Gee ag op God se profetiese woord
“Die profetiese woord [is] vir ons vaster gemaak; en julle doen goed deur aandag daaraan te skenk.”—2 PETRUS 1:19.
1, 2. Watter voorbeeld van ’n valse messias kan jy noem?
DEUR die eeue heen het valse messiasse die toekoms probeer voorspel. In die vyfde eeu G.J. het ’n man wat homself Moses genoem het Jode op die eiland Kreta oortuig dat hy die messias is en dat hy hulle van verdrukking sou verlos. Toe die vasgestelde dag vir hulle bevryding aanbreek, het hulle hom na ’n hoë punt gevolg wat oor die Middellandse See uitkyk. Hy het vir hulle gesê dat hulle net in die see moes spring, en dit sou voor hulle verdeel word. Baie wat in die see gespring het, het verdrink, en daardie valse messias het spoorloos verdwyn.
2 In die 12de eeu het ’n “messias” in Jemen te voorskyn gekom. Die kalief, of heerser, het hom vir ’n teken van sy messiasskap gevra. Hierdie “messias” het voorgestel dat die kalief hom moet laat onthoof. Hy het geprofeteer dat sy oombliklike opstanding as die teken sou dien. Die kalief het tot die plan ingestem—en dit was die einde van daardie “messias”.
3. Wie is die ware Messias, en wat het sy bediening bewys?
3 Valse messiasse en hulle voorspellings misluk hopeloos, maar as ons ag gee op God se profetiese woord sal dit nooit tot teleurstelling lei nie. Die ware Messias, Jesus Christus, het baie Bybelprofesieë volmaak vervul. Die Evangelieskrywer Matteus het byvoorbeeld uit Jesaja se profesie aangehaal en geskryf: “‘O land van Sebulon en land van Naftali, aan die seepad, aan die oorkant van die Jordaan, Galilea van die nasies! die volk wat in die duisternis gesit het, het ’n groot lig gesien, en dié wat in ’n streek van doodskaduwee gesit het, oor hulle het die lig opgegaan.’ Van daardie tyd af het Jesus begin preek en sê: ‘Toon berou, want die koninkryk van die hemele het naby gekom’” (Matteus 4:15-17; Jesaja 8:23–9:1 NW). Jesus was daardie “groot lig”, en sy bediening het bewys dat hy die Profeet was van wie Moses geprofeteer het. Diegene wat nie na Jesus wil luister nie, sal vernietig word.—Deuteronomium 18:18, 19; Handelinge 3:22, 23.
4. Hoe het Jesus Jesaja 53:12 vervul?
4 Jesus het ook die profetiese woorde van Jesaja 53:12 vervul: ‘Hy het sy siel uitgestort in die dood en is saam met die oortreders getel, terwyl Hy tog die sonde van baie gedra en vir die oortreders gebid het.’ Jesus het geweet dat hy sy menselewe weldra as ’n losprys sou gee, en daarom het hy sy dissipels se geloof versterk (Markus 10:45). Hy het dit op ’n besondere manier gedoen deur middel van die gedaanteverandering.
Die gedaanteverandering bou geloof op
5. Hoe sal jy die gedaanteverandering in jou eie woorde beskryf?
5 Die gedaanteverandering was ’n profetiese gebeurtenis. Jesus het gesê: “Die Seun van die mens is bestem om met sy engele in die heerlikheid van sy Vader te kom . . . Voorwaar, ek sê vir julle dat daar party van dié is wat hier staan wat glad nie die dood sal smaak voordat hulle eers die Seun van die mens in sy koninkryk sien kom het nie” (Matteus 16:27, 28). Het party van die apostels Jesus werklik in sy Koninkryk sien kom? Matteus 17:1-7 sê: “Ses dae later het Jesus vir Petrus en Jakobus en Johannes, sy broer, saamgeneem en hulle alleen teen ’n hoë berg opgeneem. En hy het voor hulle van gedaante verander.” Wat ’n aangrypende gebeurtenis! “Sy gesig het geskyn soos die son, en sy boklere het skitterend geword soos die lig. En kyk! daar het aan hulle verskyn Moses en Elia, in gesprek met hom.” Ook “het ’n helder wolk hulle oorskadu”, en hulle het gehoor hoe God se eie stem sê: “‘Dit is my Seun, die geliefde, wat ek goedgekeur het; luister na hom.’ Toe die dissipels dit hoor, het hulle op hulle gesig geval en baie bang geword. Daarop het Jesus nader gekom, aan hulle geraak en gesê: ‘Staan op en moenie vrees nie.’”
6. (a) Waarom het Jesus die gedaanteverandering ’n visioen genoem? (b) Waarvan was die gedaanteverandering ’n voorskou?
6 Hierdie ontsagwekkende gebeurtenis het heel waarskynlik op een van die uitlopers van die berg Hermon plaasgevind, waar Jesus en die drie apostels die nag deurgebring het. Die gedaanteverandering het klaarblyklik in die nag plaasgevind, wat dit veral indrukwekkend gemaak het. Een rede waarom Jesus dit ’n visioen genoem het, was omdat Moses en Elia, wat al lank dood was, nie letterlik teenwoordig was nie. Net Christus was werklik daar (Matteus 17:8, 9). Hierdie merkwaardige gebeurtenis het vir Petrus, Jakobus en Johannes ’n skouspelagtige voorskou van Jesus se glorieryke teenwoordigheid in Koninkryksmag gegee. Moses en Elia het Jesus se gesalfde mede-erfgename voorafgeskadu, en die visioen het ’n kragtige bevestiging van sy getuienis oor die Koninkryk en sy toekomstige koningskap gegee.
7. Hoe weet ons dat Petrus die gedaanteverandering baie goed onthou het?
7 Die gedaanteverandering het gehelp om die geloof van die drie apostels te versterk wat ’n vername rol in die Christengemeente sou speel. Christus se glansende gesig, sy skitterende klere en God se eie stem wat sê dat Jesus Sy geliefde Seun is na wie hulle moet luister—dit alles het die doel op treffende wyse bereik. Maar die apostels moes die visioen vir niemand vertel voordat Jesus opgewek is nie. Sowat 32 jaar later was hierdie visioen nog helder in Petrus se verstand. Hy het na die visioen asook die betekenis daarvan verwys en geskryf: “Nee, dit was nie deur kunstig versinde valse stories te volg dat ons die krag en teenwoordigheid van ons Here Jesus Christus aan julle bekend gemaak het nie, maar deurdat ons ooggetuies van sy luisterrykheid geword het. Want hy het eer en heerlikheid van God die Vader ontvang toe woorde soos hierdie deur die luisterryke heerlikheid tot hom gekom het: ‘Dit is my seun, my geliefde, wat ek self goedgekeur het.’ Ja, hierdie woorde het ons uit die hemel hoor kom terwyl ons saam met hom op die heilige berg was.”—2 Petrus 1:16-18.
8. (a) Waarop vestig God se verklaring aangaande sy Seun die aandag? (b) Wat het die wolk getoon wat tydens die gedaanteverandering verskyn het?
8 God se verklaring was van die allergrootste belang: “Dit is my Seun, die geliefde, wat ek goedgekeur het; luister na hom.” Hierdie stelling vestig die aandag op Jesus as God se gekroonde Koning, aan wie die hele skepping gehoorsaam moet wees. Die wolk het getoon dat die vervulling van hierdie visioen onsigbaar sou wees. Dit sou alleenlik onderskei kon word deur diegene wat “die teken” van Jesus se onsigbare teenwoordigheid in Koninkryksmag met die oë van die verstand kon sien (Matteus 24:3). Trouens, Jesus se voorskrif dat hulle niemand van die visioen moes vertel totdat hy uit die dood opgestaan het nie, toon dat sy verheerliking eers ná sy opstanding sou plaasvind.
9. Waarom behoort die gedaanteverandering ons geloof te versterk?
9 Nadat Petrus na die gedaanteverandering verwys het, het hy gesê: “Gevolglik is die profetiese woord vir ons vaster gemaak; en julle doen goed deur aandag daaraan te skenk soos aan ’n lamp wat in ’n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en ’n dagster opgaan, in julle harte. Want dít weet julle allereers, dat geen profesie van die Skrif uit enige eie uitlegging voortspruit nie. Want profesie is nooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie, maar mense het uit God gespreek namate hulle deur heilige gees meegevoer is” (2 Petrus 1:19-21). Die gedaanteverandering beklemtoon die betroubaarheid van God se profetiese woord. Ons moet aandag skenk aan daardie woord en nie aan “kunstig versinde valse stories” wat nie God se steun of goedkeuring geniet nie. Ons geloof in die profetiese woord behoort versterk te word deur die gedaanteverandering omdat daardie visioen wat ’n voorskou van Jesus se heerlikheid en Koninkryksmag was ’n werklikheid geword het. Ja, ons het onmiskenbare getuienis dat Christus vandag teenwoordig is as ’n magtige hemelse Koning.
Hoe die dagster opgaan
10. Wie of wat is die “dagster” waarvan Petrus gepraat het, en waarom is dit jou antwoord?
10 Petrus het geskryf: “Julle doen goed deur aandag [aan die profetiese woord] te skenk soos aan ’n lamp wat in ’n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en ’n dagster opgaan.” Wie of wat is die “dagster”? Die woord “dagster” kom net een keer in die Bybel voor, en dit beteken dieselfde as “môrester”. Openbaring 22:16 noem Jesus Christus “die helder môrester”. Sekere tye van die jaar kom hierdie sterre laaste bo die oostelike horison op. Hulle kom net voor die son op en kondig dus die begin van ’n nuwe dag aan. Petrus het die woord “dagster” gebruik om te verwys na Jesus nadat Hy Koninkryksmag ontvang het. Op daardie tydstip het Jesus in die ganse heelal, wat ons aarde insluit, opgegaan! As die Messiaanse Dagster kondig hy ’n nuwe dag, of tydvak, vir die gehoorsame mensdom aan.
11. (a) Waarom beteken 2 Petrus 1:19 nie dat “’n dagster” in die letterlike hart van mense opgaan nie? (b) Hoe sal jy 2 Petrus 1:19 verduidelik?
11 Baie Bybelvertalings staan die gedagte voor dat die apostel Petrus se woorde in 2 Petrus 1:19 na die mens se letterlike hart verwys. ’n Volwassene se hart weeg maar 250 tot 300 gram. Hoe kon Jesus Christus—wat nou ’n verheerlikte onsterflike geesskepsel in die hemel is—dan in hierdie klein menseorgane opgaan? (1 Timoteus 6:16). Ons figuurlike hart is natuurlik by hierdie saak betrokke, want daarmee gee ons ag op God se profetiese woord. Maar kyk mooi na 2 Petrus 1:19, en jy sal sien dat die Nuwe Wêreld-vertaling kommas gebruik om die frase “totdat die dag aanbreek en ’n dagster opgaan” te skei van die woorde voor die frase en van die uitdrukking “in julle harte”. Hierdie vers kan só gestel word: ‘Die profetiese woord is vir ons vaster gemaak; en julle doen goed deur aandag daaraan te skenk soos aan ’n lamp wat in ’n donker plek skyn, dit wil sê in julle harte, totdat die dag aanbreek en ’n dagster opgaan.’
12. Wat is die toestand van mense se harte oor die algemeen, maar wat is die geval met ware Christene?
12 Wat is die toestand van die figuurlike harte van die sondige mensdom oor die algemeen? Hulle harte is in geestelike donkerte! Maar as ons ware Christene is, is dit asof ons ’n lamp het wat in ons hart skyn waar dit andersins donker sou wees. Soos Petrus se woorde aandui, sal ware Christene wakker bly en verlig bly tot die nuwe dag aanbreek as hulle ag gee op God se verligtende profetiese woord. Hulle sal weet dat die Dagster opgegaan het, nie in die letterlike hart van mense nie, maar voor die ganse skepping.
13. (a) Waarom kan ons seker wees dat die Dagster reeds opgegaan het? (b) Waarom kan Christene die moeilike toestande verduur wat Jesus vir ons dag voorspel het?
13 Die Dagster het reeds opgegaan! Ons kan daarvan seker wees as ons aandag skenk aan Jesus se groot profesie aangaande sy teenwoordigheid. Vandag sien ons die vervulling daarvan in gebeure soos ongeëwenaarde oorloë, hongersnode, aardbewings en die wêreldwye verkondiging van die goeie nuus (Matteus 24:3-14). Al word ons as Christene ook geraak deur die moeilike toestande wat Jesus voorspel het, kan ons volhard met vrede en vreugde in ons hart. Waarom? Omdat ons op God se profetiese woord ag gee en geloof beoefen in wat hy vir die toekoms beloof. Ons weet dat ons op die drumpel staan van die beste tyd wat daar ooit sal wees omdat ons baie diep in “die tyd van die einde” is! (Daniël 12:4). Die wêreld is in die haglike toestand wat in Jesaja 60:2 voorspel word: “Kyk, die duisternis sal die aarde oordek en donkerheid die volke.” Hoe kan enigiemand sy pad deur hierdie duisternis vind? ’n Mens moet nou, voor dit te laat is, nederig ag gee op God se profetiese woord. Opregtes van hart moet hulle wend tot Jehovah God, die Bron van die lewe en lig (Psalm 36:9, NW; Handelinge 17:28). Alleenlik as ’n mens dít doen, kan jy ware verligting verkry en die hoop hê om die wonderlike toekoms te geniet wat God in gedagte het vir die gehoorsame mensdom.—Openbaring 21:1-5.
‘Die lig het in die wêreld ingekom’
14. Wat moet ons doen as ons die vervulling van die Bybel se wonderlike profesieë wil sien?
14 Die Skrif stel dit duidelik dat Jesus Christus nou as Koning regeer. Omdat hy in 1914 aan die bewind gekom het, sal wonderlike profesieë nog vervul word. As ons die vervulling daarvan wil sien, moet ons toon dat ons sagmoediges is wat geloof in Jesus Christus beoefen en berou het oor ons sondige werke en oortredings wat ons uit onkunde begaan het. Diegene wat die duisternis liefhet, sal natuurlik nie die ewige lewe ontvang nie. Jesus het gesê: “Dít is die grondslag vir die oordeel, dat die lig in die wêreld ingekom het maar die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad het, want hulle werke was goddeloos. Want hy wat veragtelike dinge beoefen, haat die lig en kom nie na die lig nie, sodat sy werke nie tereggewys sal word nie. Maar hy wat doen wat waar is, kom na die lig, sodat sy werke openbaar gemaak kan word as werke wat in ooreenstemming met God verrig is.”—Johannes 3:19-21.
15. Wat sal gebeur as ons die redding verontagsaam wat God deur sy Seun moontlik gemaak het?
15 Geestelike lig het deur middel van Jesus in die wêreld ingekom, en dit is lewensbelangrik dat ons na hom luister. Paulus het geskryf: “God, wat lank gelede by baie geleenthede en op baie maniere met ons voorvaders gespreek het deur middel van die profete, het aan die einde van hierdie dae met ons gespreek deur middel van ’n Seun, wat hy as erfgenaam van alle dinge aangestel het” (Hebreërs 1:1, 2). Wat sal gebeur as ons hierdie redding verontagsaam wat God deur sy Seun moontlik gemaak het? Paulus het verder gesê: “As die woord wat deur middel van engele gespreek is, vasgestaan het, en elke oortreding en ongehoorsame daad ’n vergelding in ooreenstemming met geregtigheid ontvang het, hoe sal ons dan ontkom as ons so ’n groot redding verontagsaam het, wat immers eers deur middel van ons Here gespreek is en vir ons bevestig is deur dié wat hom gehoor het, terwyl God ook saam getuig het met tekens sowel as voortekens en verskillende kragtige werke en met uitdelings van heilige gees volgens sy wil?” (Hebreërs 2:2-4). Ja, die verkondiging van die profetiese woord draai om Jesus.—Openbaring 19:10.
16. Waarom kan ons volle vertroue in al Jehovah God se profesieë hê?
16 Soos ons gesien het, het Petrus gesê: ‘Geen profesie van die Skrif spruit voort uit enige eie uitlegging nie.’ Mense kan nie op hulle eie ’n ware profesie uitdink nie, maar ons kan volle vertroue in al God se profesieë hê. Hulle oorsprong is by Jehovah God self. Hy het sy knegte deur middel van die heilige gees gehelp om te verstaan hoe Bybelprofesieë vervul word. Ons is inderdaad dankbaar teenoor Jehovah dat ons die vervulling van baie van hierdie profesieë sedert die jaar 1914 gesien het. En ons is vas oortuig dat die oorblywende profesieë oor die einde van hierdie goddelose stelsel van dinge almal vervul gaan word. Dit is noodsaaklik dat ons aanhou ag gee op Goddelike voorspellings terwyl ons ons lig laat skyn (Matteus 5:16). Hoe dankbaar is ons tog dat Jehovah ‘lig laat opgaan in die duisternis’ wat die aarde vandag omhul!—Jesaja 58:10.
17. Waarom het ons geestelike lig van God af nodig?
17 Fisiese lig maak dat ons kan sien. Dit laat ook gewasse groei wat ons van ’n groot verskeidenheid kossoorte voorsien. Ons kan nie sonder fisiese lig lewe nie. Wat van geestelike lig? Dit gee ons leiding en wys vir ons wat die toekoms is wat in God se Woord, die Bybel, voorspel word (Psalm 119:105). Jehovah God ‘stuur sy lig en sy waarheid’ op liefdevolle wyse uit (Psalm 43:3). Ons moet beslis diepe waardering vir hierdie voorsienings toon. Laat ons dus alles in ons vermoë doen om die lig van “die heerlike kennis van God” te absorbeer sodat dit ons figuurlike hart kan verlig.—2 Korintiërs 4:6; Efesiërs 1:18.
18. Jehovah se Dagster is nou gereed om wat te doen?
18 Hoe geseënd is ons tog om te weet dat Jesus Christus, die Dagster, in 1914 in die ganse heelal opgegaan het en die visioen van die gedaanteverandering begin vervul het! Jehovah se Dagster is nou teenwoordig en gereed om God se voorneme uit te voer ter verdere vervulling van die gedaanteverandering—“die oorlog van die groot dag van God die Almagtige” (Openbaring 16:14, 16). Nadat hierdie ou stelsel vernietig is, sal Jehovah sy belofte van ’n “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” vervul, waar ons hom vir ewig kan loof as die Soewereine Heer van die heelal en die God van ware profesie (2 Petrus 3:13). Laat ons, totdat daardie wonderlike dag aanbreek, aanhou wandel in God se lig deur op sy profetiese woord ag te gee.
Hoe sal jy antwoord?
• Hoe sal jy Jesus se gedaanteverandering beskryf?
• Hoe bou die gedaanteverandering ons geloof op?
• Wie of wat is Jehovah se Dagster, en wanneer het dit opgegaan?
• Waarom moet ons ag gee op God se profetiese woord?
[Prent op bladsy 13]
Kan jy die betekenis van die gedaanteverandering verduidelik?
[Prent op bladsy 15]
Die Dagster het reeds opgegaan. Weet jy hoe en wanneer?