Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 9/15 bl. 21-23
  • Is God vir jou ’n werklikheid?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is God vir jou ’n werklikheid?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Bestudeer die Skrif
  • Gereelde en vurige gebed
  • Neem die skepping waar
  • Wandel met Jehovah
  • Waarom moet ons onophoudelik bid?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Hoe jy na aan God kan kom
    Kennis wat tot die ewige lewe lei
  • God—Hoe ons hom kan leer ken
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Kom nader aan God deur gebed
    Wat leer die Bybel werklik?
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 9/15 bl. 21-23

Is God vir jou ’n werklikheid?

IS DIT vir jou maklik om God in gebed te nader wanneer jy sorgwekkende probleme het? Indien wel, voel jy dan dat jy met ’n werklike persoon praat?

Jesus Christus het na sy hemelse Vader verwys en gesê: “Hy wat my gestuur het, bestaan werklik” (Johannes 7:28). Ja, Jehovah God bestaan werklik, en wanneer ons tot hom bid, is dit soos om ons tot ’n baie goeie mensevriend om hulp of raad te wend. As ons wil hê dat God ons gebede moet verhoor, moet dit natuurlik aan skriftuurlike vereistes vir aanneemlike gebede voldoen. Ons moet die “Hoorder van gebed” byvoorbeeld nederig deur sy Seun, Jesus Christus, nader.—Psalm 65:3; 138:6; Johannes 14:6.

Party meen dalk dat God onpersoonlik is omdat hy onsigbaar is. Vir hulle kom God moontlik abstrak voor. Selfs sommige Christene, wat van God se wonderlike eienskappe geleer het, kan dit soms moeilik vind om te besef hoe werklik hy is. Is dit met jou die geval? Indien wel, wat kan jou help om Jehovah God vir jou ’n werklikheid te maak?

Bestudeer die Skrif

Bestudeer jy die Heilige Skrif gereeld? Hoe meer dikwels en indringender jou Bybelstudiesessies is, hoe werkliker sal Jehovah God vir jou word. Jou geloof sal sodoende versterk word en jou as ’t ware in staat stel om ‘die Onsigbare te sien’ (Hebreërs 11:6, 27). Aan die ander kant sal ongereelde of onreëlmatige Bybelstudie waarskynlik nie ’n betekenisvolle uitwerking op jou geloof hê nie.

Ter toeligting: Gestel jou dokter sê vir jou om ’n sekere salf twee keer per dag aan te smeer om van ’n hardnekkige uitslag ontslae te raak. Sal die uitslag weggaan as jy die salf slegs een of twee keer per maand aansmeer? Waarskynlik nie. Die psalmis gee ons eweneens ’n “voorskrif” vir geestelike gesondheid. Lees God se Woord “dag en nag op gedempte toon” (Psalm 1:1, 2, NW). As ons die kumulatiewe voordeel daarvan wil geniet, moet ons die “voorskrif” volg—daaglikse oorweging van God se Woord met behulp van Christelike publikasies.—Josua 1:8.

Sal jy graag jou studiesessies meer geloofversterkend wil maak? Hier is een voorstel: Nadat jy ’n hoofstuk in die New World Translation of the Holy Scriptures of in ’n ander Bybel met kruisverwysings gelees het, kan jy ’n interessante vers kies en die kruisverwysings naslaan. Dit sal jou studie verryk, en jy sal ongetwyfeld deur die interne harmonie van die Bybel beïndruk word. Dit sal weer die Outeur daarvan, Jehovah God, al hoe meer werklik vir jou maak.

As jy kruisverwysings gebruik, kan dit jou ook vertroud maak met Bybelprofesieë en die vervulling daarvan. Miskien is jy bekend met belangrike Bybelprofesieë, soos dié wat verband hou met Jerusalem se vernietiging deur die Babiloniërs. Maar die Bybel bevat baie profesieë en hulle vervullings wat met mekaar verband hou. Party van hulle is nie baie bekend nie.

Lees byvoorbeeld die profesie oor die straf vir die herbouing van Jerigo en kyk dan na hoe dit vervul is. Josua 6:26 sê: “In dié tyd het Josua hulle laat sweer met die woorde: Vervloek is die man voor die aangesig van die HERE wat sal opstaan om hierdie stad Jerigo op te bou: ten koste van sy eersgeborene sal hy sy fondamente lê, en ten koste van sy jongste sal hy sy poorte insit.” Die profesie is sowat 500 jaar later vervul, want ons lees in 1 Konings 16:34: “In [koning Agab se] dae het Hiël, van Bet-el, Jerigo opgebou; ten koste van Abiram, sy eersgeborene, het hy sy fondament gelê, en ten koste van Segub, sy jongste, sy poorte opgerig, volgens die woord van die HERE wat Hy deur die diens van Josua, die seun van Nun, gespreek het.”a Slegs ’n God wat werklik bestaan, kon sulke profesieë inspireer en toesien dat hulle vervul word.

Terwyl jy die Bybel lees, begin jy dalk oor ’n sekere punt wonder. Jy wil miskien graag weet hoeveel jaar verloop het voordat ’n profesie vervul is. Moenie net iemand vra nie, maar wend eerder ’n poging aan om self uit te vind. Gebruik kaarte en Bybelstudiehulpe en soek die antwoorde met dieselfde ywer waarmee jy ’n kaart sal probeer ontrafel wat jou na ’n skat sal lei (Spreuke 2:4, 5). As jy die antwoorde vind, sal dit ’n diepgaande uitwerking op jou geloof hê en sal dit Jehovah God al hoe meer werklik vir jou maak.

Gereelde en vurige gebed

Moenie die belangrikheid van gebed en geloof oor die hoof sien nie. Jesus se dissipels het hierdie regstreekse versoek gedoen: “Gee ons meer geloof” (Lukas 17:5). As Jehovah nie vir jou ’n werklikheid is nie, moet jy tot hom bid oor jou behoefte aan meer geloof. Jy kan jou hemelse Vader met vertroue vra om jou te help om hom ’n werklikheid vir jou te maak.

As ’n probleem jou kwel, moet jy die nodige tyd neem om jou diepste gevoelens teenoor jou hemelse Vriend uit te spreek. Net voor Jesus se dood het hy vurig gebid. Hoewel hy die godsdiensgebruik veroordeel het om lang gebede te doen wat vir die openbare vertoon bedoel is, het hy ’n hele nag privaat gebid voordat hy sy 12 apostels gekies het (Markus 12:38-40; Lukas 6:12-16). Ons kan ook ’n les leer by Hanna, wat die profeet Samuel se moeder geword het. Omdat sy baie graag ’n seun wou hê, het sy “lank gebid . . . voor die aangesig van die HERE”.—1 Samuel 1:12.

Wat leer ons hieruit? As jy wil hê dat jou gebede verhoor moet word, moet jy ernstig, vurig, onophoudelik bid—en natuurlik in ooreenstemming met God se wil (Lukas 22:44; Romeine 12:12; 1 Tessalonisense 5:17; 1 Johannes 5:13-15). As jy dit doen, sal dit jou help om God werklik vir jou te maak.

Neem die skepping waar

’n Kunstenaar se persoonlikheid kan deur sy skilderye geopenbaar word. Die “onsigbare eienskappe” van Jehovah, die Ontwerper en Skepper van die heelal, kan eweneens duidelik in die skepping gesien word (Romeine 1:20). Wanneer ons Jehovah se handewerk noukeurig waarneem, verstaan ons sy persoonlikheid beter, en sodoende word hy al hoe meer werklik vir ons.

As jy God se skeppingswerke meer as net oppervlakkig waarneem, sal jy dalk diep beïndruk wees deur hoe werklik sy eienskappe is. Byvoorbeeld, inligting oor die navigasievermoëns van voëls sal moontlik jou waardering vir Jehovah se wysheid vergroot. As jy oor die heelal lees, sal jy moontlik uitvind dat die Melkweg, wat ongeveer 100 000 ligjare in deursnee is, slegs een van miljarde sterrestelsels in die ruimte is. Toon dit nie vir jou dat die Skepper werklik wys is nie?

Jehovah se wysheid is inderdaad ’n werklikheid! Maar wat beteken dit vir jou? Wel, hy kan beslis nie verbysterd wees deur die probleme wat enigeen van ons in gebed na hom toe neem nie. Ja, selfs ’n geringe kennis van die skepping kan Jehovah al hoe meer werklik vir jou maak.

Wandel met Jehovah

Kan jy persoonlik ervaar hoe werklik Jehovah is? Ja, as jy soos die getroue aartsvader Noag is. Hy was altyd gehoorsaam aan Jehovah, in so ’n mate dat daar gesê kon word: “Noag het met God gewandel” (Genesis 6:9). Noag het gelewe asof Jehovah reg aan sy sy was. God kan net so werklik vir jou wees.

As jy met God wandel, vertrou jy op skriftuurlike beloftes en tree jy in ooreenstemming daarmee op. Jy glo byvoorbeeld Jesus se woorde: “Hou . . . aan om eers die koninkryk en [God se] regverdigheid te soek, en al hierdie ander dinge [materiële benodigdhede] sal vir julle bygevoeg word” (Matteus 6:25-33). Jehovah sal weliswaar nie altyd voorsien wat jy nodig het soos jy dit verwag nie. Maar wanneer jy bid en dan God se hulp ontvang, sal hy net so werklik vir jou wees soos enigiemand wat aan jou sy is.

’n Mens bou so ’n hegte verhouding met Jehovah op namate jy aanhou om met God te wandel. Neem die voorbeeld van Manuela, ’n Spaanssprekende Getuie, wat al talle beproewinge verduur het. Sy sê: “Wanneer ek ook al ontsteld is of hulp nodig het, pas ek die beginsel in Spreuke 18:10 toe. Ek wend my tot Jehovah om hulp. Hy was nog altyd ‘’n sterk toring’ vir my.” Manuela kan dit sê nadat sy al 36 jaar op Jehovah vertrou en gesien het hoe hy haar ondersteun.

Het jy net begin om Jehovah jou vertroue te maak? Moenie mismoedig wees as jou verhouding met hom nog nie is soos wat jy dit wil hê nie. Lewe elke dag soos iemand wat met God wandel. Namate jy ’n lewenspatroon van getrouheid opbou, sal jy ’n hegter verhouding met Jehovah geniet.—Psalm 25:14, NW; Spreuke 3:26, 32, NW.

Nog ’n manier om met God te wandel, is om besig te bly in sy diens. Wanneer jy aan die Koninkrykspredikingswerk deelneem, is jy een van Jehovah se medewerkers (1 Korintiërs 3:9). As jy hiervan bewus is, help dit om God baie werklik vir jou te maak.

Die psalmis maan: “Laat jou weg aan die HERE oor en vertrou op Hom, en Hý sal dit uitvoer” (Psalm 37:5). Moet nooit versuim om enige laste of sorge aan God oor te laat nie. Vertrou altyd op hom vir hulp en leiding. As jy biddend op Jehovah God steun en altyd volkome op hom vertrou, sal jy veilig voel omdat jy weet dat hy nie sal versuim om ten behoewe van jou op te tree nie. Nader jy Jehovah met vertroue met jou persoonlike bekommernisse? Jy sal—as God vir jou ’n werklikheid is.

[Voetnoot]

a As nog ’n voorbeeld kan jy oor die voorspelde skending van Jerobeam se altaar in 1 Konings 13:1-3 lees. Kyk dan na die vervulling daarvan wat in 2 Konings 23:16-18 opgeteken is.

[Prent op bladsy 21]

Maak jou studiesessies geloofversterkend

[Prent op bladsy 22]

Sit tyd opsy vir gereelde, vurige gebed

[Prente op bladsy 23]

Kyk hoe God se eienskappe in sy skepping geopenbaar word

[Erkennings]

Kolibrie: U.S. Fish and Wildlife Service, Washington, D.C./Dean Biggins; stars: Foto: Copyright IAC/RGO 1991, Dr. D. Malin et al, Isaac Newton Telescope, Roque de los Muchachos Observatory, La Palma, Canary Islands

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel