulle bejaarde ouers raak? Bybelbeginsels en raad soos die volgende voorsien nuttige riglyne.
Ons hele lewe moet om ons verhouding met Jehovah draai (Prediker 12:13; Markus 12:28-30). Heilige dinge wat aan ons sorg toevertrou is, moet waardeer word (Lukas 1:74, 75; Hebreërs 12:16). By een geleentheid het Jesus vir ’n man wat sy prioriteite moes verander, gesê dat hy heeltemal betrokke moet raak by die verkondiging van die Koninkryk van God. Die man was blykbaar van plan om hierdie bedrywigheid uit te stel tot ná sy vader gesterf het (Lukas 9:59, 60). Daarenteen het Jesus die verkeerde denke veroordeel van enigiemand wat beweer het dat hy alles aan God gewy het en dan nie “’n enkele ding vir sy vader of sy moeder doen nie” (Markus 7:9-13). Die apostel Paulus het ook getoon watter ernstige verantwoordelikheid dit is om vir ‘dié wat joune is’ te sorg, waaronder jou ouers en grootouers.—1 Timoteus 5:3-8.
Beteken dit dat diegene wat in die spesiale diens is hulle toewysings moet verlaat om versorgers te word wanneer dringende behoeftes ontstaan? Baie faktore het ’n invloed op die antwoord. Dit is ’n persoonlike besluit (Galasiërs 6:5). Baie het al gevoel dat dit verstandiger sal wees om by hulle ouers te wees en hulle die nodige hulp te gee, al lê hulle toewysing hulle na aan die hart. Waarom? Die behoefte was dalk kritiek, daar was dalk geen ander gesinslede wat kon help nie of die plaaslike gemeente kon nie doen wat nodig was nie. Party kon as pioniers dien terwyl hulle sulke hulp gee. Ander kon weer hulle spesiale voltydse diens voortsit nadat daar na die situasie in hulle familie omgesien is. Maar in baie gevalle was dit moontlik om die situasie op ander maniere te hanteer.
Hulle aanvaar hulle verantwoordelikheid
Wanneer ernstige behoeftes ontstaan het, kon party in die spesiale voltydse diens aan daardie behoeftes aandag skenk sonder om hulle toewysing te verlaat. Beskou net ’n paar voorbeelde.
Een egpaar wat by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies dien, het hulle Betheldiens in 1978 begin, nadat hulle ook alreeds kring- en streekwerk gedoen het. Die broer se toewysing behels groot verantwoordelikhede in die teokratiese organisasie. Maar sy ouers het ook hulp nodig gehad. Hierdie Bethelegpaar het hulle ouers drie of vier keer elke jaar gaan besoek om hulle te gaan versorg—’n heen-en-terug-reis van sowat 3500 kilometer. Hulle het self ’n huis gebou om in die ouers se behoeftes te voorsien. Daar was al besoeke om met mediese noodgevalle te help. Hulle gebruik al sowat 20 jaar lank feitlik al hulle vakansietyd om na hierdie verantwoordelikheid om te sien. Hulle is lief vir hulle ouers en eer hulle, maar hulle stel ook hulle heilige diensvoorregte hoog op prys.
’n Ander broer was al 36 jaar in die reisende werk toe hy te staan gekom het voor wat hy as een van die grootste uitdagings in sy lewe beskryf. Sy 85-jarige skoonma, ’n getroue kneg van Jehovah, moes by iemand woon wat haar kon help. Destyds het die meeste van haar kinders gevoel dat dit nie gerieflik sou wees om haar by hulle te laat woon nie. Een van die familielede het vir die reisende opsiener gesê dat hy en sy vrou daardie diens moet verlaat en namens die gesin na die moeder moet omsien. Maar die egpaar het nie hulle kosbare diens laat vaar nie, en het ook nie die behoeftes van die moeder verontagsaam nie. Die volgende nege jaar was sy die meeste van die tyd saam met hulle. Hulle het eers in ’n woonwa gewoon, en toe in verskeie woonstelle wat deur die kringe voorsien is. Die broer, wat toe ’n streekopsiener was, was lank weg op reise om na sy toewysing om te sien terwyl sy vrou by haar moeder gebly het om liefdevolle, voltydse sorg te voorsien. Elke week ná die vergaderinge op Sondag het die man die lang reis huis toe gemaak om hulle te gaan help. Baie mense wat bewus was van die situasie het groot waardering uitgespreek vir wat hierdie egpaar gedoen het. Mettertyd is ander familielede ook beweeg om hulp te verskaf. Duisende van Jehovah se volk vind steeds baat by die diens van daardie selfopofferende egpaar omdat hulle vasgehou het aan hulle voorreg van die spesiale voltydse diens.
Met samewerking van die familie
Wanneer verskillende familielede die waarde van die spesiale voltydse diens waardeer, kan hulle saamwerk sodat ten minste party van hulle daaraan ’n deel kan hê.
So ’n gees van samewerking in die familie het ’n Kanadese egpaar gehelp wat as sendelinge in Wes-Afrika dien. Hulle het nie gewag totdat daar ’n noodsituasie is en net gehoop dat niks sou gebeur nie. Voordat hulle ter voorbereiding vir buitelandse diens na die Wagtoring-Bybelskool Gilead gegaan het, het die man met sy jonger broer die versorging van hulle moeder bespreek as sy siek of gestremd sou raak. Die jonger broer het uit liefde vir hulle moeder asook waardering vir die waarde van sendingwerk gesê: “Ek het nou ’n gesin en kinders. Ek kan nie baie ver gaan en die dinge doen wat jy kan doen nie. As enigiets dus met Ma gebeur, sal ek vir haar sorg.”
’n Egpaar wat in Suid-Amerika dien, het baie samewerking van die vrou se familie ontvang om na haar bejaarde moeder om te sien. Haar een suster en swaer het vir die moeder gesorg totdat die suster ’n terminale siekte opgedoen het. Wat het toe gebeur? Om enige bekommernis uit die weg te ruim, het die swaer geskryf: “So lank as wat ek en die kinders lewe, sal julle nooit julle sendingdiens hoef te verlaat nie.” Verdere hulp het van die familie gekom toe ’n ander suster en haar man hulle huis verkoop het en verhuis het na waar die moeder woon om haar te versorg, en hulle het dit gedoen tot haar dood. Wat ’n pragtige gees van samewerking! Hulle almal het gehelp om die sendingdiens te ondersteun.
Ouers wat vryelik aan Jehovah gee
Ouers toon dikwels uitsonderlike waardering vir heilige diens. Van die kosbaarste besittings waarmee hulle Jehovah kan eer, is hulle eie kinders (Spreuke 3:9, vgl. NW). Baie Christenouers moedig hulle kinders aan om die voltydse diens te betree. En party van hulle voel soos Hanna, wat haar seun Samuel “vir altyd”, met ander woorde “al die dae wat hy leef”, aan Jehovah vir Sy diens gegee het.—1 Samuel 1:22, 28.
Een so ’n ouer het aan haar dogter in Afrika geskryf: “Ons dank Jehovah vir die wonderlike voorreg wat jy het. Ons kon vir niks beters gehoop het nie.” En by ’n ander geleentheid het sy gesê: “Dit is waar dat ons die opoffering moet maak om ver van mekaar af te wees, maar wat ’n vreugde is dit tog om te sien hoe Jehovah vir jou sorg!”
Nadat ’n sendeling in Ecuador die verskillende situasies beskryf het wat ontstaan het terwyl hy noodsaaklike sorg vir sy bejaarde ouers moes voorsien, het hy geskryf: “Ek dink dat die grootste hulp wat ek en my vrou ontvang het my pa se gebede was. Ná sy dood het my ma vir ons vertel: ‘Daar het nooit ’n dag verbygegaan dat julle pa nie tot Jehovah gebid het om albei van julle toe te laat om in julle toewysing te bly nie.’”
’n Bejaarde egpaar in Kalifornië, VSA, was bly dat een van hulle seuns in die voltydse diens was. Daardie seun en sy vrou was in Spanje toe die moeder gesterf het. Ander familielede het gemeen dat reëlings getref moes word om vir die vader te sorg. Omdat hulle besig was met sekulêre werk en die grootmaak van hulle kinders het hulle nie gevoel dat hulle daardie verantwoordelikheid kon aanvaar nie. Hulle het die egpaar wat in die spesiale voltydse diens was eerder ernstig aangeraai om terug te kom huis toe en vir die vader te sorg. Maar al was die vader 79 jaar oud het hy nog goeie gesondheid geniet, en hy het ook helder geestelike visie gehad. Nadat verskeie familielede hulle by ’n familievergadering uitgespreek het, het die vader opgestaan en ferm gesê: “Ek wil hê dat hulle na Spanje moet terugkeer en aanhou werk.” Hulle het, maar hulle het hom ook op tasbare maniere gehelp. Hulle huidige toewysing is in die kringwerk in Spanje. Sedert daardie familievergadering het ander familielede hulle waardering getoon vir wat die egpaar in die buitelandse diens doen. Ná ’n paar jaar het een van die ander seuns die vader by sy huis ingeneem sodat hy vir hom kan sorg totdat hy sterf.
In Pennsilvanië, VSA, was ’n gesalfde broer wat meer as 40 jaar in die pionierdiens was al oor die 90 jaar oud toe sy vrou ernstig siek geword en gesterf het. Hy het ’n seun en drie dogters gehad, sowel as talle geestelike kinders. Een van sy dogters was al meer as 40 jaar in die voltydse diens, en het saam met haar man as ’n sendeling, in die reisende werk en by Bethel gedien. Sy het gehelp om reëlings te tref sodat haar vader gepaste versorging kon ontvang. Die plaaslike broers het ook gehelp deur hom na die vergaderinge by die Koninkryksaal te neem. Later, nadat haar man gesterf het, het sy haar vader gevra of hy wou hê dat sy Bethel moet verlaat om vir hom te sorg. Hy het groot waarde aan heilige dinge geheg, en hy het gevoel dat daar op ander maniere na sy behoeftes omgesien kan word. Hy het dus geantwoord: “Dit sal die ergste ding wees wat jy kan doen, en dit sal nog erger wees as ek jou toelaat om dit te doen.”
Gemeentes wat ondersteuning gee
Party gemeentes was baie behulpsaam met die versorging van die bejaarde ouers van diegene wat in die spesiale voltydse diens is. Hulle waardeer veral diegene wat baie jare aan hierdie diens gewy het. Hoewel hulle nie hulle skriftuurlike verantwoordelikheid van hulle kan wegneem nie, doen hierdie gemeentes baie om die vrag lig genoeg te maak dat dit moontlik nie nodig sal wees vir die kinders om hulle spesiale toewysings te verlaat nie.
’n Egpaar van Duitsland was al ongeveer 17 jaar in hulle buitelandse toewysing, waarvan ’n groot deel in die reisende werk was, toe sy bejaarde moeder skielik meer hulp nodig gehad het. Hulle het elke jaar hulle vakansie gebruik om haar te help. Getuiebure het ook liefdevolle bystand verleen. Eenkeer toe die egpaar in voltydse diens gedurende ’n kritieke tyd by sy moeder was, het die ouer manne van die plaaslike gemeente gereël om met hulle te vergader. Hulle was deeglik bewus van wat die egpaar op ’n gereelde grondslag vir die moeder gedoen het. Hulle het ook waardering gehad vir die spesiale voltydse diens waaraan die egpaar deelgeneem het. Die ouer manne het dus ’n voorgestelde program vir die versorging van die moeder voorgelê en toe gesê: “Julle kan nie méér vir haar doen as wat julle tans doen nie; ons sal julle help sodat julle in julle toewysing in Spanje kan bly.” Die laaste sewe jaar al doen hierdie ouer manne dit.
’n Broer wat sedert 1967 in Senegal dien, het eweneens baie liefdevolle ondersteuning ontvang van die gemeente waar sy vader is. Toe ’n krisis ontstaan het, het die man, met die gewillige ondersteuning van sy liefdevolle vrou, alleen na die Verenigde State gereis om sy ouers te help. Hy het dit nodig gevind om etlike maande daar te bly. Dit was ’n moeilike situasie, maar toe hy gedoen het wat hy kon, het die gemeente ingetree en gehelp sodat hy sy sendingdiens kon voortsit. Gedurende ’n tydperk van ongeveer 18 jaar het die gemeente op talle maniere liefdevolle hulp voorsien; eerstens vir die vader (al het hy baie van hulle nie meer herken nie) en toe vir die moeder. Het dit die seun van sy verantwoordelikheid onthef? Nee; hy het dikwels van Senegal gereis en sy vakansie gebruik om al die hulp te gee wat hy kon. Maar baie in daardie gemeente het die vreugde gehad om te weet dat hulle help om ’n hardwerkende egpaar in die spesiale voltydse diens in Senegal te hou.
Jesus het gesê dat diegene wat alles ter wille van die goeie nuus verlaat honderd keer soveel broers, susters, moeders en kinders sou kry (Markus 10:29, 30). Dit is beslis waar onder Jehovah se knegte. ’n Egpaar wat nou in Benin, Wes-Afrika, dien, het dit op ’n spesiale manier ondervind toe twee Getuies in hulle ouers se gemeente vir hulle gesê het om hulle nie oor hulle ouers te bekommer nie. Hulle het bygevoeg: “Julle ouers is ook ons ouers.”
Ja, daar is baie maniere waarop ons kan toon dat ons groot waarde aan heilige diensvoorregte heg. Is daar maniere waarop jy dit in ’n selfs groter mate kan doen?
[Prente op bladsy 26]
Hulle het hulle vir die spesiale voltydse diens beskikbaar gestel