Vreugdevolle troues wat Jehovah vereer
Welsh en Elthea is in 1985 in Soweto getroud. Hulle kyk nou en dan saam met hulle dogter, Zinzi, na hulle troufoto’s en geniet dit om oor daardie vreugdevolle dag te gesels. Zinzi hou daarvan om te sê wie die gaste op die foto’s is, en veral om na die foto’s van haar ma te kyk waar sy so mooi lyk.
DIE troue het begin met ’n troutoespraak wat in ’n gemeenskapsaal in Soweto gehou is. Toe het ’n koor van jong Christene lofliedere tot God in vierstemmige harmonie gesing. Daarna het die gaste ’n ete geniet terwyl ’n musiekopname van Koninkryksliedere saggies in die agtergrond gespeel het. Geen alkohol is bedien nie, en daar was geen harde musiek of dansery nie. Die gaste het dit eerder geniet om met mekaar te assosieer en die bruidspaar geluk te wens. Die hele geleentheid het omtrent drie uur geduur. “Ek het nog altyd aangename herinneringe van daardie troue”, sê Raymond, ’n Christen- ouer man.
Welsh en Elthea was vrywillige werkers by die Suid-Afrikaanse takkantoor van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap toe hulle getrou het. Hulle kon slegs ’n beskeie troue bekostig. Party Christene het gekies om die voltydse bediening te verlaat en sekulêre werk te kry sodat hulle vir ’n deftige troue kon betaal. Maar Welsh en Elthea is glad nie spyt dat hulle ’n beskeie troue gehad het nie, want dit het hulle in staat gestel om God as voltydse bedienaars te bly dien totdat Zinzi gebore is.
Maar gestel ’n paartjie besluit om wêreldse musiek en dansery by hulle troue te hê. Sê nou hulle besluit om wyn of ander drank te bedien? Sê nou hulle kan ’n groot en deftige troue bekostig? Hoe kan hulle seker maak dat dit ’n gelukkige geleentheid sal wees wat sal afloop soos dit aanbidders van God betaam? ’n Mens moet ernstig nadink oor hierdie vrae, want die Bybel beveel: “Hetsy julle eet of drink of enigiets anders doen, doen alles tot heerlikheid van God.”—1 Korintiërs 10:31.
Vermy swelgery
’n Mens kan jou beswaarlik ’n vreugdelose troue voorstel. Daar is ’n veel groter gevaar dat dit na die ander uiterste kan oorgaan deur te veel onbeheerste swelgery te hê. By baie troues van mense wat nie Getuies is nie, gebeur dinge wat God tot oneer strek. Mense drink dikwels alkohol totdat hulle dronk is. Dit het ongelukkig selfs al by party Christentroues gebeur.
Die Bybel waarsku dat “sterk drank ’n lawaaimaker” is (Spreuke 20:1). Die Hebreeuse woord wat met “lawaaimaker” vertaal word, beteken om “’n groot geraas te maak”. As alkohol een persoon luidrugtig kan maak, kan jy jou indink wat dit aan ’n groot groep mense kan doen wat bymekaarkom en te veel drink! Sulke geleenthede kan ongetwyfeld maklik ontaard in “dronkenskap, swelgerye en dergelike dinge”, wat in die Bybel “werke van die vlees” genoem word. Hierdie gebruike kan veroorsaak dat enigiemand wat onberouvol is nie die ewige lewe onder die heerskappy van God se Koninkryk sal beërf nie.—Galasiërs 5:19-21.
Die Griekse woord vir “swelgery” is gebruik om ’n luidrugtige straatoptog van halfdronk jongmense wat sing en dans en musiek speel te beskryf. As alkohol op ’n troue vryelik vloei, en as daar harde musiek en wilde danse is, bestaan daar ’n wesenlike gevaar dat die geleentheid in iets soos ’n swelgery sal ontaard. In so ’n atmosfeer kan swakkes maklik in versoeking kom en hulle skuldig maak aan ander werke van die vlees, soos “hoerery, onreinheid, losbandige gedrag, [of toegee aan] vlae van toorn”. Wat kan gedoen word om te voorkom dat sulke werke van die vlees die vreugde van ’n Christentroue bederf? Kom ons kyk wat die Bybel oor ’n sekere troue sê om hierdie vraag te beantwoord.
’n Troue wat Jesus bygewoon het
Jesus en sy dissipels is na ’n troue in Kana in Galilea genooi. Hulle het die uitnodiging aanvaar, en Jesus het selfs tot die vreugde van die geleentheid bygedra. Toe die wyn opgeraak het, het hy wonderdadig ’n ekstra voorraad van die beste gehalte wyn voorsien. Ná die troue het die dankbare bruidegom en sy gesin ongetwyfeld nog ’n ruk lank van die wyn gedrink wat oorgebly het.—Johannes 2:3-11.
Ons kan ’n hele paar lesse leer uit die troue wat Jesus bygewoon het. Eerstens het Jesus en sy dissipels nie die bruilof ongenooid bygewoon nie. Die Bybel sê spesifiek dat hulle genooi was (Johannes 2:1, 2). Jesus het ook in twee illustrasies van huweliksfeeste herhaaldelik genoem dat die gaste wat dit bygewoon het, genooi was.—Matteus 22:2-4, 8, 9; Lukas 14:8-10.
In party lande is dit gebruiklik vir almal in die gemeenskap om te voel dat hulle ’n troue kan bywoon of hulle nou genooi is of nie. Maar dit kan tot ’n swaar finansiële las lei. ’n Paartjie wat nie ryk is nie, maak dalk skuld om te verseker dat daar genoeg eet- en drinkgoed vir ’n onbepaalde groep mense is. As ’n Christenpaartjie dus besluit om ’n beskeie onthaal met ’n sekere aantal gaste te reël, moet mede-Christene wat nie genooi is nie dit verstaan en respekteer. ’n Man wat in Kaapstad getrou het, het 200 gaste na sy troue genooi. Maar 600 mense het opgedaag, en die kos het vinnig opgeraak. Van die ongenooides was ’n bus vol besoekers wat toevallig die naweek van die troue in Kaapstad op toer was. Die groep se toergids was vêrlangs familie van die bruid en het gedink dat hy die reg gehad het om die hele toergroep na die troue te bring sonder om eers die bruid of bruidegom se toestemming te vra!
Tensy daar gesê is dat almal welkom is om die onthaal by te woon, sal ’n ware volgeling van Jesus nie ongenooid na die onthaal gaan en van die eet- en drinkgoed geniet wat vir die genooide gaste voorsien is nie. Diegene wat in die versoeking kom om ongenooid te gaan, moet hulle afvra: ‘Sal dit nie ’n gebrek aan liefde vir die bruidspaar toon as ek hierdie troue bywoon nie? Sal ek nie ongerief veroorsaak en afbreuk doen aan die vreugde van die geleentheid nie?’ ’n Verstandige Christen sal nie aanstoot neem omdat hy nie genooi is nie, maar sal miskien eerder liefdevol ’n kaartjie stuur om die bruidspaar geluk te wens en hulle Jehovah se seën toe te wens. Hy kan selfs daaraan dink om die egpaar te help deur ’n geskenk te stuur om tot die geluk van hulle troudag by te dra.—Prediker 7:9; Efesiërs 4:28.
Wie is verantwoordelik?
In dele van Afrika is dit gebruiklik vir ouer familielede om die reëlings vir die troue oor te neem. Paartjies waardeer dit dalk omdat dit hulle van die finansiële las bevry. Hulle meen dalk dat hulle dan ook nie meer die verantwoordelikheid hoef te dra vir enigiets wat kan gebeur nie. Maar voordat ’n paartjie enige hulp van welmenende familielede aanvaar, moet hulle seker maak dat hulle wense gerespekteer sal word.
Hoewel Jesus die Seun van God is wat “uit die hemel neergedaal het”, is daar geen aanduiding dat hy oorgeneem het en in beheer van die meeste sake by die troue in Kana was nie (Johannes 6:41). Die Bybelverslag sê eerder dat iemand anders aangestel was om as “die feesleier” op te tree (Johannes 2:8). Hierdie man was op sy beurt verantwoordelik aan die nuwe gesinshoof, naamlik die bruidegom.—Johannes 2:9, 10.
Christenfamilielede moet respek toon vir die hoof wat God oor die nuwe gesin aangestel het (Kolossense 3:18-20). Hý moet die verantwoordelikheid dra vir wat by sy troue plaasvind. ’n Bruidegom moet natuurlik redelik wees en, indien moontlik, die wense van sy bruid, sy ouers en sy skoonouers in ag neem. Maar as familielede aanhou om die wense van die bruidspaar te ignoreer, dan moet die paartjie dalk hulle hulp vriendelik van die hand wys en vir hulle eie beskeie troue betaal. Sodoende sal niks gebeur wat die bruidspaar met onaangename herinneringe sal laat nie. By ’n Christentroue in Afrika het ’n ongelowige familielid wat as die seremoniemeester opgetree het byvoorbeeld ’n heildronk op die afgestorwe voorouers ingestel!
Soms vertrek die bruidspaar op hulle wittebroodsreis voordat die onthaal verby is. In daardie geval moet die bruidegom verantwoordelike persone aanstel om toe te sien dat Bybelstandaarde gehandhaaf word en dat die onthaal nie te laat eindig nie.
Sorgvuldige beplanning en balans
Daar was klaarblyklik genoeg lekker kos by die bruilof wat Jesus bygewoon het, want die Bybel beskryf dit as ’n huweliksfees. Soos ons reeds gesien het, was daar ook baie wyn. Daar was ongetwyfeld gepaste musiek en dansery omdat dit ’n algemene kenmerk van Joodse sosiale lewe was. Jesus het dit getoon in sy bekende illustrasie van die verlore seun. Die ryk vader in hierdie verhaal was so bly dat sy berouvolle seun teruggekom het dat hy gesê het: “Laat ons eet en vrolik wees.” Volgens Jesus het die viering “’n musiekkonsert en gedans” ingesluit.—Lukas 15:23, 25.
Dit is egter interessant dat die Bybel nie spesifiek verwys na musiek en dansery by die troue in Kana nie. Trouens, nie een van die Bybelverslae oor troues meld dansery nie. Dit wil voorkom of dansery onder God se getroue knegte wat in Bybeltye gelewe het, ’n bysaak en nie die vernaamste deel van hulle troues was nie. Kan ons iets hieruit leer?
By party Christentroues in Afrika word kragtige elektroniese klankstelsels gebruik. Die musiek kan so hard wees dat die gaste nie lekker met mekaar kan gesels nie. Soms raak die kos klaar, maar dieselfde kan nie gesê word van die dansery nie, wat maklik onbeheers raak. Sulke geleenthede is dan nie meer ’n huweliksfees nie, maar bloot ’n verskoning vir ’n dansparty. Daarbenewens lok die harde musiek dikwels rusverstoorders, vreemdelinge wat eenvoudig ongenooid opdaag.
Moet die feit dat die Bybelverslag van troues nie die klem op musiek en dansery lê nie, nie as ’n rigsnoer dien vir ’n paartjie wat ’n troue beplan wat Jehovah sal vereer nie? En tog het jong Christene wat gekies is as deel van die bruidsgevolg by ’n paar onlangse troues in suidelike Afrika ter voorbereiding daarvan ure lank geoefen om ingewikkelde danspassies uit te voer. Hulle het maande lank buitensporig baie tyd hieraan gewy. Maar Christene moet ‘die tyd uitkoop’ vir “die belangriker dinge”, soos die evangelisasiewerk, persoonlike studie en die bywoning van Christelike vergaderinge.—Efesiërs 5:16; Filippense 1:10.
Te oordeel na die hoeveelheid wyn wat Jesus voorsien het, lyk dit asof die troue in Kana ’n groot, deftige onthaal was. Maar ons kan daarvan seker wees dat die geleentheid nie luidrugtig was nie en dat die gaste nie alkohol misbruik het soos by sekere Joodse troues die geval was nie (Johannes 2:10). Hoe kan ons so seker wees? Omdat die Here Jesus Christus daar teenwoordig was. Van alle mense sou Jesus God se bevel aangaande slegte omgang nougeset gehoorsaam het: “Wees nie onder die wynsuipers nie.”—Spreuke 23:20.
As ’n paartjie dus besluit om wyn of ander alkoholiese drank by hulle troue te bedien, moet hulle reël dat dit onder die streng beheer van verantwoordelike persone geskied. En as hulle besluit om musiek te hê, moet hulle gepaste melodieë kies en ’n verantwoordelike persoon aanstel om die klank te beheer. Gaste moet nie toegelaat word om oor te neem en twyfelagtige musiek te speel of die musiek verskriklik hard te sit nie. As daar dansery gaan wees, kan dit op ’n waardige en mooi manier ingelui word. As ongelowige familielede of onvolwasse Christene vulgêre of sensuele danspassies uitvoer, moet die bruidegom dalk die soort musiek verander of taktvol versoek dat die dansery beëindig word. Anders kan die troue op ’n losbandige geleentheid uitloop en ’n rede tot struikeling wees.—Romeine 14:21.
Weens die gevare wat verbonde is aan sekere soorte moderne danse, harde musiek en alkohol wat vryelik vloei, het ’n aantal Christenbruidegomme besluit om dit nie by hulle troue te hê nie. Party is hieroor gekritiseer, maar hulle moet eerder geprys word omdat hulle graag enigiets wil vermy wat oneer op God se heilige naam kan bring. Daarenteen reël party bruidegomme dat daar gepaste musiek is, ’n tyd om te dans en alkohol wat met matigheid bedien word. Wat die bruidegom ook al doen, hy is verantwoordelik vir wat hy op sy troue toelaat.
In Afrika sien party onvolwasse Christene neer op waardige Christelike troues en sê hulle dit is soos om ’n begrafnis by te woon. Maar dit is nie ’n gebalanseerde beskouing nie. Sondige werke van die vlees kan tydelike opwinding verskaf, maar dit laat Christene met ’n gewete wat hulle kwel en dit bring oneer op God se naam (Romeine 2:24). Aan die ander kant bring God se heilige gees ware vreugde voort (Galasiërs 5:22). Baie Christenegpare kyk terug met trots op hulle troudag, in die wete dat dit ’n gelukkige geleentheid was en nie “aanleiding tot struikeling” gegee het nie.—2 Korintiërs 6:3.
Welsh en Elthea onthou nog die talle gunstige opmerkings van ongelowige familielede wat hulle troue bygewoon het. Een het gesê: “Ons is moeg van die luidrugtige troues wat deesdae gehou word. Dit was so lekker om vir ’n verandering ’n ordentlike troue by te woon.”
Nog belangriker, Christentroues wat vreugdevol is en met waardigheid geskied, vereer die Insteller van die huwelik, Jehovah God.
[Venster/Prent op bladsy 22]
PUNTE OM OP TE LET WAT ’N ONTHAAL BETREF
• Het julle, indien julle ’n ongelowige familielid gevra het om ’n paar woorde te sê, seker gemaak dat hy nie ’n onchristelike tradisie sal inlei nie?
• Het julle, indien daar musiek gespeel gaan word, net gepaste liedjies gekies?
• Maak seker dat die musiek nie te hard gespeel gaan word nie.
• As julle dansery gaan hê, sal dit dan op ’n waardige manier gedoen word?
• Sal alkohol net met matigheid bedien word?
• Sal verantwoordelike persone in beheer wees van hoeveel alkohol bedien word?
• Het julle ’n redelike tyd vasgestel waarop die onthaal moet eindig?
• Sal verantwoordelike persone teenwoordig wees om te verseker dat alles ordelik afloop?