Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w99 9/15 bl. 29-31
  • Timoteus—“’n Ware kind in die geloof”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Timoteus—“’n Ware kind in die geloof”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Deur Paulus gekies
  • Timoteus het Koninkryksbelange bevorder
  • Lig op Timoteus se persoonlikheid
  • Stel jou beskikbaar!
  • “My geliefde en getroue kind in die Here”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
  • Timoteus—Gereed en gewillig om te dien
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Paulus en Timoteus
    Lesse wat jy kan leer uit die Bybel
  • Timoteus wou mense help
    Leer jou kinders
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
w99 9/15 bl. 29-31

Timoteus—“’n Ware kind in die geloof”

TIMOTEUS was nog redelik jonk toe die Christenapostel Paulus hom as ’n reisgenoot gekies het. Hulle het toe die volgende 15 jaar ten nouste saamgewerk. Die verhouding wat tussen die twee mans ontwikkel het, was so heg dat Paulus Timoteus “my geliefde en getroue kind in die Here” en “’n ware kind in die geloof” kon noem.—1 Korintiërs 4:17; 1 Timoteus 1:2.

Wat was dit omtrent Timoteus se persoonlikheid wat gemaak het dat Paulus soveel van hom gehou het? Hoe het Timoteus so ’n waardevolle metgesel geword? En watter nuttige lesse kan ons leer uit die geïnspireerde verslag van Timoteus se bedrywighede?

Deur Paulus gekies

Paulus het die jong dissipel Timoteus ontmoet toe die apostel Listra (in hedendaagse Turkye) omstreeks 50 G.J. op sy tweede sendingreis besoek het. Timoteus, wat waarskynlik in sy laat tiener- of vroeë twintigerjare was, is gunstig vermeld deur die Christene in Listra en Ikonium (Handelinge 16:1-3). Hy het sy naam, wat “Vereerder van God” beteken, gestand gedoen. Timoteus is van kleins af deur sy grootmoeder Loïs en sy moeder, Eunice, uit die Heilige Skrif geleer (2 Timoteus 1:5; 3:14, 15). Hulle het die Christelike geloof waarskynlik aangeneem gedurende Paulus se eerste besoek aan hulle stad ’n paar jaar tevore. Nou het ’n sekere voorspelling deur die werking van die heilige gees aangedui wat die toekoms vir Timoteus sou inhou (1 Timoteus 1:18). In ooreenstemming met hierdie leiding het Paulus en die ouer manne van die gemeente die jong man die hande opgelê, waardeur hy vir ’n sekere werk afgesonder is, en die apostel het hom as ’n sendelingmetgesel gekies.—1 Timoteus 4:14; 2 Timoteus 1:6.

Omdat Timoteus se vader ’n ongelowige Griek was, is Timoteus nie besny nie. Dit was natuurlik nie ’n vereiste vir ’n Christen nie. Timoteus het egter hierdie pynlike ondervinding deurgemaak sodat dit nie ’n struikelblok sou wees vir die Jode vir wie hulle sou besoek nie.—Handelinge 16:3.

Is Timoteus vroeër as ’n Jood beskou? Volgens rabbynse gesaghebbendes, sê party geleerdes, “word die status van die kinders in ’n gemengde huwelik deur die moeder bepaal, en nie deur die vader nie”. Met ander woorde, “’n Joodse vrou baar Joodse kinders”. Maar die skrywer Shaye Cohen twyfel of sulke “rabbynse personereg reeds in die eerste eeu G.J. bestaan het” en of dit deur die Jode van Klein-Asië gevolg is. Nadat hy die geskiedkundige getuienis ondersoek het, maak hy die gevolgtrekking dat “die kinders uit hierdie huwelike [tussen nie-Joodse mans en Israelitiese vrouens] slegs as Israeliete beskou is as die gesin onder die Israeliete gewoon het. Die geslagslyn is van moederskant af bepaal wanneer die gesin in die moeder se geboorteland gewoon het. Wanneer die Israelitiese vrou saam met haar nie-Joodse man na die buiteland getrek het, is haar kinders as nie-Jode beskou.” Hoe dit ook al sy, Timoteus se gemengde afkoms moes ongetwyfeld nuttig gewees het in sy predikingswerk. Dit sou nie vir hom ’n probleem wees om by Jode of nie-Jode aan te pas nie, wat hom miskien in staat gestel het om klowe tussen hulle te oorbrug.

Paulus se besoek aan Listra was ’n keerpunt in Timoteus se lewe. Die jong man se gewilligheid om die leiding van die heilige gees te volg en nederig met die Christen- ouer manne saam te werk, het groot seëninge en diensvoorregte tot gevolg gehad. Of Timoteus dit op daardie stadium besef het of nie, onder Paulus se leiding sou hy later in belangrike teokratiese toewysings gebruik word, wat hom selfs tot in Rome, die hoofstad van die ryk, geneem het.

Timoteus het Koninkryksbelange bevorder

Ons het slegs ’n gedeeltelike verslag van Timoteus se bedrywighede, maar hy het baie gereis om Koninkryksbelange te bevorder. Timoteus se eerste reis saam met Paulus en Silas in 50 G.J. het hom deur Klein-Asië en tot in Europa geneem. Daar het hy aan predikingsveldtogte in Filippi, Tessalonika en Berea deelgeneem. Toe Paulus as gevolg van teenstand Atene toe gegaan het, is Timoteus en Silas in Berea agtergelaat om na die groep dissipels om te sien wat daar gevorm is (Handelinge 16:6–17:14). Later het Paulus Timoteus na Tessalonika gestuur om die nuwe gemeente daar te versterk. Timoteus was die draer van goeie nuus oor hierdie gemeente se vordering toe hy Paulus in Korinte ontmoet het.—Handelinge 18:5; 1 Tessalonisense 3:1-7.

Die Skrif sê nie hoe lank Timoteus by die Korintiërs gebly het nie (2 Korintiërs 1:19). Maar dit was waarskynlik omstreeks 55 G.J. dat Paulus dit oorweeg het om hom weer na hulle te stuur omdat hy ontstellende nuus oor hulle situasie ontvang het (1 Korintiërs 4:17; 16:10). Later is Timoteus, saam met Erastus, van Efese na Masedonië gestuur. En toe Paulus van Korinte af aan die Romeine geskryf het, was Timoteus weer saam met hom.—Handelinge 19:22; Romeine 16:21.

Timoteus en ander het Korinte saam met Paulus verlaat toe hy na Jerusalem gegaan het, en hulle het die apostel ten minste tot by Troas vergesel. Ons weet nie of Timoteus wel tot in Jerusalem gegaan het nie. Maar hy word in die inleiding van drie briewe genoem wat Paulus omstreeks 60-61 G.J. geskryf het terwyl hy in die gevangenis in Rome wasa (Handelinge 20:4; Filippense 1:1; Kolossense 1:1; Filemon 1). Paulus was van plan om Timoteus van Rome na Filippi te stuur (Filippense 2:19). En ná Paulus se vrylating uit die gevangenis het Timoteus op versoek van die apostel in Efese gebly.—1 Timoteus 1:3.

Aangesien dit nie maklik of gerieflik was om in die eerste eeu te reis nie, was Timoteus se gewilligheid om baie reise ter wille van die gemeentes te onderneem waarlik prysenswaardig. (Sien Die Wagtoring, 15 Augustus 1996, bladsy 29, venster.) Neem net een van die reise waarop hy sou gaan en kyk wat dit ons omtrent Timoteus vertel.

Lig op Timoteus se persoonlikheid

Timoteus was saam met Paulus in Rome toe die gevange apostel aan die vervolgde Christene in Filippi geskryf en gesê het: “Ek [hoop] in die Here Jesus om Timoteus binnekort na julle toe te stuur, sodat ek ’n blymoedige siel kan wees wanneer ek die dinge in verband met julle verneem. Want ek het niemand anders met ’n gesindheid soos syne wat opreg na die dinge in verband met julle sal omsien nie. Want al die ander soek hulle eie belange, nie dié van Christus Jesus nie. Maar julle weet watter bewys hy van homself gelewer het, dat hy, soos ’n kind saam met ’n vader, saam met my soos ’n slaaf gedien het ter bevordering van die goeie nuus.”—Filippense 1:1, 13, 28-30; 2:19-22.

Daardie woorde het Timoteus se besorgdheid oor medegelowiges beklemtoon. Tensy hy per boot gegaan het, sou so ’n reis van Rome na Filippi, wat ook ’n kort seereis oor die Adriatiese See ingesluit het, 40 dae te voet neem, en dan nog 40 dae om na Rome terug te keer. Timoteus was bereid om dit alles ter wille van sy broers en susters te doen.

Hoewel Timoteus baie gereis het, was hy nie altyd so gesond nie. Hy het blykbaar een of ander maagkwaal en “herhaalde gevalle van siekte” gehad (1 Timoteus 5:23). Tog het hy hom ter wille van die goeie nuus ingespan. Dit is geen wonder dat Paulus so ’n hegte verhouding met hom gehad het nie!

As gevolg van die opleiding deur die apostel en die dinge wat hulle saam deurgemaak het, het Timoteus blykbaar Paulus se persoonlikheid begin weerspieël. Paulus kon dus vir hom sê: “Jy het my leer nougeset gevolg, my lewenswandel, my voorneme, my geloof, my lankmoedigheid, my liefde, my volharding, my vervolginge, my lyding, die soort dinge wat my oorgekom het in Antiogië, in Ikonium, in Listra, die soort vervolginge wat ek verdra het.” Timoteus het saam met Paulus trane gestort, was in sy gebede en het saam met hom gewerk om Koninkryksbelange te bevorder.—2 Timoteus 1:3, 4; 3:10, 11.

Paulus het Timoteus aangespoor: “Laat geen mens ooit op jou jeug neersien nie.” Dit is miskien ’n aanduiding dat Timoteus ietwat skugter was en gehuiwer het om sy gesag uit te oefen (1 Timoteus 4:12; 1 Korintiërs 16:10, 11). Maar hy kon op eie bene staan, en Paulus kon hom met vertroue op verantwoordelike sendings stuur (1 Tessalonisense 3:1, 2). Toe Paulus bewus geword het van die behoefte aan ferm teokratiese toesig in die gemeente in Efese, het hy Timoteus aangespoor om daar te bly om ‘sekere persone te beveel om nie ’n ander leer te verkondig nie’ (1 Timoteus 1:3). Maar hoewel Timoteus baie verantwoordelikhede toevertrou is, was hy nederig. En al was hy moontlik skugter, was hy ook moedig. Hy het byvoorbeeld Rome toe gegaan om Paulus by te staan, wat verhoor sou word weens sy geloof. Trouens, Timoteus is self ’n ruk lank opgesluit, waarskynlik om dieselfde rede.—Hebreërs 13:23.

Timoteus het ongetwyfeld baie by Paulus geleer. Die agting wat die apostel vir sy medewerker gehad het, kan duidelik gesien word in die feit dat hy twee Goddelik geïnspireerde briewe vir hom geskryf het wat in die Christelike Griekse Geskrifte gevind kan word. In ongeveer 65 G.J., toe Paulus besef het dat sy eie marteldood op hande was, het hy Timoteus weer eens laat roep (2 Timoteus 4:6, 9). Die Skrif sê nie of Timoteus dit reggekry het om Paulus te sien voordat die apostel tereggestel is nie.

Stel jou beskikbaar!

Ons kan baie uit Timoteus se goeie voorbeeld leer. Hy het baie baat gevind by sy omgang met Paulus en het van ’n skugter jong man tot ’n opsiener gevorder. Jong Christenmans en -vroue kan baie leer uit soortgelyke omgang vandag. En as hulle Jehovah se diens hulle loopbaan maak, sal hulle baie nuttige werk hê om te doen (1 Korintiërs 15:58). Hulle kan pioniers, oftewel voltydse predikers, in hulle tuisgemeente word, of hulle sal moontlik kan dien waar meer Koninkryksverkondigers nodig is. Van die talle moontlikhede is sendingwerk in ’n ander land of om by die wêreldhoofkwartier van die Wagtoringgenootskap of by een van hulle takkantore te werk. En alle Christene kan natuurlik dieselfde gees as Timoteus openbaar deur Jehovah heelhartig te dien.

Wil jy graag voortgaan om geestelik te groei en vir Jehovah se organisasie van nut wees, waar hy dit ook al goed ag om jou te gebruik? Volg dan Timoteus se voorbeeld na. Stel jou sover as moontlik beskikbaar. Wie weet watter diensvoorregte jy in die toekoms sal ontvang?

[Voetnoot]

a Timoteus word ook in vier van Paulus se ander briewe genoem.—Romeine 16:21; 2 Korintiërs 1:1; 1 Tessalonisense 1:1; 2 Tessalonisense 1:1.

[Prent op bladsy 31]

‘Ek het niemand anders met ’n gesindheid soos syne nie’

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel