Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 9/1 bl. 8-13
  • Vind veiligheid as deel van God se organisasie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vind veiligheid as deel van God se organisasie
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Jehovah se organisasie
  • Beskerming in God se organisasie—Hoe?
  • Wie is deel van God se organisasie?
  • Vriendskap met die wêreld
  • In eenheid met die Skepper van die universele organisasie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • ‘Maak seker van die belangriker dinge’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • Hou jy tred met Jehovah se organisasie?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
  • Jehovah lei sy organisasie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2020
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 9/1 bl. 8-13

Vind veiligheid as deel van God se organisasie

“Die Naam van Jehovah is ’n sterk toring. Die regverdige hardloop daarin en word beskerm.”—SPREUKE 18:10, NW.

1. In watter moeilike situasie bevind Christene hulle volgens Jesus se gebed?

KORT voordat Jesus gesterf het, het hy ten behoewe van sy volgelinge tot sy hemelse Vader gebid. Hy het met liefdevolle besorgdheid gesê: “Ek het u woord aan hulle gegee, maar die wêreld het hulle gehaat, omdat hulle geen deel van die wêreld is nie, net soos ek geen deel van die wêreld is nie. Ek versoek u nie om hulle uit die wêreld weg te neem nie, maar om oor hulle te waak weens die bose” (Johannes 17:14, 15). Jesus het geweet dat die wêreld ’n gevaarlike plek vir Christene sou wees. Dit sou sy haat teenoor hulle openbaar deur leuens oor hulle te vertel en hulle te vervolg (Matteus 5:11, 12; 10:16, 17). Dit sou ook ’n bron van korrupsie wees.—2 Timoteus 4:10; 1 Johannes 2:15, 16.

2. Waar kan Christene ’n plek van geestelike veiligheid vind?

2 Die wêreld waardeur Christene gehaat sou word, bestaan uit diegene wat van God vervreemd en onder Satan se beheer is (1 Johannes 5:19). Hierdie wêreld is baie groter as die Christengemeente, en Satan self is baie magtiger as enige mens. Die wêreld se haat is gevolglik ’n werklike gevaar. Waar kan Jesus se volgelinge geestelike veiligheid vind? ’n Verklaring in The Watchtower van 1 Desember 1922 het die antwoord gegee: “Ons is nou in die bose dag. Die stryd tussen Satan se organisasie en God se organisasie het begin. Dit is ’n hewige stryd.” God se organisasie is ’n plek van geestelike veiligheid in hierdie konflik. Die woord “organisasie” verskyn nie in die Bybel nie, en in die twintigerjare was “God se organisasie” ’n nuwe uitdrukking. Wat is hierdie organisasie dus? En hoe kan ons beskerming daarin vind?

Jehovah se organisasie

3, 4. (a) Wat is ’n organisasie volgens een woordeboek en The Watchtower? (b) In watter sin kan die internasionale broederskap van Jehovah se Getuies ’n organisasie genoem word?

3 ’n Organisasie is “’n georganiseerde liggaam”, volgens die Concise Oxford Dictionary. Met dit in gedagte, en met die oog op die feit dat die apostels die eerste-eeuse Christene in plaaslike gemeentes onder die toesig van ’n bestuursliggaam in Jerusalem georganiseer het, is dit gepas om van daardie “gemeenskap van broers” as ’n organisasie te praat (1 Petrus 2:17). Jehovah se Getuies het vandag ’n soortgelyke organisatoriese struktuur. Die eenheid van die eerste-eeuse liggaam is versterk deur “gawes [in die vorm van] mense”, soos “herders en leermeesters”. Sommige van hulle het van gemeente tot gemeente gereis, terwyl ander ouer manne in plaaslike gemeentes was (Efesiërs 4:8, 11, 12; Handelinge 20:28). Soortgelyke “gawes” versterk vandag die eenheid van Jehovah se Getuies.

4 The Watchtower van 1 November 1922 het oor die woord “organisasie” gesê: “’n Organisasie is ’n vereniging van persone wat ’n bepaalde doel nastreef.” Om Jehovah se Getuies ’n organisasie te noem, het The Watchtower verder verduidelik, het hulle nie “’n sekte [gemaak] in die sin wat hierdie woord gebruik word nie, maar dit beteken bloot dat die Bybelstudente [Jehovah se Getuies] God se voornemens probeer uitvoer en dit doen soos die Here alle dinge doen, naamlik op ’n ordelike wyse” (1 Korintiërs 14:33). Die apostel Paulus het getoon dat Christene in sy dag ook ordelik was. Hy het die gesalfde Christenbroederskap vergelyk met die menseliggaam, wat baie dele het, en elke deel vervul sy toegewese rol sodat die liggaam behoorlik kan funksioneer (1 Korintiërs 12:12-26). Dit is ’n uitstekende illustrasie van hoe ’n organisasie werk! Waarom was Christene georganiseerd? Om “God se voornemens” uit te voer, om Jehovah se wil te doen.

5. Wat is God se sigbare organisasie?

5 Die Bybel het voorspel dat ware Christene vandag verenig sou wees en as een “nasie” in een “land” bymekaargebring sou word, waar hulle “as ligte in die wêreld [sou] skyn” (Jesaja 66:8; Filippense 2:15). Hierdie georganiseerde “nasie” bestaan nou uit meer as vyf en ’n half miljoen lede (Jesaja 60:8-10, 22). Maar God se organisasie bestaan nie net uit hulle nie. Daar is ook engele.

6. Uit wie bestaan God se organisasie in die breedste sin?

6 Daar is baie gevalle van engele wat saam met God se menseknegte gewerk het (Genesis 28:12; Daniël 10:12-14; 12:1; Hebreërs 1:13, 14; Openbaring 14:14-16). Dit is derhalwe gepas dat The Watchtower van 15 Mei 1925 gesê het: “Alle heilige engele is deel van God se organisasie.” Dit het ook gesê: “Aan die hoof van God se organisasie [is] die Here Jesus Christus, die een met al die mag en gesag” (Matteus 28:18). In die breedste sin bestaan God se organisasie dus uit almal in die hemel en op die aarde wat saamwerk om God se wil te doen. (Sien venster.) Wat ’n wonderlike voorreg is dit tog om deel hiervan te wees! En wat ’n vreugde is dit tog om uit te sien na die tyd wanneer alle lewende skepsele, in die hemel en op die aarde, georganiseerd sal wees om Jehovah God in eenheid te loof! (Openbaring 5:13, 14). Maar watter beskerming bied God se organisasie vandag?

Beskerming in God se organisasie—Hoe?

7. Hoe beskerm God se organisasie ons?

7 God se organisasie kan ons teen Satan en sy sette help beskerm (Efesiërs 6:11). Satan oefen druk op Jehovah se aanbidders uit en vervolg en versoek hulle met net een doelwit voor oë: om hulle te laat afdwaal van ‘die weg wat hulle moet gaan’. (Jesaja 48:17; vergelyk Matteus 4:1-11.) Ons kan daardie aanvalle nooit in hierdie stelsel van dinge heeltemal vermy nie. Maar ons hegte verhouding met God en sy organisasie versterk en beskerm ons en help ons sodoende om op “die weg” te bly. Gevolglik word ons nie in ons hoop teleurgestel nie.

8. Hoe ondersteun Jehovah se onsigbare organisasie sy aardse knegte?

8 Hoe bied God se organisasie hierdie beskerming? Eerstens het ons die getroue ondersteuning van Jehovah se geesknegte. Toe Jesus onder intense druk verkeer het, het ’n engel hom bedien (Lukas 22:43). Toe Petrus se lewe in gevaar was, is hy wonderbaarlik deur ’n engel gered (Handelinge 12:6-11). Hoewel daar nie vandag sulke wonderwerke is nie, is die belofte aan Jehovah se volk gegee dat engele hulle in hulle predikingswerk sal ondersteun (Openbaring 14:6, 7). Hulle het dikwels krag wat bo die normale is wanneer hulle voor moeilike situasies te staan kom (2 Korintiërs 4:7). Daarbenewens weet hulle dat ‘die engel van die HERE ’n laer trek rondom die wat Hom vrees, en hulle red’.—Psalm 34:8.

9, 10. Hoe kan daar gesê word dat ‘die Naam van Jehovah ’n sterk toring is’, en hoe is hierdie beginsel van toepassing op God se organisasie in sy geheel?

9 Jehovah se sigbare organisasie is ook ’n beskerming. Hoe? In Spreuke 18:10 (NW) lees ons: “Die Naam van Jehovah is ’n sterk toring. Die regverdige hardloop daarin en word beskerm.” Dit impliseer nie dat die blote herhaling van God se naam beskerming bied nie. Om beskerming in God se naam te vind, beteken eerder dat ons op Jehovah self vertrou (Psalm 20:2; 122:4). Dit beteken dat ons sy soewereiniteit ondersteun, sy wette en beginsels gehoorsaam en geloof in sy beloftes stel (Psalm 8:2-10; Jesaja 50:10; Hebreërs 11:6). Dit sluit in dat ons Jehovah uitsluitlike toegewydheid gee. Slegs diegene wat Jehovah op hierdie manier aanbid, kan saam met die psalmis sê: “Ons hart is bly in [Jehovah], omdat ons op sy heilige Naam vertrou.”—Psalm 33:21; 124:8.

10 Almal in God se sigbare organisasie sê nou saam met Miga: “Óns sal wandel in die Naam van [Jehovah, NW] onse God vir ewig en altoos” (Miga 4:5). “Die Israel van God”, wat in die Bybel “’n volk vir sy naam” genoem word, is die kern van die hedendaagse organisasie (Galasiërs 6:16; Handelinge 15:14; Jesaja 43:6, 7; 1 Petrus 2:17). Om deel van Jehovah se organisasie te wees, beteken dus om deel te wees van ’n volk wat beskerming in God se naam soek en ontvang.

11. Op watter spesifieke maniere bied Jehovah se organisasie beskerming vir diegene wat deel is daarvan?

11 Daarbenewens is God se sigbare organisasie ’n gemeenskap van geloof, ’n groep medegelowiges wat mekaar opbou en bemoedig (Spreuke 13:20; Romeine 1:12). Dit is ’n plek waar Christenherders vir die skape sorg, die siekes en terneergedruktes bemoedig en diegene probeer reghelp wat afgedwaal het (Jesaja 32:1, 2; 1 Petrus 5:2-4). “Die getroue en verstandige slaaf” voorsien “voedsel op die regte tyd” deur die organisasie (Matteus 24:45). Daardie “slaaf”, wat uit gesalfde Christene bestaan, voorsien die allerbeste geestelike voedsel—juiste Bybelkennis wat tot die ewige lewe kan lei (Johannes 17:3). Danksy die leiding wat die “slaaf” gee, word Christene gehelp om hoë sedelike standaarde te handhaaf en “versigtig soos slange en tog onskuldig soos duiwe” te wees in die gevaarlike milieu waarin hulle hulle bevind (Matteus 10:16). En hulle word gehelp om altyd “volop [te hê] om in die werk van die Here te doen”, wat op sigself ’n groot beskerming is.—1 Korintiërs 15:58.

Wie is deel van God se organisasie?

12. Wie word as deel van God se hemelse organisasie geïdentifiseer?

12 Wie word by diegene ingesluit wat deel is van God se organisasie, aangesien dit hulle is wat hierdie beskerming geniet? Wat die hemelse organisasie betref, is daar geen twyfel oor die antwoord op hierdie vraag nie. Satan en sy engele is nie meer in die hemel nie. Die getroue engele is daarenteen nog steeds daar “in algemene vergadering”. Die apostel Johannes het gesien dat “die Lam”, die gerubs (“die vier lewende wesens”) en “baie engele” gedurende die laaste dae baie na aan God se troon sal wees. Die 24 ouderlinge sal saam met hulle wees—wat gesalfde Christene afbeeld wat reeds hulle glorieryke hemelse erfenis ontvang het (Hebreërs 12:22, 23; Openbaring 5:6, 11; 12:7-12). Dit is duidelik dat hulle almal deel is van God se organisasie. Onder mense is dit egter nie so eenvoudig nie.

13. Hoe het Jesus diegene geïdentifiseer wat deel is van God se organisasie en diegene wat nie deel daarvan is nie?

13 Jesus het van sommige wat sou beweer dat hulle hom volg, gesê: “Baie sal in daardie dag vir my sê: ‘Here, Here, het ons nie in u naam geprofeteer en in u naam demone uitgedryf en in u naam talle kragtige werke verrig nie?’ En tog sal ek dan openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie! Gaan weg van my, julle werkers van wetteloosheid” (Matteus 7:22, 23). As iemand ’n werker van wetteloosheid is, is hy beslis nie deel van God se organisasie nie, ongeag wat hy sê en ongeag waarheen hy gaan om te aanbid. Jesus het ook getoon hoe iemand geïdentifiseer kan word wat wel deel is van God se organisasie. Hy het gesê: “Nie elkeen wat vir my sê: ‘Here, Here’, sal in die koninkryk van die hemele ingaan nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.”—Matteus 7:21.

14. Watter aspekte van God se wil is verpligtend vir diegene wat deel is van God se organisasie?

14 As ’n mens dus deel van God se organisasie wil wees—waarvan “die koninkryk van die hemele” die kern is—moet jy God se wil doen. Wat is sy wil? Paulus het ’n lewensbelangrike aspek daarvan geïdentifiseer toe hy gesê het: “[God] se wil . . . is dat alle soorte mense gered moet word en tot juiste kennis van die waarheid moet kom” (1 Timoteus 2:4). As iemand werklik probeer om juiste kennis van die Bybel op te doen, dit in sy lewe toe te pas en dit aan “alle soorte mense” te verkondig, doen hy God se wil (Matteus 28:19, 20; Romeine 10:13-15). Dit is ook God se wil dat Jehovah se skape gevoed en versorg word (Johannes 21:15-17). Christelike vergaderinge speel ’n noodsaaklike rol hierin. Iemand wat hierdie vergaderinge kan bywoon, maar dit nie doen nie, het ’n gebrek aan waardering vir sy plek in God se organisasie.—Hebreërs 10:23-25.

Vriendskap met die wêreld

15. Watter waarskuwing het Jakobus aan gemeentes van sy dag gegee?

15 Ongeveer 30 jaar nadat Jesus gesterf het, het sy halfbroer Jakobus van die faktore geïdentifiseer wat ’n mens se plek in God se organisasie in gevaar kan stel. Hy het geskryf: “Egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap met die wêreld vyandskap met God is nie? Elkeen dan wat ’n vriend van die wêreld wil wees, maak homself ’n vyand van God” (Jakobus 4:4). ’n Vyand van God is beslis geen deel van sy organisasie nie. Wat is vriendskap met die wêreld dan? Daar is al verduidelik dat dit verskillende vorme aanneem, soos om skadelike vriendskappe aan te kweek of daarby betrokke te raak. Daarbenewens het Jakobus ’n baie spesifieke saak bespreek—verkeerde geestesgesindhede wat tot verkeerde gedrag lei.

16. Wat was die konteks van Jakobus se waarskuwing dat vriendskap met die wêreld vyandskap met God is?

16 In Jakobus 4:1-3 lees ons: “Uit watter bron kom daar oorloë en uit watter bron kom daar bakleiery onder julle? Kom dit nie uit hierdie bron nie, naamlik uit julle hunkeringe na sinsgenot wat ’n stryd in julle lede voer? Julle begeer, en tog het julle nie. Julle hou aan om moord te pleeg en hebsugtig te begeer, en tog kan julle nie verkry nie. Julle hou aan om te baklei en oorlog te voer. Julle het nie omdat julle nie vra nie. Julle vra wel, en tog ontvang julle nie, want julle vra met ’n verkeerde doel, om dit aan julle hunkeringe na sinsgenot te bestee.” Dit was nadat Jakobus hierdie woorde geskryf het dat hy teen vriendskap met die wêreld gewaarsku het.

17. In watter sin was daar “oorloë” en “bakleiery” in die eerste-eeuse Christengemeente?

17 Eeue ná Jakobus se dood het valse Christene letterlik teen mekaar oorlog gevoer en mekaar vermoor. Maar Jakobus het geskryf aan die eerste-eeuse lede van “die Israel van God”, toekomstige hemelse ‘priesters en konings’ (Openbaring 20:6). Hulle het mekaar nie in letterlike oorloë vermoor of doodgemaak nie. Waarom het Jakobus dan van sulke dinge onder Christene gepraat? Wel, die apostel Johannes het enigeen wat sy broer haat ’n mensemoordenaar genoem. En Paulus het persoonlikheidsgeskille en vetes in die gemeentes “bakleiery” en “twis” genoem (Titus 3:9; 2 Timoteus 2:14; 1 Johannes 3:15-17). Jakobus het blykbaar ook ’n versuim om mede-Christene lief te hê in gedagte gehad. Christene het mekaar behandel soos mense in die wêreld mekaar dikwels behandel.

