Waarom moet ’n mens perfeksionisme oorkom?
Streef jy altyd daarna om jou allerbeste te doen? Daardeur kan jy natuurlik jouself en diegene om jou op baie maniere bevoordeel. Aan die ander kant het party tot die uiterste gegaan en perfeksioniste geword. Wat impliseer dit?
WEL, een betekenis van die woord “perfeksionisme” is “’n geneigdheid om enigiets wat nie volmaak is nie as onaanvaarbaar te beskou”. Jy het waarskynlik al mense met daardie geneigdheid teëgekom. Jy kan sien dat die verregaande eise wat hulle aan ander stel baie probleme kan veroorsaak en ’n klimaat van ontevredenheid en moedeloosheid kan skep. Die meeste gebalanseerde mense erken dat perfeksionisme, in die sin dat ’n mens verregaande en onredelike eise in alle lewensaangeleenthede stel, nie werklik wenslik is nie. Dit is iets wat oorkom moet word. Maar die probleem is dat dit dalk moeilik is om ’n neiging tot sulke perfeksionisme te herken wanneer dit ons eie gesindheid of geneigdheid is, en daarom is dit ’n uitdaging om dit te oorkom.
Nelson het baie verantwoordelikhede en talle probleme wat hy moet oplos. Hy ontleed gereeld statistiek, en produksie is baie belangrik. Perfeksionisme word dikwels as noodsaaklik beskou as ’n mens in ’n mededingende arbeidsmark sukses wil behaal. Hoewel party dalk Nelson se bekwaamheid waardeer, veroorsaak sy perfeksionisme dat hy fisiese probleme het, soos hoofpyne en stres. Is jy soos Nelson?
Jongmense word ook deur perfeksionisme geraak. As kind het Rita, van Rio de Janeiro, daarvan gehou om skool toe te gaan. Sy het probeer om nie ambisieus voor te kom nie, maar sy was verpletter as sy nie die hoogste punte gekry het nie. Rita sê: “Van kleins af het ek myself met ander vergelyk wat baie tyd gehad het, terwyl ek altyd gespanne was en gejaag het om dinge te doen. Ek het nooit gevoel dat ek tyd het om te rus nie, want daar was altyd dinge wat gedoen moes word.”
As ’n klein dogtertjie het Maria uit frustrasie gehuil wanneer sy nie so goed soos die ander kon teken nie. En omdat sy volmaak wou wees in musiek, het sy dikwels gespanne en bekommerd geraak pleks van haar spel of sang te geniet. ’n Ander Brasiliaanse meisie, Tânia, wat hard probeer het om mededinging te vermy, het erken dat sy steeds, op skool sowel as by die huis, standaarde vir haarself gestel het wat te hoog was. Sy het gemeen dat mense nie baie van haar sal hou as haar werk nie volmaak is nie. Wat meer is, Tânia het soms te veel van ander verwag, wat haar teleurgesteld en hartseer laat voel het.
Hoewel bevoegdheid, ywer en ’n gevoel van persoonlike bevrediging belangrik is, kan negatiewe gevoelens, soos vrees vir mislukking, die gevolg wees as ’n mens onbereikbare doelwitte stel. Ouers of ander kan ’n standaard van volmaaktheid in skoolwerk of in sport stel wat jongmense nie maklik kan bereik nie. Ricardo se moeder het byvoorbeeld hoë verwagtings van hom gekoester—sy wou hê hy moet ’n dokter word, klavier speel en verskeie tale praat. Kan jy sien dat hierdie benadering, wanneer dit te ver gevoer word, tot probleme of teleurstelling kan lei?
Waarom moet ons perfeksionisme vermy?
Daar is ’n groot vraag na werk van ’n hoë gehalte, wat aan hoë standaarde van presiesheid en voortreflikheid voldoen. Mense moet dus in die arbeidsmark meeding. ’n Ander faktor wat veroorsaak dat baie al hoe harder probeer, is die vrees dat hulle hulle werk kan verloor. Sommige werkers word soos die atleet wat buitensporige opofferings maak om ’n nuwe rekord op te stel. Wanneer hy dan strawwe mededinging kry, dryf dit hom om selfs meer te oefen, en dalk gebruik hy chemiese middels om te verbeter en—hoop hy—om te wen. Perfeksionisme is nie ’n gesonde strewe na voortreflikheid nie, maar veroorsaak dat mense “deur die vrees vir mislukking gemotiveer” word of “gedryf word om die beste te wees”.—The Feeling Good Handbook.
Party voel weliswaar dat hulle altyd beter in die kunste of in sport kan presteer. Maar volgens dr. Robert S. Eliot “is perfeksionisme die verwagting wat nooit verwesenlik word nie”. Hy voeg by: “Dit bestaan uit skuldgevoelens, verdedigende optrede en die vrees vir bespotting.” Hoe waar is die woorde van die wyse koning Salomo tog: “Ek het al die harde werk en al die bedrewenheid in die werk gesien, dat dit die wedywering van die een teenoor die ander beteken; ook dit is nietigheid en ’n gejaag na die wind.”—Prediker 4:4, NW.
Wat kan jy doen as jy geneig is om ’n perfeksionis te wees? Is dit waar dat hoe harder jy iets nastreef, hoe meer teleurgesteld raak jy? Sou jy graag minder veeleisend en meer ontspanne wil wees? Wat beteken dit om volmaak te wees? Wil jy nie graag jou volle potensiaal gebruik terwyl jy perfeksionisme vermy nie? As onvolmaakte mense hulle godgegewe vermoëns kan gebruik om dinge te ontdek wat ander tot voordeel sal strek, stel jou net voor wat die mensdom onder volmaakte toestande en Goddelike leiding kan bereik!
[Prent op bladsy 4]
Ouers en ander verwag dalk volmaaktheid, wat jongmense nie kan bereik nie