Bet-el—’n stad van goed en sleg
PARTY stede raak bekend—of berug—weens gebeure wat daar plaasvind. Bet-el is egter ongewoon in die sin dat dit bekend geraak het weens goeie sowel as slegte dinge. Die aartsvader Jakob het die stad Bet-el genoem, wat “Huis van God” beteken. Maar duisend jaar later het die profeet Hosea die stad die “Huis van Skadelikheid” genoem. Hoe het hierdie stad van goed na sleg verander? En wat kan ons uit sy geskiedenis leer?
Bet-el se verbintenis met God se volk het in 1943 v.G.J. begin toe Abraham nog gelewe het. Destyds het die stad as Lus, sy oorspronklike Kanaänitiese naam, bekend gestaan. Dit was in die heuwelland sowat 17 kilometer noord van Jerusalem geleë. Stel jou voor hoe Abraham en sy neef Lot oor die vrugbare vlaktes van die Benede-Jordaanvallei afgekyk het van ’n uitkykpunt hoog in die berge rondom Bet-el. Abraham noem taktvol vir Lot dat dit moeilik gaan wees om te besluit wie se kuddes waar gaan wei: “Laat daar tog geen twis wees tussen my en jou, en tussen my wagters en jou wagters nie; ons is mos broers. Lê die hele land nie voor jou oop nie? Skei jou tog van my af; gaan jy links, dan sal ek regs gaan, en gaan jy regs, dan sal ek links gaan.”—Genesis 13:3-11.
Abraham het nie op sy reg gestaan om eerste te kies nie. Hy het eerder die jonger man toegelaat om die beste stuk land te kies. Ons kan Abraham se goeie gesindheid navolg. Ons kan geskille ontlont deur die inisiatief te neem en kalm te praat en onselfsugtig op te tree.—Romeine 12:18.
Jare later toe Abraham se kleinseun Jakob by Lus kamp opgeslaan het, het hy ’n buitengewone droom gehad. Hy het “’n leer op die aarde opgerig [gesien] waarvan die spits tot aan die hemel reik, terwyl die engele van God daarlangs opgeklim en daarlangs neergedaal het. En kyk, die HERE het bo-aan gestaan”. (Genesis 28:11-19; vergelyk Johannes 1:51.) Die droom het ’n belangrike betekenis gehad. Die engele wat deur Jakob gesien is, sou hom bedien ter vervulling van die belofte wat God aan hom gemaak het in verband met sy saad. Jehovah se verhewe posisie bo die leer het getoon dat hy die engele in hierdie werk sou rig.
Hierdie versekering van Goddelike ondersteuning het Jakob diep geraak. Toe hy ná die droom wakker word, het hy die plek Bet-el genoem, wat “Huis van God” beteken, en hy het ’n gelofte aan Jehovah gedoen: “Van alles wat U my gee, sal ek aan U sekerlik die tiendes afstaan” (Genesis 28:20-22).a Omdat hy erken het dat alles wat hy het van God af gekom het, wou hy ’n goeie deel daarvan as ’n blyk van sy dankbaarheid teruggee.
Christene het vandag ook engele wat ten behoewe van hulle dien (Psalm 91:11; Hebreërs 1:14). Hulle kan ook hulle waardering vir al hulle seëninge toon deur “ryk te wees aan baie dankbetuigings aan God”.—2 Korintiërs 9:11, 12.
Mettertyd het Jakob se nakomelinge ’n nasie geword. Hulle leier Josua het die heidense koning van Bet-el betreklik vroeg gedurende die verowering van Kanaän verslaan (Josua 12:16). Gedurende die tyd van die Rigters het die profetes Debora naby Bet-el gewoon en Jehovah se woord aan die volk bekend gemaak. Ook Samuel het Bet-el gereeld besoek toe hy die nasie van Israel gerig het.—Rigters 4:4, 5; 1 Samuel 7:15, 16.
Bet-el word ’n sentrum van afvalligheid
Maar Bet-el se verbintenis met rein aanbidding het opgehou ná die verdeling van die Koninkryk in 997 v.G.J. Koning Jerobeam het Bet-el as ’n sentrum van kalfaanbidding ingerig; die kalf was veronderstel om Jehovah te verteenwoordig (1 Konings 12:25-29). Dit is waarom Hosea, toe hy aangaande Bet-el se vernietiging geprofeteer het, daarna verwys het as “Bet-Awen”, wat “Huis van Skadelikheid” beteken.—Hosea 10:5, 8.
Hoewel Bet-el ’n sentrum van geestelike skadelikheid geword het, het gebeure wat daarmee geassosieer is steeds waardevolle lesse voorsien (Romeine 15:4). Een van hierdie lesse het te doen met ’n naamlose profeet wat van Juda na Bet-el gestuur is om die vernietiging van sy altare en priesters te voorspel. Jehovah het ook vir hom gesê om na Juda—net ’n paar kilometer na die suide—terug te keer sonder om te eet of te drink. Hierdie profeet het moedig ’n profesie voor Jerobeam, die koning van Israel, geuiter en kwaad uitgespreek oor die altaar van Bet-el. Maar toe was hy ongehoorsaam aan God deur by die huis van ’n ou profeet in Bet-el te eet. Waarom? Die ou profeet het valslik beweer dat ’n engel van Jehovah hom beveel het om gasvryheid aan ’n medeprofeet te betoon. Die ongehoorsaamheid van die profeet van Juda het tot sy ontydige dood gelei.—1 Konings 13:1-25.
Hoe moet ons reageer wanneer ’n medeaanbidder voorstel dat ons iets doen wat twyfelagtig lyk? Onthou dat selfs welmenende raad skadelik kan wees as dit verkeerd is. (Vergelyk Matteus 16:21-23.) Deur gebed en ’n studie van Jehovah se Woord kan ons sy leiding verkry en sodoende die tragiese fout van die naamlose profeet vermy.—Spreuke 19:21; 1 Johannes 4:1.
Sowat 150 jaar later het die profeet Amos ook ’n reis noordwaarts onderneem om teen Bet-el te profeteer. Amos het ’n skerp oordeel uitgespreek oor sy vyandige gehoor, onder andere die priester Amasia, wat hoogmoedig vir Amos gesê het om ‘na die land Juda te vlug’. Maar Amos het vreesloos vir Amasia vertel van die onheil wat die priester se eie huisgesin sou tref (Amos 5:4-6; 7:10-17). Sy voorbeeld herinner ons daaraan dat Jehovah sy nederige bedienaars moed kan gee.—1 Korintiërs 1:26, 27.
Uiteindelik het die getroue koning Josia van Juda ‘die altaar wat in Bet-el was, afgebreek, die hoogte verbrand, dit tot stof vermaal, en die heilige boomstam verbrand’ (2 Konings 23:15, 16). Hedendaagse ouer manne kan sy goeie voorbeeld navolg deur ywerig God se instruksies deur te voer en die leiding daarin te neem om die gemeente rein te hou.
Hierdie gebeure in Bet-el se geskiedenis toon duidelik wat die gevolge is van regverdigheid en goddeloosheid, van gehoorsaamheid en ongehoorsaamheid aan Jehovah. Jare vroeër het Moses hierdie keuse voor die nasie Israel gestel: “Ek het jou vandag voorgehou die lewe en die geluk, en die dood en die ongeluk” (Deuteronomium 30:15, 16). Wanneer ons oor Bet-el se geskiedenis peins, moedig dit ons aan om ons met die “Huis van God”, ’n plek van ware aanbidding, te identifiseer, en nie met die “Huis van Skadelikheid” nie.
[Voetnoot]
a Jakob sowel as Abraham het vrywillig tiendes gegee.
[Prent op bladsy 23]
Puinhope op die terrein van Bet-el, waar Jeroboam ’n sentrum vir kalfaanbidding opgerig het