18. Wat kan tot liefdelose dade en gevoelens onder Christene lei?

18 Waarom het sulke dinge in Christengemeentes gebeur? Weens verkeerde gesindhede, soos hebsug en “hunkeringe na sinsgenot”. Trotsheid, jaloesie en ambisie kan ook die liefdevolle Christelike omgang in ’n gemeente versteur (Jakobus 3:6, 14). Sulke gesindhede maak ’n mens ’n vriend van die wêreld en gevolglik ’n vyand van God. Niemand wat sulke gesindhede koester, kan verwag om deel van God se organisasie te bly nie.

19. (a) Wie se skuld is dit hoofsaaklik as ’n Christen vind dat verkeerde denke in sy hart wortelskiet? (b) Hoe kan ’n Christen verkeerde denke oorkom?

19 Vir wie kan ons die skuld gee as ons vind dat verkeerde denke in ons hart wortelskiet? Satan? In ’n sekere mate, ja. Hy is “die heerser van die gesag van die lug” van hierdie wêreld, waarin sulke gesindhede algemeen is (Efesiërs 2:1, 2; Titus 2:12). Maar gewoonlik is die bron van verkeerde denke ons eie onvolmaakte vlees. Nadat Jakobus teen vriendskap met die wêreld gewaarsku het, het hy geskryf: “Of meen julle dat die Skrifgedeelte verniet sê: ‘Dit is met ’n neiging tot afguns dat die gees wat hom in ons gevestig het, bly verlang’?” (Jakobus 4:5). Ons almal het ’n ingebore neiging om verkeerd te doen (Genesis 8:21; Romeine 7:18-20). Ons kan egter daardie neiging weerstaan as ons ons swakhede erken en op Jehovah se hulp staat maak om dit te oorkom. Jakobus sê: “Die onverdiende goedhartigheid wat [God] gee, is egter groter [as ons ingebore neiging tot afguns]” (Jakobus 4:6). Danksy die hulp van God se heilige gees en die ondersteuning van getroue Christenbroers, asook deur die waarde van Jesus se losprysofferande, word getroue Christene nie oorwin deur die swakhede van hulle vlees nie (Romeine 7:24, 25). Hulle is veilig in God se organisasie, vriende van God, nie van die wêreld nie.

20. Watter ryk seëninge geniet diegene wat deel is van God se organisasie?

20 Die Bybel belowe: “Die HERE sal sy volk sterkte gee, die HERE sal sy volk seën met vrede” (Psalm 29:11). As ons werklik deel is van Jehovah se hedendaagse “nasie”, sy sigbare organisasie, sal ons van die sterkte ontvang wat hy gee en die vrede geniet waarmee hy sy volk seën. Satan se wêreld is weliswaar baie groter as Jehovah se sigbare organisasie, en Satan is baie sterker as ons. Maar Jehovah is die Almagtige. Sy werkende krag is onoorwinlik. Sy magtige engele is ook verenig met ons in God se diens. Ons kan dus standvastig bly, ondanks die haat waarvoor ons te staan kom. Soos Jesus kan ons die wêreld oorwin.—Johannes 16:33; 1 Johannes 4:4.

Kan jy verduidelik?

◻ Wat is God se sigbare organisasie?

◻ Op watter maniere bied God se organisasie beskerming?

◻ Wie is deel van God se organisasie?

◻ Hoe kan ons voorkom dat ons vriende van die wêreld word?

[Venster op bladsy 9]

Wat is God se organisasie?

In die lektuur van Jehovah se Getuies word die uitdrukking “God se organisasie” op drie maniere gebruik.

1 Jehovah se hemelse, onsigbare organisasie wat uit getroue geesskepsele bestaan. In die Bybel word dit “Jerusalem daarbo” genoem.—Galasiërs 4:26.

2 Jehovah se menslike, sigbare organisasie. Dit bestaan vandag uit die gesalfde oorblyfsel saam met die groot skare wat by hulle aangesluit het.

3 Jehovah se universele organisasie. Dit sluit vandag Jehovah se hemelse organisasie tesame met sy gesalfde, aangenome seuns op aarde in, wat ’n geestelike hoop het. Dit sal mettertyd ook volmaakte mense op aarde insluit.

[Prent op bladsy 10]

Die beste geestelike voedsel word deur Jehovah se organisasie voorsien

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel