’n Beslissing ten gunste van eie keuse
DIE roemrykste Persoon in die heelal ondersteun ingeligte keuse. Hy is ons Skepper. Aangesien hy onbeperkte kennis van die mens se behoeftes het, gee hy ons oorvloedige onderrigting, waarskuwings en leiding oor die verstandige weg om te kies. Nogtans ignoreer hy nie die wilsvryheid wat hy sy intelligente skepsele gegee het nie. God se profeet Moses het Sy beskouing weerspieël: “Die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou. Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag.”—Deuteronomium 30:19.
Hierdie beginsel geld ook op geneeskundige gebied. Die konsep van ingeligte keuse, of ingeligte toestemming, wen veld in Japan en ander lande waar dit in die verlede nie so algemeen was nie. Dr. Mitsjitaro Nakamoera het hierdie beskrywing van ingeligte toestemming gegee: “Dit is die begrip dat die dokter in maklik verstaanbare taal die siekte, die prognose, die behandelingsmetode en moontlike newe-effekte aan die pasiënt verduidelik, en dan die pasiënt se reg sal eerbiedig om self op die behandelingsmetode te besluit.”—Japan Medical Journal.
Dokters in Japan het jare lank verskillende redes gegee waarom hulle pasiënte nie op hierdie manier wou behandel nie, en die howe was geneig om hulle aan die mediese gebruik te onderwerp. Dit was dus ’n mylpaal toe hoofregter Takeo Inaba van Tokio se Hoër Hof op 9 Februarie 1998 ’n uitspraak ten gunste van ingeligte keuse gelewer het. Wat was daardie besluit, en wat was die geskil wat tot die hofsaak gelei het?
In Julie 1992 het die 63-jarige Misae Takeda, een van Jehovah se Getuies, met die Instituut van Geneeskunde, die Universiteit van Tokio, in aanraking gekom. Daar is vasgestel dat sy ’n kwaadaardige lewergewas het en ’n operasie nodig het. Omdat sy die Bybelse gebod teen die misbruik van bloed wou gehoorsaam, het sy dit duidelik aan haar dokters gestel dat sy slegs bloedlose behandeling wil hê (Genesis 9:3, 4; Handelinge 15:29). Die dokters het ’n vorm van haar ontvang wat hulle en die hospitaal vrygestel het van enige aanspreeklikheid wat uit haar besluit sou spruit. Hulle het haar verseker dat hulle aan haar wense sou voldoen.
Maar ná die operasie en terwyl Misae nog onder verdowing was, het hulle vir haar ’n bloedoortapping gegee—geheel en al in stryd met haar uitdruklike wense. Pogings om die ongemagtigde oortapping geheim te hou, is oopgevlek toe ’n hospitaalwerker die saak blykbaar aan ’n verslaggewer bekend gemaak het. Dit is verstaanbaar dat hierdie opregte Christenvrou verpletter was toe sy uitgevind het dat sy ’n ongemagtigde bloedoortapping gekry het. Sy het die mediese personeel vertrou en was oortuig dat hulle hulle woord sou hou en haar godsdiensoortuigings sou eerbiedig. As gevolg van haar emosionele ontsteltenis oor hierdie growwe skending van die dokter-pasiënt-verhouding en in die hoop dat dit ’n presedent sou skep wat ander mense soortgelyke mediese mishandeling sou spaar, het sy ’n hofsaak aanhangig gemaak.
Openbare orde en sedes
Drie regters van Tokio se Streekhof het die saak verhoor en ten gunste van die dokters beslis, en gevolglik teen die reg op ingeligte toestemming. In hulle uitspraak wat op 12 Maart 1997 gelewer is, het hulle gesê dat enige poging om ’n kontrak vir totale bloedlose behandeling op te stel ongeldig is. Hulle het geredeneer dat dit in stryd met kojo riozokoea, of gemeenskapstandaarde, sou wees vir ’n dokter om ’n spesiale ooreenkoms aan te gaan om nie ’n bloedoortapping te gee nie, selfs al ontstaan ’n noodsituasie. Na hulle mening is dit ’n dokter se vernaamste verpligting om na die beste van sy vermoë lewens te red, en derhalwe sou so ’n kontrak van die begin af ongeldig wees, ongeag wat die pasiënt se godsdiensoortuigings is. Hulle het beslis dat ’n dokter se professionele mening op stuk van sake voorrang moet geniet bo enige mediese versoek wat ’n pasiënt dalk voor die tyd doen.
Daarbenewens het die regters gesê dat ’n dokter om dieselfde redes “nie nodig het om te sê of hy van plan is om bloed te gee of nie”, hoewel daar van hom verwag word om die basiese prosedure, uitwerking en gevare van ’n voorgestelde operasie te verduidelik. Hulle beslissing was: “Daar kan nie vasgestel word dat dit onwettig of onbetaamlik was dat die dokters as Verweerders die Eiser se wense om nie ’n bloedoortapping onder enige omstandighede te aanvaar nie wel verstaan het en opgetree het asof hulle haar wense sou eerbiedig en sy dus as gevolg daarvan tot die betrokke operasie ingestem het nie.” Hulle redenasie was dat die pasiënt dalk die operasie sou weier en die hospitaal sou verlaat het as die dokters anders opgetree het.
Hierdie hofbeslissing het voorstanders van ingeligte toestemming geskok en ontstel. In ’n bespreking van die Takeda-saak en die implikasies vir ingeligte toestemming in Japan het professor Takao Jamada, ’n gesaghebbende op die gebied van privaatreg, geskryf: “As die redenasie in hierdie beslissing geduld word, sal die weiering van bloedoortappings en die wetlike beginsel van ingeligte toestemming wees soos ’n kers wat in die wind flikker” (Regstydskrif Hogakoe Kiosjitsoe). Hy het die ongewenste bloedoortapping sterk veroordeel en dit beskryf as “’n growwe skending van vertroue, soos ’n sluipaanval”. Professor Jamada het bygevoeg dat sulke optrede wat mense se vertroue skend “hoegenaamd nie toegelaat moet word nie”.
Misae se nederige geaardheid het dit vir haar moeilik gemaak om in die kollig te wees. Maar omdat sy besef het dat sy ’n aandeel kon hê aan die verdediging van Jehovah se naam en regverdige standaarde wat met die heiligheid van bloed verband hou, was sy vasbeslote om haar deel by te dra. Sy het aan haar regsgeleerde geskryf: Ek is niks meer as stof nie, miskien selfs minder. Ek wonder waarom so ’n onbevoegde mens soos ek gebruik word. Maar wanneer ek presies probeer doen wat Jehovah—die een wat die klippe kan laat uitroep—sê, sal hy my krag gee” (Matteus 10:18; Lukas 19:40). In die getuiebank gedurende daardie verhoor het sy met ’n bewende stem die emosionele trauma beskryf wat sy as gevolg van die verraad verduur het. “Ek het gevoel asof ek onteer is, soos ’n vrou wat verkrag is.” Haar getuienis het baie mense wat daardie dag in die hofsaal was tot trane beweeg.
Onverwagte aanmoediging
Vanweë die Streekhof se beslissing is die saak onmiddellik na die Hoër hof geappelleer. Die openingsredes in die appèlhof het in Julie 1997 begin, en Misae wat nou bleek maar vasbeslote was, was daar in ’n rystoel. Die kanker het weer teruggekom, en sy het al hoe swakker geword. Misae is baie aangemoedig toe die hoofregter, in ’n ongewone wending, verduidelik het wat die hof van plan was om te doen. Hy het dit duidelik gemaak dat die appèlhof nie saamgestem het met die bevinding van die laer hof—dat ’n dokter die reg het om die pasiënt se wense te ignoreer en dan te maak asof hy daaraan gaan voldoen terwyl hy in die geheim vasbeslote is om iets anders te doen nie. Die hoofregter het gesê dat die hof nie sy ondersteuning sou gee aan die paternalistiese etiek van “Sjirasjimoe bekarazoe, jorasjimoe besji”b nie, wat beteken: “Hou hulle in onkunde en afhanklik” van die geneeskunde. Misae het later gesê: “Dit het my baie gelukkig gemaak om die regter se regverdige kommentaar te hoor, wat heeltemal verskil van die vorige beslissing van die Streekhof.” Sy het bygevoeg: “Dit is waarvoor ek tot Jehovah gebid het.”
Die volgende maand is Misae oorlede, omring van ’n liefdevolle gesin en die mediese personeel van ’n ander hospitaal waar haar opregte oortuigings verstaan en eerbiedig is. Hoewel haar seun Masami baie bedroef was oor haar dood, was hy en ander familielede vasbeslote om die saak end uit te voer, in ooreenstemming met haar wense.
Die beslissing
Uiteindelik, op 9 Februarie 1998, het die drie regters van die Hoër Hof uitspraak gelewer en die beslissing van die laer hof ter syde gestel. Die klein hofsaal was stampvol verslaggewers, akademici en ander wat die verhoor getrou gevolg het. Groot koerante en televisiestasies het oor die beslissing verslag gelewer. Party van die koerantopskrifte het gelui: “Hof: Pasiënte kan behandeling weier”; “Hoër Hof: Oortapping ’n skending van regte”; “Dokter wat bloedoortapping afgedwing het, verloor in hof” en “Jehovah se Getuies kry skadevergoeding vir oortapping”.
Berigte oor die beslissing was akkuraat en in die meeste gevalle gunstig. The Daily Yomiuri het berig: “Regter Takeo Inaba het gesê dat dit onbetaamlik vir dokters is om behandeling te gee wat ’n pasiënt geweier het.” Dit het ook duidelik gesê: “Die dokters wat [die bloedoortapping] gegee het, het haar die kans ontneem om haar behandeling te kies.”
Die Asahi Sjimboen het daarop gewys dat, hoewel die hof in hierdie geval gemeen het dat daar onvoldoende getuienis was dat ’n kontrak bestaan het waarin albei partye saamgestem het dat bloed selfs nie eers in ’n lewensgevaarlike situasie gebruik sou word nie, die regters nie met die laer hof saamgestem het oor die geldigheid van so ’n kontrak nie: “As daar ’n goedingeligte ooreenkoms tussen die betrokke partye is dat ’n bloedoortapping nie onder enige omstandighede gegee moet word nie, beskou hierdie Hof dit nie teen openbare orde nie en gevolglik nie ongeldig nie.” Hierdie koerant het ook melding gemaak van die regters se beskouing dat “elke mens bestem is om eendag te sterf, en die proses wat tot daardie oomblik van sterfte lei, kan deur elke persoon self besluit word”.
Jehovah se Getuies het hierdie aangeleentheid ondersoek en is in werklikheid oortuig dat hulle die beste weg tot die lewe kies. Dit sluit in die verwerping van die bekende gevare van bloedoortappings en om eerder bloedlose behandeling te aanvaar wat oor die algemeen in baie lande gebruik word en in ooreenstemming met God se wet is (Handelinge 21:25). ’n Welbekende Japannese professor van staatsreg het gesê: “In werklikheid is die weiering van [die bloedoortapping] wat ter sprake is nie ’n manier om te kies ‘hoe om te sterf’ nie, maar eerder hoe om te lewe.”
Die uitspraak van die Hoër Hof moet as waarskuwing dien vir dokters dat hulle diskresionêre reg dalk nie so groot is as wat party moontlik gedink het nie. En dit behoort daartoe te lei dat baie meer hospitale etiese riglyne vasstel. Hoewel hierdie hofbeslissing algemeen aanvaar is en bemoedigend vir pasiënte is, wat nie ’n groot sê in hulle behandeling het nie, het nie alle partye dit heelhartig aanvaar nie. Die staatshospitaal en die drie dokters het die saak na die Hooggeregshof geappelleer. Ons sal dus moet wag en sien of Japan se hoogste hof, soos die Soewerein van die heelal, ook die pasiënt se regte sal verdedig.
[Voetnote]
a ’n Begrip wat nie deur die wet gedefinieer word nie en aan die magistraat oorgelaat word om te vertolk en toe te pas.
b Dit was die credo van feodale heersers van die Tokoegawa-tyd oor hoe hulle oor hulle onderdane moes heers.