Hoe beskou jy jouself?
HY WAS ’n trotse man. Nadat hy tot ’n hoë regeringspos bevorder is, het hy hom verlustig in die vleiery en verering van die mense. Maar tot sy groot ergernis het ’n ander amptenaar geweier om hom daardie eer te gee. Om wraak te neem, het die hoogmoedige amptenaar planne beraam om almal in die ryk wat van dieselfde etniese agtergrond as die oortreder was dood te maak. Wat ’n verwronge beskouing het hy tog van sy eie belangrikheid gehad!
Die konkelaar was Haman, ’n hooggeplaaste amptenaar in die hof van die Persiese koning Ahasveros. En wie was hy so vyandig gesind? ’n Jood met die naam Mordegai. Hoewel Haman se volksmoordpoging ’n uiterste reaksie was, lig dit die gevaar en ernstige gevolge van trots toe. Sy hoogmoed het nie net ’n krisis vir ander veroorsaak nie, maar het ook tot sy openbare vernedering en uiteindelik tot sy dood gelei.—Ester 3:1-9; 5:8-14; 6:4-10; 7:1-10.
Ware aanbidders is nie immuun teen trots nie
Jehovah vereis dat ons ‘beskeie moet wandel met ons God’ (Miga 6:8, NW). Die Bybel bevat verskeie verslae van mense wat nie ’n beskeie beskouing van hulleself behou het nie. Dit het vir hulle probleme en hartseer meegebring. As ons na ’n paar van hierdie voorbeelde kyk, kan dit ons help om die dwaasheid en gevaar van ongebalanseerde denke te sien.
Die denke van God se profeet Jona het só ongebalanseerd geword dat hy probeer vlug het toe hy ’n opdrag van God ontvang het om die goddelose mense van Nineve te waarsku oor Jehovah se oordeel teen hulle (Jona 1:1-3). Later, toe sy predikingswerk welslae behaal het en die Nineviete tot berou laat kom het, was Jona kwaad. Hy was so besorg oor sy eie reputasie as ’n profeet dat die lewe van duisende Nineviete vir hom van min of geen belang was nie (Jona 4:1-3). As ons onbeskeie is en onsself te ernstig opneem, sal ons dit dalk moeilik vind om ’n redelike en akkurate beskouing van mense en gebeure om ons te behou.
Dink ook aan die voorbeeld van Ussia, wat ’n goeie koning van Juda was. Toe hy ongebalanseerd in sy denke geword het, het hy op verwaande wyse sekere priesterlike pligte probeer oorneem. Vir sy onbeskeie en uiters vermetele optrede het hy met sy gesondheid betaal en God se goedkeuring verloor.—2 Kronieke 26:3, 16-21.
Ongebalanseerde denke het amper ’n strik vir Jesus se apostels geword. Hulle het uiters besorg geraak oor persoonlike heerlikheid en mag. Toe hulle voor die groot toets te staan gekom het, het hulle Jesus verlaat en gevlug (Matteus 18:1; 20:20-28; 26:56; Markus 9:33, 34; Lukas 22:24). Omdat hulle onbeskeie was en hulleself as te belangrik beskou het, het hulle byna Jehovah se voorneme en hulle rol met betrekking tot sy wil uit die oog verloor.
Skadelike gevolge as ons onsself as te belangrik beskou
’n Ongebalanseerde beskouing van onsself kan hartseer veroorsaak en ons verhouding met ander skaad. Ons sit dalk byvoorbeeld in ’n vertrek en merk op dat ’n egpaar vir mekaar iets fluister en lag. As ons egosentries is, sal ons moontlik verkeerdelik aanneem dat hulle vir ons lag omdat hulle so saggies praat. Ons verstand laat ons dalk nie toe om enige ander moontlike verduideliking vir hulle gedrag te oorweeg nie. Van wie anders sou hulle immers praat? Ons raak dalk ontsteld en besluit om nooit weer met daardie egpaar te praat nie. Só kan ’n ongebalanseerde beskouing van ons eie belangrikheid tot misverstande en beskadigde verhoudings met vriende, gesinslede en ander lei.
Diegene wat hulleself te ernstig opneem, kan grootpraters word wat gedurig spog oor hulle sogenaamde wonderlike talente, dade of besittings. Of hulle kan gesprekke oorheers deur altyd iets oor hulleself te sê. Sulke spraak toon ’n gebrek aan opregte liefde en kan baie irriterend wees. Gevolglik stoot verwaande mense gewoonlik ander af.—1 Korintiërs 13:4.
As Getuies van Jehovah word ons moontlik in ons openbare bediening bespot en verwerp. Ons moet in gedagte hou dat sulke teenstand in werklikheid nie teen ons as persone gerig is nie, maar teen Jehovah, die Bron van ons boodskap. Maar ’n verwronge beskouing van ons eie belangrikheid kan ernstige gevolge hê. Jare gelede het ’n broer aanstoot geneem toe ’n huisbewoner op hom geskel het, en hy het terug geskel (Efesiërs 4:29). Daarna het die broer nooit weer aan die huis-tot-huis-bediening deelgeneem nie. Ja, trots kan veroorsaak dat ons ons humeur verloor wanneer ons vir ander getuig. Laat ons hard probeer om nie toe te laat dat dit ooit met ons gebeur nie. Laat ons eerder nederig Jehovah se hulp vra om gepaste waardering te behou vir die voorreg om aan die Christelike bediening deel te neem.—2 Korintiërs 4:1, 7; 10:4, 5.
As ons ’n hoë dunk van onsself het, kan dit ook veroorsaak dat ons raad verwerp wat ons eintlik baie nodig het. In ’n land in Sentraal-Amerika het ’n tienderjarige seun jare gelede ’n toespraak in die Teokratiese Bedieningskool in die Christengemeente gehou. Toe die skoolopsiener vir hom ietwat reguit raad gee, het die woedende seun sy Bybel op die vloer gegooi, by die Koninkryksaal uitgestorm en besluit om nooit weer terug te kom nie. Maar ’n paar dae later het hy sy trots gesluk, met die skoolopsiener gaan vrede maak en nederig sy raad aanvaar. Mettertyd het hierdie jong man ’n ryp Christen geword.
As ons onbeskeie is en onsself te ernstig opneem, kan dit ons verhouding met God skaad. Spreuke 16:5 waarsku: “Elke hoogmoedige van hart is vir die HERE ’n gruwel.”
’n Gebalanseerde beskouing van onsself
Dit is duidelik dat ons nie onsself te ernstig moet opneem nie. Dit beteken natuurlik nie dat ons dinge wat ons doen en sê nie ernstig moet bedoel nie. Die Bybel toon dat opsieners, bedieningsknegte—trouens, almal in die gemeente—ernstig moet wees (1 Timoteus 3:4, 8, 11; Titus 2:2). Hoe kan Christene dus ’n beskeie, gebalanseerde en ernstige beskouing van hulleself ontwikkel en behou?
Die Bybel bevat talle bemoedigende voorbeelde van persone wat ’n gebalanseerde beskouing van hulleself behou het. Die grootste hiervan is Jesus Christus se voorbeeld van nederigheid. God se Seun het sy glorieryke posisie in die hemel gewillig verlaat en ’n nederige mens op aarde geword sodat hy sy Vader se wil kon doen en redding vir die mensdom moontlik kon maak. Ten spyte van beledigings, mishandeling en ’n vernederende dood, het hy sy selfbeheersing en waardigheid behou (Matteus 20:28; Filippense 2:5-8; 1 Petrus 2:23, 24). Wat het Jesus in staat gestel om dit te doen? Hy het ten volle op Jehovah vertrou en was vasbeslote om die wil van God te doen. Jesus het God se Woord ywerig bestudeer, vurig gebid en hom kragtig ingespan in die bediening (Matteus 4:1-10; 26:36-44; Lukas 8:1; Johannes 4:34; 8:28; Hebreërs 5:7). As ons Jesus se voorbeeld navolg, kan dit ons help om ’n gebalanseerde beskouing van onsself te ontwikkel en te behou.—1 Petrus 2:21.
