Glo jy in wat jy nie kan sien nie?
WANNEER iemand sê: ‘Ek glo net in wat ek kan sien’, bedoel hy dit nie letterlik nie. Ons glo eintlik almal in dinge wat ons nie kan sien nie.
Jy het byvoorbeeld op skool dalk ’n eksperiment gedoen met die doel om te bewys dat ’n magnetiese veld bestaan. Dit werk dalk so: Strooi ystervylsels op ’n vel papier. Sit die papier dan oor die magneet. Wanneer die papier effens geskud word, versamel die vylsels, soos deur towerkrag, naby die magneet se pole en vorm dit die patroon van die magneetveld. As jy dit gedoen het, kon jy dan werklik die magneetveld sien? Nee, maar die uitwerking daarvan op die ystervylsels kan duidelik gesien word, wat oortuigende bewys lewer dat magnetisme bestaan.
Ons aanvaar sonder twyfel ander dinge wat ons nie kan sien nie. Wanneer ons na ’n pragtige skildery kyk of uitstekende beeldhouwerk bewonder, twyfel ons nie aan die bestaan van ’n skilder of beeldhouer nie. Wanneer ons dus na ’n waterval of ’n sonsondergang kyk, moet dit ons dan nie beweeg om ten minste die moontlikheid te oorweeg dat dit die werk van ’n Groot Skilder of Beeldhouer is nie?
Waarom party nie glo nie
Dit is ironies dat party mense as gevolg van wat hulle in die kerk geleer het nie meer in God glo nie. Dit was die geval met ’n Noorweegse man vir wie daar gesê is dat God die goddeloses in ’n helse vuur laat brand. Die man kon net nie verstaan watter soort God mense op so ’n manier kan martel nie, en daarom het hy ’n ateïs geword.
Later het die man egter ingestem om die Bybel, met die hulp van een van Jehovah se Getuies, te ondersoek. Hy was verbaas toe hy uitvind dat die Bybel nie leer dat die goddeloses in ’n helse vuur gemartel word nie. Die Bybel vergelyk die dood met slaap. In die graf voel ons geen pyn nie; ons weet glad niks nie (Prediker 9:5, 10). Die man het ook geleer dat diegene wat deur God geoordeel word as verstokte goddeloses vir ewig in die graf sal bly (Matteus 12:31, 32). Die res van die dooies sal op God se bestemde tyd opgewek word met die vooruitsig om die ewige lewe onder Paradystoestande te beërf (Johannes 5:28, 29; 17:3). Hierdie verduideliking het sin gemaak. Dit het ooreengestem met die Bybel se stelling: “God is liefde” (1 Johannes 4:8). Hierdie opregte man het met sy studie van God se Woord voortgegaan en het mettertyd lief geword vir die God van die Bybel.
Ander verwerp die bestaan van ’n liefdevolle Skepper weens die feit dat ellende en ongeregtigheid so algemeen is. Hulle stem saam met ’n Sweedse man wat eenkeer na die hemel gewys en gevra het: “Hoe kan daar ’n almagtige, vrygewige God daarbo wees as ons soveel korrupsie en goddeloosheid hieronder het?” Omdat niemand sy vraag kon beantwoord nie, het hy ook ’n ateïs geword. Later het hy die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Hy het geleer dat God se Woord ’n bevredigende antwoord gee op die eeue oue vraag: Waarom laat God goddeloosheid toe?a
Hierdie opregte man het geleer dat die bestaan van goddeloosheid nie op sigself bewys dat God nie bestaan nie. Ter toeligting: ’n Man ontwerp dalk ’n mes om vleis mee te sny. ’n Klant koop dalk die mes en gebruik dit, nie om vleis te sny nie, maar om moord te pleeg. Die feit dat die mes verkeerd gebruik is, bewys glad nie dat die maker daarvan nie bestaan nie. Die feit dat die aarde nie in ooreenstemming met die doel daarvan gebruik word nie, beteken eweneens nie dat dit nie ’n Skepper het nie.
Die Bybel leer dat God se werk volmaak is. Hy is “sonder onreg; regverdig en reg is Hy” (Deuteronomium 32:4). God gee goeie gawes aan die mens, maar party van die gawes is verkeerd gebruik en dit het eindelose lyding veroorsaak (Jakobus 1:17). Maar God gaan ’n einde maak aan lyding. Daarna sal “die ootmoediges . . . die aarde besit . . . en vir ewig daarop woon”.—Psalm 37:11, 29.
Die Sweedse man wat vroeër gemeld is, is diep geraak deur die lyding van sy medemens. Sy diepe besorgdheid oor ander bevestig in werklikheid die bestaan van God. Hoe so?
Vir die meeste mense is geloof in evolusie die enigste alternatief vir geloof in God. Evolusioniste leer mense die teorie van “oorlewing van die geskikste”—dat mense en diere binne hulle soorte om oorlewing meeding. Die geskikste lewe; die swakste sterf. Dit is volgens hulle die natuurlike orde van dinge. Maar as dit “natuurlik” is dat die swakkes sterf om plek te maak vir die sterkes, hoe verduidelik ons dan die feit dat party sterk mense, soos die Sweedse man, diep geraak word deur die lyding van hulle medemens?
Hoe ons God kan leer ken
Ons kan God nie sien nie omdat hy nie die gedaante van ’n mens het nie. En tog wil God hê dat ons hom moet leer ken. Een manier waarop ons hom kan leer ken, is deur sy buitengewone werke—die “skilderye” en “beeldhouwerk” van die skepping—waar te neem. In Romeine 1:20 sê die Bybel: “[God se] onsigbare eienskappe word van die wêreld se skepping af duidelik gesien, omdat hulle waargeneem word in die dinge wat gemaak is, ja, sy ewige krag en Godheid.” Ja, net soos ’n mens insig in die persoonlikheid van die kunstenaar kan kry as jy sy skildery of beeldhouwerk bestudeer, kan jy God se persoonlikheid beter leer ken as jy oor sy wonderlike werke peins.
Ons kan natuurlik nie al die kwellende vrae van die lewe beantwoord deur bloot na God se skeppingswerke te kyk nie. Maar ons kan antwoorde op hierdie vrae kry deur God se Woord, die Bybel, te ondersoek. Dit was deur die Bybel met ’n oop gemoed te lees dat die twee mans wat vroeër gemeld is tot die gevolgtrekking gekom het dat God bestaan en dat hy besorg is oor wat met ons gebeur.
[Voetnoot]
a Sien asseblief die boek Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee?, hoofstuk 10, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc. vir verdere inligting oor die redes waarom God goddeloosheid toelaat.
[Foto-erkenning op bladsy 28]
J. Hester and P. Scowen (AZ State Univ.), NASA