’n Blaarryke olyfboom in die huis van God
IN DIE land Israel groei daar ’n boom wat feitlik onvernietigbaar is. Selfs wanneer hy afgekap word, groei daar gou weer nuwe lote uit die wortelstok. En wanneer sy vrugte geoes word, beloon hy sy eienaar met oorvloedige olie wat gebruik kan word om kos te maak, beligting te verskaf, asook vir higiëniese doeleindes en in skoonheidsmiddels.
Volgens ’n ou gelykenis wat in die Bybelboek Rigters opgeteken is, ‘het die bome eendag gegaan om ’n koning oor hulle te salf’. Watter boom in die woud was hulle eerste keuse? Niks anders nie as die geharde, welige olyfboom.—Rigters 9:8.
Meer as 3 500 jaar gelede het die profeet Moses Israel as ‘’n goeie land, ’n land van olyfbome’ beskryf (Deuteronomium 8:7, 8). Selfs vandag kan olyfbome oral op die landskap gesien word, van die voet van die berg Hermon in die noorde tot in die buitewyke van Berseba in die suide. Hulle versier nog steeds die kusvlakte van Saron, die klipperige heuwelhange van Samaria en die vrugbare valleie van Galilea.
Bybelskrywers het die olyfboom dikwels in figuurlike sin gebruik. Kenmerke van hierdie boom is gebruik om God se barmhartigheid, die opstandingsbelofte en ’n gelukkige gesinslewe toe te lig. ’n Nadere kykie na die olyfboom sal ons help om hierdie skriftuurlike verwysings te verstaan en om ’n groter waardering op te bou vir hierdie unieke boom wat saam met die res van die skepping sy Maker loof.—Psalm 148:7, 9.
Die geharde olyfboom
’n Olyfboom is met die eerste oogopslag nie besonder indrukwekkend nie. Hy groei nie so vreeslik hoog soos party van die statige seders van Libanon nie. Daar word nie soveel waarde aan sy hout geheg soos aan dié van die sipres nie, en sy blomme is nie so mooi soos die amandelboom s’n nie (Hooglied 1:17; Amos 2:9). Die belangrikste deel van die olyfboom kan nie gesien word nie—dit is onder die grond. Sy uitgestrekte wortels, wat ses meter diep in die grond kan indring en horisontaal baie verder kan strek, is die sleutel tot die boom se goeie oeste en oorlewing.
Hierdie wortels stel olyfbome in staat om ’n droogte op klipperige heuwelhange te oorleef terwyl bome onder in die vallei reeds weens te min water doodgegaan het. Die wortels stel die boom ook in staat om eeue lank olywe voort te bring, selfs al lyk die vergroeide stam of dit net goed genoeg is vir vuurmaakhout. Al wat hierdie geharde boom vereis, is ruimte om te groei, asook belugte grond sodat dit kan asemhaal, en waarin daar geen onkruid of ander plante met skadelike peste is nie. As daar aan hierdie eenvoudige vereistes voldoen word, sal een boom tot 57 liter olie per jaar voorsien.
Die Israeliete was ongetwyfeld baie lief vir die olyf weens sy kosbare olie. Hulle huise is verlig deur lampe waarvan die pitte olyfolie opgetrek het (Levitikus 24:2). Olyfolie was noodsaaklik om kos te maak. Dit het die vel teen die son beskerm, en die Israeliete het dit gebruik om seep te maak. Graan, wyn en olywe was die vernaamste oeste van die land. ’n Mislukte olyfoes sou dus vir ’n Israelitiese gesin ’n ramp wees.—Deuteronomium 7:13; Habakuk 3:17.
Maar gewoonlik was olyfolie volop. Moses het waarskynlik na die Beloofde Land as ‘’n land van olyfbome’ verwys omdat die olyfboom die boom was wat die meeste in die gebied aangeplant is. Die 19de-eeuse natuurkenner, H. B. Tristram, het die olyfboom beskryf as “die een kenmerkende boom van die land”. Weens die waarde van olyfolie, asook die groot opbrengs wat dit gelewer het, het dit regdeur die Middellandse streek selfs as ’n nuttige internasionale ruilmiddel gedien. Jesus Christus self het verwys na ’n skuld wat op “honderd bat olyfolie” bereken is.—Lukas 16:5, 6.
“Soos olyfboompies”
Die nuttige olyfboom lig gepas Goddelike seëninge toe. Hoe word ’n godvresende man beloon? “Jou vrou is soos ’n vrugbare wingerdstok binne-in jou huis”, het die psalmis gesing. “Jou kinders [is] soos olyfboompies rondom jou tafel” (Psalm 128:3). Wat is hierdie “olyfboompies”, en waarom vergelyk die psalmis hulle met kinders?
Die olyfboom is uniek in die sin dat nuwe lote voortdurend van die onderkant van die stam uitloop.a Wanneer die hoofstam weens ouderdom nie meer soveel vrugte kan dra as wat dit voorheen gedra het nie, kan kwekers ’n paar boompies, of nuwe lote, laat groei totdat hulle ’n vername deel van die boom word. Ná ’n ruk sal die oorspronklike boom omring wees deur drie of vier jong, sterk stamme, soos kinders om ’n tafel. Hierdie boompies het dieselfde wortelstok, en hulle dra daartoe by dat ’n goeie oes olywe gelewer word.
Hierdie eienskap van die olyfboom lig gepas toe hoe seuns en dogters sterk geloof kan opbou, danksy die sterk geestelike wortels van hulle ouers. Namate kinders ouer word, bring hulle ook vrugte voort en ondersteun hulle hulle ouers, wat hulle daarin verheug om te sien dat hulle kinders Jehovah saam met hulle dien.—Spreuke 15:20.
“Vir ’n boom is daar nog hoop”
’n Bejaarde vader wat Jehovah dien, skep behae in sy godvrugtige kinders. Maar hierdie selfde kinders treur wanneer hulle vader uiteindelik ‘heengaan op die weg van die hele aarde’ (1 Konings 2:2). Om ons te help om so ’n gesinstragedie te verwerk, verseker die Bybel ons dat daar ’n opstanding sal wees.—Johannes 5:28, 29; 11:25.
Job, die vader van baie kinders, was deeglik bewus van die mens se kort lewensduur. Hy het dit vergelyk met ’n blom wat gou verwelk (Job 1:2; 14:1, 2). Job wou graag sterf om van sy lyding af weg te kom, en hy het die graf as ’n skuilplek beskou waaruit hy weer kon kom. “As ’n mens sterwe, sal hy weer lewe?” het Job gevra. Toe het hy vol vertroue geantwoord: “Dan sou ek hoop al die dae van my stryd totdat my aflossing kom; U [Jehovah] sou roep, en ek sou U antwoord, na die maaksel van u hande sou U verlang.”—Job 14:13-15.
Hoe het Job sy oortuiging dat God hom uit die graf sou terugroep, toegelig? Deur middel van ’n boom, en die beskrywing toon dat hy heel waarskynlik na die olyfboom verwys het. “Vir ’n boom is daar nog hoop”, het Job gesê. “Al is dit afgekap, kan dit weer uitloop” (Job 14:7, NAV). ’n Olyfboom kan afgekap word, maar dit sal hom nie vernietig nie. Net as die boom ontwortel word, sal hy doodgaan. As die wortels onbeskadig bly, sal die boom weer met nuwe krag uitloop.
Selfs as ’n langdurige droogte ’n ou olyfboom erg laat verdor, kan die uitgedroogde stam weer lewe. “As sy wortel oud word in die aarde en sy stam sterf in die stof—van die reuk van die water spruit dit weer uit, en dit maak ’n tak soos ’n jong plantjie” (Job 14:8, 9). Job het in ’n droë, stowwerige land gewoon waar hy waarskynlik talle ou olyfbome gesien het, waarvan die stam verdor en leweloos gelyk het. Maar sodra dit gereën het, het hierdie “dooie” bome weer begin lewe, en ’n nuwe stam het uit die wortels gegroei asof dit “’n jong plantjie” was. Hierdie merkwaardige herstelvermoë het daartoe gelei dat ’n Tunisiese tuinboukundige gesê het: “’n Mens kan sê dat olyfbome onsterflik is.”
Net soos ’n boer baie graag wil sien dat sy verdorde olyfbome weer uitloop, so verlang Jehovah daarna om sy getroue knegte op te wek. Hy sien uit na die tyd wanneer getroue mense soos Abraham en Sara, Isak en Rebekka en baie ander weer sal lewe (Matteus 22:31, 32). Hoe wonderlik sal dit tog wees om die dooies terug te verwelkom en te sien hoe hulle weer eens ’n vol, bevredigende lewe lei!
Die simboliese olyfboom
God se barmhartigheid word geopenbaar in sy onpartydigheid sowel as in die feit dat hy die opstanding moontlik gemaak het. Die apostel Paulus het die olyfboom gebruik om toe te lig hoe Jehovah barmhartigheid aan mense betoon, ongeag wat hulle ras of agtergrond is. Die Jode het eeue lank daarop geroem dat hulle God se uitverkore volk , ‘die nageslag van Abraham’, is.—Johannes 8:33; Lukas 3:8.
’n Joodse afkoms op sigself sou egter nie God se goedkeuring gewaarborg het nie. Jesus se eerste dissipels was wel almal Jode, en hulle het die voorreg gehad om die eerste mense te wees wat God gekies het om die beloofde saad van Abraham uit te maak (Genesis 22:18; Galasiërs 3:29). Paulus het hierdie Joodse dissipels met die takke van ’n simboliese olyfboom vergelyk.
Die meeste natuurlike Jode het Jesus verwerp en was dus nie geskik om toekomstige lede van die “klein kuddetjie”, of “die Israel van God”, te wees nie (Lukas 12:32; Galasiërs 6:16). Hulle het dus soos simboliese olyftakke geword wat afgekap is. Wie sou hulle plek inneem? In die jaar 36 G.J. is nie-Jode gekies om ’n deel van Abraham se saad te word. Dit was asof Jehovah wilde olyftakke op die gewone olyfboom geënt het. Diegene wat die beloofde saad van Abraham sou uitmaak, sou mense van die nasies insluit. Nie-Joodse Christene kon nou ‘deelgenote van die olyf se wortel van vetheid’ word.—Romeine 11:17.
Dit sal vir ’n boer ondenkbaar en “teen die natuur” wees om ’n wilde olyftak op ’n gewone olyfboom te ent (Romeine 11:24). “Ent die goeie op die wilde boom, en, soos die Arabiere sê, dit sal die wilde oorwin”, verduidelik die boek The Land and the Book, “maar jy kan dit nie andersom doen en sukses behaal nie.” Joodse Christene was eweneens verbaas toe Jehovah “vir die eerste keer sy aandag op die nasies gerig het om uit hulle ’n volk vir sy naam te neem” (Handelinge 10:44-48; 15:14). Dit was egter ’n duidelike teken dat die uitvoering van God se voorneme nie van net een nasie afgehang het nie. Nee, want “in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen vir hom aanneemlik”.—Handelinge 10:35.
Paulus het getoon dat enigiemand wat weens trots en ongehoorsaamheid nie in Jehovah se guns gebly het nie, afgekap kon word, aangesien dieselfde met ontroue Joodse “takke” van die olyfboom gebeur het (Romeine 11:19, 20). Dit lig beslis toe dat ons nooit God se onverdiende goedhartigheid as vanselfsprekend moet aanvaar nie.—2 Korintiërs 6:1.
Gesalf met olie
Die Skrif verwys letterlik sowel as figuurlik na die gebruik van olyfolie. In die ou tyd is wonde en kneusplekke “met olie versag” sodat dit vinniger gesond kon word (Jesaja 1:6). Volgens een van Jesus se illustrasies het die barmhartige Samaritaan olyfolie en wyn op die wonde gegooi van die man wat hy langs die pad na Jerigo teëgekom het.—Lukas 10:34.
Dit is verkwikkend en strelend as olyfolie oor ’n mens se kop gegooi word (Psalm 141:5, NW). En wanneer ’n lid van die gemeente geestelik siek is, kan Christen- ouer manne “hom in die naam van Jehovah met olie salf” (Jakobus 5:14). Die ouer manne se liefdevolle skriftuurlike raad en hartgrondige gebede ten behoewe van hulle medegelowige wat geestelik siek is, word met strelende olyfolie vergelyk. Interessant genoeg, in idiomatiese Hebreeus word ’n goeie man soms beskryf as “suiwer olyfolie”.
“’n Blaarryke olyfboom in God se huis”
In die lig van die voorafgaande punte kan ons verstaan waarom knegte van God met olyfbome vergelyk kan word. Dawid wou graag soos “’n blaarryke olyfboom in God se huis” wees (Psalm 52:8, NW). Net soos Israelitiese gesinne dikwels olyfbome rondom hulle huise gehad het, wou Dawid graag na aan Jehovah wees en vrugte dra tot lof van God.—Psalm 52:9, NW.
Terwyl die tweestammeryk van Juda aan Jehovah getrou was, was hulle soos “’n blaarryke olyfboom, mooi van vrug en van gestalte” (Jeremia 11:15, 16, NW). Maar die mense van Juda het daardie bevoorregte posisie verloor toe hulle ‘geweier het om na Jehovah se woorde te luister en agter ander gode aan geloop het’.—Jeremia 11:10.
As ons ’n blaarryke olyfboom in God se huis wil word, moet ons gehoorsaam aan Jehovah wees, asook gewillig wees om die dissipline te aanvaar waardeur hy ons “snoei” sodat ons meer Christelike vrugte kan voortbring (Hebreërs 12:5, 6). En net soos ’n natuurlike olyfboom uitgestrekte wortels nodig het om ’n droogte te oorleef, moet ons ons geestelike wortels versterk sodat ons beproewinge en vervolging kan verduur.—Matteus 13:21; Kolossense 2:6, 7.
Die olyfboom is ’n goeie simbool van die getroue Christen, wat dalk vir die wêreld onbekend is, maar wat deur God erken word. As so iemand in hierdie stelsel sou sterf, sal hy weer in die komende nuwe wêreld lewe.—2 Korintiërs 6:9; 2 Petrus 3:13.
Die feitlik onvernietigbare olyfboom wat jaar na jaar bly vrug dra, herinner ons aan God se belofte: “Die dae van my volk sal wees soos die dae van die bome, en my uitverkorenes sal die werk van hulle hande self geniet” (Jesaja 65:22). Hierdie profetiese belofte sal in God se nuwe wêreld vervul word.—2 Petrus 3:13.
[Voetnoot]
a Hierdie nuwe lote word gewoonlik elke jaar afgesnoei sodat hulle nie die hoofboom verswak nie.
[Prent op bladsy 25]
’n Ou vergroeide stam in Javea, Alicante-provinsie, Spanje
[Prente op bladsy 26]
Olyfbome in Granada-provinsie, Spanje
[Prent op bladsy 26]
’n Baie ou olyfboom buite die mure van Jerusalem
[Prent op bladsy 26]
Die Bybel praat van takke wat op ’n olyfboom geënt word
[Prent op bladsy 26]
Hierdie ou olyfboom is omring deur jong takke