Dink ook aan die goeie voorbeeld van koning Saul se seun Jonatan. Weens sy vader se ongehoorsaamheid is Jonatan die kans ontneem om Saul as koning op te volg (1 Samuel 15:10-29). Was Jonatan bitter hieroor? Was hy jaloers op Dawid, die jong man wat in sy plek sou regeer? Hoewel Jonatan veel ouer en waarskynlik meer ervare as Dawid was, het hy hom beskeie en nederig aan Jehovah se reëling onderwerp en Dawid lojaal ondersteun (1 Samuel 23:16-18). As ons ’n duidelike beeld van God se wil het en gewillig is om ons daaraan te onderwerp, sal dit ons help om ‘nie meer van onsself te dink as wat dit nodig is om te dink nie’.—Romeine 12:3.
Jesus het mense die waarde van beskeidenheid en nederigheid geleer. Hy het dit toegelig deur te sê dat sy dissipels, wanneer hulle ’n bruilof bywoon, nie “die vernaamste plek” moet kies nie, omdat iemand wat vernamer is dalk kan opdaag en dit vir die dissipels ’n vernedering kan wees as hulle na die geringste plek moet gaan. Om die les heeltemal duidelik te laat uitstaan, het Jesus bygevoeg: “Want elkeen wat homself verhef, sal verneder word, en hy wat homself verneder, sal verhef word” (Lukas 14:7-11). Ons sal verstandig optree as ons ag slaan op Jesus se raad en ‘ons met ootmoed beklee’.—Kolossense 3:12; 1 Korintiërs 1:31.
Seëninge van ’n gebalanseerde beskouing
’n Beskeie en nederige gees laat Jehovah se knegte ware vreugde uit hulle bediening put. Ouer manne is meer genaakbaar as hulle nederig ‘die kudde met teerheid behandel’ (Handelinge 20:28, 29). Dan voel almal in die gemeente meer op hulle gemak om met hulle te praat en hulle hulp te vra. Die gemeente sal sodoende nader aan mekaar gebring word in ’n gees van liefde, hartlikheid en vertroue.
As ons onsself nie te ernstig opneem nie, sal ons goeie vriendskappe kan aanknoop. Beskeidenheid en nederigheid sal keer dat ons die gees van mededinging aankweek en ander in dade of in materiële dinge probeer oortref. Hierdie godvrugtige eienskappe sal van ons bedagsamer persone maak, en sodoende sal ons in ’n beter posisie wees om diegene wat dit nodig het te bemoedig en te ondersteun (Filippense 2:3, 4). Mense reageer gewoonlik goed wanneer hulle met liefde en goedhartigheid behandel word. En word so ’n onselfsugtige verhouding nie die grondslag waarop hegte vriendskappe gebou word nie? Wat ’n seën is dit tog omdat ons nie onbeskeie was en onsself nie te ernstig opgeneem het nie!—Romeine 12:10.
’n Gebalanseerde beskouing van onsself maak dit ook vir ons makliker om ons fout te erken wanneer ons iemand aanstoot gegee het (Matteus 5:23, 24). Dit lei tot beter verhoudinge en maak versoening en wedersydse respek moontlik. As diegene in ’n posisie van toesig, soos Christen- ouer manne, nederig en beskeie is, kan hulle ander van groot hulp wees (Spreuke 3:27; Matteus 11:29). Dit sal ook vir ’n nederige persoon makliker wees om ander te vergewe wat teen hom sondig (Matteus 6:12-15). As hy dink dat iemand hom te na gekom het, sal hy nie oorreageer nie, en hy sal op Jehovah vertrou om sake reg te stel wat op geen ander manier reggestel kan word nie.—Psalm 37:5; Spreuke 3:5, 6.
Die grootste seën wat ons ontvang as ons ’n beskeie en nederige beskouing van onsself het, is dat ons Jehovah se guns en goedkeuring geniet. “God staan die hoogmoediges teë, maar hy gee onverdiende goedhartigheid aan die nederiges” (1 Petrus 5:5). Mag ons nooit in die strik beland om meer van onsself te dink as wat nodig is nie. Laat ons eerder ons posisie in Jehovah se reëling nederig erken. Wonderlike seëninge wag op almal wat aan sy vereiste voldoen ‘om beskeie te wandel met God’.
[Prent op bladsy 22]
Jonatan het Dawid nederig ondersteun