’n Moeder se wyse raad
“My seun, luister na die tug van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie.”—Spreuke 1:8.
ONS ouers—ons vader en moeder—kan ’n waardevolle bron van aanmoediging, ondersteuning en raad wees. Die Bybelboek Spreuke vertel van ’n sekere jong koning, Lemuel, wat ’n “gewigtige boodskap” van “teregwysing” van sy moeder ontvang het. Hierdie woorde is in Spreuke hoofstuk 31 opgeteken, en ons kan ook baat vind by hierdie moeder se wyse raad.—Spreuke 31:1, NW.
Raad aan ’n koning
Lemuel se moeder begin met ’n hele paar vrae wat ons belangstelling wek: “Wat sê ek, o my seun, en wat, o seun van my moederskoot, en wat, o seun van my geloftes?” Haar pleidooi wat sy drie keer herhaal, toon hoe graag sy wil hê dat haar seun aan haar woorde aandag moet skenk (Spreuke 31:2, NW). Haar besorgdheid oor die geestelike welsyn van haar nakomelinge stel ’n goeie voorbeeld vir Christenouers van vandag.
Wat kan ’n moeder meer bekommer met betrekking tot die welsyn van haar seun as swelgerye wat met losbandige gedrag gepaardgaan? Lemuel se moeder kom onmiddellik tot die punt: “Moenie jou lewenskrag aan vroue gee nie.” Sy sê dat promiskue gedrag “tot die uitwissing van konings lei”.—Spreuke 31:3, NW.
Oormatige drinkery moet nie oor die hoof gesien word nie. “Dit kom konings nie toe, o Lemuel, dit kom konings nie toe om wyn te drink . . . nie”, waarsku sy. Hoe sal ’n koning betroubare en helder oordeel kan uitspreek en nie “vergeet wat verorden is en die regsaak van enige van die kinders van ellende verdraai nie” as hy voortdurend dronk is?—Spreuke 31:4-7, NW.
As die koning daarenteen van sulke verdorwe gebruike af wegbly, sal hy ‘regverdig kan oordeel en die regsaak van die geteisterde en die arme kan bepleit’.—Spreuke 31:8, 9, NW.
Hoewel Christenjongmense vandag nie “konings” is nie, is die wyse raad van Lemuel se moeder nog net so gepas, indien nie meer gepas nie. Alkoholmisbruik, tabakgebruik en geslagsonsedelikheid kom deesdae baie algemeen onder jongmense voor, en dit is noodsaaklik dat Christenjongmense aandag skenk wanneer hulle ouers hulle ‘gewigtige boodskappe’ gee.
’n Deugsame vrou
Moeders is met reg besorg oor die huweliksvooruitsigte van hulle seuns wat volwassenheid nader. Lemuel se moeder skenk vervolgens aandag aan die eienskappe van ’n ideale vrou. ’n Jong man sal ongetwyfeld grootliks daarby baat vind as hy let op ’n vrou se beskouing oor hierdie belangrike saak.
In vers 10 word “’n deugsame vrou” vergelyk met seldsame en kosbare korale, wat in Bybeltye net met baie moeite verkry is. Dit verg eweneens moeite om ’n deugsame vrou te vind. ’n Jong man moenie oorhaastig wees om te trou nie, maar dit sal goed wees as hy eerder sy tyd neem en selektief is. Dan sal hy meer geneig wees om sy kosbare vonds te waardeer.
Daar word vir Lemuel aangaande ’n deugsame vrou gesê: “In haar het die hart van haar eienaar vertroue gestel” (Vers 11, NW). Met ander woorde, hy moet nie daarop aandring dat sy vrou vir elke saak sy goedkeuring moet kry nie. Huweliksmaats moet natuurlik met mekaar beraadslaag voordat hulle groot besluite neem, soos dié met betrekking tot duur aankope of die grootmaak van hulle kinders. Kommunikasie op hierdie gebiede dra by tot ’n hegte band tussen hulle.
’n Deugsame vrou het natuurlik baie dinge om te doen. In verse 13 tot 27 word raad en beginsels gegee wat vroue in enige tydperk tot voordeel van hulle gesin kan gebruik. Met die stygende koste van klere en versierings vir die huis sal ’n deugsame vrou byvoorbeeld vaardighede aanleer en spaarsamig wees sodat haar gesin goed geklee en netjies kan wees (Verse 13, 19, 21, 22). Om minder geld aan voedsel te bestee, kweek sy wat sy kan en koop sy versigtig.—Verse 14, 16.
Dit is duidelik dat hierdie vrou nie “die brood van luiheid eet” nie. Sy werk hard, en sy sien op bekwame wyse om na die huisgesin se bedrywighede (Vers 27). Sy omgord “haar heupe met sterkte”, wat beteken dat sy bereid is om take te verrig wat fisies veeleisend is (Vers 17, NW). Sy staan op voordat die son opkom om haar werksdag te begin, en sy werk vlytig tot laat in die nag. Dit is asof die lamp wat lig verskaf terwyl sy werk altyd brand.—Verse 15, 18.
Die deugsame vrou is bowenal ’n geestelike persoon. Sy vrees God en aanbid hom met diepe respek en eerbiedige ontsag (Vers 30). Sy staan haar man ook by om hulle kinders te leer om dieselfde te doen. Vers 26 (NW) sê: “In wysheid” onderrig sy haar kinders, en “die wet van liefderyke goedhartigheid is op haar tong”.
’n Goeie man
Om ’n deugsame vrou aan te trek, sou Lemuel die verantwoordelikhede van ’n goeie man moes vervul. Lemuel se moeder herinner hom aan ’n paar van hulle.
’n Goeie man sal ’n goeie verslag van “die ouer manne van die land” ontvang (Spreuke 31:23, NW). Dit beteken dat hy iemand is wat bevoeg, eerlik, betroubaar en godvresend is (Exodus 18:21; Deuteronomium 16:18-20). As sodanig sal hy “bekend [wees] in die poorte”, waar die vooraanstaande manne bymekaarkom om die aangeleenthede van die stad te bespreek. Om as ’n godvresende man “bekend” te wees, moet hy redelik wees en eensgesind saamwerk met die ouer manne van die “land”, wat moontlik na die streek of gebied verwys.
Lemuel se moeder praat ongetwyfeld uit persoonlike ondervinding en herinner haar seun aan die belangrikheid daarvan om waardering te toon vir sy toekomstige vrou. Niemand op aarde sal vir hom kosbaarder wees nie. Stel jou dus die diep emosie in sy stem voor wanneer hy voor almal erken: “Baie dogters het hulle bekwaam betoon, maar jy—jy het bo hulle almal uitgestyg.”—Spreuke 31:29, NW.
Dit is duidelik dat Lemuel sy moeder se wyse raad waardeer het. Ons sien byvoorbeeld dat hy in vers 1 na sy moeder se woorde verwys as sy eie woorde. Hy het dus haar “teregwysing” ter harte geneem en by haar raad baat gevind. Mag ons ook voordeel trek uit hierdie “gewigtige boodskap” deur die beginsels daarvan in ons lewe toe te pas.
[Prente op bladsy 31]
’n Deugsame vrou eet nie “die brood van luiheid” nie