Juig in die God van ons heil
“Ek [sal] jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil.”—HABAKUK 3:18.
1. Wat het Daniël voor Babilon se val in 539 v.G.J. in ’n visioen gesien?
MEER as ’n dekade voor die val van Babilon in 539 v.G.J. het die bejaarde profeet Daniël ’n opwindende visioen gesien. Dit het wêreldgebeure voorspel wat sal plaasvind totdat die kritieke oorlog tussen Jehovah se vyande en sy aangestelde Koning, Jesus Christus, uitbreek. Wat was Daniël se reaksie? Hy het gesê: “[Ek] was gedaan en . . . verstom oor die gesig.”—Daniël 8:27.
2. Watter stryd het Daniël in sy visioen gesien, en hoe voel jy oor die nabyheid daarvan?
2 Wat van ons? Ons lewe soveel later in die tydstroom! Hoe reageer ons wanneer ons besef dat die stryd wat Daniël in die visioen gesien het—God se oorlog van Armageddon—baie naby is? Wat is ons reaksie wanneer ons besef dat die goddeloosheid wat in Habakuk se profesie blootgelê word so algemeen is dat die vernietiging van God se vyande onvermydelik is? Ons deel moontlik Habakuk se gevoelens, soos dit in die derde hoofstuk van sy profetiese boek beskryf is.
Habakuk bid om God se barmhartigheid
3. Namens wie het Habakuk gebid, en watter uitwerking kan sy woorde op ons hê?
3 Habakuk hoofstuk 3 is ’n gebed. Volgens vers 1 in die Nuwe Wêreld-vertaling word dit uitgedruk in ’n klaaglied. Die profeet doen sy gebed asof hy vir homself bid. Maar Habakuk bid in werklikheid namens God se uitverkore nasie. Vandag is sy gebed baie betekenisvol vir God se volk wat die Koninkrykspredikingswerk doen. Wanneer ons Habakuk hoofstuk 3 met dít in gedagte lees, laat die woorde ons onrustig voel, maar dit vervul ons ook met vreugde. Habakuk se gebed, of klaaglied, gee ons ’n goeie rede om te juig in Jehovah, die God van ons heil.
4. Waarom het Habakuk bang geword, en van watter kragtige optrede van God se kant kan ons seker wees?
4 Soos ons reeds in die vorige twee artikels gesien het, was toestande in die land Juda in Habakuk se tyd baie sleg. Maar God sou nie hierdie situasie laat voortduur nie. Jehovah sou optree, soos hy in die verlede gedoen het. Dit is geen wonder nie dat die profeet uitgeroep het: “O Jehovah, ek het die berig oor u gehoor. Ek het bang geword, o Jehovah, vir u dade”! Wat het hy bedoel? ‘Die berig oor Jehovah’ was die opgetekende geskiedenisverslag van God se magtige dade, soos by die Rooi See, in die woestyn en by Jerigo. Habakuk was goed bekend met hierdie dade, en dit het hom bang gemaak, want hy het geweet dat Jehovah sy groot krag weer teen sy vyande sou gebruik. Wanneer ons vandag die goddeloosheid van die mensdom sien, weet ons ook dat Jehovah sal optree soos hy in die ou tyd gedoen het. Maak dit ons bang? Natuurlik! Ons bid nogtans soos Habakuk: “Maak dit in die midde van die jare tog lewend! Mag u dit in die midde van die jare bekend maak. Dink tog daaraan om tydens die beroering barmhartigheid te bewys” (Habakuk 3:2, NW). Mag God sy wonderdadige krag op sy bestemde tyd, “in die midde van die jare”, weer gebruik. En mag hy op daardie tyd daaraan dink om barmhartigheid te bewys aan dié wat hom liefhet!
Jehovah trek op!
5. Hoe het ‘God van Teman gekom’, en wat toon dit met betrekking tot Armageddon?
5 Wat sal gebeur wanneer Jehovah ons gebed om barmhartigheid verhoor? Ons vind die antwoord in Habakuk 3:3, 4. Die profeet sê eers: “God kom van Teman en die Heilige van die berg Paran.” In die profeet Moses se dag was Teman en Paran op Israel se roete deur die woestyn na Kanaän. Gedurende die trek van hierdie groot nasie Israel het dit gelyk asof Jehovah self saam met hulle gaan, en niks kon hom stuit nie. Kort voor Moses gesterf het, het hy gesê: “Die HERE het gekom van Sinai en vir hulle opgegaan van Seïr af; Hy het in ligglans verskyn van die gebergte Paran en gekom van heilige tienduisende [engele] af” (Deuteronomium 33:2). Wanneer Jehovah by Armageddon teen sy vyande optree, sal daar ’n soortgelyke vertoning van sy onstuitbare mag wees.
6. Wat benewens God se heerlikheid sien Christene wat insig het?
6 Habakuk sê ook: “[Jehovah se] majesteit bedek die hemel, en die aarde is vol van sy lof. En glans soos sonlig is daar.” Wat ’n skouspelagtige toneel! Mense kan Jehovah God weliswaar nie sien en bly lewe nie (Exodus 33:20). Maar wanneer getroue knegte van God oor sy heerlikheid nadink, is dit asof die oë van hulle hart deur die glans verblind word (Efesiërs 1:18). En Christene wat insig het, sien iets anders benewens Jehovah se heerlikheid. Habakuk 3:4 (NW) sluit af: “Hy het twee strale gehad wat uit sy hand uitgaan, en daar was sy sterkte verskuil.” Ja, ons sien dat Jehovah gereed is om op te tree en dat hy sy regterhand van krag en sterkte gebruik.
7. Wat beteken God se triomftog vir diegene wat teen hom rebelleer?
7 God se triomftog beteken vernietiging vir diegene wat teen hom rebelleer. Habakuk 3:5 sê: “Voor Hom uit loop die pes, en ’n koorsgloed trek uit agter Hom aan.” In 1473 v.G.J., toe die Israeliete naby die grens van die Beloofde Land was, het baie van hulle gerebelleer deur hulle aan onsedelikheid en afgodediens skuldig te maak. Gevolglik het meer as 20 000 gesterf weens ’n plaag wat God gestuur het (Numeri 25:1-9). In die nabye toekoms, wanneer Jehovah na “die oorlog van die groot dag van God die Almagtige” optrek, sal dié wat teen hom rebelleer op soortgelyke wyse vir hulle sondes boet. Party sal moontlik selfs as gevolg van ’n letterlike plaag sterf.—Openbaring 16:14, 16.
8. Wat wag op God se vyande, volgens Habakuk 3:6?
8 Luister nou na die profeet se beeldende beskrywing van Jehovah van die leërs in aksie. In Habakuk 3:6 (NW) lees ons: “Hy [Jehovah God] het stilgestaan, sodat hy die aarde deurmekaar kon skud. Hy het gekyk en die nasies toe laat opspring. En die ewige berge is verbrysel; die heuwels wat tot onbepaalde tyd bly, het hulle neergebuig. Die gange van lank gelede is syne.” Jehovah ‘staan’ eerstens ‘stil’, soos ’n generaal wat oor die slagveld uitkyk. Sy vyande bewe van vrees. Hulle sien wie hulle teenstander is en is geskok; hulle spring op van skrik. Jesus het die tyd voorspel wanneer “al die stamme van die aarde hulleself in weeklag [sal] slaan” (Matteus 24:30). Wanneer dit te laat is, sal hulle besef dat niemand teen Jehovah kan staan nie. Menseorganisasies—selfs dié wat lyk asof hulle so permanent is soos “die ewige berge” en “die heuwels wat tot onbepaalde tyd bly”—sal verbrokkel. Dit sal wees soos God se “gange van lank gelede”, soos die manier waarop hy in die ou tyd opgetree het.
9, 10. Waaraan herinner Habakuk 3:7-11 ons?
9 Jehovah se ‘toorn het ontvlam’ teen sy vyande. Maar watter wapens sal hy in sy groot oorlog gebruik? Luister hoe die profeet hulle beskryf: “Heeltemal ontbloot is u boog; besweer is die pyle deur die woord. Tot riviere splyt U die aarde. Die berge sien U en bewe van angs, ’n wolkbreuk storm verby, die wêreldvloed verhef sy stem, steek sy hande omhoog. Die son, die maan bly in hulle woonplek by die lig van u pyle wat verbyskiet, by die glans van u flikkerende spies.”—Habakuk 3:7-11.
10 In Josua se dag het Jehovah die son en die maan in ’n verstommende vertoning van sy krag laat stilstaan (Josua 10:12-14). Habakuk se profesie herinner ons dat Jehovah hierdie selfde krag by Armageddon sal gebruik. In 1513 v.G.J. het Jehovah sy mag oor die aarde se waters getoon toe hy die Rooi See gebruik het om Farao se leërs te vernietig. Veertig jaar later was die Jordaanrivier wat in vloed was geen hindernis vir Israel se triomfantlike opmars na die Beloofde Land nie (Josua 3:15-17). In die dae van die profetes Debora het stortreën die strydwaens van Israel se vyand Sisera weggespoel (Rigters 5:21). Hierdie selfde kragte van oorstromings, stortreën en die waters sal by Armageddon tot Jehovah se beskikking wees. Donderslae en weerlig is ook in sy hand, soos ’n spies of ’n koker vol pyle.
11. Wat sal gebeur wanneer Jehovah sy groot mag loslaat?
11 Dit sal voorwaar ontsagwekkend wees wanneer Jehovah sy groot mag loslaat. Habakuk se woorde dui aan dat die nag in die dag verander sal word en dat die dag helderder sal wees as wat die son dit ooit kan maak. Hetsy hierdie geïnspireerde profetiese beskrywing van Armageddon letterlik of simbolies is, een ding is seker—Jehovah sal oorwin en sal geen vyand laat ontkom nie.
Redding is ’n sekerheid vir God se volk!
12. Wat sal God met sy vyande doen, maar wie sal gered word?
12 Die profeet beskryf verder hoe Jehovah Sy vyande vernietig. In Habakuk 3:12 lees ons: “In grimmigheid betree U die aarde, in toorn dors U die nasies.” En tog sal Jehovah mense nie sommer voor die voet vernietig nie. Party mense sal gered word. “U trek uit tot redding van u volk, tot redding van u Gesalfde”, sê Habakuk 3:13. Ja, Jehovah sal sy getroue gesalfde knegte red. Dan sal Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, geheel en al vernietig word. Maar vandag probeer die nasies om ware aanbidding uit te roei. Gog van Magog se magte gaan Jehovah se knegte binnekort aanval (Esegiël 38:1–39:13; Openbaring 17:1-5, 16-18). Sal daardie sataniese aanval suksesvol wees? Nee! Jehovah sal sy vyande dan in toorn dors en hulle soos koring op ’n dorsvloer vertrap. Maar hy sal diegene red wat hom met gees en waarheid aanbid.—Johannes 4:24.
13. Hoe sal Habakuk 3:13 vervul word?
13 Die algehele vernietiging van die goddelose is met hierdie woorde voorspel: “U [Jehovah] verbrysel die kop van die huis van die goddelose en ontbloot die fondament tot by die nek” (Habakuk 3:13). Hierdie “huis” is die goddelose stelsel wat onder die invloed van Satan die Duiwel ontwikkel het. Dit sal verpletter word. Die “kop”, of leiers wat teen God gekant is, sal verbrysel word. Die hele struktuur sal tot by sy fondament afgebreek word. Dit sal nie meer bestaan nie. Wat ’n wonderlike verligting sal dit tog wees!
14-16. Wat sal volgens Habakuk 3:14, 15 met Jehovah se volk en met hulle vyande gebeur?
14 By Armageddon sal diegene wat Jehovah se “Gesalfde” probeer vernietig in die war gestuur word. Volgens Habakuk 3:14, 15 praat die profeet met God en sê: “U deurboor met sy eie pyle die hoof van sy leiers wat storm om my te verstrooi; wie se gejuig is asof hulle die ellendige in die skuilhoek wil verslind. U betree die see met u perde, ’n hoop magtige waters.”
15 Wanneer Habakuk sê dat ‘leiers storm om hom te verstrooi’, praat die profeet namens Jehovah se gesalfde knegte. Soos struikrowers wat slagoffers lê en inwag, sal die nasies Jehovah se aanbidders aanval om hulle te probeer vernietig. Hierdie vyande van God en van sy volk sal ‘juig’ omdat hulle oortuig is dat hulle die oorwinning sal behaal. Getroue Christene sal swak lyk, soos “die ellendige”. Maar wanneer die magte wat teen God gekant is hulle aanval loods, sal Jehovah maak dat hulle hulle wapens teen mekaar gebruik. Hulle sal hulle wapens, of “pyle”, teen hulle eie vegters gebruik.
16 Maar dit is nie al nie. Jehovah sal bomenslike geesmagte gebruik om die vernietiging van sy vyande deur te voer. Met die “perde” van sy hemelse leërs wat deur Jesus Christus aangevoer word, sal hy in triomf deur “die see” en die “hoop magtige waters” vooruitgaan, dit wil sê deur die malende massa van die vyandige mensdom (Openbaring 19:11-21). Dan sal die goddeloses van die aarde af verwyder word. Wat ’n treffende bewys van Goddelike krag en geregtigheid!
Jehovah se dag kom!
17. (a) Waarom kan ons die vertroue hê dat Habakuk se woorde vervul sal word? (b) Hoe kan ons soos Habakuk wees terwyl ons op Jehovah se groot dag wag?
17 Ons kan daarvan seker wees dat Habakuk se woorde binnekort vervul gaan word. Dit sal nie talm nie. Hoe reageer jy op hierdie voorkennis? Onthou dat Habakuk onder Goddelike inspirasie geskryf het. Jehovah gaan optree, en wanneer dit gebeur, sal daar verwoesting op aarde wees. Dit is geen wonder nie dat die profeet geskryf het: “Toe ek dit hoor, het my ingewande gebewe; my lippe het getril by die geluid, bederf het gekom in my gebeente, ja, ek het gebewe waar ek staan, omdat ek rustig moes wag op die dag van benoudheid dat dit aanbreek vir die volk wat op ons ’n aanval maak” (Habakuk 3:16). Habakuk was baie ontsteld—en dit is heeltemal te verstane. Maar is hy in sy geloof geskok? Geensins! Hy was bereid om rustig op Jehovah se groot dag te wag (2 Petrus 3:11, 12). Is dit nie ook ons gesindheid nie? Baie beslis! Ons het die vaste vertroue dat Habakuk se profesie vervul sal word. Maar totdat dit gebeur, sal ons geduldig wag.
18. Wat was Habakuk se gesindheid, al was hy ontberinge te wagte?
18 Oorlog bring altyd ontberinge mee, selfs vir dié wat uiteindelik die oorwinning behaal. Kos kan skaars word. Eiendom kan verlore gaan. Die lewenstandaard kan daal. Hoe sal ons reageer as dit met ons gebeur? Habakuk het ’n navolgenswaardige gesindheid geopenbaar, want hy het gesê: “Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie—nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil” (Habakuk 3:17, 18). Habakuk het besef dat hy ontberinge, moontlik selfs hongersnood, te wagte kan wees. Maar hy het nooit sy vreugde in Jehovah, van wie sy redding afkomstig was, verloor nie.
19. Watter ontberinge ly baie Christene, maar waarvan kan ons seker wees as ons Jehovah eerste in ons lewe stel?
19 Vandag, nog voor Jehovah se oorlog teen die goddeloses, verkeer baie in groot nood. Jesus het voorspel dat oorloë, hongersnode, aardbewings en pessiektes deel sou wees van ‘die teken van sy teenwoordigheid’ in koninklike mag (Matteus 24:3-14; Lukas 21:10, 11). Baie van ons medegelowiges woon in lande wat swaar getref word deur die vervulling van Jesus se woorde, en hulle ly geweldige ontberinge as gevolg daarvan. Ander Christene kan in die toekoms ook daardeur geraak word. Vir baie meer van ons bestaan daar ’n sterk moontlikheid dat “die vyeboom nie sal bloei” voor die einde kom nie. Maar ons weet waarom hierdie dinge gebeur, en dit gee ons krag. Ons het bowendien ondersteuning. Jesus het beloof: “Hou dan aan om eers die koninkryk en sy [God se] regverdigheid te soek, en al hierdie ander dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matteus 6:33). Dit waarborg nie ’n gemaklike lewe nie, maar dit gee ons wel die versekering dat Jehovah vir ons sal sorg as ons hom eerste in ons lewe stel.—Psalm 37:25.
20. Wat moet ons vasbeslote wees om te doen ten spyte van tydelike moeilikhede?
20 Ongeag watter tydelike moeilikhede ons dus die hoof moet bied, ons sal nie ons geloof in Jehovah se reddende krag verloor nie. Baie van ons broers en susters in Afrika, Oos-Europa en ander plekke kom voor vreeslike beproewinge te staan, maar hulle hou aan om ‘in Jehovah te jubel’. Mag ons, soos hulle, nooit ophou om dieselfde te doen nie. Hou in gedagte dat die Soewereine Heer Jehovah ons “sterkte” is (Habakuk 3:19). Hy sal ons nooit in die steek laat nie. Armageddon gaan beslis kom, en God se beloofde nuwe wêreld gaan sonder enige twyfel daarop volg (2 Petrus 3:13). Dan ‘sal die aarde vol word met die kennis van die heerlikheid van Jehovah soos die waters die seebodem oordek’ (Habakuk 2:14). Laat ons tot daardie wonderlike tyd aanbreek die goeie voorbeeld van Habakuk volg. Laat ons altyd ‘jubel in Jehovah en juig in die God van ons heil’.
Onthou jy?
• Watter uitwerking kan Habakuk se gebed op ons hê?
• Waarom trek Jehovah op?
• Wat sê Habakuk se profesie oor redding?
• Met watter gesindheid moet ons op Jehovah se groot dag wag?
[Prent op bladsy 23]
Weet jy watter kragte God by Armageddon teen die goddeloses gaan gebruik?